• No results found

2 3 DIE TEORETIESE BEGRONDING VAN DIE BOWENTEORIE

2.4 DIE AGT AANEENSKAKELENDE KONSEPTE VAN DIE BOWENTEORIE

2.4.8 EMOSIONELE AFSNYDING

Die konsep van emosionele afsnyding is in 1975 by die Bowenteorie gevoeg en verwys volgens Bowen (1976:84) na die wyse waarop individue hul losmaak van die gesin van oorsprong, ten einde hul lewe in die huidige generasie te begin. Die lewenspatroon van emosionele afsnyding word bepaal deur die wyse waarop mense hul onafgehandelde emosionele verhouding met hul ouers hanteer. Emosionele afsnyding is volgens Miller en Janosik (1980:50) die emosionele proses waardeur persone losmaak van hul gesinne van oorsprong ten einde hul eie lewens te begin en is dit ‘n universele verskynsel aangesien alle persone onafgehandelde emosionele verbintenis met hul ouers het. In aansluiting hierby beskryf Benswanger (1999:191) emosionle afsnyding as “…a condition of estrangement between family members that prevents them from confronting, or resolving, conflicts”. Emosionele afsnyding verwys na die onvolwasse skeiding van mense van mekaar veral van die ouers, maar ook van sibbes en lede van die uitgebreide gesin (Knauth 2003:334). Emosionele afsnyding is volgens Titelman (2003:22) die emosionele afstand wat die ongemak van emosionele fusie tussen generasies reguleer. Die afleiding wat gemaak word is dat emosionele afsnyding verwys na die onvolwasse skeiding tussen ouers en kinders om die ongemak van onafgehandelde emosionele binding te bestuur en kom by alle gesinne voor.

Die graad van onafgehandelde emosionele betrokkenheid by ouers is gelykstaande aan die graad van nie-differensiasie in ‘n persoon se lewe, sowel

as in toekomstige generasies wat hanteer moet word (Bowen 1976:84). Die wyse waarop die onafgehandelde verbinding hanteer word, is deur ‘n psigiese proses van ontkenning of isolasie van die self terwyl die persoon naby die ouers is, of deur fisiese afstand te plaas tussen die self en ander. Dit kan ook ‘n kombinasie van emosionele afstand en fisiese afstand wees. Bowen (1976:84) merk op dat die persoon wat “fisies wegloop” van die gesin van oorsprong, emosioneel net so afhanklik is as die een wat nooit die huis verlaat nie. Miller en Janosik (1980:50) is van mening dat indien die emosionele afhanklikheid van die gesin van oorsprong nie suksesvol afgehandel word nie, dit na die individu se eie huwelik en na toekomstige generasies oorgedra word.

Die individu wat hom fisies van sy gesin van oorsprong distansieer regverdig dit deur aan te dui dat dié stap nodig is om onafhanklikheid van sy ouers te bewerkstellig. Die persoon ontken gewoonlik sy emosionele afhanklikheid van ander en wissel van verhoudings indien die emosionele klimaat te moeilik raak om te hanteer. Hierteenoor is die persoon wat naby sy ouers bly te afhanklik van hulle om fisies weg te beweeg, maar sal die intensiteit van die verbinding deur intra-psigiese afsnyding hanteer word (Kerr en Bowen 1988:324). Ander wyses waarop afsnyding plaasvind word deur Benswanger (1999:191) aangedui as isolasie, onttrekking, “weghardloop” en ontkenning van die belangrikheid van die ouers en die ouerhuis. Hoe intenser die afsnyding is, hoe meer waarskynlik is dit dat disfunksionele patrone in ander verhoudings herhaal sal word. Tereg merk Titelman (1999:20) op dat afsnyding die wyse is om nie-differensiasie te hanteer wanneer angstigheid hoog is. Die teenwoordigheid van fusie in ‘n verhouding verhoog die waarskynlikheid dat afsnyding kan plaasvind: ”[e]motional fusion and emotional cutoff constitute an intertwined multigenerational phenomenon” (Titelman 1999:20). Die emosionele afsnyding kan verder beskryf word as ‘n outomatiese emosionele gedragsreaksie wat by tye ‘n doelbewuste poging insluit om afstand van buitengewone konflik, vrees en angstigheid te bewerkstellig. Emosionele afsnyding is volgens Titelman (2003:23) as emosionele proses geanker in die evolusionêre prosesse wat instinktief en outomaties is.

Emosionele afsnyding blyk dus ‘n reaksie te wees op fusie in die gesin, terwyl die wyse van afsnyding of fisiese afstand of intrapsigiese isolasie of ‘n kombinasie van beide meganismes is. Die intensiteit van emosionele afsnyding beїnvloed die funksionering in ander verhoudings. Hoe intenser die afsnyding, hoe groter die waarskynlikheid dat disfunksionele patrone in ander verhoudings herhaal sal word. In gesinne waarin daar paniekversteuring voorkom sal daar waarskynlik patrone van emosionele afsnyding wees wat óf fisiese óf intra-psigiese afsnyding kan wees.

Daar is verskillende grade van emosionele afsnyding en Bowen (1976:85) dui aan dat hoe meer die nukliêre gesin ‘n mate van standvastige emosionele kontak met vorige generasies het, hoe meer ordelik en simptoomvry is die lewens van die lede van al die generasies. Hierby voeg Kerr en Bowen (1988:325) dat emosionele afsnyding minimaal is wanneer mense deurlopend met respek teenoor mekaar optree, luister sonder om reaktief te reageer en wanneer mense nie nodig het om driehoeke te vorm om verhoudings gemaklik te hou nie. Daarteenoor is diegene wat die gesin van oorsprong heeltemal vermy minder weerbaar en meer vatbaar vir die ontwikkeling van simptome. In aansluiting by Bowen (1976:85) verwys Benswanger (1999:191) ook na die grade van afsnyding en dui aan dat dit gekenmerk word deur “…every hue of the emotional rainbow, from bitter rage to lingering sadness, from abrupt rejection to imperceptible distancing, from vivid intensity to apparent indifference”. Die proses van afsnyding kan bewerkstellig word deur die verbanning van ‘n gesinslid, stilbly in hul teenwoordigheid of uitbarstings van woede wat met koudheid afgewissel word. Die mees basiese afsnyding is dié van die ouers en is dit ‘n oënskynlike poging om onafhanklikheid en skeiding van die ouers te bewerkstellig. Watter vorm die afsnyding ookal aanneem, die hele gesinsisteem word beїnvloed wanneer dit plaasvind. Dit is die mening van Illick et al.(2003:201) dat hoe intenser die afsnyding van die gesin van oorsprong is, hoe groter is die waarskynlikheid dat die persoon fisiese, sosiale of emosionele simptome kan ontwikkel.

Emosionele afsnyding het ‘n funksie aangesien dit in die korttermyn ruimte en geleentheid bied om weg te kom van ‘n situasie en dus ‘n geleentheid om die self te herstel. Alhoewel emosionele afsnyding aanvanklik verligting bied kan dit op die langtermyn ‘n persoon se opsies en algemene buigbaarheid beperk. Ook Titelman (2003:23) meen dat emosionele afsnyding op die korttermyn verligting van akute angs bied, maar “…it can augment chronic anxiety and impede its resolution in the long run”. Die graad van emosionele afsnyding is ‘n meer intense en uitgerekte respons wanneer die vlak van differensiasie laag is en die vlak van angstigheid hoër en kronies is. Dit is verder ook die mening van Murphy (2003:343) dat die graad van emosionele afsnyding tussen die individu en sy gesin van oorsprong ‘n aanduiding is van die graad van emosionele volwassenheid (vlak van differensiasie). Hoe groter die graad van emosionele afsnyding, hoe laer die vlak van differensiasie en hoe meer vatbaar sal die individu wees vir angstigheid in sy volwasse verhoudings.

Die verskillende grade van emosionele afsnyding word deur Smith (2003:355) beskryf as ekstreme afsnyding. Dit verwys na die afsnyding van kontak tussen geslagte van ’n gesin wat vir generasies gehandhaaf word. Minder intense grade van emosionele afsnyding behels afstand en gebrek aan kontak tydens stresvolle situasies, maar goeie emosionele kontak wanneer toestande kalmer is. Die mate van emosionele afsnyding reflekteer die intensiteit van die stres en die gesin se vermoë om aan te pas en om stresvolle situasies te hanteer. Hierdie grade van emosionele aanpassing wissel tussen verskillende lede van die gesin. Emosionele afsnyding moet nie gesien word as patologies nie. Dit is deel van die mens se aanpassing in die teenwoordigheid van genoeg stres en konflik en is ‘n basiese menslike verhoudingsreaksie op die bedreiging van oorweldigende gebeure. Emosionele afsnyding bring verligting vir die huidige oomblik, maar op die langtermyn word funksionering nadelig beïnvloed (Smith 2003:354). Weens die kompleksiteit van mense in hul verhoudings is dit, aldus Ackerman (2003:447), duidelik dat alle menslike verhoudings ten minste ‘n graad van

emosionele afsnyding bevat. Hoewel alle mense redes aanvoer waarom afsnyding plaasvind, is die basiese neiging ‘n tendens wat die mens met ander vorms van lewe in gemeenskap het. Die afleiding wat gemaak word is dat nie alle emosionele afsnydings ewe intens is nie. Die intensiteit word beïnvloed deur die graad van differensiasie en die teenwoordigheid van angstigheid. Hoewel emosionele afsnyding verligting bring, het dit ‘n nadelige effek op die langtermynfunksionering van die individu, aangesien die onafgehandelde emosionele binding nie werklik hanteer is nie en angstigheid dus hoog bly wat kan bydra tot simptoomontwikkeling. Hoe laer die vlak van differensiasie van die persone betrokke, hoe intenser sal die afsnyding wees en hoe hoër die vlak van kroniese angstigheid. In gesinne waarin paniekversteuring voorkom sou daar waarskynlik intense emosionele afsnyding tussen lede van die gesin en uitgebreide familie voorkom wat hulle juis meer vatbaar maak vir disfunksionering en simptoomontwikkeling.

Die bande wat mense bind kan volgens Benswanger (1999:193) in drie verskillende areas geїdentifiseer word, naamlik: sosiaal/emosioneel; finansieel/materieel en funksioneel. Die oënskynlike rede vir afsnyding kan oor die algemeen teruggevoer word na een van die areas:

 Sosiaal/emosioneel: Dislojaliteit teenoor ‘n gesinslid; weiering om deel te neem aan gesinsrituele of seremonies; verwerping van godsdienstige affiliasies; egskeiding en verwerping van die leefstyl van die individu.  Finansieel/materieel: Erfporsie ontsê; weier om finansieel te help met

studies.

 Funksioneel: Verwerping van toegekende rol, byvoorbeeld dié van die broodwinner, versorger, tuisteskepper. Verantwoordelikheid vir diegene wat siek is, afhanklik is of bejaarde gesinslede word nie langer nagekom nie.

Die afleiding wat gemaak word, is dat afsnyding in enige van die drie areas of in ‘n kombinasie van areas kan plaasvind. Daar moet tog gewaak word om nie

enige van die areas as “oorsaak” van die afsnyding te sien nie. Emosionele afsnyding is deel van ‘n wederkerige emosionele proses in die gesin wat beїnvloed word deur die volwassendheid (vlak van differensiasie) en angstigheid by die individu.

Emosionele afsnyding voorkom dat woede deurgewerk word en laat gesinslede toe om die probleme en konstruktiewe konfrontasie te vermy. Wanneer die afsnyding langdurig is kan gesinslede in die volgende generasies die houdings, spanning en inhibisies van die nukliêre gesin erf sonder om die oorsprong daarvan te herken en is daar sterk weerstand teen verandering in houdings en dit wat hulle glo.

Volgens Titelman (2003:23) verwys emosionele afsnyding primêr na die individu se verhouding met sy ouers nadat hy die huis verlaat het, dit wil sê die emosionele proses van skeiding tussen die individu en sy ouers wanneer die individu ‘n eie nukliêre gesin begin of ‘n onafhanklike lewe weg van die ouers begin. Hierdie proses van emosionele afsnyding behels die multigeneratiewe transmissieproses, waar onafgehandelde verbinding van kinders met hul ouers lei tot fusie in die kind se huwelik en afstand van die ouers. Wanneer die fusie in die huwelik die angstigheid nie kan bind nie, vergroot die afstand tussen eglede en word ‘n kind ingedriehoek. ‘n Natuurlike gevolg van die multigeneratiewe transmissieproses is die voorkoms van afsnyding in een van die takke of tussen baie takke van die multigeneratiewe gesin. Hierdie emosionele afsnyding tussen generasies word deur Illick et al. (2003:199) beskou as ‘n instinktiewe proses en dat variasies van emosionele afsnyding tussen generasies op ‘n kontinuum lê. Die afleiding wat gemaak word is dat emosionele afsnyding van generasie tot generasie oorgedra word in ‘n multigeneratiewe transmissieproses en dat die funksionering van elke geslag beїnvloed word deur die onafgehandelde emosionele bindings van die vorige geslag.

Die konsep van emosionele afsnyding word deur Smith (2003:355) beskou as onafgehandelde konflik tussen generasies van die gesin wat hanteer word deur afstand en vermyding. Dit is voorspelbaar dat afsnyding in een generasie die reaktiwiteit in ‘n volgende generasie intensifiseer. Gesinslede is meer gemaklik met afsnyding en minder angstig wanneer afstand en verwydering plaasvind. Intense emosionele afsnyding word weerspieël in hoë vlakke van emosionele reaktiwiteit. Die afsnyding verminder gesinslede se bewustheid van hul verbintenis, maar dit is juis die teenwoordigheid van afsnydig wat die verbintenis beklemtoon. Die afleiding wat gemaak word is dat emosionele afsnyding ‘n multigeneratiewe proses is wat van geslag tot geslag oorgedra kan word. Dit kan gesien word in families wat nie bewus is van die bestaan van ander familielede nie. Hoe intenser die afsnyding wat geërf word, hoe meer emosioneel reaktief is die nageslag, hoe meer disfunksioneel is hul gedrag en hoe meer vatbaar is hulle vir die ontwikkeling van simptome.

Afsnyding kan nie deur een persoon geskep en onderhou word nie, maar twee of meer individue is nodig om emosionele afsnyding te bewerkstellig (Titelman 2003:33). Dit verg ten minste een ouer en ‘n kind vir die proses van emosionele afsnyding om plaas te vind. Die proses van afsnyding is nou verbonde aan triangulasie (die ouer-kind-driehoek) sowel as die onvolwassenheid van die ouers en hul verhouding met hul ouers. Die kind wat die ontvanger van die projeksieproses in die ouer-kind-driehoek is en waar kroniese angstigheid in die gesin hoog is, sal meer geneig wees tot emosionele afsnyding: ”…emotional cutoff is the behavior that develops in response to the intensity in the parent triangle” (Titelman 2003:33). Afsnyding is deel van die aaneenskakelende proses van fusie en afsnyding tussen generasies. Die mate van simbiotiese binding wat nie tussen die self en die moeder en die self en die vader binne die oorspronklike driehoek afgehandel is nie, beїnvloed volgens Illick et al. (2003:204) die mate van differensiasie wat die individu ontwikkel. Hoe groter die mate van onafgehandelde emosionele binding, hoe groter die vatbaarheid vir angstigheid. Dit verhoog die geneigdheid om emosioneel reaktief te wees wat weer die kans

op emosionele afsnyding vergroot. Hierby sluit Murphy (2003:343) aan en wys daarop dat die reaktiewe response tussen ouers en kinders kan lei tot algehele opskorting van die verhouding tussen kinders en ouers aan die een kant en die kind se onvermoë om emosioneel, sosiaal of fisies outonoom te wees aan die ander kant. Die onafgehandelde verbintenis met ouers kan ‘n verskeidenheid van vorms aanneem (Bowen Center for the Study of the Family (2004:1):

 Die individu voel meer soos ‘n kind wanneer hy by die huis is en kyk na ouers om besluite namens hom te neem.

 Die individu voel verantwoordelik om ouers se konflik en ongemak op te los.

 Die individu voel sy ouers verstaan hom nie.

Hierdie onafgehandelde binding met ouers hou verband met die onvolwassen- heid van die ouers en die volwasse kind.

Emosionele afsnyding word deur Baker (2003:381) beskryf as “…an emotional relationship process in which parents and their children respond to anxiety in the relationship by automatically shutting down the emotional connections”. Die emosionele afstand kan gesien word in die onvermoë om gedagtes en gevoelens te deel. In aansluiting hierby beskryf McKnight (2003:285) die emosionele afsnyding as subtiel en gekompliseerd, terwyl die afsnydingsgedrag en response wederkerig tussen ouers en kinders is. Emosionele afsnyding (wat wissel in intensiteit en vorm) kan dus beskryf word as ‘n meganisme wat deur individue gebruik word om onafgehandelde emosionele verbintenisse met ouers, sibbe en lede van die uitgebreide familie te bestuur. Dit bring verligting maar op die lang duur lei dit tot belemmering van die individu se funksionering. In gesinne waarin paniekversteuring voorkom is daar waarskynlik ‘n hoë mate van emosionele reaktiwiteit tussen lede van die gesin wat die waarskynlikheid van emosionele afsnyding (veral tussen ouers en kinders) verhoog. In hierdie gesinne is daar waarskynlik intense emosionele afsnyding tussen gesinslede en lede van die uitgebreide gesin wat reeds generasies lank na elke nuwe generasie oorgedra word. Die intense emosionele afsnyding kan die individuele lede van die gesin

meer vatbaar maak vir die ontwikkeling van paniekversteuring. ‘n Multigene- ratiewe ondersoek na paniekversteuring kan die patrone van afsnyding deur generasies heen en die rol wat dit in die ontwikkeling van simptome kan speel, uitwys.

2.3 SAMEVATTING

Die teorie van Bowen dien as konseptuele raamwerk vir die multigeneratiewe ondersoek na gesinne waarin paniekversteuring voorkom. Die Bowenteorie bied ‘n teoretiese raamwerk om die individu binne die konteks van die verhoudingsisteem, waarvan hy deel is, te verstaan en laat ruimte vir die analise van die wederkerige wisselwerking en interafhanklikheid van ‘n verskeidenheid van faktore in die multigeneratiewe gesin wat kan bydra tot simtoomonderhouding en -ontwikkeling. Die sistemiese benadering van die Bowenteorie maak dus voorsiening vir ‘n sirkulêre perspektief waarin wederkerige wisselwerking en interafhanklikheid van ‘n verskeidenheid van komponente, in die ontwikkeling van simptome, beklemtoon word.

Die historiese oorsig bied ‘n blik op die ontwikkeling van die Bowenteorie en die navorsing van Murray Bowen met gesinne, asook sy pogings om die interaksionele patrone van sy eie gesin van oorsprong te verstaan. Dit dien as fundering van die teorie. Bowen se konseptualisering van die gesin as ‘n multigeneratiewe emosionele eenheid voorsien ‘n raamwerk om die impak van emosionele prosesse op verhoudings en die funksionering van individue te ondersoek.

Die volgende uitgangspunte word behandel naamlik: die emosionele sisteem; die gesin as multigeneratiewe emosionele eenheid; kroniese angstigheid en simptoomontwikkeling binne die konteks van die Bowenteorie. Die uitgangspunte bied ‘n wyer perspektief en beter begrip van die teoretiese begronding van die Bowenteorie.

Die teorie van Bowen bestaan uit agt aaneenskakelende konsepte, naamlik: differensiasie; driehoeke, nukliêre gesin se emosionele prosesse; gesinsprojeksieproses; multigeneratiewe transmissieproses; emosionele afsnyding, sibbeposisie en gemeenskapsemosioneleproses. Die agt konsepte beskryf die kenmerke van menslike verhoudings, die funksionering van die multigeneratiewe gesin, die wyse waarop emosionele probleme oorgedra word na volgende generasies en die oordrag van verhoudingspatrone van een geslag na die volgende. Die konsepte is integraal deel van mekaar en die individu se gedrag kan net begryp word as dit teen die agtergrond van al agt konsepte beskou word. Die benutting van die Bowenteorie, wat die gesin as multigeneratiewe emosionele eenheid konseptualiseer, is in hierdie ondersoek toepaslik in die lig daarvan dat paniekversteuring in verskeie generasies van dieselfde familie voorkom.

HOOFSTUK 3 PANIEKVERSTEURING

In hierdie hoofstuk word ondersoek gedoen na paniekversteuring en word ‘n beskrywing van die verskynsel gegee. Aspekte wat aandag geniet, is die voorkoms van paniekversteuring aan die hand van die Bowenteorie; die klassifikasie van paniekversteuring; definisie en diagnostiese kenmerke van paniekversteuring; komorbiditeit; simptome wat met paniekversteuring geassosieer word; die fisiologie van ‘n paniekaanval; die etiologie van paniekversteuring en die invloed van paniekversteuring op die maatskaplike funksionering van die individu. In hierdie hoofstuk word ook aandag gegee aan die mediese model van paniekversteuring waarin klem gelê word op veral die biologiese faktore betrokke by die ontwikkeling van paniekversteuring. Waar die mediese model aanvanklik ‘n meer liniêre benadering ten opsigte van oorsaaklikheid van paniekversteuring gevolg het, word tans erken dat geen enkele faktor uitgesonder kan word as oorsaakilik in die ontwikkeling van paniekversteuring nie. Dit sluit aan by die holistiese benadering van die Bowenteorie wat as konseptuele raamwerk van die studie benut word en waarin die wederkerige, wisselwerking van faktore in die ontwikkeling van simptome, ook in paniekversteuring benadruk word.