• No results found

Kognitiewe herstrukturering van interne aanbieding

4.4 Kognitiewe herstrukturering by die oorlewende van selfmoord

4.4.3 Kognitiewe herstrukturering van interne aanbieding

Kognitiewe herstrukturering se doel is om onrealistiese of abnormale denke te normaliseer. Daarom beskou Bentall (2009:254) kognitiewe herstrukturering as ‘n normaliseringsterapie. Die persoon wat in terapie is, word aangemoedig om homself as normaal te sien en nie as iemand wat in gevaar is of wat besig is om geestelik versteurd te raak nie. Hy is ‘n persoon soos enige iemand anders. Hierdie uitgangspunt is vir elke terapeut se benadering belangrik. Die persoon wat in terapie is, moet hoop hê en verstaan dat dit wat binne-in hom plaasvind, normaal is (outeur se byvoeging). Joubert (2005:226) meen dat alle psigoterapieë leermetodes is. Daarom is die doel van alle psigoterapieë om ‘n persoon wat in terapie is, se lewe te help verander: om hom anders te laat dink (kognitief), anders te laat voel (affektief) en anders te laat optree (gedrag). Wright et al. (2006:7) is reg wanneer hulle sê dat kognitiewe herstrukturering ‘n persoon leer om te dink oor sy denke, omdat sy denke sy optrede bepaal. Williams et al. (2007:39) sê in dié verband dat ‘n persoon nie outomatiese denke kan keer nie, maar dat hy kan kies wat die volgende handeling daarmee gaan wees. Hierdie keuse is die herstrukturering en evaluering van denkpatrone.

Persone wat onrealisties op stimuli reageer, lei aan outomatiese negatiewe denke, soos deur Amen (2010:57) aangedui word. Die ABC-model is van hulp om te verstaan hoe 'n persoon sy denke oor stimuli interpreteer en hoe hy dit kan

herevalueer: ‘A’ is die aanleidende gebeure; ‘B’ is die aanvaarding, persepsie of skema (interne aanbieding) wat die persoon gebruik; ‘C’ is sy reaksie op die gebeure. ‘n Persoon kan dus dink dat ‘n bepaalde gebeurtenis ‘A’ hom na ‘C’, sy optrede, toe lei. Dit is egter ‘B’, sy skema of persepsie (interne aanbieding), wat sekere emosies in hom losmaak en wat veroorsaak dat hy met ‘C’ reageer (Wilson & Branch, 2006:15). Ten einde tot 'n gesonde interpretasie van 'n stimulus te kom, moet 'n persoon nie probeer om die gebeurtenis (stimulus) te verander nie, maar wel die interne aanbieding aangaande die stimulus.

Die interne aanbieding bepaal die persoon se gedrag en reaksie op die stimulus. Wright et al. (2006:4) bied hul model aan waarop kognitiewe herstrukturering hanteer word ten einde interne aanbieding (persepsie) te herstruktureer. Volgens hulle is daar drie hoofelemente wat in kognitiewe herstrukturering gebruik word, naamlik kognitiewe beoordeling, emosies en gedrag.

(Wright et al., 2006:4)

Daar moet dus ‘n wisselwerking wees tussen gebeure, kognitiewe waardering van die self-bewussyn, en herevaluering van die ervaring van negatiewe emosies en

Kognitiewe beoordeling

Emosie Gedrag

negatiewe gedrag. Hierdie sirkelgang is veronderstel om weer nuwe emosies te veroorsaak en nuwe kognitiewe waardering aangaande die self-bewussyn te skep.

In kognitiewe herstrukturering word die klem op die persoon wat in terapie is se vermoë geplaas om sy eie probleme op te los en te bestuur. Daarom wys Joubert (2005:184) op die verskil tussen psigoterapie, waarvan kognitiewe herstrukturering deel uitmaak, en berading. Hierdie is nie noodwendig ‘n verskil in hantering nie, maar eerder ‘n verskil in fokuspunte. Hy toon dit aan deur die volgende tabel:

Geskatte waarde in persentasie van tyd wat deur beraders en psigoterapeute in professionele aktiwiteite spandeer word

Proses Beraders Psigoterapeut

Luister 20 60 Vraagstelling 15 10 Evaluering 5 5 Interpretering 1 3 Ondersteuning 5 10 Verduideliking 15 5 Inlig 20 3 Aanbeveling 10 1 Opdrag 9 1

Sy waarneming hieruit is dat psigoterapie, en dus kognitiewe herstrukturering, ‘n proses is waardeur die persoon gehelp word om self te ontdek hoe hy dink, voel en optree, en om self korreksies aan sy interne aanbieding te maak. Die persoon se verantwoordelikheid en vermoë om die probleem te hanteer en op te los word dus beklemtoon teenoor die berader se benadering wat meer toeligtend en aanbevelend van aard is (Joubert, 2005:184).

Enige trauma sit die proses van kognitiewe herstrukturering aan die gang, omdat min dinge in die lewe so kragtig soos trauma is om ‘n persoon se lewe tot stilstand te

bring (Van Wyk, 2010:24). Geluk ontstaan nie vanself nie, maar word deur nuwe denke oor 'n bepaalde omstandigheid, gebeurtenis of stimulus geskep. Die persoon moet self aan sy denke werk deur ‘n proses van kognitiewe herstrukturering, en deur sy lewe met mooi gebeure en dinge te vul (Van der Spuy, 2011:28). Wanneer ‘n persoon homself in goeie omstandighede bevind, kan hy ook die lewe meer positief insien en ervaar. Amen (2010:57) wys dan ook op die nodigheid van positiewe denke wat die diep limbiese stelsel help om die emosionele atmosfeer van die brein meer kleurvol in te kleur. Wright et al. (2006:16) wys daarop dat persone wat angstig en depressief is, hul vermoë om probleme op te los, asook om take aan te pak en af te handel, verloor het. Die rede vir hierdie onvermoë wat byvoorbeeld deur ‘n depressielyer beleef word, is omdat sy diep limbiese stelsel deur negatiewe denke grys gekleur is. Daarom beveel Wright et al. (2010:57) aan dat kognitiewe herstrukturering hierdie kognitiewe afwykings sal takel met spesifieke intervensies soos herstrukturering, psigo-opvoedkundige metodes en herhaling.

Kognitiewe herstrukturering herevalueer dus die interne aanbieding van die persoon aangaande sy leefwêreld. Om ‘n bepaalde skema (interne aanbieding) te verander wat reeds baie lank by die persoon aanwesig is, is dit noodsaaklik om die persoon te help om met die skema te handel vanuit ‘n wye perspektief (Dattilio & Freeman, 1994:4). Alle moontlike reaksies op die gebeure moet ondersoek word. Hy moet die gebeure dus kognitief aan meer moontlike reaksies evalueer. Gazzaniga et al. (2009:112) beskryf dit vanuit mediese terme deur te sê dat alles in kognitiewe herstrukturering gaan oor die wyse waarop interne aanbieding (persepsies) in die brein gemanipuleer word. ‘n Basiese aanname van kognitiewe herstrukturering is dat 'n persoon se reaksie op stimuli uit ‘n stel verstandelike prosesse saamgestel is. Verstandelike prosesse neem ‘n eksterne aanbieding as inset en laat dit dan ‘n tipe proses ondergaan om weer ‘n nuwe aanbieding (persepsie) as uitset te gee. Om 'n persoon te help om sy emosionele probleme te oorkom, fokus kognitiewe herstrukturering daarom op die wyse waarop ‘n persoon oor die stimulus dink (Wilson & Branch, 2006:9).

Wright et al. (2006:9) help om outomatiese denke, persepsies en skemas (interne aanbieding) te kan herken deur kognitiewe herstrukturering. Daar kan van die volgende stappe gebruik gemaak word:

· Trek drie kolomme op ‘n stuk papier en skryf boaan elke kolom die volgende hoofde: gebeure; outomatiese gedagtes; en emosies.

· Dink nou terug aan ‘n gebeurtenis wat angs, woede, hartseer, fisieke spanning of blydskap gewek het.

· Probeer om die situasie, net soos dit gebeur het, weer te beleef. · Skryf nou die outomatiese gedagtes en emosies in die kolom neer.

Hierdie metode sal help om onrealistiese gedagtes en emosies te identifiseer. Wanneer die outomatiese gedagtes en emosies redelik tot die situasie beperk was, word die persoon gehelp om die situasie te verwerk. Wanneer daar egter onvanpaste outomatiese denke en emosies aanwesig was, word die persoon verder begelei deur kognitiewe herstrukturering om aanpassings in die denke daaroor te maak.

Die wyse waarop 'n persoon met homself oor 'n bepaalde stimulus praat, speel 'n groot rol in sy kognitiewe beoordeling van die stimulus. Bentall (2009:170) se navorsing wys daarop dat selfspraak groot implikasies vir ‘n persoon se geestesgesondheid inhou. Persone wat daartoe geneig is om globale (‘ek kan nie druk hanteer nie’), vasgelegde (‘ek is nie slim nie’) en interne (‘ek het nie die eksamen deurgekom nie, want ek is te dom’) selfspraak op negatiewe gebeure weer te gee, is geneig om depressief te raak. Aan die ander kant is ‘n persoon wat geestelik gesond is, geneig om interne, globale en vasgelegde selfspraak op positiewe gebeure te gee, byvoorbeeld: Wanneer ’n persoon in 'n taak slaag, is dit omdat hy hard gewerk het. Hy sal ook eksterne (‘dit was net ‘n ongelukkige samestelling van vrae in hierdie vraestel’), veranderlike (‘ek was te besig om behoorlik hersiening te doen’) en spesifieke (‘ek was nog nooit goed in wiskunde

nie’) selfspraak gee wanneer dinge verkeerd loop. Dit is hierdie selfspraak wat die persoon veerkrag gee om na ‘n terugslag te kan herstel.

Selfspraak vind op 'n bewustelike vlak plaas. Wright et al. (2006:7) wys ook daarop dat kognitiewe herstrukturering op die bewustelike vlak plaasvind: Hulle is van mening dat die persoon bewustelik en rasioneel oor ‘n stimulus dink en dan oor sy reaksie daarop besluit. Daarom moet daar in kognitiewe herstrukturering as terapie bewuste aandag aan die volgende gegee word:

· Monitering en assessering van interaksie met die omgewing.

· Verbinding van die herinneringe uit die verlede met die huidige ervaring. · Kontrolering en beplanning van toekomstige aksies.

Met bogenoemde is die kognitiewe terapeut se grootste klem daarop om ‘n persoon te help om patologiese denke op twee vlakke aan te spreek: outomatiese denke en skemas. Die persoon moet aanleer om hierdie geprogrammeerde denke (interne aanbieding) te herken en te verander. Op hierdie wyse kan die persoon wat in terapie is, geleer word om telkens sy ervaring van stimuli te evalueer ten einde 'n gesonde en realistiese reaksie daarop te vind. Beide Williams et al. (2007:120) en Smit (2011:234) beklemtoon dit dat die persoon bewus moet word van hoe hy dinge van oomblik tot oomblik ervaar. Op hierdie wyse kan hy leer om meer gepas en met meer gebalanseerde denke in veral uitdagende omstandighede op te tree. Die sterk skemas, persepsies of outomatiese denke kan op hierdie wyse van evaluering hanteer en verander word. Die persoon moet dus leer hoe om self sy probleem op te los. Wanneer hy dit regkry, word daar veronderstel dat hy soortgelyke probleme in die toekoms ook self sal kan hanteer. Eysenck en Keane (2010:477) sê dat wanneer die persoon geleer het om sy eie probleme te hanteer dit in die konteks van kognitiewe psigologie ‘positiewe verandering’ genoem word.

Bentall (2009:186) vertel van ‘n persoon wat met agterdog gesukkel het. Hy het begin om die agterdogtige gedagtes neer te skryf en toe aan moontlike idees vir

ander mense se optredes begin dink. Die persoon het gou ‘n patroon ontwikkel wat hom gehelp het om die agterdog te beredeneer en so kon hy gesond funksioneer.

Nog 'n wyse van kognitiewe herstrukturering handel oor blootstelling aan positiewe beelde waarmee die brein self regstellings in die kognitiewe kan doen. Wanneer Williams et al. (2007:47) oor die hantering van outomatiese denke handel, maak hulle ‘n belangrike opmerking, veral in verband met hoe Van der Spuy (2011:27) die wisselwerking tussen die brein se hemisfere sien (vergelyk die brein se werking in die kognitiewe vaslegging van skemas). Hulle sê dat die persoon nie op die ‘doenmetode’ (‘doing mode’) nie, maar eerder op die ‘bestaanmetode’ (‘being mode’) moet konsentreer wanneer hy outomatiese denke of persepsies wil aanspreek. In die ‘doenmetode’ fokus die persoon op die beelde wat na die brein toe stroom en nie op kognitiewe redenasie nie. Die persoon moet dus nie vir homself sê dat die son skyn en dat hy veronderstel is om die dag te geniet nie (‘doenmetode’). Hy moet eerder in die son gaan staan en dit geniet, en so sy regterbrein aan die goeie en mooi beeld blootstel. Van der Spuy (2011:27) sê in dié verband dat die regterhemisfeer van die brein die beelde opneem en in 'n ingewikkelde proses die kognitiewe interne aanbieding van die linkerhemisfeer beïnvloed en so 'n positiewe interne aanbieding vorm.