• No results found

KRONIESE ANGSTIGHEID BINNE DIE KONTEKS VAN DIE BOWENTEORIE

2 3 DIE TEORETIESE BEGRONDING VAN DIE BOWENTEORIE

2.3.3 KRONIESE ANGSTIGHEID BINNE DIE KONTEKS VAN DIE BOWENTEORIE

Bowen (1976:65) sonder twee veranderlikes uit wat ‘n rol speel in die vlak van funksionering in die individu en in die nukliêre gesin, naamlik die graad van kroniese angstigheid en die differensiasie van die self. Bowen noem die konsep van differensiasie van die self die hoeksteen van die Bowenteorie, waar differensiasie verwys na die vermoë om te onderskei tussen emosies en die intellek. Bowen verkies om die term angstigheid eerder as die term vrees te gebruik aangesien hy van mening is dat “…anxiety [is] rooted in biology and fear to be more embedded in psychological theories” (Illick et al. 2003:205). By paniekversteuring is dit juis die amigdala, wat in die primitiewe deel van die brein geleë is, wat in paniekversteuring geïmpliseer word (vgl. Hoofstuk 3, 3.6). Dit sluit aan by Bowen se siening dat die emosionele sisteem van die mens ouer is as die intellektuele sisteem, omdat die prefrontale korteks (beheersentrum van kognitiewe prosesse) by die mens later ontwikkel het (vgl. 2.3.1). Die afleiding sou dus gemaak kon word dat by persone met paniekversteuring die emosionele sisteem, wat vanuit die primitiewe deel van die brein beheer word, die individu se gedrag grootliks beїnvloed en die intellektuele sisteem ‘n minder belangrike rol speel. Hoe laer die vlak van differensiasie, hoe hoër sal die vlakke van kroniese angstigheid wees en sal dit meer waarskynlik wees dat die panieklyer se gedrag deur outomatiese emosionele kragte bepaal word.

Bourne (2004:2) onderskei ook tussen angstigheid en vrees. Vrees word gekoppel aan ‘n konkrete eksterne objek of situasie wat by die individu die emosie van vrees ontlok. Hierteenoor verwys angstigheid na ‘n emosie wat die individu beleef, maar wat nie spesifiek is nie en waar die persoon nie kan verklaar waarom hy angstig voel nie. Dit blyk ‘n respons te wees op ‘n vae, onbekende, onbeskryfde gevaar. Die persoon dui gewoonlik bloot aan dat hy kan voel dat “iets slegs” gaan gebeur. Die fokus van die angstigheid is eerder intern as ekstern. Bourne (2004:2) verwys na die angstigheid wat nie met ‘n objek of

situasie verbind kan word nie as “free-floating anxiety”. Dit is een van die diagnostiese kenmerke (vgl. Hoofstuk 3, 3.3) van paniekversteuring, naamlik dat die persoon periodes van akute angs beleef wat nie gekoppel kan word aan ‘n situasie of objek nie.

Onderskeid moet getref word tussen akute angstigheid en kroniese angstigheid. Akute angstigheid verwys na angstigheid wat ervaar word as ‘n respons op ‘n werklike bedreiging en is beperk in tydsduur. Kroniese angstigheid is ‘n respons op ‘n denkbeeldige bedreiging en is onbeperk in tydsduur. Akute angs is ‘n vrees vir wat werklik is, terwyl kroniese angs onderhou word deur ‘n vrees vir dit wat mag wees (Kerr en Bowen 1988:47).

Kroniese angstigheid speel ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van die differensiasie van die self, aangesien hoë vlakke van angstigheid lei tot groter fusie en groter emosionele reaktiwiteit. Wanneer kroniese angstigheid laag is, kan selfs die individu met ‘n lae vlak van differensiasie simptoomvry wees. Alle organismes is redelik aanpasbaar by angstigheid. Indien die angstigheid laag is, kan enige organisme symptoomvry wees. Simptome ontwikkel wanneer angstigheid toeneem en kronies bly vir ‘n tydperk. Die aanpasbaarheid by spanning hou volgens Kerr en Bowen (1988:112) verband met ‘n persoon se vlak van differensiasie. Hoe laer sy vlak van differensiasie, hoe minder is hy aanpasbaar by stres. Dit is wanneer die vermoë tot aanpasbaarheid oorskry word dat ‘n persoon se funksionering of die funksionering van diegene met wie hy emosioneel verbind is, ingekort word. Funksionele belemmering wissel van matige tot ernstige fisiese, emosionele of sosiale simptome. Hierdie siening word deur Peleg-Popko (2002:355) ondersteun, naamlik dat hoogs gedifferensieerde persone “…have better psychological adjustment, whereas less differentiated people become dysfunctional under stress more easily and thus suffer more psychological and physical symptoms”. Dit is die mening van Illick et al. (2003:206) dat wanneer die mens se gedrag vanuit die teorie van Bowen ondersoek word, kroniese angstigheid ‘n sleutelrol speel in die ontwikkeling van

simptoomgedrag. Uit bogenoemde kan die afleiding gemaak word dat die ontwikkeling van simptome verband hou met die mate van kroniese angstigheid binne die gesinsisteem en die aanpasbaarheid van die persoon of gesin by die angstigheid. In die geval van paniekversteuring sou die afleiding gemaak kan word dat daar by diegene met paniekversteuring hoë vlakke van angstigheid voorkom wat hul funksionering tot so ‘n mate belemmer dat simptomatiese gedrag ontwikkel (vgl. Hoofstuk 3, 3.5.1).

‘n Belangrike aspek van kroniese angstigheid is dat hoewel aangebore en aangeleerde elemente ‘n rol speel in beide kroniese en akute angs, is dit veral die leerproses wat ‘n rol speel by kroniese angstigheid. Dit is die mening van Friedman (1991:140) dat die verwysing na kroniese angstigheid in die Bowenteorie nie verwar moet word met bekommernis oor ‘n spesifieke probleem nie, maar verwys na angstigheid wat ‘n element van die instinktiewe, nie- denkende respons bevat wat nodig is vir oorlewing. Kroniese angstigheid is ‘n emosionele en fisiese reaktiwiteit wat die mens met alle lewende protoplasma deel en is die respons outomaties eerder as weldeurdag. Die kroniese angstigheid word kumulatief van geslag tot geslag oorgedra en elke lid van die gesin reageer en beleef die angstigheid verskillend. In aansluiting hierby meld Kelly (2003:140) dat alle mense outomaties reageer wanneer daar angstigheid is, maar “[e]ach person learns in his or her formative years to manage the anxiety within the family system in specific ways”. Veral kroniese angs blyk ‘n invloed te hê op die funksionering van die gesin en die individu. Die wyse waarop die individu angstigheid hanteer is beide ‘n instinktiewe, maar veral ‘n aangeleerde respons. Uit bogenoemde kan afgelei word dat veral kroniese angstigheid ‘n invloed het op die emosionele prosesse soos byvoorbeeld differensiasie, emosionele afsnyding en driehoekvorming. Hoe hoër die kroniese angstigheid, hoe groter is die invloed op die emosionele prosesse en hoe groter die belemmering van die individu se funksionering. Die afleiding is dat die teenwoordigheid van kroniese angstigheid die kanse op simptoomontwikkeling

vergroot. In die geval van paniekversteuring sou daar waarskynlik hoë vlakke van kroniese angstigheid in die multigeneratiewe gesin voorkom.

Kroniese angs word volgens Kerr en Bowen (1988:113) deur verskeie faktore beїnvloed. Kroniese angstigheid is eerder ‘n proses of aksies en reaksies wat wanneer dit eers gesneller is, ‘n eie momentum ontwikkel en onafhanklik is van die oorspronklike stimulus. Die persoon se vermoë om aan te pas by stresvolle gebeure word tot ‘n groot mate bepaal deur die gemaklike kontak met diegene wat emosioneel belangrik is. Volgens Illick et al. (2003:204) is emosionele reaktiwiteit ‘n manifestasie van angstigheid, met ander woorde wanneer ‘n individu emosioneel reaktief is, is daar angstigheid. Die emosionele reaktiwiteit manifesteer in die gedrag van mense in hul verhoudings met ander en kan dit dus daartoe bydra dat verhoudingsprobleme ontwikkel.

‘n Kenmerk van angstigheid, wat deur Bowen (1976:65) uitgelig word, is die verskynsel van die aansteeklikheid van angstigheid. Wanneer dit geaktiveer is, sal dit vinnig deur die gesin versprei. ‘n Verdere kenmerk van angstigheid is volgens Kerr en Bowen (1988:115) dat die gemiddelde vlak van angstigheid van persoon tot persoon verskil. Die gemiddelde vlak van kroniese angstigheid van ‘n persoon of nukliêre gesin is parallel tot die vlak van differensiasie van die persoon of gesin. Die vlak van kroniese angstigheid in ‘n persoon se lewe het min te doen met bestaande of huidige situasies. Die kroniese angstigheid is in die ontwikkelingsjare aangeleer en bly dwarsdeur die persoon se lewe dieselfde. Die leerproses vind op verskeie vlakke plaas, naamlik deur osmotiese absorbering van ouers se angstigheid en die insluiting van subjektief bepaalde houdings wat angstigheid tot gevolg het. Die gemiddelde vlak van angstigheid in die nukliêre gesin is die produk van die emosionele samestelling van die gesinslede en die wyse waarop hulle mekaar beїnvloed. Om die oorsprong van kroniese angstigheid in die persoon of nukliêre gesin te begryp is dit volgens Kerr en Bowen (1988:113) nodig om ‘n multigeneratiewe ondersoek te doen aangesien kroniese angstigheid oor geslagte heen ‘n geleidelike toename of

afname toon. Die studie van Peleg-Pepko (2002:364) trek ook ‘n verband tussen die vlakke van differensiasie van die gesin na die vlak van angstigheid wat die nageslag beleef. Om die rol te verstaan wat kroniese angstigheid in simptoomontwikkeling by paniekversteuring speel, is dit nodig om ‘n multigeneratiewe ondersoek te doen, aangesien kroniese angstigheid by die individu die produk is van angstigheid wat oor geslagte heen oorgedra word na die nukliêre gesin. Die vlak van kroniese angstigheid by die panieklyer is waarskynlik in sy kinderjare aangeleer en maak hom meer weerloos teen simptoomontwikkeling.

‘n Persoon wat grootword binne die nukliêre gesin absorbeer die vlak van kroniese angstigheid wat kenmerkend is van sy gesin. Die ouers kan volgens Kerr en Bowen (1988:116) nie hul kinders beskerm teen die oordra van kroniese angstigheid nie aangesien die proses “…is too ‘wired in’ to the way parents function and, in addition, children are very prone to picking up anxiety”. Hoewel kinders die kroniese angstigheid van die gesin absorbeer, verskil kinders van mekaar ten opsigte van die vlakke van angstigheid en differensiasie van die self wat hulle ontwikkel. Die kind wat die meeste vasgevang is in die emosionele probleme van die gesin “erf” die meeste kroniese angstigheid. Hierby voeg Harrison (2003:248) dat individue met lae vlakke van differensiasie “…perceive threat more easily, experience anxiety more often, and are more likely to develop symptoms related to stress.” Die afleiding wat gemaak word is dat die vlakke van kroniese angstigheid wat die kind ontwikkel die resultaat is van die mate waarin hy die angstigheid binne die gesin absorbeer. Die mate van angstigheid wat die nukliêre gesin ontwikkel word tot ‘n groot mate bepaal deur die mate van angstigheid wat ouers uit hul gesinne van oorsprong oordra na die nuwe gesin. Angstigheid is nou verweef in die multigeneratiewe emosionele prosesse van die gesin. By die gesinne waarin paniekversteuring voorkom sou daar waarskynlik hoë vlakke van kroniese angstigheid teenwoordig wees en sou die lid van die gesin met paniekversteuring waarskynlik die een wees wat die meeste angs in die gesin absorbeer.

Die wyse waarop angstigheid in die individu se lewe manifesteer hou verband met die wyse waarop angstigheid gebind (dit verwys na die wyse waarop die individu sy angs hanteer) word. Die binding van angstigheid in een deel van die sisteem sal volgens Kerr en Bowen (1988:119) angstigheid in ‘n ander deel van die sisteem verminder. Angstigheid word meestal in verhoudings gebind. Ander wyses om angstigheid te bind is dwelmmisbruik, alkohol, kalmeermiddels, uitermatige vetsug, bulimie en anorexia, dobbel, spandabelrigheid en oor- en onderprestasie. Ook preokkupasie met fisiese gesondheid kan angstigheid bind aangesien die persoon sy emosionele funksionering stabiliseer rondom ‘n kroniese fisiese probleem. Sekere persoonlikheidseienskappe soos obsessiwiteit, impulsiwiteit, besluitloosheid, passiwiteit, aggressie, perfeksionisme en paranoia kan ook maniere wees om angstigheid te bind. In hierdie geval sal die karaktereienskappe meer prominent wees hoe hoër die vlak van kroniese angstigheid. ‘n Waarneming wat Kerr en Bowen (1988:122) maak is dat die hoeveelheid angstigheid wat die persoon probeer bind of bestuur nie genoegsaam verklaar kan word buite die konteks van die verhoudingsisteem waarvan hy deel is nie. Die afleiding wat gemaak word is dat die ontwikkeling van paniekversteuring ‘n manier kan wees waarop die individu sy eie angstigheid en angstigheid in die gesin bind.

Wanneer kroniese angstigheid toeneem neem die behoefte aan “saamwees” volgens Kerr en Bowen (1988:50) toe. Gedurende tye van verhoogde angstigheid neem druk toe om dieselfde te dink en op te tree. Die druk verhoog die waarskynlikheid dat die groep kan fragmenteer. Die fragmentasie reflekteer juis die verlies aan differensiasie van die groep. Hoe meer mense se reaksie op angstigheid gebaseer is, hoe minder verdraagsaam is hulle ten opsigte van ander se sienings en hoe meer word hulle deur verskille geїrriteer. Die poging om ander deur druk te verander is ‘n outomatiese proses en die produk van emosionele reaktiwiteit en subjektiwiteit. Hoe groter die angstigheid en druk vir saamwees in die gesin, hoe meer word gesinslede daarin geabsorbeer. Hoe angstiger mense is, hoe meer neig hul reaksie om instinktief te wees. Die

reaktiewe en subjektiewe wyse van optrede in tye van kroniese angstigheid dra by tot ‘n funksionele regressie in die gesin en “…[t]he regression deepens as anxiety feeds on anxiety” (Kerr en Bowen 1988:125). Wanneer kroniese angstigheid afneem sal die lede van die gesin se vermoë om hul gedrag te baseer op rasionele denke herstel. Die emosionele grense tussen gesinslede herstel ook en simptome sal verminder of verdwyn. Volgens Friedman (1991:140) is kroniese angstigheid “…the primary promoter of all symptoms”. Uit bogenoemde kan afgelei word dat daar in gesinne met paniekversteuring en waar die vlakke van kroniese angstigheid hoog is, die behoefte aan saamwees so sterk kan wees, dat druk op gesinslede geplaas word om te konformeer ten opsigte van denke en optrede. Die grense tussen gesinslede vervaag en die reaktiewe optrede van gesinslede dra by tot ‘n regressie in die funksionering van die gesin. Die gesinslede sou dus meer kwesbaar wees vir simptoomontwikkeling.

Samevattend kan gesê word dat kroniese angstigheid betrokke is by die emosionele prosesse in die multigeneratiewe gesinsisteem en dat dit en die vlak van differensiasie ‘n invloed het op die intensiteit van disfunksionele gedrag en simptoomontwikkeling.