• No results found

Panozzo en Smith (2007:15) wys daarop dat dit nie ‘n persoon se omstandighede is wat emosionele pyn veroorsaak nie. Dit is eerder die omstandighede wat pynlike, leuengebaseerde denke na vore bring en tot verkeerde keuses lei. Hierdie leuengebaseerde pyn is leuens wat die persoon deur sy lewenservaring opgedoen het. Thurman (1999:6) vergelyk die geheue met ‘n bandspeler wat gedurig teruggespeel word. Hy sê dat elke persoon se geheue leuens bevat, maar dat hy dit so baie gehoor het dat hy dit begin glo. So verwys Coetzer (2004:10-11) na die behandeling van die soldate in die Eerste Wêreldoorlog. Die mensbeskouing van ‘n man tydens hierdie era het ‘n groot rol in die behandeling van soldate gespeel. Indien daar in gevegsituasies afwykende gedrag by soldate voorgekom het, is die oorsaak gewoonlik by die kwaliteit van die soldaat se morele karakter (afgesien van die fisieke aspekte) gesoek. Die normale soldaat was veronderstel om op die glorie van oorlog te fokus en geen tekens van emosie te toon nie. Angs en vrees was dus nie veronderstel om ‘n impak op hom te hê nie. Hierdie beskouing en leuens aangaande die man as soldaat het negatiewe gevolge vir soldate op die gevegsfront gehad. Botha (2008:31) merk op dat baie terapieë en beradingsmodelle veronderstel dat presenterende problematiese gevoelens en gedrag aan ongesonde gedragspatrone gekoppel is wat met ons oortuigingswêreld te doen het. Dit is derhalwe nodig dat die persoon na tersaaklike belewenisse uit die verlede teruggeneem word ten einde leuenoortuigings daarin te identifiseer en dit in God se oortuigings oor die mens en die lewe te spieël.

So byvoorbeeld is ‘n vals identiteit wat op onwaarhede gegrond is wat aan die persoon in die verlede vertel is, ‘n bron van ‘n verwronge selfbeeld. Op hierdie wyse kan die persoon wie se eggenoot selfmoord gepleeg het, verwerping ervaar en dus voel dat hy nie goed genoeg vir die eggenoot was nie, wat ‘n vals kommunikasie oor

die persoon se identiteit is. Trollinger (2007:209) wys daarop dat vals identiteit ‘n persoon se lewe kan beheer. Hierdie vals identiteit is die geloof dat:

· hy ‘n slagoffer en hopeloos is; · hy ‘n las vir die samelewing is; · hy altyd bang is;

· hy skuldig is; en

· hy vasgevang en beperk is.

Die vals identiteit kan ‘n persoon laat onttrek van die mense rondom hom. Wanneer ‘n persoon die keuse maak om genees te word van die leuens van die verlede, moet hy dit laat hersien deur die waarheid en hier is die kognitiewe benadering uiters nodig. ‘n Persoon se natuurlike reaksie is om te ontken dat hy leuens glo. Derhalwe begrawe hy die pyn wat deur hierdie leuens veroorsaak word. Panozzo en Smith (2007:20) lê daarop klem dat ‘n persoon hierdie leuens moet hanteer. Wanneer dit nie hanteer word nie, sal dit elke keer in soortgelyke situasies herroep word en dieselfde pyn veroorsaak.

Leuens wat hersien behoort te word, is onder andere die volgende (Arterburn, 2005:1-217):

· Ek het net God en myself nodig om gesond te word. · Regte Christene het altyd vrede in alle omstandighede. · Daar is geen nut om in die verlede se pyn te gaan krap nie. · Net tyd sal my genees.

· Ek sal dit self uitsorteer.

· As ek dit ignoreer, sal dit self weggaan.

· Vergifnis is vir mense wat dit verdien of wat dit werd is. · Ek moet my teen enige emosionele pyn beskerm.

· Eers wanneer ek heeltemal genees is, kan ek God dien. · Daar is geen hoop vir my nie.

Hierdie leuens is op die geloof gegrond dat die persoon self moet presteer voordat God sal ingryp. Die waarheid is egter dat Paulus in Romeine 5:8 sê: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Die hantering van hierdie leuens is die kognitiewe herstrukturering van die leuen met die waarheid soos in die Woord van God verklaar word.

Thurman (1999:12-99) verdeel die verskillende soorte leuens wat ‘n persoon in die verlede aangeleer het, soos volg:

· Leuens oor die persoon self

- Ek mag geen foute maak nie.

- Ek moet almal se liefde en goedkeuring hê.

- Dit is makliker om foute te ontken as om dit te hanteer. - Ek kan net tevrede wees as dit volgens my wil gebeur. - Die feit dat ek ongelukkig is, is iemand anders se skuld. · Wêreldse leuens

- Jy kan alles besit.

- My waarde word deur my vermoë bepaal. - Die lewe moet maklik wees.

- Die lewe moet regverdig wees.

- Jy hoef nie te wag om te kry wat jy wil hê nie. - Die mens is basies goed.

· Verdraaide leuens

- Hiperbolies: om van ‘n molshoop ‘n berg te maak. - Personalisering: om alles persoonlik op te neem. - Polarisering: om alles swart of wit te maak.

- Selektiewe uitsondering: om vanweë die bome nie die bos te sien nie. - Oorveralgemening: Die geskiedenis herhaal hom altyd self.

- Emosionele beredenering: Gevoelens is gelyk aan feite. · Godsdienstige leuens

- God se liefde moet verdien word.

- Omdat ek ‘n Christen is, sal God my teen alle gevare en pyn beskerm. - Al my probleme is die gevolg van my sonde.

- Dit is my Christelike plig om alle mense se behoeftes te bevredig. - ‘n Goeie Christen word nie kwaad nie, is nie beangs nie en word ook

nie depressief nie.

- God kan my nie gebruik tensy ek geestelik sterk is nie.

Dit is uit bogenoemde leuens duidelik dat dit deur kognitiewe ontwikkeling uit ervaring in die verlede ontstaan het en nie deur ‘n betroubare bron geëvalueer is nie. Wanneer hierdie leuens na vore kom, moet dit deur kognitiewe herstrukturering begelei word om die waarheid, soos deur die Bybel verkondig, met die leuen te verruil.

Coetzer (2011a:21-23) wys daarop hoe die gedagtes van ‘n persoon hom leuens kan laat glo:

· ‘Altyd/nooit’-denke

· Fokus wat slegs op die negatiewe gerig is · Fortuinvertelling

· Geloof dat hy ander se denke kan lees · Denke wat deur gevoelens gerig word · Skuldgevoelens

· Etikettering

· Personalisering van skuld

Hierdie leuens speel ’n baie groot rol in die persoon wie se eggenoot selfmoord gepleeg het en moet in kognitiewe herstrukturering hanteer word.