• No results found

PERSONE TYDENS 'N KRISIS

HOOFSTUK 5 ■ BYDRAENDE PERSPEKTIEWE VANUIT DIE GRENS-WETENSKAPPE

5.5 PSIGOLOGIESE TRAUMA

5.5.5 Nagevolge van 'n traumagebeurtenis

Volgens Jaffe ef al. 2005 (vgl. ook Matsakis, 1996:34-5; Coetzer, 2005:53-58; Robert, 1996; Joseph, 2006 en Sidran traumatic stress foundation, 2006) sou die volgende algemene simptome kon voorkom:

• Fisies: Eetverteurings (kompulsiewe ooreet, bulimie en anorexia); slaapversteurings (meer of minder as gewoonlik); seksuele disfunksie; kroniese moegheid en psigosomatiese simptome.

• Emosioneet. Eksogene of endogene depressie; major depressie; 'n gevoel van wanhoop en hopeloosheid; angstigheid; paniekaanvalle; vrees; verloor van beheer oor emosies; geirriteerdheid; woede; veragting en bitterheid; emosionele doodsheid.

• Kognitiewe: Geheuverlies (spesifiek met betrekking tot die trauma); sukkel om besluite te neem; gebrek aan konsentrasiejaandagafleibaarheid.

• Algemene persoonlike en gedragsgevolge: Kompulsiewe en obsessiewe gedrag; substansieafhanklikheid (soos alkohol en dwelmmiddels); prostitusie; pornografie en seksuele wangedrag; dobbel; her-viktimisasie; selfvernietigende gedrag/selfmoordneigings; pogings om ongeverbaliseerde emosionele pyn te verplaas na fisiese pyn; impulsiewe en kompulsiewe gedrag; onvermoe' om gesonde lewensbesluite te neem; dissosiatiewe simptome; gevoelens van oneffektiwiteit; skaamtegevoelens; moedeloosheid; hopeloosheid; afgetakelde lewens- en wereldbeskouing; onttrekking van alledaagse roetine en verhoudings.

• Algemene gevolge op interpersoonlike verhoudings: Verbreking van gesins-, vriendskaps- en liefdesbande (Herman, 2001:51); onvermoe om in 'n naby of intieme verhouding te wees; seksuele probleme; vyandigheid en argumente met familie, werkgewer of kollegas; sosiale onttrekking/isolasie; gevoel van konstante bedreiging.

5.5.5.1 Post-traumatiese stresversteuring (PTSV)

PTSV is gewoonlik een van die belangrikste langtermyn nagevolge van 'n traumagebeurtenis indien die persoon nie die nodige hulp ontvang nie. Dit is normaalweg die gevolg van 'n oorweldigende blootstelling aan 'n stresvolle gebeurtenis of reeks van gebeure, soos byvoorbeeld oorlog, verkragting, molestering, huishoudelike geweld, ens. Dit is 'n normale reaksie van normale mense op 'n abnormale gebeurtenis (Coetzer 2005:40). Die traumatiese gebeure wat gewoonlik lei tot post-traumatiese stresversteuring is tipies so buitengewoon of intens dat dit byna enige mens sal ontstel. Die gebeure is skielik en word beskou as lewensbedreigend vir die persoon (Coetzer 2005:40). Post-traumatiese stresversteuring kan ook intree indien daar kompliserende faktore betrokke is tydens die terugtrek- of vermydingsfase, wat dan verhoed dat die persoon kan aanbeweeg na die volgende fase van die helingsproses (Matsakis, 1996:21).

• Simptome

Die volgende simptome met betrekking tot PTSV word algemeen deur navorsers uitgewys (Coetzer, 2005:41; Matsakis, 1996:21-27; Herman, 2001:35-46; Weaver, etal., 2003:35; McNally, etai, 2003:47):

o Hipersensitiwiteit (hyperarousal)

Wright (2003:198-205) wys daarop dat 'n traumatiese gebeurtenis die chemiese samestelling sowel as die fisiologie van iemand se brein kan verander. Hipersensitiwiteit word teweeg gebring as die regterkant van die

brein (alarmgedeelte) abnormaal reageer op die gebeurtenis en die brein aktiveer asof daar 'n gevaar

bestaan (terwyl daar geen gevaar is nie). Die frontale korteks se vermoe neem ook af en daarom is die brein minder in staat om linkerbreinfunksies - dink en analiseer- uit te voer (Wright 2003:204). Dit veroorsaak dat die persoon sukkel om werklike gevaar en geen gevaar van mekaar te onderskei en die persoon beleef dan 'n voortdurende vrees en angstigheid.

o Herbelewing (intrusion)

'n Herbelewing van die gebeurtenis vind plaas deur terugflitse, drome of nagmerries - dit impliseer 'n skielike spontane belewenis of gedagteflits waartydens die traumaslagoffer dan die oorspronklike trauma weer beleef (vgl. Herman, 2001:37-42). Herman (2001:37) gebruik in hierdie opsig die woord intrusion en sy verduidelik dat dit plaasvind wanneer 'n ernstige krisisbelewenis die normale ontwikkelingsproses as't ware blokkeer deur herhaaldelike 'inbrake' in die slagoffer se lewe - dit lei dan tot 'n herbelewing van die oorspronlike traumagebeurtenis.

o Gevoelloosheid (numbing)

Die afname in funksionering van die frontale korteks as gevolg van 'n traumatiese gebeurtenis veroorsaak dat die persoon dit moeilik vind om dit wat hy ervaar, in woorde uit te druk (Terr, 1990:80). Sommige mense is dan geneig om alle emosies te blokkeer in 'n poging om die pyn te onderdruk. Ander leef weer in 'n fantasiewereld en gee voor dat niks slegs gebeur het nie. Ander probeer deur drank en dwelms die pyn verlig (Coetzer 2005:41). Enige aksie wat daarop gerig is om emosionele pyn te onderdruk/vermy, het eintlik maar net die effek van "emosionele narkose". 'n Persoon met post-traumatiese stresversteuring kan dus probleme ondervind om te lag, huil of liefde te betoon. Dit kan veroorsaak dat die persoon byvoorbeeld glo dat hy nie meer die kapasiteit het om empatie te toon en intiem te wees nie. Die onderdrukking van negatiewe gevoelens veroorsaak ook dat getraumatiseerde persone geneig is om hul lewensvreugde en toekomsverwagtinge/-visie te verloor. Hulle is so gefokus op die negatiewe van die verlede dat hulle daarin vasgegevang word. Die probleem is egter dat as mense die verlede probeer uitblokkeer, veroorsaak dit dat jy gelyktydig ook die teenswoordige sowel as die toekoms uitblokkeer (Coetzer 2005:42). Ter oorlewing het hulle hul gevoelens afgesluit en voel onbetrokke by die lewe. Hulle voel verwyderd en vervreemd van ander mense. Hulle voel dat daar niemand is wat verstaan waardeur hulle gegaan het nie en daar is niemand met wie hulle kan paat nie. Hulle kan ook nie aan iemand vertel wat werklik gebeur het nie omdat hulle dalk skaam is oor dinge wat hulle tydens die trauma gebeure gedoen het uit vrees vir hulle lewens (Coetzer 2005:41). Dit is hierdie geheime en werklike vrees dat hulle moontlik weer verneder en verwerp sal word

(sekondere verwonding), wat maak dat hulle verwyder voel van ander. Hierdie hele proses lei dan dikwels

daartoe dat sulke persone hulself sosiaal isoleer van andere omdat dit moeilik is om 'n sinvolle verhouding met ander te he as daar emosionele bagasie is wat deurentyd saamgesleep word (Matsakis, 1996:90).

• Post-traumatiese stresversteuringsdiagnose

Die bostaande traumasimptome moet vir meer as 30 dae voorkom voordat die pasient gediagnoseer sal word met post-traumatiese stresversteuring (Matsakis, 1996:29; Coetzer, 2005:42). Die toestand word as akuut gediagnoseer indien die simptome vir 'n periode van drie maande voortduur. Dit word as vertraagde post- traumatiese stresversteuring getipeer wanneer die simptome ses maande en langer na die traumatiese gebeurtenis sou voortduur. Dit kan selfs eers na 'n jaar, twintig jaar of selfs veertig jaar na die traumatiese ervaring na vore kom (Matsakis, 1996:16).