• No results found

Herinterpretasie van skemas, persepsies en intuïtiewe denke

4.5 Die brein se werking

4.5.3 Herinterpretasie van skemas, persepsies en intuïtiewe denke

Hierdie persepsies of skemas kom vanuit die onderbewuste en tree as outomatiese denke op wat reeds gevorm is. Wright et al. (2006:7), asook Freeman en Freeman (2011:280), sê dat outomatiese denke gedagtes is wat in ‘n gegewe situasie deur die brein spoel. Dit is gedagtes wat nie uitgespreek word nie en selfs nie eers oor gedink word nie, maar wat verstaan kan word wanneer die persoon daaroor nadink. Dit word ook ‘voorbewussyn’ genoem. Iemand wat deur betekenisvolle trauma gegaan het, het meermale vloede van outomatiese denke wat wanaangepas en disfunksioneel van aard is, omdat die trauma bepaalde persepsies, skemas en intuïtiewe denke negatief beïnvloed het. Kognitiewe herstrukturering fokus op hierdie negatiewe beïnvloeding van betekenisvolle trauma ten einde nuwe skemas, persepsies en intuïtiewe denke te vestig.

Van Wyk (2010:22) wys ook daarop dat daar ‘n definitiewe emosionele ooreenkoms bestaan tussen huidige trauma en traumatiese ervaring wat diep in die persoon se verlede weggebêre is. Hierdie ooreenkoms bestaan as gevolg van skemas of persepsies wat weens die vorige trauma in die brein gevorm is. Smith (2011:91) sê ook dat die intuïsie die verlede en die toekoms ervaar asof dit nou gebeur en asof dit hier by die persoon in die hede afspeel. Dit is om hierdie rede dat die terapeut daarop behoort aan te dring dat die persoon hierdie outomatiese denke, skemas of persepsies sal leer ken en aanspreek deur dit nuut te interpreteer.

Sadler-Smith (2010:12) skryf in dié verband dat die persoon nie so bekend met die intuïtiewe denke as met die analitiese denke is nie. Die rede daarvoor is dat ‘n persoon nie die intuïtiewe brein onder bewuste beheer het nie. Gazzaniga et al.

(2009:550) verduidelik hoe skemas (persepsies) in die brein vasgelê word; daar is drie stadiums waarop skemas (persepsies) vasgelê word:

· Verwerking van die onderbewuste: Breinaktiwiteit word deur ‘n stimulus opgewek wat nie waargeneem kan word nie. Wanneer die proses in die onderbewussyn plaasvind, is die inligting nie deur die bewuste toeganklik nie.

· Verwerking van die voorbewuste. · Verwerking van die bewuste.

Die persoon is dus nie altyd bewus van watter skemas of persepsies in sy denke gevorm word nie. Die enigste wyse waarop hy dit kan ontdek, is om bewus te raak van sy optrede in alledaagse omstandighede en dit dan te ontleed en bewustelik aan te pas. Sadler-Smith (2010:17) sê dat die mens onbewus van die krag is wat die onderbewussyn of die intuïtiewe brein het. Om die krag te beklemtoon wys hy op die wyse waarop die intuïtiewe werk en noem hy vier kenmerke.

Die vier handelsmerke van die intuïtiewe: · Dit praat in die taal van gevoelens.

· Dit is vinnig en spontaan (daar is geen kognitiewe beheer nie). · Dit is holisties (dit reageer nie net op die bepaalde gebeure nie). · Dit bied hipoteses, maar nie sekerhede nie.

Daarom val intuïtiewe oordele gewoonlik in twee groepe, naamlik · dwingend en akkuraat; en

· dwingend en onakkuraat.

Twee belangrike gevolgtrekkings kan daaruit gemaak word: Die eerste is dat die intuïtiewe as deel van die denke (persepsies en skemas) die outomatiese reaksie van ‘n persoon oorneem (dwingend). Die tweede is dat dit nie betroubaar is nie en gedurig aangepas behoort te word. Williams et al. (2007:164) wys daarop dat die

persoon sal moet besef dat sy intuïtiewe denke nie feite is nie, maar slegs denke oor ‘n bepaalde ervaring. Dit is die persoon se denke, aanvaarding en betekenis wat hy aan ‘n gebeurtenis gee wat bepaalde emosies in hom opwek (Wilson & Branch, 2006:12).

Opvoeding en blootstelling speel dus ‘n groot rol in die wyse waarop ‘n persoon op sekere stimuli gaan reageer. Die wisselwerking tussen die twee hemisfere van die brein is in dié verband van groot belang in terapie. Sadler-Smith (2010:13) sê dat ‘n persoon albei hemisfere van die brein nodig het om te kan funksioneer. Dit is egter die intuïtiewe denke wat die alledaagse take in die persoon se persoonlike en professionele lewe outomaties bestuur.

Om te verduidelik hoe die wisselwerking tussen die twee hemisfere werk ten einde die intuïtiewe denke te vorm, vergelyk Van der Spuy (2011:27) die twee hemisfere van die brein met ‘n filmredigeerder en die opneem van die beelde. Die regterhemisfeer is die deel wat die beelde opneem waaraan die persoon blootgestel word, maar dit bepaal nie die uitkoms daarvan nie. Die linkerhemisfeer neem die beelde, plaas dit in ‘n bepaalde volgorde en vorm dan die beeld wat die persoon aan die einde oor ‘n bepaalde situasie sal beleef. Gelukkige mense se regterhemisfere het dus baie gelukkige beelde opgeneem. Persone wat ongelukkig is, was meer blootgestel aan slegte en onaangename beelde in hul lewe. Op hierdie wyse word die brein as ‘n inligtingsverwerker gesien (Peterson, 2003:36). Murphy (2008:7) gebruik weer die beeld van ‘n tuin. Hy sê dat die onbewuste ‘n tuin is wat goed bemes is. Wat daarin gesaai gaan word, sal groot vrug dra. As dit dorings is wat gesaai word, sal daar dorings opkom en nie druiwe nie. Dit is insiggewend dat Gazzaniga et al. (2009:385) in hierdie verband verklaar dat daar in kognitiewe neurowetenskap aanvaar word dat daar nie ‘n digotomie tussen emosie en die kognitiewe is nie. Daar word dan veronderstel dat die kognitiewe en die emotiewe op mekaar inwerk. Wanneer ‘n persoon negatief op verskeie stimuli reageer, kan dit waarskynlik aan ‘n probleem in die diep limbiese stelsel toegeskryf word. Amen

(2010:44) wys daarop dat wanneer hierdie deel van die brein baie hard werk, die emosionele filter met negatiwiteit gekleur word.

Van der Spuy (2011:25) gebruik ‘n beeld om aan te dui hoe persepsie of skemas gevorm word. Wanneer modderwater deur ‘n skoon filter gegooi word, word skoon water verkry. Wanneer skoon water deur ‘n vuil filter gegooi word, is die water sleg en maak dit die persoon siek. So is dit dan ook met die brein. Wanneer die brein mooi herinneringe bevat, sal die realiteit van die dag ook mooi wees. Wanneer die persoon se herinneringe sleg is, sal die realiteit ook sleg beleef word. Daarom is warmte, vriendelikheid en hoopgewing, wat gewoonlik in ‘n gesonde verhouding teenwoordig is, van kardinale belang in die psigiese handhawing van ‘n persoon (Bentall, 2009:244). Dattilio en Freeman (1994:4) sê dat hierdie skemas (persepsies) altyd besig is om te verander. Omgewingsdata en ervaring kan net deur ‘n persoon opgeneem word op die wyse waarop hy dit met sy subjektiewe ervaring kan waarneem. Dit is daarom van groot belang dat die persoon hom aan die positiewe sal blootstel ten einde hierdie skemas of persepsies te bly hersien. Sadler-Smith (2010:22) sê dat die intuïtiewe denke subjektief en persoonlik is, en nie in ‘n objektiewe waardebepaling gegiet is nie. Geen persoon sal dieselfde intuïsie as ‘n ander ontwikkel nie. Dit is die rede waarom die persoon dit voortdurend moet evalueer en aanpas. Die persoon heg self betekenis aan ‘n bepaalde gebeurtenis. Die betekenis wat aan ‘n negatiewe gebeurtenis geheg word, kan egter onakkuraat en onrealisties wees, en glad nie help om die gebeure te hanteer nie (Wilson & Branch, 2006:13). Kognitiewe herstrukturering plaas daarop klem dat 'n bepaalde ervaring nie 'n bepaalde reaksie verteenwoordig nie. Die persoon wat in terapie is, moet dus tot die ontdekking kom dat sy reaksie nie 'n noodwendige reaksie is nie, maar dat dit sy bepaalde persepsie verteenwoordig.

Terapeute wat met kognitiewe herstrukturering werk, moet bedag wees op skemas, persepsies en intuïtiewe denke, asook op die belang daarvan vir die persoon in sy trauma-ervaring. Waar Dattilio en Freeman (1994:4) met skemas werk, sê hulle dat verskillende skemas wat ontstaan het, verskillend op elke individuele persoon sal

inwerk. Die effek van die skema op ‘n persoon se lewe hang van die volgende faktore af, naamlik

· hoe sterk daar aan die skema vasgehou word;

· hoe essensieel daardie persoon die skema tot sy veiligheid, gesondheid of bestaan beskou;

· wat die persoon se vorige ervaring is teenoor die belangrikheid en essensiële ontstaan van die skema;

· hoe vroeg die skema vasgelê is; en

· met watter belangrikheid en deur wie die skema op die persoon afgedruk is.

Die skemas kan dormant of aktief wees. Die aktiewe skemas help die persoon om die dag-vir-dag-sake te kan hanteer, terwyl die dormante skemas opgewek word wanneer die persoon gespanne raak.

Vervolgens wys die navorser op selfmoord van 'n eggenoot en hoe die skemas, persepsies en intuïtiewe denke gevorm word, asook die rol wat dit in die trauma van die oorlewende huweliksmaat speel.