• No results found

Die gevolge van die Jameson-inval vir die Geheime Diens

Die Jameson-inval sou die waarde van 'n Geheime Diens vir die ZAR beklemtoon. Die soektog na versteekte wapens en die gerugte daarmee saam dat ln tweede opstand

beplan is, het die Kommissaris van Polisie goed gepas. Hy het gedurende die eerste maande van 1896 min oortuigingswerk nodig gehad om fondse van die Krugerregering vir geheime agente te kry. Spioenasie was in hierdie omstandighede aan die orde van die dag, want:

The atmosphere of uncertainty, tension and suspicion after the Raid, was a natural breeding ground for secret meetings and plots of every kind, most of them carefully watched by the ubiquitous Transvaal Secret Service Agents.1

Een van die lesse wat geleer is, was dat die Speurdiens uit die aard van hulle werksomstandighede ook benut kon word om vir die staat te spioeneer. Weens 'n tekort aan fondse en genoeg speurders, was hulle tyd en getalle egter te beperk om die taak ook te verrig. 'n Gespesialiseerde staatsafdeling was egter nodig om uitsluitlik op spioenasie binne sowel as buite die land se grense te konsentreer.2 Hierdie

intelligensiediens moes 'n ondersteuningsfunksie binne die regeringsisteem van die ZAR verskaf.3

1 M.F. Bitensky, The South African League, (MA, UW, 1950), p. 13.

2 G.N. van den Bergh, Die Polisiediens in die Zuid-Afrikaansche Republiek in Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 38, 1975, p. 204.

104

'n Leemte wat ontbloot is, was die feit dat daar nie samewerking tussen die polisie en die militere-afdeling was oor die insameling en verwerking van inligting nie. Die inval het egter die twee staatsdepartemente gedwing om te begin saamwerk. Die inval het ook die waarde van 'n agent soos Taylor beklemtoon. Indien die talle verslae wat Taylor in die maande voor die inval op 'n weeklikse basis ingestuur het, beter hanteer en gei'nterpreteer is, kon die inval dalk meer korrek voorspel gewees het. Taylor het redelik akkuraat oor die metodes en voorbereidings van die insurgente gerapporteer. As al sy leidrade opgevolg is, kon selfs die leiers van die inval vooraf opgespoor gewees het.

Direk na die Jameson-inval het die Krugerregering 'n volledige amptelike verslag rondom die inval laat publiseer. Geen melding van enige verslag of telegram, wat aan die Staatsprokureur of die Kommissaris van Polisie se kantore gerig is, word daarin gemeld nie. Slegs telegramme gerig aan die Kommandant-generaal se kantoor word vermeld en aangehaal. Die redes hiervoor was tweerlei van aard. Eerstens kon dit wees dat die verslae van geheime agente doelbewus verswyg is om sodoende nie die identiteit van geheime agente te openbaar nie. Tweedens kon dit daarop dui dat die Kommandant-generaal nie bewus was van die inhoud van geheime agente se verslae nie.

In Pretoria is die Geheime Diens versterk met die oog op die verhoor van die Reformleiers.5 Besondere aandag is verleen aan die bewaking en beveiliging van die

Staatspresident self en sy woning. Die gedagte was om 'n wag van 75 man aan te stel om Kruger te beskerm. Die idee het by die klerk van die Kommissaris van Polisie, H.C. Bredell, ontstaan. 'n Geheime agent, ene Stander, het aan die kommissaris gerapporteer dat hy die erf langs die President se huis vir plofstof deursoek het en niks gevind het nie. Die gruis, wat die vermoede laat ontstaan het dat iets aan die gang was, is bloot ingery om 'n sloot mee op te vul.7 Hierdie tipe van oplettendheid en

rapportering van sake gee 'n aanduiding dat daar 'n totaal ander ingesteldheid as voor

4 G.N. van den Bergh, Secret Service in the South African Republic 1895 - 1900 in Krygshistoriese Tydskrif, 3(3), 1974, p. 59.

5 Ibid., p. 299.

6 SP 892, Verantwoordelike klerk aan Staatsekretaris, 30.12.1895, p. 4. 7 SP 882, GCPM 6/96, Skrywe Stander - Kommissaris van Polisie, 7.1.1896.

die inval geheers het. Alle aspekte wat die staat en sy leiers se veiligheid kon bedreig het, is aangespreek en ondersoek.

Op 1 Januarie 1896 het Taylor uit Johannesburg verslag gedoen dat tussen 4 000 en 5 000 mense voor die Beurs vergader het. Die skare het die staatsgesag uitgedaag en

Rule Brittania en God Save The Queen gesing. Die Krugerregering moes toe al

duidelikheid begin kry het oor die omvang van die probleem. As gevolg van die groot getalle wat betrokke was, het die Krugerregering besluit om die polisie tot hulle kasernes te beperk.9 Vir alle praktiese doeleindes het die Reform Committee die

verantwoordelikheid vir wet en orde in Johannesburg aanvaar.10

Die staat het egter nog geheime agente nodig gehad om die situasie in Johannesburg dop te hou. Die mees effektiewe geheime agent in Pretoria, Taylor, alias Josef, is egter deur die Kommissaris van Polisie uit Johannesburg onttrek. Vanaf 5 Januarie

1896 het hy vanuit Pretoria gerapporteer. Sy opdrag was om die huis van die Britse Hoekommissaris te bespied of onder statiese waarneming te plaas." Hierdie taak het hy verrig tot en met 7 Januarie 1896.12 Sir Hercules Robinson, die Britse

Hoekommissaris, het op Saterdagaand 4 Januarie 1896, in Pretoria gearriveer.13 Dit

was waarskynlik die rede waarom Taylor die Britse gesant in Pretoria se woning moes dophou. Die Krugerregering wou in die fynste besonderhede weet met wie die Hoekommissaris skakel. Dit kon 'n aanduiding gee van die Britse regering se aandadigheid aan die hele komplot.

Op Maandagoggend, 6 Januarie 1896, het sir Hercules Robinson, bygestaan deur sir Jacobus de Wet, die Imperiale Sekretaris, Graham Bower, die President en die Uitvoerende Raad in Pretoria ontmoet. Die hoofregter, regters E.J.P. Jorissen en H.A. Ameshoff, die Staatsprokureur en twee verteenwoordigers van die Vrystaatse regering was ook teenwoordig. Daar is ooreengekom dat die Reform Committee moes

8 SP 880, GCPM 5/96, Verslag Taylor - Kommissaris van Polisie, 1.1.1896. 9 J.M. de Lange en J. Ploeger, Gedenkskrifte van Paul Kruger, p. 126.

10 W.J. du Plooy, Die militere voorbereidings en verloop van die Jameson-inval 1895 - 1896, (MA, UP, 1958), p. 69.

11 SP 882, GCPM 1/96, Verslag Taylor - Kommissaris van Polisie, 5.1.1896. 12 SP 882, GCPM 2/96, Verslag Taylor - Kommissaris van Polisie, 7.1.1896. 13 I. Colvin, The life of Jameson, II, p. 139.

106

oorgee en dat alle vuurwapens ingehandig word. Die Komitee het die Dinsdagmiddag 'n verklaring uitgereik en versoek dat alle vuurwapens ingehandig word. Later het president Kruger in 'n resolusie die keerdatum vir die inhandiging van vuurwapens na 10 Januarie uitgestel.

Alhoewel hierdie 'n amptelike ooreenkoms was wat uitgevoer moes word, sou die Geheime Diens-agente die saak op grondvlak monitor. Teen 8 Januarie was 1 814 gewere en drie beskadigde maxims aan die Krugerregering oorhandig. Die regering wou egter nie aanvaar dat dit al die wapens was nie en het opdrag gegee dat verdere ondersoek ingestel word, veral in die lig van die gerugte dat 'n tweede inval kon volg.16

Juis op 8 Januarie is gerapporteer dat H. Acton beweer dat hy in Johannesburg die lys van name van persone gesien het wat bereid was om die regering die stryd aan te se. Die leiers daarvan het horn ingelig dat hulle meer as 20 000 gewere tot hulle beskikking het.17 Hierdie inligting wat die regering se ore bereik het, het verdere

agterdog by laasgenoemde gesaai en die vermoede bevestig dat nie alle vuurwapens deur lede van die Reform Committee ingehandig is nie.

'n Verdere positiewe gevolg van die Jameson-inval was dat nog 'n geheime agent A.H. Evans, op die 31 Desember 1895 in 'n tydelike hoedanigheid aangestel is.18 Hy

sou onder die kodenaam Derfla opereer. Dit is die omgekeerde van sy naam, Alfred. Sy hooftaak was om vuurwapens en ammunisie op te spoor, wat in die myne versteek was.1 Die Jameson-inval het ook daartoe meegewerk dat daar agterdog en wantroue

selfs binne staatsgeledere, geheers het. In 'n skrywe vanaf die Kommissaris van Polisie se kantoor aan die Kommandant van die Polisie in Johannesburg, is beswaar gemaak dat J.T. Bain nie die nodige steun van die Kommissie van Ondersoek van die

14 D.O. Rhoodie, Die Johannesburgse "Reform Committee" 1895-1896, (MA, UP, 1958), p. 105.

15 J.P. Fitzpatrick, The Transvaal from within, pp. 211-212.

16 D.O. Rhoodie, Die Johannesburgse "Reform Committee" 1895-1896, (MA, UP, 1958), pp. 108-109.

17 SP 882, GCPM 7/96, Verslag Taylor - Kommissaris van Polisie, 8.1.1896. 18 SP 872, Eed van getrouheid - Alfred Harry Evans, 31.12.1895.

19 SP 903, Geheime Diens Tjekboek, Tjek no. 3, Betaling van £25 aan Derfla, 31.12.1895 en SP 902 Geheime Diens Kasboek, Inskrywing - 31.12.1895 A.H.Evans £25.

regering gekry het om sy taak te volvoer nie. H.C. Bredell het die versekering gegee dat Bain 'n lojale, betroubare persoon was en dat dit die Staatsprokureur se wens was dat hy in Johannesburg met die ondersoek na versteekte wapens behulpsaam moes

20

wees.

Wantroue en agterdog was 'n tipiese probleem waarmee persone in beheer van die staat se geheime agente telkens geworstel het. Geheime agente se identiteit kon om logiese redes nie altyd aan ander staatsamptenare bekend gemaak word nie. In hierdie spesifieke omstandighede sou Engelssprekende persone met 'n Engelse agtergrond die beste in staat gewees het om die opposisie geledere te infiltreer. Binne die geledere van die staat het sulke geheime agente egter juis vanwee hulle agtergrond, suspisie gewek. Dit was dan ook heel waarskynlik die geval mei 'n agent soos J.T. Bain. Nog 'n direkte gevolg van die inval was dat geheime agente selfs op 'n tydelike basis aangestel is om die ander agente se geledere te versterk. Geheime agente is ook by name deur die Uitvoerende Raad tydens van hulle geheime sittings aangestel. 'n Sekere geheime agent, C. Keyser, is vanaf 1 Februarie 1896 vir 'n tydperk van drie maande teen £25 per maand aangestel.21 Keyser is waarskynlik vir 'n spesiale doel

aangestel want sy naam word nie verder in die dokumente of kasboek van die Kommissaris van Polisie aangetref nie.

Die rede dat sommige agente by name deur die Uitvoerende Raad goedgekeur is, kan wees dat dit 'n vorm van keuring was. Hierdeur het die Uitvoerende Raad tydens hulle geheime sittings hulle die reg voorbehou om agente af te keur. Die getalle van die speurdiens is nie dramaties verhoog na die inval nie.22 Die Krugerregering het nogtans

na die inval die geledere van die speurdiens met drie speurders versterk.23

Die uitbreiding van die agentekorps het nietemin daarop gedui dat die Krugerregering in beginsel aanvaar het dat dit die Geheime Diens se taak sou wees om na die staat se veiligheid om te sien. Alhoewel daar soms oorvleueling tussen die Speur- en Geheime

20 SP 892, SPR 6/96, Skrywe vanaf Kommissaris van Polisie - Kommandant van Polisie Johannesburg, 14.1896, p. 10.

21 URN (Geheim), Artikel 1, 15.1.1896.

22 G.N. van den Bergh, Die Polisiediens in die Zuid-Afrikaansche Republiek in Argieffaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 38, 1975, p. 235.

108

Diens ten opsigte van take sou wees, impliseer hierdie houding van die Krugerregering 'n skeiding in die pligte van die twee Dienste.

In die eerste paar maande na die Jameson-inval, het die Speurafdeling saam met geheime diens-agente feitlik net aan die opspoor van vuurwapens en samesweerders gewerk. Eers gedurende April 1896 is aan die normale pligte van die Speurdiens aandag gegee. Die hoofspeurder, F. de Witt Tossel, het gedurende Februarie 1896 die Kommissaris versoek om hom na die gewone polisie terug te verplaas. In sy plek is die voormalige hoofspeurder, Robert Ferguson, weer aangestel.24

Die Jameson-inval het dus 'n positiewe uitwerking op die voortbestaan en uitbreiding van die Geheime Diens gehad. Daar kan egter geen dokumentere bewys gevind word in enige dokumentasie dat daar 'n spesifieke besluit geneem is om 'n geheime diens te bedryf nie. Die aanstelling van agente gedurende 1896 en die goedkeuring van fondse vir die doel getuig daarvan dat die bestaan van 'n geheime diens die steun van die Krugerregering gehad het. Dit kan wees dat die "moet weet"-beginsel ter sprake was en dat die bestaan van so 'n diens net aan die nodigste beheerpersoneel of hanteerders bekend was. Verskeie sake is dan ook ter wille van sekerheid slegs mondeling goedgekeur. So meld die Kommissaris in 'n verslag dat hy 'n sekere bedrag aan kommandant Schutte betaal het vir geheime dienste op grond van 'n mondelinge instruksie van die Uitvoerende Raad.2

Die gebeure van 1895-1896 het die moontlikheid van 'n militere konfrontasie tussen die ZAR en Brittanje aansienlik vergroot. Die kwessie van die veiligheid van die staat is op die voorgrond geplaas en kon nie langer geignoreer word nie. Verder is die regering se probleemgebiede ten opsigte van staatsveiligheid, naamlik die grense en die Uitlanderbevolking in Johannesburg uitgewys. In die eerste maande van 1896 sou geheime agente hoofsaaklik in die gebiede aangewend word.

24 G.N. van den Bergh, Die Polisiediens in die Zuid-Afrikaansche Republiek in Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 38, 1975, p. 235.

25 SP 892, Verslag van kommissaris oor finansies - Item 100, p. 71.

26 G.N. van den Bergh, Die Polisiediens in die Zuid-Afrikaansche Republiek in Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 38, 1975, p. 296.