• No results found

DIE INVLOED VAN PANIEKVERSTEURING OP DIE MAATSKAPLIKE FUNKSIONERING VAN DIE INDIVIDU

EPIDEMIOLOGIE EN VERLOOP VAN PANIEKVERSTEURING

3.9 DIE INVLOED VAN PANIEKVERSTEURING OP DIE MAATSKAPLIKE FUNKSIONERING VAN DIE INDIVIDU

Daar is toenemende bewys dat paniekversteuring ‘n beduidende negatiewe invloed op die maatskaplike en emosionele funksionering van die lyer het (Candilis et al. 1999:424). ‘n Suid-Afrikaanse studie (Lochner et al. 2003:255) toon aan dat die impak op die funksionering van die persoon met paniekversteuring gereflekteer word in die gesins- en sosiale verhoudings van

die individu, disfunksie by die skool en werk, finansies, gesondheid en algemene lewensomstandighede. Hierdie bevindinge word bevestig deur die navorsing van Quilty et al.( 2003:422) wat bevind dat panieklyers ‘n ingeperkte lewe ly vanweë die inkorting van hul maatskaplike funksionering en die maatskaplike inkorting word beskryf as “…relatively constant across family, romantic and social relationships as well as leisure time and activities of daily living”. Die afleiding wat gemaak word is dat paniekversteuring onder meer die funksionering van die individu op alle lewensdimensies kan inkort.

Die herhaalde voorkoms van paniekaanvalle dra daartoe by dat die panieklyer sekere aktiwiteite en situasies begin vermy wat met die aanvalle verbind word. Hierdie vermydingsgedrag vorm en beperk volgens Rachman en De Silva (1996:20) die persoon se lewe, sy huwelik, beroep en sosiale lewe (vgl. 3.4). In die mees ekstreme gevalle kan ‘n persoon huisgebonde raak en slegs vir kort tye en dan net in die teenwoordigheid van ‘n ander persoon die huis verlaat. Die plekke en situasies wat oor die algemeen deur panieklyers vermy word is (Rachman en De Silva 1996:21):

o Vliegtuie

o Om weg te wees van die huis o Tonnels o Skepe/bote o Teaters o Busse o Treine o Museums o Staduims/ouditoriums o Hoë plekke o Snelweë o Winkels o Restaurante o Om in toue te staan

o Partytjies

o Supermarkte

Die vermydingsgedrag van die panieklyers fluktueer en kan ‘n bron van konflik word wanneer die persoon vanweë die vermydingsgedrag verantwoordelikhede nie na kom nie, byvoorbeeld wanneer ‘n persoon weier om kinders skool toe te neem of rekenings te betaal. Die gedrag kan gesinslede verwar wanneer die persoon sekere aktiwiteite sommige dae wel doen en ander dae nie kans sien om dit te doen nie. Dit lei tot irritasie en misverstande en plaas groot druk op verhoudings in die gesin. Baker (2003:28) sluit by Rachman en De Silva (1996:21) aan en toon aan dat vermydingsgedrag die individu se lewenspatroon tot so ‘n mate verander dat die persoon selfs sy denkpatroon verander. Die panieklyer raak so sensitief dat deur te lees oor paniekversteuring of om daaroor te praat of om daarvan te hoor ‘n paniekaanval kan sneller (Baker 2003:23). Die panieklyer kan volgens Baker (2003:28) sekere gewoontes aanleer as manier om paniekaanvalle te probeer beheer of te voorkom dat dit plaasvind:

o Drink pille of alkohol voordat ‘n moeilike taak aangepak word. o Vermy argumente.

o Vermy om televisie te kyk.

o Vermy om alleen te wees of situasies waar hy vasgekeer voel. o Loop stadig om nie hartklop te verhoog nie.

o Hou die gedagtes besig om nie aan paniek te dink nie. o Sorg dat hy altyd naby ‘n deur is.

o Sal net aktiwiteite aanpak as hy ‘n goeie dag het. o Bly gespanne in afwagting van ‘n paniekaanval.

Hierdie gewoontes wat die panieklyer aanleer “…clutters up the sufferer’s life to an incredible degree, narrowing their prospects and generally reducing the quality of their life” (Baker 2003:30). Uit bogenoemde kan afgelei word dat vermydingsgedrag en die gewoontes wat die panieklyer aanleer om paniek te

probeer beheer sy lewe oorheers en sy maatskaplike funksionering veral ten opsigte van sy rolvervullingsaktiwiteite in verskillende verhoudings erg belemmer. Hierdie gedrag van die panieklyer kan bydra tot konflik en plaas baie druk op verhoudings wat spanning en angstigheid verder verhoog.

Navorsing deur Candilis et al. (1999:432) bevestig dat laer sosiale en emosionele rolfunksie en betekenisvolle ontwrigting in die lewe van die panieklyer voorkom en word dit onder meer gekenmerk deur die herhaalde besoek aan dokters en ander mediese inrigtings. Die studie beklemtoon dat by die behandeling van paniekversteuring aandag gegee moet word aan die psigososiale, fisiese en werksfunksionering van die persoon en beveel aan dat groter maatskaplike ondersteuning gebied word met meer klem op die betrokkenheid van die hele gesin by die behandelingsprogram. Dit is ook die mening van Nutt et al. (2003:25) dat “…understanding the extent to which panic disorder affects patients’ lives as a whole is a key issue when it comes to planning appropriate services”. Die sosiale en huweliksfunksionering van die panieklyer word deur paniekversteuring belemmer en Nutt et al (2003:25) bevind verder dat daar groter finansiële afhanklikheid, hoër werkloosheid en meer afwesigheid van die werk by panieklyers voorkom. Die invloed word weerspieël in:

 Minder tyd vir stokperdjies.

 ‘n Toename in ontevredenheid in die huwelik.  Finansiële afhanklikheid.

 Subjektiewe belewenis van swak fisiese en emosionele gesondheid.  Toenemende besoeke aan medici.

 Toenemende risiko vir selfmoord.  Alkohol- of dwelmmisbruik.

 Wye gebruik van psigotropiese middels (enige middel wat ‘n invloed op breinfunksie het soos antidepressante en kalmeermiddels).

Die afleiding wat gemaak word is dat kennis van die belemmering van die maatskaplike funksionering in al die areas van die lewe van die panieklyer wat

beїnvloed word deur paniekversteuring, noodsaaklik is om ‘n suksesvolle behandelingsprogram saam te stel. ‘n Behandelingsprogram kan dus nie net die fisiese simptome behandel nie, maar moet ook fokus op die verbetering van die psigososiale funksionering van die persoon.

Vlogens Mendlowicz en Stein (2000:671) se ondersoek fokus die rolfunksionering van die panieklyer in ses areas, naamlik werk’ sosiale of vryetyd’ verhoudings met uitgebreide familie, rol as eglid, ouer en lid van die gesin. Die bevindinge dui daarop dat die psigososiale funksionering van die individu in al die funksionele domeine ingekort is. Die DSM IV TR (2000:435) beklemtoon ook die belemmering van die panieklyer se funksionering en die ontwrigting van belangrike interpersoonlike verhoudings. Die disfunksionering in maatskaplike funksionering van die panieklyer het ‘n invloed op die persoon se algemene belewenis van sy welstand en daar is volgens Quilty et al. (2003:407) toenemende klem op behandeling “…that demonstrably affect clients’ functioning and well-being in daily experience”. Dit is ook die aanbeveling van Lochner et al. (2003:261) dat in die behandeling van paniekversteuring spesifieke intervensies beplan word waarin aandag geskenk word aan die maatskaplike belemmering wat spesifiek met paniekversteuring verbind word, byvoorbeeld waar daar ‘n inkorting in rolvervulling in verhoudings voorkom.

Die afleiding wat gemaak word is dat paniekversteuring die rolfunksionering van die persoon wat daaronder ly op verskeie vlakke inkort wat verhoed dat hy sy volle potensiaal verwesenlik. Dit ontwrig interpersoonlike verhoudings en algemene daaglikse funksionering en daar sou dus gesê kon word dat paniekversteuring die maatskaplike funksionering van die individu inkort en moet daar by die behandeling van paniekversteuring aandag gegee word aan die aspekte van die persoon se maatskaplike funksionering wat deur paniekversteuring beïnvloed word.

3.10 SAMEVATTING

In hierdie hoofstuk word paniekversteuring as verskynsel verken en beskryf. Paniekversteuring word in 1980 vir die eerste keer in die DSM III as eiesoortige psigiatriese versteuring, met kenmerkende eienskappe, geklassifiseer. Paniekversteuring word onder die angsversteurings gekodifiseer en word die klassifikasie van paniekversteuring, soos in die DSM IV TR (2000) uiteengesit, vir die doeleindes van dié studie aanvaar.

Paniekversteuring begin algemeen gedurende vroeë volwassenheid, maar daar is ‘n bimodale verspreiding in die aanvangsouderdom, naamlik 15 tot 24 jaar en 45 tot 54 jaar. Paniekversteuring kom twee keer meer by vrouens as by mans voor en kom in alle rassegroepe voor. Paniekversteuring is ‘n kroniese toestand en wêreldwyd word die leeftydsvoorkoms tussen twee tot vier persent van die algemene bevolking geraam. Die sleutelkenmerk van paniekversteuring is die voorkoms van herhaalde, onverwagte paniekaanvalle, gevolg deur ten minste een maand van volgehoue kommer oor die volgende paniekaanval, bekommernis oor die gevolge van die paniekaanval en beduidende gedragsverandering as gevolg van die paniekversteuring. ‘n Paniekaanval gaan gepaard met somatiese, kognitiewe en affektiewe simptome. ‘n Diagnose van paniekversteuring word gemaak wanneer ander mediese oorsake uitgeskakel is en aan die kriteria, soos uiteengesit in die DSM IV TR, voldoen word.

Komorbiditeit met ander angsversteurings soos sosiale fobie, obsessief- kompulsiewe steuring en veralgemeende angsversteuring kom algemeen by panieklyers voor. Major depressie en substansafhanklikheid word ook in komorbiditeit met paniekversteuring aangetref. Sekere simptome soos konstante angs, hipochondrie en demoralisering word met paniekversteuring verbind.

Daar is ‘n bepaalde fisiologiese proses wat tydens ‘n paniekaanval plaasvind en waarby verskeie breinstrukture en neurotransmittersisteme betrokke is. ‘n

Paniekaanval is ‘n intense weergawe van die outomatiese veg-of-vlug-reaksie wat in die liggaam plaasvind in reaksie op gevaar. Tydens ‘n paniekaanval word die veg-of-vlug-reaksie in die afwesigheid van toepaslike stimuli gesneller. Die opwekking van die simpatiese senuweestelsel en vrylating van hormone in die bloedstroom gee aanleiding tot verskeie fisiese simptome soos onder meer vinnige hartklop en duiseligheid.

HOOFSTUK 4

DIE GENEAGRAM AS HULPMIDDEL IN GESINSISTEMIESE ASSESSERING