• No results found

DIE BENUTTING VAN DIE GENEAGRAM TYDENS NAVORSING OOR DIE GESIN

DIE GENEAGRAM AS HULPMIDDEL IN GESINSISTEMIESE ASSESSERING In hierdie literatuurhoofstuk word ‘n beskrywing en uiteensetting van die

4.2 DIE BENUTTING VAN DIE GENEAGRAM TYDENS NAVORSING OOR DIE GESIN

Die empiriese ondersoek in hierdie studie is daarop gerig om vanuit ‘n multigeneratiewe perspektief gesinne waarbinne paniekversteuring voorkom se gesinsfunksionering behulp van die geneagram te verken en beskryf. Die geneagram kan in navorsing oor gesinne en die gesinsproses suksesvol benut word want dit is ‘n relatief eenvoudige “…non-intrusive, easily updated tool for

collecting current and historical family information” (McGoldrick, Gerson en Schellenberger 1999:176). Die gebruik van die geneagram tydens navorsing met gesinne stel inligting oor die struktuur, funksionering, verhoudingspatrone en multigeneratiewe nalatenskap van gesinne op so ‘n wyse voor dat die wyse waarop die interaksie tussen hierdie faktore bydra tot simptoomontwikkeling makliker waarneembaar is.

Die basiese aannames oor die gesinsprosesse bepaal die wyse waarop die geneagram deur die navorser benut word (McGoldrick et al. 1999:185). Die aannames oor die gesinsproses in hierdie ondersoek is gebaseer op die teorie van Bowen wat die gesin as multigeneratiewe emosionele eenheid beskou en waar die familie saamgestel word uit “…interlocking emotional fields of the nuclear and extended families” (Titelman 1998:51). Hierdie emosionele veld van die gesin verwys na die konstante vloeibaarheid van beweging of emosionele aksie en reaksie wat tussen die subsisteme van die gesin en uitgebreide familie plaasvind. Die emosionele veld beïnvloed die funksionering van elke lid van die gesin aangesien dit die houding en gedrag van gesinslede teenoor mekaar beїnvloed.

Die afleiding wat gemaak word is dat, in die multigeneratiewe ondersoek na gesinne waarin paniekversteuring voorkom, die geneagram as ‘n geskikte hulpmiddel vir die assessering van emosionele prosesse in die gesin benut kan word. Die formaat van die geneagram is van so ‘n aard dat omvattende inligting oor die gesinsfunksionering ingesamel kan word en dat die grafiese voorstelling van die inligting ‘n aanduiding kan gee van die emosionele prosesse in die gesin wat moontlik kan bydra tot die ontwikkeling van paniekversteuring.

Die saamstel van die geneagram word gerig deur beginsels wat grootliks op die teorie van Bowen gebaseer is (McGoldrick et al. 1999:185). Die ontleding van die geneagram kan ‘n aanduiding gee van watter aspekte binne die multigeneratiewe gesin moontlik tot simptoomontwikkeling kan bydra. Die faktore wat moontlik ‘n

invloed op die multigeneratiewe gesinsfunksionering het en dus op die geneagram aangedui behoort te word is die volgende:

 Gesinstruktuur: In navorsing oor die gesin sou gevra kon word of simptome meer in families met ‘n bepaalde tipe struktuur, byvoorbeeld enkel-ouergesinne voorkom? en of die sibbeposisie met simptoomontwikkeling verband hou. Volgens die Bowenteorie (Titelman 1998:56) kan die toevoeging of weglating van ‘n lid tot die gesinsisteem, wat ‘n verandering in die gesinstruktuur meebring, ‘n beduidende invloed op die funksionering van die gesin hê. Navorsing oor die ontwikkeling van paniekversteuring dui (vgl 3.7.6.) daarop dat skeiding van betekenisvolle persone (by die jong kind is dit die primêre versorger) deur dood of egskeiding gedurende die kinderjare die individu kan predisposisioneer vir paniekversteuring.

 Lewensiklus: Gesinne, net soos individue, “progress from birth to death in the steps and patterns inherent in the human condition” (Duvall en Miller 1985:21). Die lewensiklus bied ‘n oorsig van hoe die gesin oor tyd verander en kan ‘n aanduiding gee van wat om te verwag binne ‘n bepaalde lewensfase. Elke nuwe lewensfase gaan gepaard met bepaalde aanpassings wat individuele lede, asook die gesin as geheel, moet maak. Nie alle gesinne beweeg op dieselfde wyse deur die lewensiklus nie. Volgens McGoldrick en Carter (1982:191) speel faktore soos etnisiteit, godsdiens en kultuur ook ‘n rol in die wyse waarop die gesin die oorgang van een lewensfase na ‘n volgende maak. So sal sommige kulture ‘n bepaalde ritueel volg om volwassenheid by kinders aan te dui. Die politieke, sosiale en ekonomiese konteks waarbinne die gesin leef kan ‘n lewensikluspatroon tot gevolg hê wat aansienlik verskil van dié van die tipiese middelklasnorm wat gebruik word in die ontleding van die lewensiklus van die gesin.

Die lewensiklus van die gesin is volgens McGoldrick en Carter (1982:169) ‘n komplekse proses waarby ten minste drie, maar dikwels vier geslagte betrokke is soos die gesin deur die lewensfases beweeg. Die impak van een geslag op die volgende kan nie oorskat word nie, aangesien die stres wat van vorige geslagte geëerf word ‘n impak het op die wyse waarop die gesin deur die lewensiklus beweeg. Stres verhoog vanweë bepaalde ontwikkelingstake wat afgehandel moet word, aanpassings in verhoudings en rolveranderings wat gesinslede moet maak voordat na die volgende lewensfase beweeg kan word. McGoldrick en Carter (1982:169) maak die gevolgtrekking dat “…symptoms [are] more likely to appear when there is an interruption or dislocation in the unfolding family life cycle”. In die ontwikkeling van paniekversteuring binne die multigeneratiewe gesin sou daar dus moontlik ‘n aanvang van simptome kan wees wanneer daar probleme is in die oorgang na ‘n volgende lewensfase, juis omdat stres in dié tyd hoër in die gesin is en verhoogde stres ‘n rol speel in die ontwikkeling van paniekversteuring (vgl. 3.7.6).

Die patrone in die lewensiklus van gesinne het volgens McGoldrick en Carter (1982:173) en Duvall en Miller (1985:29) in die laaste dekades ‘n verandering ondergaan. Hierdie verandering kan gesien word in die feit dat persone op ‘n later ouderdom trou, later kinders het, minder kinders het, die kinders op ‘n later ouderdom die huis verlaat, daar ‘n toename in egskeidings is en die rol van die moderne vrou verander het (sy is nie noodwendig net ‘n tuisteskepper nie). Baie gesinne beweeg dus nie deur die “normale” fases op die “normale” tyd nie. By die ontleding van die lewensiklus van die gesin behoort daar dus daarop gelet te word dat die norme vir die fases van die lewensiklus van die gesin steeds verander.

Die lewensfases in die lewensiklus van gesinne word deur Bowen (Titelman 1998:57) geïdentifiseer as:

 Huwelik.

 Toevoeging van ‘n kind.

 Die volledige nukliêre gesin (insluitend die toevoeging van elke latere kind).

 Kind verlaat die ouerhuis (insluitend die vertrek van elke daaropvolgende kind).

 Aftrede.

 Ouderdom en dood.

In navorsing oor gesinne sou daarop gelet kan word of simptome meer tydens bepaalde fases in die lewensiklus van die gesin voorkom en of daar ‘n versteuring in die gesinsisteem is wanneer sekere fases van die lewensiklus te vinnig of te stadig plaasvind (McGoldrick et al.1999:185).

o Herhaling van patrone oor generasies: Die vrae wat moontlik gevra kan word in die ondersoek na die voorkoms van paniekversteuring in die gesin is: Watter simptome, probleme of oplossings vir probleme word oor generasies heen van geslag tot geslag oorgedra? Hoe algemeen kom patrone van afsnyding en fusie en van hoë en lae funksionering voor? Kan vlakke van differensiasie in verskillende generasies waargeneem word? (McGoldrick et al. 1999:185).

o Lewensgebeure en gesinsfunksionering: Die kritiese gebeure in ‘n gesin word deur Titelman (1998:56) beskryf as “…nodal events that evoke anxiety in the family fields that refer to those significant events that are central to the life course of the multigenerational family system”. Die aanvang van simptome by ‘n gesinslid hou dikwels verband met bepaalde kritiese gebeure in die gesin. Gebeure wat deur Bowen (Titelman 1998:57) as belangrik beskou word, wat angstigheid in die nukliêre gesin kan

sneller en wat tydens navorsing by die saamstel van die geneagram in ag geneem moet word is:

 Begin van skoolloopbaan.  Verandering van skool.  Gesin verhuis.

 Skeiding in die huwelik.  Egskeiding.  Hertroue.  Werkloosheid.  Aftrede.  Fisiese veranderings.  Siekte.

Die voorkoms van egskeiding in die moderne gesin het so toegeneem dat dit in die meerderheid van gesinne voorkom “…and thus be thought of more and more as a normative event” (McGoldrick en Carter 1982:188). Egskeiding bly egter volgens die skrywers ‘n kritiese gebeurtenis wat die lewensiklus van die gesin onderbreek. Aanpassings moet gemaak word by veranderde gesinsverhoudings en emosionele take en kwessies moet deurgewerk word voordat daar na die volgende lewensfase beweeg kan word. Dit kan ‘n gesin tot twee jaar neem om by die nuwe struktuur aan te pas.

Ontleding van die geneagram kan bepaal of kritiese of traumatiese gebeure in die gesin meer as normaalweg rondom sekere datums plaasvind. Verdere vrae wat gevra sou kon word. Is daar ‘n groter waarskynlikhied van simptoomontwikkeling by kinders wat om en by die tyd van ‘n kritiese gebeurtenis in die gesin gebore is? Wat is die impak van die ontydige dood van ’n gesinslid op ander gesinslede? (McGoldrick et al. 1999:185).

 Verhoudingspatrone en driehoeke: Met behulp van die geneagram kan bepaal word of daar tipiese verhoudingspatrone by

gesinne met ‘n bepaalde gesinstruktuur, byvoorbeeld die hersaamgestelde gesin, is. Daar kan ook bepaal word hoe driehoeke oor tyd en binne families verander (vgl. 2.4.2) en hoe ‘n spesifieke kind (gewoonlik die simptomatiese kind) gekies word vir insluiting by die ouer-kind driehoek (vgl. 2.4.2) (McGoldrick et al. 1999:185).

 Gesinsbalans en -wanbalans: Die geneagram kan ‘n aanduiding gee of daar ‘n balans in die funksionering van gesinslede oor generasies heen is (vgl. 2.4.5), wat gebeur wanneer daar ‘n wanbalans in die funksionering van die gesin is en watter omstandighede in die gesin daartoe bydra dat sommige gesinslede oorfunksioneer en ander onderfunksioneer (vgl. 2.4.3) (McGoldrick et al. 1999:185).

Met behulp van die geneagram kan kliniese data op so ‘n wyse georganiseer word dat ‘n verstaanbare beeld van die emosionele funksionering van die gesin gevorm word (Titelman 1998:56). Die afleiding wat gemaak word is dat die inligting op die geneagram die navorser kan help om die verband tussen simptomatiese gedrag (paniekversteuring) en die funksionering van die gesin as multigeneratiewe sisteem te verstaan. Die huidige emosionele funksionering van die gesin kan beter verstaan word wanneer dit binne die konteks van die multigeneratiewe verlede van die gesin ondersoek word. Die benutting van die geneagram tydens die ondersoek na die voorkoms van paniekversteuring in die multigeneratiewe gesin kan moontlik lig werp op faktore wat algemeen binne gesinne waarin paniekversteuring voorkom, aangetref word.