• No results found

PRINSIPIЁLE FUNDERING VAN BOWEN SE TEORIE AS KONSEPTUELE RAAMWERK VIR DIE STUDIE

‘N FUNDERING VAN BOWEN SE TEORIE AS KONSEPTUELE RAAMWERK VIR DIE VERSKYNSEL VAN PANIEKVERSTEURING IN DIE GESIN

2.1 PRINSIPIЁLE FUNDERING VAN BOWEN SE TEORIE AS KONSEPTUELE RAAMWERK VIR DIE STUDIE

van Bowen se teorie as konseptuele raamwerk vir die studie, ‘n historiese oorsig oor die ontwikkeling van die Bowenteorie, uitgangspunte van die teorie en die agt aaneenskakelende konsepte van die teorie, naamlik: differensiasie, driehoeke; nukliêre gesin se emosionele sisteem; gesinsprojeksieproses; multigeneratiewe projeksieproses; emosionele afsnyding; sibbeposisie en gemeenskapsregressie.

2.1 PRINSIPIЁLE FUNDERING VAN BOWEN SE TEORIE AS KONSEPTUELE RAAMWERK VIR DIE STUDIE

In ‘n multigeneratiewe ondersoek na gesinne waarin paniekversteuring voorkom, is die doel om ondersoek te doen na ‘n verskeidenheid van faktore wat ‘n rol kan speel in die ontwikkeling en instandhouding van paniekversteuring. ‘n Liniêre benadering tot simptoomontwikkeling, waarin ‘n stimulus-responsverklaring aangehang word, reduseer die mens tot ‘n passiewe en willose ontvanger van stimuli waarop daar net op een wyse gereageer kan word. Die insette en aandeel van die mens in ‘n liniêre benadering tot simptoomontwikkeling word ontken, asook die rol wat ‘n verskeidenheid van ander faktore vanuit sy omgewing moontlik in simptoomontwikkeling kan speel.

‘n Sistemiese benadering maak voorsiening vir ‘n sirkulêre perspektief waarin wederkerige wisselwerking en interafhanklikheid van ‘n verskeidenheid van komponente in die ontwikkeling van simptome beklemtoon word (Germain en Gitterman 1995:7). Die teorie van Bowen wat ‘n multigeneratiewe

gesinsistemiese perspektief bied waarin die wedersydse beïnvloeding van verskeie komponente in die ontwikkeling van simptome verreken word, word daarom as teoretiese raamwerk vir hierdie studie benut. Die Bowenteorie laat ruimte vir ‘n holistiese analise van die gesin as multigeneratiewe emosionele eenheid en ‘n analise van die emosionele prosesse in die multigeneratiewe gesin wat moontlik kan bydra tot simptoomontwikkeling.

Die teorie van Bowen bied ‘n teoretiese raamwerk om die individu binne die konteks van die verhoudingsisteem, waarvan hy deel is, te verstaan (Allen 2003:316). Die teorie beskryf die emosionele prosesse in die gesin aan die hand van agt aaneenskakelende konsepte, naamlik: differensiasie; nukliêre gesin se emosionele proses; driehoeke; emosionele afsnyding; gesinsprojeksieproses; multigeneratiewe transmissieproses; sibbeposisie en gemeenskapsemosionele- proses. Simptomatiese gedrag ontwikkel volgens die Bowenteorie onder meer wanneer daar ‘n disfunksie van die emosionele sisteem van die multigeneratiewe gesin is (Bowen 1976:198). Die aanname sou gemaak kon word dat paniekversteuring waarskynlik ontwikkel wanneer daar disfunksie in die emosionele prosesse van die multigeneratiewe gesin voorkom. Die Bowenteorie voorsien die struktuur om die wederkerige wisselwerking van die emosionele prosesse binne die multigeneratiewe gesin, in die ontwikkeling van simptome, te ondersoek.

2.2 HISTORIESE OORSIG VAN DIE ONTWIKKELING VAN DIE

BOWENTEORIE

Dr. Murray Bowen (1913 – 1990), ‘n psigiater, was een van die baanbrekers met die ontwikkeling van nuwe teorieë oor die gesin en gesinsterapie in die laat 1940’s en vroeë 1950’s in die Verenigde State van Amerika. Hy was een van ‘n paar navorsers wat, aanvanklik onafhanklik en onbewus van mekaar, navorsing begin doen het op die gebied van gesinsterapie (Geurin 1976:3 en Kerr 1988:36). In 1955 word kontak tussen die navorsers bewerkstellig en begin die

gesinsbeweging binne die psigiatrie ontwikkel. Die gesinsteorie was volgens Bowen (1978:286) aanvanklik ‘n uitbouing van die psigo-analitiese teorie van Freud wat op daardie stadium die mees aanvaarbare teorie oor geestesongesteldheid binne die psigiatrie was. Na aanleiding van sy navorsing met gesinne, waartydens Bowen (1978:30) soek na betroubare feite oor die emosionele funksionering van die gesin, verander hy sy psigo-analitiese denkwyse, waar die klem geplaas word op ‘n oorsaak-gevolg verklaring vir geestessiektes, na sistemiese denke. Hiervolgens word die wederkerige wisselwerking van verskeie faktore in die ontwikkeling van simptome erken.

Bowen se professionele belangstelling in gesinne begin tydens sy werk as psigiater met die gesinne van sy pasiёnte by die Menningerkliniek in Topeka in Kansas in 1940, waar hy die gesinsverhoudings van sy pasiёnte bestudeer (Guerin 1976:9). Gedurende die tydperk by die Menningerkliniek lees Bowen wyd oor biologie en veral die evolusieteorie van Darwin, wat die geleidelike biologiese verandering wat in die mens plaasgevind het, aan die proses van natuurlike seleksie toeskryf en waar die mens beskou word as integrale deel van die natuur. Hieruit ontwikkel Bowen (1976:57 en 1978:305) sy teoretiese konsep van die mens as instinktiewe dier, die mees komplekse vorm van lewe, wat uit laer vorms van lewe ontwikkel het. Sy vermoede was dat emosionele siekte sy oorsprong het in “…that part of man that he shares with the lower forms of life”. Die verskil tussen die laer vorms van lewe en die mens is die mens se vermoë om te kan dink en redeneer danksy die ontwikkeling van die serebrale korteks in die brein en sy vermoë om te onderskei tussen intellektuele funksionering en emosionele funksionering. Darwin het volgens Kerr en Bowen (1988:27) die fisiese/biologiese skakel tussen die mens en laer vorms van lewe gevind en Bowen met sy konsep van die emosionele sisteem het die gedragskakel (“behavioral link”) tussen die mens en ander vorms van lewe gevind. Vanuit die teorie van Darwin ontwikkel Bowen ‘n teorie van menslike gedrag “…that was based on the human as part of evolution” (Ackerman 2003:443). Die afleiding wat gemaak word is dat die evolusieteorie nie net die fisiese ooreenkomste tussen die mens en dier verklaar

nie, maar ook die ooreenkomste in gedrag. Die voorafgaande werk van Bowen kan beskou word as voorbereiding vir sy latere navorsing wat sou lei tot die uiteindelike ontwikkeling van die Bowenteorie wat sterk gefundeer word vanuit die evolusieteorie van Darwin en Bowen se beskouing van die mens as produk van die evolusie.

Sedert 1950 het Bowen, volgens Geurin (1976:21), “…consistently moved to develop an extensive, all encompassing system based theory of emotional dysfunction”. In sy navorsing was Bowen (1976:57) op soek na logiese antwoorde vir emosionele siekte en sy siening was dat die psigiatrie tot op daardie stadium nie daarin geslaag het “…to develop diagnosis consistent with etiology” nie. In sy navorsing kies Bowen om net konsepte te gebruik wat ooreenstem met ‘n erkende wetenskap en dan spesifiek die biologiese wetenskap. Hy gebruik biologiese konsepte om menslike gedrag te beskryf, byvoorbeeld die konsep van differensiasie (wat in die biologie verwys na die verdeling van selle en by die mens na die vorming van ‘n eie identiteit). Gedurende 1954 begin Bowen sy navorsing met skisofrenie pasiёnte by die National Institute of Mental Health (NIMH) in Washington aan die Georgetown University school of Medicine. Bowen en sy span neem oor ‘n vyf jaar tydperk (1954 – 1959) aspekte van gesinsfunksionering waar wat nog nooit voorheen waargeneem is nie. Hy kom tot die gevolgtrekking dat die verhoudingspatrone, wat in gesinne met skisofrenie waargeneem is, in alle gesinne somtyds en in sommige gesinne die meeste van die tyd voorkom, dat hierdie patrone oor en oor herhaal word, en dat daar van orde en voorspelbaarheid in gesinsverhoudings gepraat kan word. Die waarneming wat Bowen (1978:289) maak is dat daar emosionele prosesse in die gesin is “through which the family helps to create and maintain illness in the patient”. Volgens Kerr en Bowen (1988:37) is dit in dié tydperk dat Bowen sy konsepte oor die gesin as ‘n emosionele eenheid definieer. Hy kom tot die gevolgtrekking dat die funksionering van die indivdu nie genoegsaam verklaar kan word buite die konteks van die funksionering van die lede van die multigeneratiewe gesin nie. Ook McKnight (2003:274) wys daarop

dat elke gesinslid se funksionering “…interwoven through patterned responses to other members of the family is”. Dit is duidelik dat Bowen se navorsing hom weglei van die heersende teorie van sy tyd, naamlik die psigoanalitiese benadering waarin klem gelê word op die individu, na een wat die individu nie los sien van sy verhoudingsisteem nie en waar die wisselwerking van faktore binne die emosionele sisteem, waarvan die individu deel is, bydra tot simptoomontwikkeling.

Teen die tyd dat Bowen in 1959 na die Georgetown Universiteit verskuif het was die basiese konsepte van die Bowenteorie reeds geformuleer. Die konsep van die multigeneratiewe transmissieproses as navorsingshipotese is so vroeg as 1955 geformuleer, hoewel dit eers in 1960 gefinaliseer is (Bowen 1976:62). Teen 1963 is Bowen se ses aaneenskakelende konsepte (differensiasie van die self; driehoeke; nukliêre gesin se emosionele proses; gesinsprojeksieproses; multigeneratiewe transmissieproses en sibbeposisie) genoegsaam gedefinieer sodat hy dit kon saamvoeg in ‘n gesinsisteemteorie. In 1975 is die laaste twee konsepte, naamlik emosionele afsnyding en sosiale regressie bygevoeg en is die naam amptelik verander van gesinsisteemteorie na Bowenteorie (Bowen 1976:62).

Bowen (1976:62) som self sy teorie op as ‘n spesifieke teorie oor die funksionele feite van emosionele funksionering. Hy dui aan dat die kern van sy teorie te doen het met die mate waarin mense in staat is om te onderskei tussen die gevoelsaspek en die intellektuele proses en dit word veral gesien in die individu se naby verhoudings (Bowen 1978:355). Volgens Friedman (1991:135) handel die Bowenteorie oor veel meer as die gesin. Dit handel oor die lewe self, oor die prosesse wat universeel in alle lewende organismes gevind word en juis daarom het die mens veel meer in gemeen met ander lewende organismes as wat hy van hulle verskil. Die onderbou van die Bowenteorie is die aanname dat die mens deel vorm van “… evolutionary emotional processes that go back to the beginning of time.” Die teorie word deur Titelman (1999:9) beskou as ‘n

teoretiese raamwerk om die mens en sy gesin te verstaan binne die konteks van die natuurlike wêreld en om die proses van kontinuїteit en verandering in gesinne, in opeenvolgende generasies, te verstaan. Bowen se teorie het nie net ontwikkel uit sy jarelange volgehoue navorsing nie, maar volgens Anderson en Sabatelli (2003:54) ook uit sy pogings om die interaksionele kragte in sy eie gesin van oorsprong te verstaan.

Die afleiding wat gemaak word is dat Bowen, op die gebied van die gesinsterapie, ‘n nuwe teorie oor die funksionering en disfunksionering van die gesin ontwikkel. Die teorie baseer hy op die aanname dat die mens (as produk van die evolusieproses) nie net fisiese ooreenkomste met ander lewensvorms toon nie, maar ook gedragsooreenkomste. Die gedrag van die mens moet verstaan word teen die agtergrond van die evolusieproses waarvan die mens onlosmaaklik deel is. Bowen kom tot die gevolgtrekking dat die fundamentele wette in die natuur, wat alle vorme van lewe beїnvloed, ook die gedrag van die mens beїnvloed. ‘n Gedragspatroon wat Bowen by alle lewende organismes waarneem is die universele behoefte aan saamwees met ander, maar ook die behoefte aan individualiteit. Uit die voorafgaande ontwikkel Bowen die hoeksteen van sy teorie, naamlik differensiasie van die self wat verwys na die vermoë van die individu om te onderskei tussen die emosionele funksionering en kognitiewe funksionering en die vermoë om deel te wees van ‘n groep maar terselftertyd ook ‘n self te kan wees. Na aanleiding van sy verdere navorsing ontwikkel Bowen sewe ander konsepte (wat die Bowenteorie vorm) wat almal verband hou met die universele verskynsel aan die behoefte van saamwees met ander en die behoefte aan individualiteit. Bowen se konseptualisering van die gesin, as ‘n emosionele sisteem, voorsien ‘n raamwerk om die impak van die emosionele prosesse op verhoudings in die gesin en die funksionering van gesinslede te bestudeer. Bowen se teorie kan beskou word as een van die eerste omvattende teorieë oor gesinsisteemfunksionering en veral van die gesin as multigeneratiewe emosionele eenheid.