• No results found

2 3 DIE TEORETIESE BEGRONDING VAN DIE BOWENTEORIE

2.3.1 DIE EMOSIONELE SISTEEM

Dit is die mening van Bowen (1978:308) dat hoewel die emosionele sisteem tydens die evolusieproses verander het en meer kompleks geraak het, die basiese eienskappe soos die behoefte aan saamwees en die behoefte aan individualiteit (differensiasie) nie verander het nie.

Een van die eerste konsepte wat Bowen (1976:60) formuleer is dié van differensiasie, ‘n konsep wat verwys na die mate waarin die individu in staat is om te onderskei tussen die gevoelsproses (waarby die emosionele sisteem betrokke is) en die kognitiewe proses (intellektuele sisteem). Hoe groter die fusie tussen denke en gevoelens, hoe swakker funksioneer die persoon. Die intellektuele sisteem van die mens “…appeared last in man’s evolutionary development” (Bowen 1976:60), terwyl die emosionele sisteem die ouer sisteem is. Dit is deel van die mens se poligenetiese verlede wat hy met ander vorms van lewe deel. Die emosionele sisteem word beheer deur dieselfde wette wat alle vorms van lewe beheer en word beskryf as die outomatiese kragte wat alle protoplasmiese lewe beheer. Bowen (1978:304) beskryf die outomatiese kragte as instink, ‘n subjektiewe emosionele staat en die outomatiese aktiwiteite wat deur die outonome senuweestelsel beheer word. Volgens Kerr en Bowen (1988:27) verwys die emosionele sisteem van die mens na prosesse wat

natuurlik voorkom in alle vorms van lewe. Dit is die aanname dat alle vorms van lewe (insluitend die mens) deur dieselfde basiese lewenskragte (“life forces”) gereguleer word. Kerr en Bowen (1988:28) maak die gevolgtrekking dat die mens, omdat hy oor ‘n emosionele sisteem beskik, soortgelyk aan dié van alle ander vorms van lewe “…has major portions of his behavior governed by processes that predate the development of his complex cerebral complex”. Die afleiding wat gemaak word is dat die emosionele sisteem bestuur word deur outomatiese kragte wat ooreenstem met dié kragte wat ook laer vorms van lewe beheer. Hoe laer die vlak van differensiasie, hoe meer word die mens se gedrag deur die outomatiese emosionele kragte bepaal.

Die gesin is ‘n natuurlike sisteem, maar is volgens Bowen (1978:308) ‘n spesifieke soort sisteem naamlik ‘n emosionele sisteem. Die term, emosionele veld van die gesin, word ook deur Bowen (Kerr en Bowen 1988:54) gebruik as alternatief tot die term emosionele sisteem van die gesin. Die emosionele funksionering van die gesinslede dra by tot die ontwikkeling van ‘n emosionele atmosfeer of emosionele veld wat op sy beurt weer ‘n invloed het op die emosionele funksionering van elke lid van die gesin. Die emosionele veld is die produk van die emosioneel gedrewe verhoudingsprosesse binne die gesin. Hierby sluit Friedman (1991:146) aan en dui aan dat die invloed van die emosionele veld op individuele lede groter is as die invloed wat die lede op die veld het. Friedman (1991:146) beskou voorts die emosionele sisteem van die gesin as sinoniem met die emosionele veld van die gesin, maar onderskei tussen die verhoudingsisteem en kommunikasiesisteem van die gesin en dui aan dat beide die sisteme ingesluit is by die emosionele sisteem (emosionele veld) van die gesin. Een van die funksies van Bowen se konsep van die gesin as emosionele eenheid is om die fokus te plaas op die emosionele prosesse binne die gesin wat bydra tot simptoomontwikkeling. Hier beklemtoon Friedman (1991:146) dat die verskille in die funksionering van gesinslede, wat bydra tot simptoomontwikkeling, nie toegeskryf moet word aan byvoorbeeld kultuurverskille, omgewingsfaktore of geslagsverskille nie, maar dat gefokus moet word op vlakke van differensiasie, driehoeke (emosionele prosesse) en

kroniese angstigheid binne die gesinsisteem. Die ondersoek na simptoomontwikkeling by die persoon met paniekversteuring moet gedoen word binne die konteks van sy gesin as emosionele sisteem met die fokus op die emosionele prosesse binne die gesin wat kan bydra tot simptoomontwikkeling. Die woord “emosioneel”, soos gebruik deur Bowen, verwys na die prosesse wat instinktief en outomaties is. Baker (2003:383) brei hierop uit en meen die term “emosioneel” in die Bowenteorie verwys na outomatiese patrone van gedrag en response wat algemeen by alle lewende spesies voorkom en wat instinktief van een generasie na die volgende oorgedra word. Dit is hierdie instinktiewe, emosionele gevoelskompleks wat die multigeneratiewe emosionele transmissieproses by die mens dryf. Die uitdaging vir die mens, met sy hoogs ontwikkelde serebrale korteks, is om ‘n manier te vind om te onderskei tussen dit wat emosioneel gedrewe is en dit wat deur nadenke gemotiveer word (Illick et al. 2003:202). Dit is ook die mening van Ackerman (2003:445), wat aansluit by Illick et al. (2003:202), dat menslike gedrag gedryf word deur die kragte vanuit sy evolusionêre verlede - die krag wat Bowen die emosionele sisteem noem. Gedrag, gemotiveer vanuit die emosionele sisteem, word dus gedryf deur instinktiewe gevoelens en subjektiewe denke. Funksionering vanuit die emosionele sisteem reflekteer die tussenspel van twee kragte, naamlik saamwees en apartwees (die behoefte aan individualiteit). Hoewel die gedrag van die mens dikwels emosioneel gedrewe is, het die mens volgens Ackerman (2003:446) die vermoё om na te dink oor sy gedrag, bewus te wees van sy impulse en om besluite te neem wat gegrond is op nugter denke. Mense verskil egter in hul vermoë om te differensieer tussen gedrag wat emosioneel gedrewe is en gedrag gegrond op weldeurdagte besluite. Dit is die mening van die Bowen Centre for the Study of the Family (2004:1) dat Bowen se teorie gebaseer is op ‘n integrasie van sy kennis van die menslike spesie (as produk van die evolusie) en sy gesinsnavorsing en dat die “…core assumption is that an emotional system that evolved over several billion years, governs human relationship systems”. Die afleiding wat gemaak word is dat die emosionele sisteem, wat oor eeue ontwikkel het en waarvan die mens onlosmaaklik deel is, menslike gedrag

reguleer. Tóg het die mens die vermoë om te onderskei tussen emosies en intellek. Die mate waarin die mens daarin slaag om te onderskei tussen emosies en intellek en ‘n geїntegreerde self te ontwikkel, bepaal sy vlak van selfdifferensiasie en die vlak van differensiasie het weer ‘n beduidende invloed op die funksionering van die mens. Die persoon met paniekversteuring sou vanuit die Bowenteorie moontlik beskou kon word as die persoon met ‘n lae vlak van differensiasie waar die funksionering van die individu gemotiveer word deur instinktiewe gevoelens en subjektiewe denke, eerder as deur kognitiewe beredenering.

Die konsep, emosionele sisteem, verwys volgens Friedman (1991:144) na enige groep mense of enige ander kolonie van protoplasma (swerm, trop of versameling) wat tot so ‘n mate ‘n emosioneel interafhanklike verbintenis (administratief, fisies of emosioneel) het dat beginsels vir organisasie ontwikkel is. Die struktuur of veld neig om die funksionering van verskillende lede meer te beїnvloed as wat die lede die funksionering van die sisteem beїnvloed. Volgens Friedman (1991:144-145) sluit die emosionele sisteem die volgende in: “…physical makeup, genetic heritage, and current metabolic states. It involves their sibling position and their parents sibling positions.” Dit sluit ook alles in wat deur die multigeneratiewe prosesse deur generasies heen oorgedra is, soos emosionele afsnyding en fusie. Die geskiedenis van die emosionele sisteem, veral die omstandighede waaronder dit gevorm is, hoe die sisteem verander en veral verlies hanteer het, die kwaliteit van differensiasie in die sisteem, beide tans en in die verlede, definieer die aard van die emosionele sisteem van die multigeneratiewe gesin. Die emosionele sisteem word deur Titelman (2003:19) aangedui as die produk van biljoene jare van evolusie en is die dryfkrag binne die gesin en ander verhoudingsisteme. Die afleiding word gemaak dat die individu interafhanklik en onafwendbaar deel van die emosionele sisteem van sy gesin is. Sy gedrag kan nie los van die emosionele sisteem, waarvan hy deel is, verstaan of verklaar word nie. Die individu met paniekversteuring moet ook ondersoek word binne die konteks van die emosionele sisteem waarvan hy deel is,

aangesien die emosionele prosesse binne die gesinsisteem moontlik ‘n beduidende rol in simptoomontwikkeling kan speel.