• No results found

DEFINISIE EN OMSKRYWING VAN DIE GENEAGRAM

DIE GENEAGRAM AS HULPMIDDEL IN GESINSISTEMIESE ASSESSERING In hierdie literatuurhoofstuk word ‘n beskrywing en uiteensetting van die

4.1 DEFINISIE EN OMSKRYWING VAN DIE GENEAGRAM

Die geneagram word deur McGoldrick en Gerson (1985:1) gedefinieer as die formaat waarin inligting oor familielede oor drie generasies heen grafies voorgestel word. Inligting oor komplekse gesinspatrone en hipoteses oor hoe ‘n kliniese probleem (byvoorbeeld paniekversteuring) verband hou met die familiekonteks en hoe beide die probleem en konteks ontwikkel het, word in die geneagram uiteengesit. Inligting word op so ‘n wyse aangebied dat dit ‘n vinnige oorsig van die struktuur van die familie moontlik maak. Dit is die mening van Kuehl (1995:239) dat die geneagram ‘n waardevolle hulpmiddel is om ‘n groot hoeveelheid inligting oor ‘n gesin op ‘n relatief bondige wyse weer te gee. Die inligting sluit in die verhoudingspatrone en sleutelgebeure van meervoudige generasies in die familie wat skematies voorgestel word. Hierby sluit DeMaria, Weeks en Hof (1999:23) aan en dui aan dat die geneagram ‘n sistematiese

metode bied om inligting oor ‘n familiesisteem te versamel, om temas en patrone wat persoonlike ontwikkeling en verhoudings beïnvloed, te karteer. Inligting oor die familie word dus op so ‘n wyse met behulp van die geneagram georganiseer dat dit ‘n omvattende en indiepte metode voorsien om gesinstruktuur, geskiedenis en gesinspatrone te assesseer. Milewski-Hertlein (2001:23) beskryf die geneagram as ‘n “…clinical tool that is useful in assessing the impact family has on our lives”. Die afleiding wat gemaak word is dat die geneagram ‘n hulpmiddel is wat benut kan word om die multigeneratiewe inligting oor die gesin sistemies te ontleed sodat die funksionering, verhoudingspatrone, emosionele prosesse en simptomatiese gedrag in die gesin beter verstaan kan word. Die funksionering of disfunksionering van die individu word met behulp van die geneagram binne die konteks van die groter emosionele sisteem van die multigeneratiewe gesin geplaas.

Die voordele vir die benutting van die geneagram kan soos volg beskryf word:  Die formaat van die geneagram is van so ‘n aard dat dit ‘n vinnige,

kliniese opsomming van die struktuur (byvoorbeeld enkelouergesin, die sibbeposisie) en aard van verhoudingspatrone soos afsnyding en fusie in die gesin weergee (vgl. 2.3.2 en 2.4.3).

 Vanweë die diagrammatiese aard van die geneagram is die inligting wat in die geneagram aangebied word onmiddellik herkenbaar, en is dit maklik om bykomende inligting by te voeg (McGoldrick en Gerson 1985:2)  Die geneagram karteer verhoudings en patrone van funksionering op só ‘n wyse dat dit die sistemiese analise van die verband tussen simptoomontwikkeling by die individu en funksionering in die familiesisteem vergemaklik (vgl. 2.3.4).

 Die geneagram bied ‘n wye perspektief op beide die huidige en historiese inligting oor die struktuur, verhoudings en die funksionele aspekte van die gesin. In die studie word ten minste drie geslagte in die ondersoek ingesluit aangesien onder meer gekyk word na die multigeneratiewe transmissieproses (vgl. 2.4.5), driehoekvorming en emosionele afsnyding (vgl. 2.4.2) (McGoldrick en Gerson 1985:3).

 Inligting kan beide horisontaal (vgl. 2.4.3 die nukliêre gesin se emosionele proses) binne die gesinsverband of vertikaal (vgl. 2.3.2 die gesin as multigeneratiewe emosionele eenheid) binne verskeie generasies op die geneagram voorgestel word (McGoldrick en Gerson 1985:3)

 Die sterktes en kwesbaarheid van ‘n familie kan deur middel van die geneagram geassesseer word.

 Die indekspersoon (simptomatiese persoon), in hierdie studie die panieklyer, word binne die konteks van verskeie subsisteme soos sibbe- posisie, byvoorbeeld oudste broer van broers (vgl. 2.4.6), driehoeke (vgl. 2.4.2), die verhoudingskonteks, byvoorbeeld huwelikskonflik (vgl. 2.4.3 en 2.4.5), die gemeenskap en sosio-kulturele konteks (vgl. 2.4.7) geassesseer (McGoldrick en Gerson 1985:2)

 Die geneagram plaas huidige kwessies binne die konteks van die familie se ontwikkelingspatrone.

 Deur middel van die geneagram word die herhaling van verhoudingspatrone, temas, mites en emosioneel betekenisvolle gebeure oor verskeie generasies van die familie, uitgewys (vgl. 2.4.5) (McGoldrick en Gerson 1985:3).

 Die geneagram dui die betrokkenheid van gesinslede van beide die nukliêre sowel as die uitgebreide familie aan, asook die rol wat nie- familielede in gesinslede se lewens speel, byvoorbeeld onderwysers, predikante of vriende.

 Die geneagram kan volgens Kuehl (1995:240) benut word om die lede van die gesin te identifiseer, eienskappe van interpersoonlike verhoudings (vgl. 2.4.3) aan te toon en om die wyse waarop simptome oor geslagte heen ontwikkel aan te dui (vgl. 2.3.4 en 2.4.4).

 Die geneagram organiseer en orden ‘n magdom inligting wat onder meer geboorte- en sterftedatums, name van familielede, huwelike, egskeidings, verhoudingspatrone en kritiese gebeure oor die uitgebreide familie insluit (DeMaria et al. 1999:5).

 Aangesien ten minste drie geslagte van die multigeneratiewe gesin by die ondersoek ingesluit word, is die benutting van die geneagram dus toepaslik omdat dit ‘n makroskopiese blik op patrone en temas wat oor geslagte heen in families ontwikkel, bied (DeMaria et al. 1999:38).

 Die geneagram is volgens Milewski-Hertlein (2001:23) ‘n nuttige hulpmiddel om inligting oor onopgeloste woede en veral die aard van verhoudings te verkry. Die geneagram kan as riglyn dien om vrae aan die kliënt te vra oor sy persepsie van gesinsverhoudings.

 Die geneagram kan die kliënt help om die herhaling van gedrags- en verhoudingspatrone in die lewensiklus van die familie te verstaan (Milewski-Hertlein 2001:23).

Uit bogenoemde kan die afleiding gemaak word dat die wyse waarop inligting oor verhoudingspatrone, die struktuur en funksionering van die familie in die geneagram aangebied word, dit moontlik maak om die verband tussen simptoomontwikkeling en faktore binne die familiekonteks wat bydra tot simptoomontwikkeling, te assesseer. Die geneagram is dus ‘n toepaslike hulpmiddel in die ondersoek na die voorkoms van paniekversteuring in verskeie generasies van dieselfde familie. Die formaat van die geneagram laat ruimte om inligting oor die emosionele prosesse, soos uiteengesit in die Bowenteorie, wat moontlik kan bydra tot die ontwikkeling van paniekversteuring, multigeneratief te karteer.

4.2 DIE BENUTTING VAN DIE GENEAGRAM TYDENS NAVORSING OOR DIE