• No results found

2 3 DIE TEORETIESE BEGRONDING VAN DIE BOWENTEORIE

2.4 DIE AGT AANEENSKAKELENDE KONSEPTE VAN DIE BOWENTEORIE

2.4.7 EMOSIONELE PROSES VAN DIE GEMEENSKAP

Die navorsing wat Bowen (1976:87) gedoen het laat hom tot die gevolgtrekking kom dat die emosionele probleme in die gemeenskap soortgelyk is aan die probleme in die gesin. Bowen (1978:268) maak die afleiding na aanleiding van sy waarneming dat emosionele kragte in die gemeenskap ooreenstem met emosionele kragte in die gesin naamlik dat driehoeke dieselfde in die gemeenskap en in die gesin funksioneer en dus dat die emosionele patrone in die gemeenskap dieselfde is as in die gesin. Die gemeenskap sou volgens Miller en Janosik (1980:51) gesien kon word as ‘n emosionele sisteem, soortgelyk aan dié van die gesin. Hoewel die emosionele proses in die gemeenskap ‘n invloed op die emosionele proses in die gesin het, meen Kerr en Bowen (1988:335) dat dit ‘n agtergrondinvloed is wat alle gesinne beїnvloed. In ooreenstemming met Miller en Janosik (1980:51) meen Ferrera (2003:309) dat, soos die gesin, die

gemeenskap in geheel beskou kan word as ‘n emosionele sisteem en “…the togetherness-individuality balance as the key to understanding the way society responds to challenge”. ‘n Beskrywing van die gemeenskapsproses moet volgens Baker (2003:381) in ooreenstemming wees met die mens as biologies instinktiewe dier binne die konteks van die Bowenteorie as geheel.

Nog ‘n aspek van die gemeenskapsproses is dat dit die manifestering van differensiasie in die funksionering van gemeenskappe aandui (Ackerman 2003:449). Die Bowen Center for the Study of the Family (2004:1) dui aan dat die konsep van die gemeenskap se emosionele proses verwys na hoe die emosionele sisteem die gemeenskap se funksionering beїnvloed en bydra tot progressiewe en regressiewe periodes in die gemeenskap. Die Bowenteorie, wat ontwikkel is om ‘n raamwerk te bied vir die ondersoek na gesinsfunksionering, kan ook benut word in die ondersoek na die gemeenskap as emosionele eenheid, aangesien die gemeenskap se emosionele prosesse dieselfde is as dié van die gesin. Daar is wederkerige beїnvloeding tussen die gemeenskap en die gesin en indien daar byvoorbeeld ‘n hoë mate van angstigheid in die gemeenskap is, kan dit bydra om angstigheid in gesin te verhoog. By die ondersoek na die voorkoms van paniekversteuring in gesinne sal die rol van gemeenskapsproses in die ontwikkeling van die verskynsel ook in ag geneem moet word .

Wanneer ‘n gesin voortdurend aan kroniese, volgehoue angstigheid blootgestel word, word besluite en optrede volgens Bowen (1976:88) nie langer deur weldeurdagte rasionele beginsels gerig nie, maar deur emosies met die doel om die angs van die oomblik te verlig. Die gevolg hiervan is dat simptome ontwikkel en dat daar ‘n regressie na laer vlakke van funksionering is. Hierdie proses word ook in die gemeenskap gevind. Gedurende tye van toenemende, kroniese angstigheid in die gemeenskap reageer die gemeenskap met emosioneel gedrewe besluite om die angs van die oomblik te verlig en kan dit lei tot simptome van disfunksie. In pogings om die simptome te hanteer volg meer

angsgedrewe wetgewing en regulasies wat die probleem net vererger. Dit is ‘n sikliese proses wat homself bly herhaal. Die gemeenskap se emosionele reaktiwiteit in die hantering van gemeenskapsprobleme word deur Bowen (1978:273) vergelyk met die jarelange opbou na en uiteindelike emosionele ineenstorting. Die resultaat is ‘n geleidelike verlaging in die funksionele vlakke in die gemeenskap, met ander woorde gemeenskapsregressie. Die regressie is ‘n reaksie op langdurige kroniese angstigheid en is nie ‘n reaksie op akute angs nie (Bowen 1978:334). Die lae vlakke van funksionering in die gemeenskap word volgens Kerr en Bowen (1988:334) gekenmerk deur die voorkoms van sosiale simptome soos:

 Hoë egskeidingsyfer;

 groter aandrang op regte; en

 ‘n merkbare afname in die nakom van verantwoordelikheid.

Die afleiding wat gemaak word is dat lae vlakke van differensiasie in die gemeenskap lei tot disfunksie en word deur bepaalde sosiale simptome in die gemeenskap gekenmerk. In tye van gemeenskapsregressie sou daar moontlik ook in gesinne ‘n groter voorkoms van disfunksie wees wat die moontlikheid van simptoomontwikkeling kan verhoog.

Die proses van regressie in die gemeenskap word toegeskryf aan dieselfde instinktiewe dryfkragte wat die mens se optrede beїnvloed en wat die mens in gemeen het met ander vorms van lewe (Baker 2003:381). Dit is die instinktiewe kragte van saamwees-individualiteit wat die gemeenskapsproses dryf (Ferrera 2003:309). Wanneer angstigheid in die gemeenskap gesneller word deur onder meer faktore soos oorbevolking, besoedeling en uitputting van die natuurlike hulpbronne (Baker 2003:382), is daar volgens Ferrera (2003:309) ‘n reaksie in die gemeenskap om nader aan mekaar te beweeg (groter fusie) en word die balans tussen saamwees-individualiteit gevolglik versteur. Hoe laer die vlakke van differensiasie in die gemeenskap, hoe groter die dryf na saamwees en fusie. Besluite word geneem om die angstigheid van die oomblik te verlig en word meer deur die saamweeskragte as die individualiteitskragte gedryf (Baker 2003:383).

Hoe angstiger die gemeenskapsproses, hoe groter die kans van driehoekvorming waar die gemeenskap volgens Ackerman (2003:451) dan verdeel in groepe van “ons” teenoor “hulle”. Hoe laer die vlak van “…societal differentiation, the more intense the cutoff and triangles and the more likely society responds to challenges with short-term solutions that alleviate the anxiety of certain segments of the population but do not address the problems within a longterm perspective” (Ackerman 2003:451). Die afleiding wat gemaak word is dat in tye van kroniese angstigheid in die gemeenskap, daar nie onderskeid getref word tussen die emosionele en intellektuele funksionering nie en sal die emosionele sisteem dus die intellektuele sisteem tydens besluitneming oorheers. Die fusie tussen intellek en emosies en sommige groepe wat ‘n angstige “ons” vorm, verhoog kroniese angstigheid wat kan lei tot disfunksie in die gemeenskap en ook in die gesin as deel van die gemeenskap.

Die gemeenskap met hoë vlakke van differensiasie onderhou goed ontwikkelde beginsels, verstaan die kompleksiteit van sosiale en politieke verskynsels en aanvaar verantwoordelikheid vir sy eie aandeel in die skepping daarvan. Die gemeenskap respekteer volgens Ackerman (2003:449) wettige regte van ander gemeenskappe en groepe. Hierteenoor sal die gemeenskap met lae vlakke van differensiasie nie weldeurdagte beginsels ontwikkel nie en funksioneer op die basis van onrealistiese doelwitte en reageer met angstigheid in ‘n poging om die nuutste druk met korttermynoplossings te verlig. Dit is die mening van Baker (2003:384) dat in groter sosiale groepe of die gemeenskap die gesagstruktuur in duie stort in reaksie op eise van die onverantwoordelikste lede van die groep of gemeenskap. Die gemeenskap waar daar ‘n regressie van funksionering is, word gekenmerk deur onder meer ‘n verskerpte fokus op regte, ‘n algemene afname in aanvaarding van verantwoordelikheid, toename in misdaad, groter polarisasie tussen rasse, dwelmepidemie en ‘n toename in bankrotskap (Kerr en Bowen 1988:334 en Ferrera 2003:309). Die afleiding wat gemaak word is dat dieselfde faktore (kroniese angstigheid, differensiasie, driehoekvorming en afsnyding), wat

‘n rol speel in die ontwikkeling van simptome in die gesin in wederkerige wisselwerking met mekaar, bydra tot die ontwikkeling van simptome in die gemeenskap asook tot gemeenskapsregressie en disfunksie in die gemeenskap.

Die vraag waarom sosiale regressie plaasvind in ‘n periode van redelike vrede en kalmte in die wêreld wanneer daar nie oorloë of onrus is wat angstigheid verhoog nie, lei Bowen (1978:272) tot die formulering van die hipotese dat die angstigheid in die gemeenskap gesneller word deur bevolkingsontploffing en die uitputting van natuurlike hulpbronne. Die afname in die voedselvoorraad, tekort aan energie en besoedeling van die omgewing word deur Miller en Janosik (1980:51) genoem as faktore wat bydra om angstigheid in die gemeenskap te verhoog.

Die emosionele funksionering van die gemeenskap het deur die eeue heen gefluktureer, met sikliese patrone van ‘n af- en toename in emosionele regressie en gemeenskapsaanpassing. Bowen (1978:271) dui aan dat die mens die verloop van die regressie kan verander as hy beheer kry oor sy reaksie op angstigheid en aksie neem op grond van kennis en logiese denke. Regressie sal volgens Kerr en Bowen (1988:334) voortduur totdat die ongemak “…associated with implementing short-term solutions designed to relieve immediate anxiety becomes greater than the discomfort associated with implementing solutions that can tolerate immediate anxiety and encompass a long range view”. Die afleiding wat gemaak word is dat regressie in die funksionering van die gemeenskap nie ‘n nuwe verskynsel is nie en dat regressie omgekeer kan word wanneer die vlakke van differensiasie in die gemeenskap verhoog en besluite geneem word gegrond op rasionele denke.

Die standpunt van die Bowen Center for the Study of the Family (2004:1) is dat dit moeilik is vir gesinne om kinders groot te maak in tye van regressie in die gemeenskap. Die verwatering van standaarde in die gemeenskap maak dit vir ouers moeilik om ferm optrede teenoor die kinders te handhaaf. Toename in die probleme wat jongmense ervaar is deel van die emosionele proses in die

gemeenskap as ‘n geheel. ‘n Konstruktiewe wyse om die regressie aan te spreek sal wees wanneer mense hul eie bydra tot regressie ondersoek en aan hulleself werk eerder as om te fokus op die toekomstige geslag. ‘n Eie mening is dat in ‘n ondersoek na simptoomontwikkeling by die individu, nie net ondersoek gedoen word na die emosionele prosesse van die nukliêre gesin en die multigeneratiewe gesinsisteem nie, maar dat daar ook gekyk word na die rol wat gemeenskaps- regressie moontlik in simptoomontwikkeling kan speel.