• No results found

EPIDEMIOLOGIE EN VERLOOP VAN PANIEKVERSTEURING

3.8 DIE ETIOLOGIE VAN PANIEKVERSTEURING

3.8.5 PSIGODINAMIESE MODEL

geneigdheid het om somatiese simptome katostrofaal te waninterpreteer na die eerste paniekaanval. By sekere individue is daar dus die geneigdheid tot katostrofale denke en vanuit die teorie van Bowen (vgl. 2.4.1) sou die afleiding gemaak kon word dat daar by diegene ‘n lae vlak van differensiasie is, sodat situasies nie objektief volgens feite beoordeel word nie maar subjektief en emosioneel. Die individue se lewens word deur die emosionele sisteem gedomineer, sodat die intellek met emosie oorspoel word. Logiese en kalm beredenering van situasies en omstandighede ontbreek. Gedrag word baseer op instinktiewe refleksmeganismes (wat in die primitiewe deel van die brein gesneller word), eerder as logiese beredenering waar die serebrale korteks benut word.

3.8.5 PSIGODINAMIESE MODEL

Die psigodinamiese model beklemtoon die rol van traumatiese gebeure gedurende die kinderjare en word aangedui dat dit so ‘n groot invloed op die kind kan hê dat soortgelyke situasies in die volwasse lewe paniekaanvalle sneller (Ingham 1993:43). Die psigodinamiese model beskou die etiologie van paniekversteuring as:

 ‘n neurofisiese kwesbaarheid vir paniekaanvalle en/of

 ‘n ervaring van meervoudige ontwikkelingstraumas (Tasman et al 2003:1286).

Die kind wat blootgestel was aan ontwikkelingstrauma (byvoorbeeld fisiese mishandeling, seksuele misbruik, angstige skeiding van die ouers vir lang tydperke) is bang vir enige onbekende situasies en raak oormatig afhanklik van die primêre versorger vir ‘n gevoel van veiligheid. Die primêre versorger kan nie altyd in al die behoeftes voorsien nie en dus ontwikkel die kind ‘n angstige afhanklikheid van die versorger. Dit lei volgens Tasman et al. (2003:1286) tot ‘n onbewustelike konflik tussen afhanklikheid en onafhanklikheid. Aan die een kant

is die vrees vir onafhanklikheid en aan die anderkant die instinktiewe behoefte aan onafhanklikheid. Die innerlike stryd verhoog angstigheid in die individu.

Sansone et.al (1998:985) se persoonlikheidsprofiel, wat meer algemeen by persone met paniekversteuring aangetref word, sluit aan by Tasman et al. (2003:1986) se beskrywing van die oormatig afhanklike persoon. Die persoon met paniekversteuring word beskryf as iemand wat afhanklik is, oormatig skaam en sensitief, wat konflik vermy en as kind reeds senuweeagtig was (Sansone et al. 1998:985). ‘n Ander persoonlikheidstyl is dié van die impulsiewe persoon met gewoonlik ‘n geskiedenis van substansmisbruik en gewelddadige gedrag.

Sommige persone met paniekversteuring is oormatig sensitief vir skeiding van betekenisvolle persone in hul lewens, is oorafhanklik van ander, terwyl ‘n ander groep weer ‘n oormatige behoefte aan onafhanklikheid het. Die konflik tussen afhanlikheid en onafhanklikheid ontlok emosies soos angstigheid, woede en skuldgevoelens. Intense emosie gaan gepaard met somatiese simptome wat die fokus word van katastrofiese waninterpretasie waardeur paniekaanvalle dan gesneller word (Tasman et al. 2003:1288).

Uit bogenoemde word afgelei dat die wisselwerking tussen ‘n neurofisiologiese kwesbaarheid en die konflik tussen afhanklikheid en onafhanklikheid by die angstige individu ‘n invloed kan hê op die ontwikkeling van paniekversteuring. Die individu by wie daar hierdie konflik tussen afhanklikheid en onafhanklikheid voorkom sou vanuit die Bowenteorie moontlik gesien kon word as ‘n persoon met lae vlakke van differensiasie van die self (vgl. 2.4.1) by wie daar tot ‘n groot mate onafgehandelde emosionele binding (vgl. 2.4.8) met die ouers as primêre versorgers voorkom.

3.8.6 OMGEWINGSFAKTORE

Daar is sekere faktore uit die omgewing wat ‘n individu kan predisposisioneer vir die ontwikkeling van paniekversteuring. Klem word geplaas op veral stresvolle of traumatiese gebeure tydens die ontwikkelingsjare van die kind (Tasman et al. 2003:1288 en Bourne 2004: 30).

Die rol wat die opvoeding van die kind speel in die ontwikkeling van paniekversteuring is deur Rapee en Melville (1997:7) nagevors en die bevinding dui daarop dat ouers van panieklyers sterk beheer uitgeoefen het oor hul kinders en oorbeskermend was. Verwerping het wel voorgekom maar die navorsers meen dat beheer/oorbeskerming ‘n groter invloed het op die ontwikkeling van paniekversteuring. Die angstige gedrag wat deur ouers gemodelleer word maak kinders meer kwesbaar vir die ontwikkeling van angstigheid en paniekversteuring. Ouers het ook sosiale kontak met ander mense ontmoedig en hoë waarde geheg aan die menings van ander. Die boodskap wat die kinders kry is dat sosiale situasies bedreigend is en vermy behoort te word. ‘n Groot mate van introversie is by deelnemers gevind wat gekenmerk is deur angstige gedrag en hulle het ook min vriende. Persone met paniekversteuring “…report higher rates of dysfunctional parenting and more intense anxiety separation in childhood” (Kaplan et al. 2000:1473). ‘n Studie deur Turgeon et al. (2002:310) bevind ook dat beheer en oormatige beskerming deur ouers aan die een kant en verwerping, gebrek aan emosies by die ouers en in baie gevalle gebrekkige versorging aan die ander kant, dikwels by persone met paniekversteuring gevind is. Die ondersoek dui aan dat paniekversteuring “…could be the result of an anxious-ambivalent attachment between parent and child” (Turgeon et al. 2002:310). Die hipersensitiwiteit by die kind laat die ouer oorbeskermend optree. Die afleiding wat gemaak word is dat die wyse waarop ouers hul kinders opvoed ‘n betekenisvolle rol speel in die ontwikkeling van paniekversteuring. Ouerlike opvoeding is onder meer die produk van ouers se vlak van differensiasie wat van geslag tot geslag oorgedra word deur die multigeneratiewe transmissieproses

(vgl. 2.4.5) en kan volgens die Bowenteorie moontlik ‘n beskrywing en verklaring bied van waarom paniekversteuring meer in sommige families voorkom. Die emosionele proses van veral beheer en oorbeskerming deur ouers word volgens die teorie van Bowen beskryf as die projeksieproses waarin die kind die ontvanger van die ouerlike angstigheid is. Hierdie kind ontwikkel lae vlakke van differensiasie wat sy vermoë om stresvolle situasies te hanteer beperk. Dit verhoog angstigheid by die kind en kan hom meer kwesbaar maak vir die ontwikkeling van paniekversteuring.

Kritiese gebeure tydens die vroeë ontwikkeling van die kind, byvoorbeeld die skeiding van die primêre versorger, word deur Tasman et al. (2003:1288) as faktore beskou wat kan bydra om ‘n kwesbaarheid vir die ontwikkeling van paniekversteuring te bevorder. Stresvolle gebeure tydens adolessensie of vroeë volwassenheid bespoedig die ontwikkeling van paniekversteuring by kwesbare individue. Gebeure wat geassosieer word met die aanvang van paniekversteuring is:

 Verlies, skeiding of siekte van betekenisvolle persone in die individu se lewe.

 Die slagoffer van seksuele aanranding of van enige vorm van geweld.  Finansiële- of werkstressors.

 Misbruik van middels soos kokaïene, dagga of onttrekking van die middels.

(Tasman et al. 2003:1288)

By die ondersoek na kritiese gebeure tydens die vroeë ontwikkeling van die kind sou die geneagram (vgl. Hoofstuk 4) toepaslik benut kon word om moontlike verbande tussen die gebeure en simptoomontwikkeling aan te dui. Bourne (2004: 30 - 33) het in sy werk met panieklyers gevind dat die volgende omstandighede tydens die kinderjare individue kon predisposisioneer vir die ontwikkeling van paniekversteuring:

 Ouers wat ‘n oorversigtige siening van die wêreld aan kinders kommunikeer. Die ouers waarsku voortdurend teen alle moontlike potensiële gevare. ‘n Angstige, oorversigtige houding word aan die kind gemodelleer en gekommunikeer. Die kind word groot met ‘n geneigdheid om hom oor alles te bekommer en is oorversigtig (Bourne 2004:30).

 Kritiese ouers wat onrealistiese hoë standaarde stel waaraan kinders kwalik kan voldoen. Kinders van kritiese, perfeksionistiese ouers is onseker oor hul aanvaarbaarheid vir ander. Daar is voortdurende pogings om goedkeuring te verkry en ‘n gebrek aan selfhandhawing. Ouers se waardes word geïnternaliseer en die kind word ook ‘n perfeksionis en ‘n kritiese persoon (Bourne 2004:31).

 Wanneer kinders verwaarloos, verwerp en verlaat word deur byvoorbeeld egskeiding, dood, fisiese of seksuele misbruik ontwikkel daar by die kind ‘n gebrek aan emosionele sekuriteit en kan oormatige afhanklikheid van ander ontwikkel wat die kind meer kwesbaar maak vir die ontwikkeling van paniekversteuring (Bourne 2004:31). Soveel as 20% tot 25% van persone met angsversteurings kom uit ouerhuise waar beide ouers alkoholiste was. By hierdie kinders is daar ook ‘n diep gesetelde gevoel van onsekerheid.

Uit bogenoemde kan afgelei word dat sekere omstandighede in die ouerhuis en die wyse waarop ouers kinders opvoed, kinders kan predisposisioneer tot groter kwesbaarheid vir die ontwikkeling van paniekversteuring. Dit sluit aan by Bowen se siening dat die emosionele prosesse van die multigeneratiewe gesin kan bydra tot simptoomontwikkeling by die individu (vgl. 2.3.4).

Dit is die mening van Baker (2003:65) dat paniekaanvalle nooit regtig uit die bloute plaasvind nie, maar dat dit voorafgegaan word deur stresvolle gebeure soos onder meer:

o Dood of ernstige siekte van ‘n lewensmaat, goeie vriend of familielid. o Huweliksprobleme soos rusies, skeiding of huweliksgeweld.

o Spanning by die werk.

o Kinders – geboorte, dood, stilgeboorte, aborsie of kinders wat die huis verlaat.

Die stresvolle gebeure kan kumulatief oor ‘n lang tydperk, oor maande of selfs jare opbou. Die paniekaanval vind dan tydens ‘n tydperk, wanneer die persoon se weerstand laag is plaas. Dit kan wees tydens fisiese siekte of emosionele kwesbaarheid, byvoorbeeld na die dood van ‘n geliefde. ‘n Feitlik onbenullige gebeurtenis kan dan die paniekaanval sneller en die persoon beleef die paniekaanval asof dit uit die bloute plaasvind. Die persone is dikwels onbewus dat “…the first panic is caused by stressful events in their lives – difficulties or troubles that started months before the panic” (Baker 2003:65). Dit is ook die mening van Bourne (2004:32) dat kumulatiewe stres wat oor jare opbou die neurotransmittersisteme, wat ‘n sleutelrol speel in paniekversteuring, beїnvloed (vgl. 3.8.2). Stres het die grootste impak op die swakpunt in ‘n persoon se sisteem en as dit die neuroendogene- en neurotransmittersisteme is, sal die persoon meer kwesbaar wees om paniekversteuring te ontwikkel. Die afleiding wat gemaak word is dat geen enkele faktor hetsy geneties, biologies, stres of omgewingsfaktore uitgesonder kan word as oorsaaklike faktor in die ontwikkeling van paniekversteuring nie. Verskeie faktore het ‘n wederkerige invloed op mekaar en in wisselwerking met mekaar dra dit by tot die ontwikkeling van paniekversteuring. ‘n Holistiese benadering in die ondersoek na die voorkoms van paniekversteuring in die multigeneratiewe gesin is dus nodig.

3.9 DIE INVLOED VAN PANIEKVERSTEURING OP DIE MAATSKAPLIKE