• No results found

DIE FISIOLOGIESE PROSESSE IN DIE LIGGAAM TYDENS ‘N PANIEKAANVAL

EPIDEMIOLOGIE EN VERLOOP VAN PANIEKVERSTEURING

3.7 DIE FISIOLOGIESE PROSESSE IN DIE LIGGAAM TYDENS ‘N PANIEKAANVAL

Daar is ‘n bepaalde fisiologiese proses wat tydens ‘n paniekaanval in die liggaam plaasvind. ‘n Paniekaanval is ‘n intense weergawe van die natuurlike vreesreaksie wat in die liggaam plaasvind in reaksie op enige soort gevaar. Die vreesreaksie of alarmreaksie is ‘n outomatiese reaksie wat bedoel is om die liggaam voor te berei om tydens gevaar òf te veg òf te vlug (Bourne 2004:36). Hierdie vreesreaksie is volgens Baker (2003:33) “…at the heart of a panic attack”. Die veg-of-vlug-reaksie is ‘n fisiologiese oorlewingsreaksie in situasies waar die mens fisiek bedreig word. Die veg-of-vlug-reaksie (wat in wese ‘n vreesreaksie is) is geneties ingebou om oorlewing van die mens te verseker. Die senuweesisteme en breinstrukture betrokke by die sneller van die veg-of-vlug- reaksie is dieselfde as dié van die oermens. Die outomatiese reaksie is by die oermens gesneller in situasies waar hy fisiek bedreig is en wat hom voorberei het om of te veg of te vlug. Hierdie oerreaksie of refleksmeganisme is volgens Van

der Merwe (2004:15) in die reptielgedeelte van die menslike brein (wat die mens met reptiele en amfibieë deel) ingegraveer. In situasies wat deur die mens as gevaarlik geїdentifiseer word “…your rational mind is hijacked into emergency mode and your primitive brain does the deciding for you” (Tubridy 2003:28). Die afleiding wat gemaak word is dat die veg-of-vlug-reaksie, wat die paniekaanval voorafgaan, ‘n outomatiese reaksie op gevaar is om die liggaam voor te berei op aksie. Die veg-of-vlug-reaksie is ‘n reaksie wat sy oorsprong in die breinstrukture het wat in die primitiewe gedeelte van die menslike brein geleë is. Rasionele beoordeling van ‘n situasie is in die geval van paniekversteuring afwesig (vgl. 3.3) en volg ‘n paniekaanval in die afwesigheid van werklike gevaar. Die veg-of- vlug-reaksie, wat by die moderne mens met sy goed ontwikkelde serebrale korteks voorkom, is in ooreenstemming met Bowen se teoretiese konsep van die mens as instinktiewe dier (waar die veg-of-vlug-reaksie oorlewing aanvanklik moes verseker) wat uit laer vorms van lewe ontwikkel het. Die veronderstelling sou dus volgens die teorie van Bowen gemaak kon word dat daar by mense met lae vlakke van differensiasie, wat meer reaktief en instinktief optree, ‘n groter

moontlikheid vir die ontwikkeling van paniekversteuring kan wees (vgl. ook 2.2).

Die gewaarwordinge tydens die veg-of-vlug-reaksie is dieselfde as tydens ‘n paniekaanval, maar die verskil is dat ‘n paniekaanval plaasvind in die afwesigheid van ‘n duidelike sneller of stimulus. By ‘n paniekaanval kom die veg- of-vlug-reaksie uit die bloute voor en dui Bourne (2004:36) aan dat die natuurlike veg-of-vlug-reaksie by panieklyers buite beheer is. Uit bogenoemde kan afgelei word dat ‘n paniekaanval buite die konteks van ‘n gevaarsituasie plaasvind wat daarop dui dat daar moontlik ‘n disfunksie in die meganismes is wat die veg-of- vlug-reaksie reguleer.

3.7.1 BREINSTRUKTURE

Daar is verskeie breinstrukture betrokke by die fisiologiese reaksie tydens ‘n paniekaanval. Die menslike brein kan in drie areas ingedeel word (Kendall-Reed en Reed 2004:17). Verwys na figuur 3:

Figuur 3: Die breinstrukture betrokke by ’n paniekaanval

 Die voorbrein: Dit sluit die serebrale korteks in wat verantwoordelik is vir die kognitiewe en analitiese funksionering van die brein asook vir willekeurige gedrag. Alle inkomende en uitgaande boodskappe gaan deur die talamus wat in die voorbrein geleë is. Die talamus tree op as sensoriese herleidingstasie wat omgewingstimuli na die sensoriese

korteks en amigdala (Emsley en Pienaar 2002:68) kanaliseer. Die hipotalamus is in die laagste deel van die voorbrein geleë wat ‘n kardinale rol in die veg-of-vlug-reaksie, speel aangesien dit die interaksie tussen die senuweestelsel en die hormoonsisteme van die liggaam koördineer (Kendall-Reed en Reed 2004:17).

 Die middelbrein: Dit is die kleinste area van die brein en die serebrale akwaduk wat serebrospinale vloeistof van die derde ventrikel na die vierde ventrikel en die rugmurg vervoer is hier geleë (Kendall-Reed en Reed 2004:17) .

 Die breinstam: Dit is aan die onderkant van die brein geleë en sluit die pons, medulla oblongata en die serebellum in. Daar is talle neurale netwerke wat die rugmurg met die serebrale hemisfeer verbind. Dit is die setel van die primitiewe reptielbrein (Kendall-Reed en Reed 2004:17).

‘n Groter wordende databasis suggereer volgens Emsley en Pienaar (2002:69) dat funksionele breinabnormaliteite by persone met paniekversteuring voorkom. Breinbeelding dui op die abnormaliteit van die hippokampale en parahippokampale strukture, asook ‘n ooraktiwiteit in die limbiese strukture. Die limbiese sisteem (vgl. figuur 4) wat binne die temporale lob van die brein geleë is, beheer die veg-of-vlug-reaksie. Die hippokampus en amigdala is hier geleë en die veg-of-vlug-reaksie word in die twee strukture gesneller in reaksie op eksterne gebeure (Kendall-Reed en Reed 2004:17). Die amigdala koördineer die vreesgedrag en respons en het efferente projeksies na ‘n verskeidenheid breinstrukture, wat geïmpliseer is in vrees en angs, en ontvang afferente projeksies van verskeie vreesrelevante breinstrukture. Die hippokampus is deel van die neurale netwerk betrokke by die kondisionering van kontekstuele response (Emsley en Pienaar 2002:68). Die limbiese sisteem voorsien inligting aan die hipotalamus, waar die inligting gekonsolideer of bevestig word en die inligting in verskillende rigtings gestuur word.

 Afwaarts na die breinstam (setel van die primitiewe reptielbrein) en spesifiek na die retikulêre netwerk vanwaar inligting na die simpatiese senuweestelsel gestuur word.

 Boontoe na die talamus en die serebrale korteks (evalueer inligting ontvang vanaf die sintuie).

 Afwaarts na die byniere wat grootliks die afskeiding van hormone (kortisol, adrenalien en noradrenalien), wat die werking van organe verander, beheer (Kendall-Reed en Reed 2004:20).

Figuur 4: Die Limbiese Sisteem

Die brein stuur, na evaluering van inligting, ‘n boodskap aan die liggaam om hom voor te berei op dreigende gevaar en die wyse waarop die liggaam hom fisiologies voorberei deur die opwekking van die simpatiese deel van die

outonome senuweestelsel (Van der Merwe 1999:11). Die senuweestelsel kan verdeel word in die motoriese (willekeurige senuweestelsel) en die outonome (onwillekeurige) senuweestelsel. Die motoriese senuweestelsel is die sisteem verantwoordelik vir die beweging van spiere en staan onder die beheer van die mens. In kontras hiermee is die werking van die outonome senuweestelsel nie willekeurig nie en reageer dit in ‘n refleksreaksie op stimuli en die mens het beperkte bewustelike bestuur van die outonome senuweestelsel. Die outonome senuweestelsel reguleer outomatiese funksies soos hartklop en asemhaling en die mens het nie hieroor beheer nie. Die reflekse van die outonome senuweestelsel word in die limbiese sisteem en hipotalamus gekoördineer.

Die outonome senuweestelsel word verder in die simpatiese en parasimpatiese senuweestelsels verdeel. Die simpatiese senuweestelsel mobiliseer verskeie reaksies in die liggaam om die liggaam voor te berei op aksie (veg-of-vlug- reaksie). Die parasimpatiese senuweestelsel onderhou die normale funksionering van die liggaam in tye van kalmte (Bourne 2004:36).

Subjektiewe persepsies word via die sintuie (gehoor, sig, reuk, tas en smaak) na die hoër sentrums in die breinkorteks gestuur. Die brein- en senuweesisteem kan nie tussen werklike fisiese gevaar en die psigiese gewaarwording van gevaar onderskei nie (Van der Merwe 1999:10). Inligting ontvang vanaf die sintuie word in die serebrale korteks evalueer en ‘n besluit oor hoe gereageer moet word, word gemaak. Die boodskap van vrees en gevaar word na die limbiese sisteem gestuur. Vanaf die limbiese sisteem in die brein word emosie soos woede of angs by die besluit wat in die serebrale korteks geneem is, bygevoeg. Na die finale interaksie tussen die serebrale korteks en die limbiese sisteem afgehandel is, word die inligting na die hipotalamus gestuur. Vanaf die hipotalamus, hipofise en die breinstam word inligting met behulp van senuwee-oordragstowwe (neurotransmitters) deur die senuweesisteem en deur hormone in die bloed gestuur na die simpatiese senuweestelsel, die byniere en die skildklier (Looker en Gregson 2003:46).

Die liggaam ontvang op twee maniere opdrag om gereed te maak om òf te veg òf te vlug. Inligting kan vanaf die brein via die senuweestelsel (bestaande uit neurone) na die organe in die liggaam gestuur word. ‘n Klein hoeveelheid chemiese stof (neurotransmitter) word vanaf die senuwee in die selle van die organ vrygestel. Die boodskap of senuwee-impuls word op komplekse wyse vanaf een neuron na die volgende oorgedra. Tussen elke neuron is ‘n klein spasie waarin ‘n chemiese stof (neurotransmitter) vrygestel word wat die boodskap oordra (by paniekversteuring is daar ‘n disfunksie van die neurotransmitter vgl. 3.8.2). Die neurotransmitter verander die werking van die organe, byvoorbeeld ‘n versnelde hartklop. Die tweede wyse waarop opdragte aan liggaamsorgane gestuur word is deur die vrystelling van hormone (kortisol, adrenalien en noraderenalien) deur die endokrienekliere (bynier, skildklier en hipofise). Hormone word in die bloedstroom vrygestel en op dié wyse na organe vervoer waar die aktiwiteit van organe verander word. Verskeie neurotransmitters en hormone word tydens ‘n paniekaanval vrygestel om die fisiese simptome wat met paniekverteuring ervaar word te bewerkstellig (Van der Merwe 1999:11 en Looker en Gregson 2003:35).

Die vrystelling van hormone in die bloedstroom en die opwekking van die simpatiese senuweestelsel tydens ‘n paniekaanval lei tot die volgende fisiese simptome (Emsley en Pienaar 2002:69, Looker en Gregson 2003:53 en Van der Merwe 2004:17):

 Pupille vergroot  Sweet

 Gespanne spiere

 Glukose en vet word in die bloedstroom vrygestel  Tremor

 Vinnige hartklop  Asemhonger  Duiseligheid

 Pyn op die bors  Warm/koue gloede  Naarheid

 Speekselafskeiding verminder – droë mond  Bewerigheid

 Spysvertering raak stadiger  Verhoogde bloeddruk

Al die simptome word tot ‘n mindere of meerdere mate tydens opwinding of in ‘n gevaarsituasie ervaar. Die probleem is dat dit tydens ‘n paniekaanval “…peak to such an extreme level that you feel overwhelmed, terrified and have a strong urge to run” (Bourne 2004:37). Dit wat fisiologies tydens ‘n paniekaanval gebeur is duidelik, maar wat nog onduidelik is, is waarom meganismes in die brein die paniekreaksie ontoepaslik sneller (Bourne 2004:37). Uit die bogenoemde word die afleiding gemaak dat ‘n paniekaanval die intense weergawe van die normale alarmreaksie (veg-of-vlug-reaksie) van die liggaam is wat ontoepaslik, in die primitiewe deel van die brein, gesneller word in die afwesigheid van toepaslike stimuli. Die fisiologiese simptome wat tydens ‘n paniekaanval ervaar word, is ‘n fisiologiese reaksie wat die liggaam gereed maak om homself teen gevaar te beskerm.