• No results found

1.3 DOEL VAN DIE STUDIE

1.4.2 EMPIRIESE ONDERSOEK

Die empiriese ondersoek is gebaseer op die bevindinge in die literatuurstudie. Vir die doeleindes van die empiriese ondersoek sal onderhoude met deelnemers gevoer word waartydens die geneagram gebruik word vir die assessering van gesinsistemiese funksionering. Aan die hand van die geneagram word die volgende verken en beskryf: die gesinstruktuur; lewensiklus; patroonherhaling

oor geslagte heen; lewensgebeure en gesinsfunksionering; verhoudingspatrone en driehoekvorming en gesinsbalans en – wanbalans.

Potensiёle deelnemers is persone bo die ouderdom van 18 jaar wat Afrikaans- of Engelssprekend is en in Bloemfontein of onmiddellike omgewing woon of in Bloemfontein behandeling ontvang. Drie deelnemers wat deur ‘n psigiater met paniekversteuring gediagnoseer is, sal deur hom genader word vir deelname aan die ondersoek. Die steekproefmetode kan dus as doelbewuste steekproeftrekking beskryf word. Die gevallestudie word as navorsingstrategie gebruik. Die kwalitatiewe data sal vanuit die konseptuele raamwerk van die ondersoek geanaliseer word en aangebied word in die vorm van geneagramme en ‘n narratiewe skryfstyl. Aanbevelings, interpretasies en gevolgtrekkings word nie alleen gemaak ten opsigte van die multigeneratiewe perspektief op gesinne waarbinne paniekversteuring voorkom nie, maar ook ten opsigte van die implikasies daarvan vir maatskaplikewerkhulpverlening aan panieklyers. Ten einde die geloofwaardigheid van data-analise te verhoog, sal twee vorme van triangulasie gebruik word, naamlik triangulasie van literatuur en van ‘n kundige op die gebied van multigeneratiewe terapie.

1.5 BEGRENSING VAN DIE STUDIE

Die literatuurstudie maak gebruik van sowel plaaslike as internasionale bronne. Dit sluit in boeke, vakkundige tydskrifte, die Internet (e-vaktydskrifte) en onderhoude met kundiges. Materiaal vanuit die sielkunde, psigiatrie, maatskaplike werk en aanverwante belanghebbende wetenskappe en dissiplines word benut. Die teoretiese studie ten opsigte van paniekversteuring in gesinne word vanuit ‘n sistemiese perspektief gedoen en meer spesifiek die multigeneratiewe gesinsistemiese perspektief van Bowen (Kerr en Bowen 1988:258 en Titelman 1998:51). Die Bowenteorie laat ruimte vir ‘n holistiese analise van die gesin as multigeneratiewe emosionele eenheid en word as konseptuele raamwerk benut.

Die studie word geografies begrens tot mans en vrouens in die groter Bloemfontein area of wat in Bloemfontein behandeling ontvang. Die deelnemers kan Afrikaans- of Engelssprekend wees, maar bo die ouderdom van 18 jaar, aangesien paniekversteuring meestal in die jong volwasse ouderdom ontwikkel (Emsley en Pienaar 2002:68). Drie deelnemers sal aan die ondersoek deelneem. Alleenlik deelnemers wat deur ‘n psigiater met paniekversteuring, volgens die kriteria in die DSM IV TR (2000:433) gediagnoseer is, sal deur hom vir die ondersoek genader word. Die psigiater sal toestemming van deelnemers verkry vir deelname aan die ondersoek, deelname is vrywillig en die reg van deelnemers om deelname aan die studie te weier of om aan deelname te onttrek, word erken. Die privaatheid en waardigheid van deelnemers sal te alle tye beskerm word deur onder meer die vertroulike hantering van alle inligting en die professionele optrede van die navorser. Die navorsing sal op so ‘n wyse gedoen word dat dit geen fisiese of geestesongemak vir deelnemers inhou nie. Deelnemers sal goed voorberei word op die wyse waarop die ondersoek gedoen word en die kwesbaarheid van deelnemers sal met empatie beskerm word (Ferreira 2003:7).

Die empiriese ondersoek is daarop gerig om vanuit ‘n multigeneratiewe perspektief gesinne, waarbinne paniekversteuring voorkom, te verken en beskryf.

1.6 OMSKRYWING VAN BEGRIPPE

Ten einde te verseker dat eenvormige interpretasie gekoppel word aan die konsepte wat deurlopend in die verslag benut word, verdien die volgende begrippe nadere omskrywing. Begrippe wat slegs in ‘n bepaalde hoofstuk gebruik word, word in die betrokke hoofstuk omskryf.

1.6.1 GESIN

Die gesin is ‘n menslike sisteem waarbinne interaksie tussen vader, moeder (afgesien of hul fisies teenwoordig is of nie) en kinders plaasvind (Becvar en Becvar 1982:49). Hierop brei Hartman en Laird (1983:30) verder uit deur na die gesin van oorsprong te verwys as “…family of blood ties both vertical (multigenerational) and horizontal (kinship) living or dead, geographically close or distant, accessible or inaccessible, but always in some way psychologically relevant”. Gorell Barnes (1984:10) lê klem op die gesin as primêre sosiale groep waarbinne die persoon gebore word en dat dit per definisie meer as een generasie is. Die gesin word deur die Woordeboek vir Maatskaplike Werk (1995:20) omskryf as die kleinste maatskaplike eenheid in die samelewing wat bestaan uit ‘n man, sy vrou en ‘n kind wat saam onder een dak woon.

Anderson en Sabatelli (2003:3) verwys na die gesin as ‘n sisteem wat gedefinieer kan word as ‘n komplekse struktuur wat uit ‘n interafhanklike groep individue met ‘n gedeelde geskiedenis bestaan, wat ‘n vorm van emosionele binding het en wat strategieë ontwikkel om in die behoeftes van die individuele gesinslede sowel as dié van die groep as geheel te voorsien. Hierby sluit die Bowen Centre for the Study of the Family (2004:1) aan en bied met ‘n sistemiese siening van die gesin as ‘n emosionele eenheid, waarbinne komplekse interaksie plaasvind en waar die funksionering van gesinslede interafhanklik van mekaar is. Gesinslede het ‘n betekenisvolle invloed op mekaar se gedagtes, gevoelens en aksies.

Vir die doel van hierdie studie word die gesin gedefinieer as ‘n multigeneratiewe emosionele sisteem wat uit ‘n groep interafhanklike individue (gesinslede) bestaan tussen wie daar ‘n betekenisvolle psigologiese band ontwikkel het en waar die funksionering van die lede interafhanklik van mekaar is en waar daar wederkerige beїnvloeding is.

1.6.2 MULTIGENERATIEF

Die voorvoegsel “multi” word deur Smith en O’Laughlin (s.a.:702) bloot omskryf as baie, terwyl Wyld en Partridge (1963:860) die volgende definisie gee: ”…form used as prefix signifying many, repeated, several, more than one”.

Generasie word deur Kritzinger en Labuschagne (1982:258) beskryf as die voortbring van nakomelinge. Dit verwys ook na ‘n gemiddelde tydperk (30 – 35 jaar) wat ‘n persoon of groep persone leef of reproduktief is. Lilte, Fowler en Coulson (1984:841) verwys ook na ‘n generasie as ‘n tydperk van ongeveer 30 jaar. Dit verwys verder na ‘n groep individue wat min of meer in dieselfde tydperk gebore is. Die omskrywing wat deur Guralink (1986:581) aangebied word, verwys na generasie as “a single stage or degree in the succession of natural descent (father, son and grandson are three generations)”.

Vir die doeleindes van die studie word die term multigeneratief benut om te verwys na meer as een of herhaalde geslagte van nakomelinge van gemeenskaplike voorouers wat tot ‘n afgebakende fase in die lyn van nakomelinge behoort. Dit impliseer dat broers en susters tot een generasie behoort en hul kinders tot ‘n volgende generasie, ensovoorts.

1.6.3 PANIEKVERSTEURING

In hierdie studie word die diagnostiese kenmerke van paniekversteuring, soos omskryf in die DSM IV TR (2000:433), as kriteria vir die bepaling van paniekversteuring aanvaar. Die wesenlike kenmerk van paniekversteuring is die teenwoordigheid van onverwagte paniekaanvalle, gevolg deur ten minste een maand van aanhoudende kommer oor ‘n volgende paniekaanval, bekommernis oor die moontlike implikasies of gevolge van die paniekaanval, of ‘n betekenisvolle gedragsverandering wat verband hou met die aanvalle (DSM IV TR 2000:433). Sien ook Aanhangsel A vir diagnostiese kriteria vir

paniekversteuring. ‘n Paniekaanval verwys na ‘n spesifieke periode van intense vrees of ongemak in die afwesigheid van enige ware gevaar en word vergesel van ten minste vier somatiese of kognitiewe simptome (DSM IV TR 2000:430). Sien Aanhangsel B vir somatiese en kognitiewe simptome van ‘n paniekaanval.