• No results found

EPIDEMIOLOGIE EN VERLOOP VAN PANIEKVERSTEURING

3.8 DIE ETIOLOGIE VAN PANIEKVERSTEURING

3.8.2 BIOCHEMIESE FAKTORE

Meer as 50 tipes neurotransmitters is geïdentifiseer en navorsing bevind dat verskeie neurotransmittersisteme, waarby transmitters soos serotonien, noradrenalien, adenosine, gamma amino buteraat (bottersuur of GABA) en cholescytokinin-4 betrokke is, ‘n rol speel in die ontwikkeling van paniekversteuring. Die amigdala in die limbiese sisteem is betrokke by die koördinering van die verskillende transmitters betrokke by angsversteurings (Tasman et al. 2004:1287). Vanuit die amigdala-kerne sprei ‘n netwerk kortikotrofien vrystellingsektorneurone. Hierdie neurone gelei impulse na die voorbrein en na areas wat betrek word in die reaksie op bedreiging. Adrenokoritkotrofien (AKTH) is die hormoon wat die byniere stimuleer om kortisol te vervaardig en vry te stel tydens die veg-of-vlug-reaksie. AKTH speel ‘n

sentrale rol in die fasilitering van kognitiewe en fisiese simptome van paniek deur middel van tweerigtingkommunikasie deur die amigdalakern.

Miljoene senuwee-impulse word langs verskeie senuweebane (bestaande uit neurone) in die brein vervoer en op dié manier word verskillende areas in die brein met mekaar verbind. Die senuwee-impuls moet oor die sinaps tussen die neurone beweeg. Neurotransmitters word in die sinaps afgeskei sodat oordrag van die impuls na die volgende neuron kan plaasvind (Bourne 2004:38). Die neurotransmitter kombineer met spesifieke reseptore op die post-sinaptiese seloppervlak en die reseptor word gedefinieer as “…a recognition site for a substance” (Mycek et al. 1997:31). Die neurotransmitterreseptore is membraan- proteïene wat ‘n bindingligging op die selwand skep wat op neurotransmitter- molekules reageer.

Verskillende sisteme in die brein is veral sensitief vir spesifieke neurotransmitters. Die noradrenerge sisteem is veral sensitief vir die neurotransmitter norepinefrien en word nou verbind met vrees en angs. Die serotonerge sisteem is weer veral sensitief vir die neurotransmitter serotonien. Beide sisteme het ‘n groot aantal reseptorliggings (liggings op die neuron wat op neurotransmitters reageer) in dié areas van die brein, veral die amigdala, wat tydens ‘n paniekaanval geaktiveer word. Die amigdala speel ‘n sleutelrol in die ontwikkeling van paniekaanvalle, maar ander breinstrukture soos die prefrontale korteks, insula, hippokampus en locus ceruleus dra by tot die aktivering van ‘n paniekaanval (Bourne 2004:38).

Die prefrontale korteks en insula modereer sensoriese inligting en interpreteer dit as óf veilig óf gevaarlik. Die inligting word in die hippokampus gestoor. Die prefrontale korteks en die hippokampus het direkte kontak met die amigdala. Die amigdala sneller paniekaanvalle deurdat dit ‘n verskeidenheid breinstrukture in die breinstam aktiveer (vgl. 3.7.1):

 Locus ceruleus – is die primêre noradrenerge nukleus en speel ‘n belangrike rol in die prosessering van vreesverwante stimuli. Dit stimuleer ook gedrags- of fisiologiese opwekking.

 Hipotalamus – reguleer die vrylating van adrenalien deur die byniere en stimuleer die simpatiese senuweestelsel.

 Penacqueductal grysgebied – stimuleer vermydings en verdedigende gedrag.

 Parabrachiale nukleus – stimuleer versnelde asemhaling.  Candale kerne – verhoogde skrikreaksie.

Die amgidala het ook verbindings na die neurotransmittersisteme wat bydra tot die outonome opwekking en vreesreaksie:

 Noradrenerge neurone - locus ceruleus  Serotonien neurone - raphe kerne  Dopamien neurone - tegmentale area

Die breinstrukture en neurotransmittersisteme hierbo genoem, wat betrokke is in die aktivering van ‘n paniekaanval, word die angssisteem (“fear system”) genoem (Bourne 2004:38).

Paniekaanvalle vind plaas wanneer die hele angssisteem oorsensitief is. Verskeie faktore impliseer die noradrenerge sisteem in die patofisiologie van paniekversteuring, veral abnormaliteit in die presinaptiese alfa-2 adrenoreseptore. Serotonien word ook geïmpliseer in paniekversteuring, waarvan die belangrikste die respons van paniek op middels, wat serotonien bevat, is (Emsley en Pienaar 2002:68). Die hipersensitiwiteit van die post- sinaptiese-reseptor, vir serotonien, speel ‘n rol in die ontwikkeling van paniekversteuring en ook die wanregulasie van GABA transmitters. Die afname van lokale GABA tipe transmissie in die middelbrein- en hippokampusgebiede kan lei tot angsreaksie. Abnormaliteit in die presinaptiese Cx2 adrenerge reseptore dra daartoe by dat die amygdala nie genoegsaam geïnhibeer word nie (Kaplan et al. 2000:1453).

Die angssisteem raak waarskynlik oorsensitief wanneer dit oormatig geaktiveer word en Nutt et al. (2002:57) dui aan dat die angssisteem van die panieklyer abnormaal sensitief is. Een van die hipoteses waarom daar ‘n verandering in die angssisteem intree is die opbou van stres oor die langtermyn en dat die kumulatiewe stres ‘n betekenisvolle invloed het op die aanvang van paniekaanvalle (Bourne 2004:38). Volgens Kendall-Reed en Reed (2004:259) is daar ‘n sterk verband tussen stres en paniekversteuring aangesien ‘n paniekaanval in wese ‘n ontoepaslike veg-of-vlug-reaksie of stresreaksie is. Die voortdurende lae vlak stimulasie van die amigdala deur die streshormoon kortisol het ‘n invloed op die angssisteem sodat “[a] relatively minor stimulus is then able to promote a rapid and exaggerated anxiety reaction” (Kendall-Reed en Reed 2004:259). Die oormatige afskeiding van kortisol lei tot die oorsensitiwiteit van die angssisteem en dit belemmer die vermoë van die hippokampus om die veg-of- vlug-reaksie af te skakel.

Verdere navorsing is nodig om lig te werp op waarom die angssisteem by sommige persone oorsensitief raak. Dit blyk dus dat onder meer biologiese faktore en veral die neurotransmitters ’n rol speel in die ontwikkeling van paniekversteuring. Onduidelikheid bestaan egter waarom die neurotransmitters en die hele angssisteem begin disfunksioneer. Een hipotese is dat eksterne faktore soos akute of langdurige stres die angssisteem oorsensitiseer sodat die paniekreaksie ontoepaslik gesneller word in die afwesigheid van toepaslike stimuli. Uit bogenoemde kan afgelei word dat biochemiese faktore en veral die neurotransmitters ‘n rol speel in die ontwikkeling van paniekversteuring. Dit is onduidelik waarom die neurotransmitters en die hele angssisteem begin disfunksioneer. Een moontlike verklaring is dat ander bydraende faktore (byvoorbeeld ouerlike opvoeding, genetiese faktore en ontwikkelingstrauma), behalwe kumulatiewe stres, ‘n rol kan speel in die disfunksionering van neurotransmitters sodat die ontwikkeling van paniekversteuring nie net toegeskryf kan word aan biochemiese disfunksionering nie.

3.8.3 NEUROANATOMIE

Navorsing deur Gorman et al. (2000:493) vorm die basis vir die neuroanatomiese verklaring vir die etiologie van paniekversteuring. Die hipotese is gebaseer op navorsing wat op diere gedoen is ten opsigte van gekondisioneerde vreesreaksie en toon aan dat dié vreesreaksie by diere deur ‘n angssisteem in die brein gefasiliteer word. Die angssisteem (vgl. 3.8.2) sluit in die amigdala met sy verbindings met ander strukture in die brein, naamlik die hippokampus, mediale prefrontale korteks, hipotalamus en die breinstam. Die studie met diere bevind dat die aktivering van die angssisteem biologiese en gedragsreaksies soortgelyk aan dié wat by paniekaanvalle gevind word, ontlok. Die gevolgtrekking waartoe Gorman et al. (2000:495) kom is dat ‘n soortgelyke angsnetwerk betrokke is by paniekaanvalle wat by die mens gevind word. Paniekaanvalle vind plaas wanneer die angssisteem oorgeaktiveer word, met ander woorde “…the fear network becomes sensitized (conditioned) to respond to noxious stimuli such as internal (bodily sensations) and external (contexts or situations) that the person associates with panic” (Gorman et al. 2000:495). Die afleiding wat gemaak word is dat die angssisteem van die mens gekondisioneer word om op sekere stimuli met paniekaanvalle te reageer.

Die angssisteem bestaan uit ‘n komplekse netwerk waarby verskeie breinstrukture en neurotransmittersisteme betrokke is, maar die fokus is die sentrale nukleus van die amigdala wat as verbinding tussen die talamus, prefrontale korteks en die breinstam dien (Nutt et al. 2002:55). Daar is ‘n wedersydse verbinding tussen die amigdala en die hoër sentrum van die brein, naamlik die talamus, prefrontale korteks en die primêre somatosensoriese korteks. Sensoriese insette beweeg deur die agter talamus na die laterale nukleus van die amigdala. Die insette word dan van die sentrale nukleus van die amigdala gevoer wat die outonome gedragsreaksie koördineer. Direkte insette vanaf die breinstam en sensoriese talamus verseker ‘n vinnige respons op potensieel gevaarlike stimuli. Inligting word volgens Nutt et al. (2002:55) vanaf

die hoër sentrums van die brein ontvang en dit sluit inligting in wat reeds verwerk is.

Die kognitiewe proses kan deur ‘n katastrofale waninterpretasie, ‘n genetiese predisposisie tot angstigheid, ‘n kritiese ouerlike opvoeding of ‘n opvoeding gekenmerk deur oormatige beheer, beïnvloed word. Die afleiding wat gemaak word is dat hoewel die angssisteem van die mens gekondisioneer word om op ‘n sekere wyse te reageer word die aanvanklike interpretasie van stimuli, geassosieer met paniek, deur verskeie faktore, onder meer die wyse van ouerlike opvoeding, beïnvloed. Die gekondisioneerde reaksie alleen bied nie genoegsame verklaring vir die ontwikkeling van paniekversteuring nie.