• No results found

C.M. van den Heever, Somer · dbnl

N/A
N/A
Protected

Academic year: 2021

Share "C.M. van den Heever, Somer · dbnl"

Copied!
147
0
0

Bezig met laden.... (Bekijk nu de volledige tekst)

Hele tekst

(1)

C.M. van den Heever

bron

C.M. van den Heever, Somer. J.L. van Schaik, Bepk., Pretoria 1935

Zie voor verantwoording: http://www.dbnl.org/tekst/heev001some01_01/colofon.php

© 2011 dbnl / erven C.M. van den Heever

(2)

I.

‘Soe!’ roep die wandelaar uit en laat sy bondeltjie goed sak. Sweet glans onder sy hoedrand uit en beweeg stadig oor sy warm, deurvoorde gesig. ‘Soe!’ Die hitte slaan uit sy klere op. Van die hoogte waar hy nou staan, kan hy ver oor die vlakte heen kyk. Agter hom lê die blou reekse berge soos die voue van 'n konsertina. Al verder blou die yl, bewerige randjies weg tot dit vergaan in die onsekerte van die verte se dynserigheid. Eienaardige stuk wêreld wat hy agter hom gelaat het! In die skaduwee van 'n rietskraal bloubos gaan hy sit, en 'n weldadige vrede kom hier in die strepie koelte oor hom. Dit voel so rustig en verruimend hier, of jy in 'n diep kuil koel water swem. En rondom hom dein die landskap, groots en met die verre kimme in wasige skoonheid. Hy moet weer omkyk na die skof wat hy afgelê het. ‘Soe!’ en hy voel

C.M. van den Heever, Somer

(3)

die hitte van die end pad nog na, waar dit met sy meelsagte stof van bult na bult wegskiet of dit 'n ewige hunkering het na afstand, na ruimte. Daar waar die berge nou hulle skadu-diepe voue plooi, het hy gewerk, en hy sien weer die wye koringlande wat geel opglans teen die lang, uitgerekte hellinge wat vredig lê en slaap soos moeë arbeiders in die koelte van die berge. Daardie lappe en lappe koring het verdwyn.

Saam met die ander snyers het hy van sonop tot sononder krom gestaan sodat die sekel gebrand het in sy klamgeswete hand. Toe die swaar miedens op die lande, die gerwe op die dorsvloer, die vul van die sakke en dan - afskeid! Verlore in sy drome van gedane arbeid kyk hy nog altyd terug na die berge vanwaar hy gekom het. Altyd maar die sware arbeid waarteen mens eers opsien as jy moet begin, en dan jou vreugde daarin, jou lus om dit te verower, en as jy end se kant toe gaan, dan kom daar byna 'n segenryke weemoed in jou oor die oomblikke wat agter lê, die skoonheid van dade wat verrig is, en jy weet dat jy nou weer moet voort..

‘Vir hom altyd maar afskeid ná die dagtaak klaar is. Nie die aangename rus om stil te gaan sit as die skure volgepak is en die geweld van die winter met genot voor die goue vlamme van die vuurherd afgewag word nie.

C.M. van den Heever, Somer

(4)

Altyd maar voort! So is sy lewe. So, totdat hy in die laaste groot Koelte gaan rus ....

Maar wag, hy sit sy tyd hier en verdroom. Daar onder, langs 'n paar vaal randjies lê die groepies huisies waarheen hy mik. Hier sal weer arbeid te verrig wees, want 'n end van hom af weg sien hy die koringlande lê, sommige nog groen, ander wat reeds verkleur. En ver strek hulle uit, daar by die randjie verby, na die bedrieglikheid van veraf bultrondinge. Die son sak stadig laer en laat lang, puntige skaduwees oor die koring kruip. Die wandelaar vat sy bondel en met sy seer voete kies hy weer die wapad. Maar hy voel nou lekkerder as netnou, want dit word koeler op die veld en die huise wat nader en nader kom, laat blye verwagtinge tintel deur sy bloed. Sy swaar skoene plof deur die dik stof, wat lui opdwarrel en in wolkies gaan lê. Nader kom die koringlande na hom toe. Hulle strek weerskante van die pad af weg, 'n gelykte van lewende, ritselende halms. Hy draai uit die pad, kruip deur die doringdraad van die land en aan die kant van die ruisende koringveld gaan hy staan, asof gevul met 'n tere eerbied, en hy luister na die ritmiese geritsel, nou sag en ingehoue en dan weer in voller vlae, want die aandwind het ontwaak, en van die onderend van die land af, buig die mollige golwe

C.M. van den Heever, Somer

(5)

aan tot hier by hom - die hele koringveld in gelyke deining, wat luister na die aanswelling en daling van die wind. Hy streel met sy growwe, gebarste hande oor 'n paar are heen. ‘Dié koring sal in hierdie week ryp wees,’ mompel hy en loop stadig na die pad terug. Die geruis van die koring vul hom met 'n diep genoeë, met 'n liggaamsvreugde. Altyd as hy die koring hoor, voel hy 'n drang na lewe en verstaan hy hoe goed, hoe mild die lewe is, die lewe wat werk in sy bloed en hom met arbeidslus vervul, die lewe wat die koring laat groei, van klein, swak stoeltjies tot kragtige halms en are en hulle omtower as die somer kom en die lewe volgroeid is, ryk van belofte en vol skone geheime van skeppingdade. Ja, die somer is vir hom die mooiste van die jaargetye! En tog, wat sou dit dan tog wees? Net soos hy die heerlikheid van die groeiende lewe sien, as hy die diepste drink aan die skoonheid, dan kom daardie gevoel oor hom, soos die wye koelte nou hier oor die koring - dit alles gaan verby! Want is die somer nie maar net die versekering dat die lewe ryp geword het nie - dat doodseker die herfs en winter moet volg nie? Maar nog erger as alles: die mens en sy genadeloosheid! Wag - en sy bewussyn raak los uit die donker gedagtes - daar kom iemand aan. Die man het onver-

C.M. van den Heever, Somer

(6)

wags verskyn uit die lang koring en sy wye ferweelbroek en hemp teken hom vaal af teen die groen agtergrond. Hy kom nader na die wandelaar toe, wat haastiger begin stap, sy oë vas op die kêrel wat uit die koring verskyn het. Toe hulle bymekaar kom, laat die wandelaar handig sy bondel neer en terwyl hy sy growwe hand uitsteek, sê hy ‘Wynand Naudé’ en die ander man antwoord ‘Tom du Preez.’

‘Kom jy vér?’ vra laasgenoemde en hy byt van sy baard tussen die lippe vas. Sy oë kyk skerp en met 'n glansie agterdog. Wat sou hy weet? peins die vreemdeling neerslagtig.

‘Ja, Oom, ek kom 'n hele end. Ek het 'n lang skof agter die rug.’ Hy plaas sy hande in sy sye en kyk voor hom. Dan beduie hy: ‘Oom woon seker dáár’; sy vinger wys na 'n paar huise wat by die randjie lê en nou stadigaan begin wegsak in die

aankruipende skaduwees.

‘Ja,’ sê Oom Tom en hy knik voldaan sy kop. ‘Sny jy koring? So? Nou ek dink hier sal vir 'n hele rukkie iets te doen wees - hm, ja nee, ongetwyfeld. Ons kan vanaand oor die geldkant van die ding praat. Jy is nou seker moeg. Kom ons stap aan huistoe.

Pragtige koring, man,’ en die oop hand beduie oor die gelykte, ‘ons het lanklaas so'n jaar gehad.’

C.M. van den Heever, Somer

(7)

‘Woon familie van Oom in daardie huise, daar rondom oom s'n?’ vra Wynand.

‘Ja, hoe sal ek sê? 'n Broer, 'n swaer en die ander huis behoort aan 'n Venter. Hy het die grond gekoop van my broer Lukas, wat na Johannesburg getrek het - hm.

Ken jy vir Johannesburg, vriend?’

‘Ja,’ klink dit kortaf en half ontwykend.

‘Nou ja, wat ek wou sê: hy is daarheen. Hy is glo in die myne. Ons hoor selde of ooit van die man. Dit is jammer dat die grond van die ou voorvadere uit die hande van die nageslag moet raak. Maar so gaan dit: opskrywe, opskrywe - en môre moet jy laat vat. Ja neef, soos ons hier stap - kyk bietjie so af, daar na die wilkerboom se kant toe, hier het werk gelê. Hier was dit van sonop tot sononder agter die ploeg.

Gelukkig was hier vanjaar geen stukkie hael nie. Dis 'n bestiering. Anders het ons nog maar altyd die een of ander teenspoed gehad. Die wêreld is hierlangs mos maar bietjie kwasterig - hm. Maar, ou vriend, hoe lyk die wêreld soos jy gekom het?’

Wynand hou van hierdie boer met sy vos-baard en skerp blou oë. Daar klink oortuiging en sekerte uit sy stem.

‘Nee, die boere gaan baie koring wen. Dié wat vroeë-baard gehad het, het reeds alles af. Hulle is tevrede.’

C.M. van den Heever, Somer

(8)

‘Was jy by Baart van Tonder, Blouvlei, langs?’

‘Ja, net daar langs. Hy sal glo goed wen.’

‘Ja, ek ken heelwat mense - so uit in die rigting wat jy gekom het. Maar, neef, laat ek nou maar vra wat ek netnou al wou vra: waar kom neef eintlik vandaan en gaan neef nou maar so van plaas tot plaas om koring te sny?’ Wynand se wenkbroue trek effens saam. Altyd dieselfde vrae, waarvoor die mense tog so lief is, altyd maar vrae wat ontwyk moet word. Waarom?

‘Oom, ek kom ver hiervandaan, uit die Transvaal. Ja, ek sny koring. Dis harde werk, maar die mense is goed vir my.’

‘Hm.’ Hulle stap 'n rukkie in stilte. Wynand voel nou of daar meer krag in sy lede kom. Die koelte lê mild op die koring, die wind het gaan rus en die halme staan vorstelik, met effens geboë hoofde eerbiediglik en luister na die komende vrede en stilte van die aand. Die son sak anderkant die wilkerboom weg en verdwyn soos 'n vlam vuur in die kwynende gloed van 'n veraf veldbrand. Groots en teer kom die aand oor die koringlande, 'n laaste goudvonk van die verdwynende son tril uit die fynheid van are op, 'n geur van rypende lewe hang in die aandlug en laat die twee manne vir 'n oomblik gaan staan, sprakeloos

C.M. van den Heever, Somer

(9)

asof woorde nou onnodig is en net 'n dieprustige vrede sal versteur, noudat die aand nader oor 'n wêreld wat in die son se hitte lê en bewe het, die aand wat streel en genees en kom soos 'n groot seën oor die land, wat gewag het in stille geloof en diepe wete.

Oom Tom verbreek die stilte toe hulle by die huis kom. ‘Sit jou goed neer, neef.

Netnou wys ek vir jou jou buitekamer. Wag, neef, wil jy nog jou hande was? Linda!’

Uit die voordeur kom 'n sewentienjarige meisie te voorskyn. Van vriendelikheid lag sy haar mooi wit tande oop. Haar oë is blou en haar hare sag geel. ‘Neef, dis my dogter Linda. Linda, is dit amper klaar vir ete? Gooi vir die neef waswater in. Kom binne, neef. Dis nog maar warm in die huis. Vrou, hier is 'n kêrel wat vir ons wil help koring sny. Hy lyk vir my baie na Maans, lyk hy nie? Nou, neef, gaan was jou hande, dan eet ons.’

Linda gooi die water in die groot erdeskottel, sy bring 'n kêrs en sit dit 'n end van die skottel af.

‘Kom was maar, asseblief ...’ sê sy. Sy kyk na die diep lyne in Wynand se gesig, na die moegheid in sy oë.

‘Dankie,’ antwoord hy hartlik en hulle oë lag na mekaar toe, asof hulle 'n geheim deel.

C.M. van den Heever, Somer

(10)

II.

‘En jy sê dat Welman meen dat die koring sal opgaan?’

‘Man, die kêrel het my so seker gelyk van die ding dat ek moes glo.’

‘Man, dit sal ons vreeslik help.’

Oom Tom en sy broer, Oom Frans, lê op die groenkweek en gesels. Oom Frans was op die dorp, en daar het hy verneem dat die prys van koring waarskynlik sal styg, want ‘oor die water’ sal baie koring nodig wees. Oeste het daar misluk. So word aan hom gesê...

‘Jy weet wat weet Welman my te vertel?’ sê Oom Frans, terwyl hy behaaglik suig aan sy pyp.

‘Nee, wat?’

‘Man, al die soort nonsens wat die mense nie aanvang om geld te maak nie! Hy sê dat hulle nou nie net meer mense verassureer nie - maar hulle sal selfs jou koring op die land teen hael verassureer. Verbeel jou! Mens sal seker meer moet betaal as die stukkie koring werd

C.M. van den Heever, Somer

(11)

is.’ Hy leun met sy hoof op sy hand. Die muggies maal fyn-singend om hulle rond, verskyn in donsige wolkies teen die verdwynende rooi in die weste en skiet weg in die skaduwees.

‘Dis pure bog, jong,’ sê Oom Frans lui, ‘daar sit iewers weer 'n kinkel in. As die hael jou koring afslaan, dan betaal hulle jou nooit. Dan is dit hier te kort en daar te lank, en oral is daar uitkruipplekke uit die gate van die wet.’

‘Dis net soos jy sê.’ Die twee lê nou 'n ruk stil in aangename aandstemming. Van die lang fonteinvoor en dam af kom die fris geur van water en gras. Nou en dan wyk dit vir die indringende lug wat van die lande af kom waar die koring ryp word. Die twee boere se harte is bly, want lanklaas het hulle so'n goeie jaar gehad. En die koring se prys gaan nog styg! Lomerig luister hulle na die tingerige deuntjie wat die muskiete sing en kort-kort dwaal hul oë oor die rondinge van die bulte wat nou donker afgelyn lê teen die wyd-oop skoonheid van die naderende aand. Altwee kyk, sonder om 'n woord te sê, na die helderte van die hemel wat ontsaglik hang oor die bultewêreld, waar die koring nou verdwyn in die skaduwees. In altwee se oë lê daar weemoed.

C.M. van den Heever, Somer

(12)

‘Jy weet, Frans,’ begin Oom Tom naderhand met dralende stem, ‘dit is darem maar snaaks. Hier saai ons koring, dit word groot, ons sny dit af, en so hou dit aan. En net so is ons mense ook. Ons groei op net soos die koring en netnou kom die dood en sny ons af en dan kry ons kinders weer 'n kans.’

‘Ja man, ek het al baie oor daardie ding gedink.’

‘Die lewe staan mos nooit stil nie. As die koring te ryp word, slaan dit uit. 'n Mens wat te oud word, deug nie. Hm. Maar jy weet, mens het darem maar lus om te bly lewe.’

‘Nie altemit nie.’

‘Ja, God het dit darem alte wonderlik bewerk. Of jy wil of nie, jy moet maar die pad gaan wat almal gaan.’ Dan is daar weer 'n ruk stilte.

‘Tom, jy weet ek voel nooit heeltemal gerus voor die koring nie van die land af is nie. Jy weet - die hael. Man, ek sal dit nooit vergeet hoe dit oorle pa se koring plat geslaan het nie. Onthou jy nog? Dit was mos somar so'n pikblou weer uit die westekant.’

‘Ja, dit was verskriklik. Pa was darem 'n gelowige ou man. Hy het nie 'n woord gesê nie, maar jy onthou nog hoe hy daardie aand gebid het. Ek glo nie ons geslag kan dit doen

C.M. van den Heever, Somer

(13)

nie. Ons het mos nie meer daardie geloof nie. Daardie ou mense was soos pale geplant in hulle geloof.’

‘Dis net soos jy sê.’

Weemoedige konsertinaklank kom aangesleep van die huis af en dan klink die vrolike gelag van Wynand daar bokant uit.

‘Wat se soort kêrel is hy?’ vra Oom Frans en beduie met sy plat duim na die huis se kant toe.

‘Man, ek kan nie eintlik uitmaak nie. Hy lyk my baie opgeruimd van geaardheid.

Maar mens kan nie veel uit hom kry nie. Hy wil my voorkom soos 'n kêrel wat baie weet van die wêreld. Ek dink hy sal ons baie met die snyery kan help. Dink jy ons het genoeg snyers? Kom ons tel bietjie... wag, hier kom mense aan. Dis Basie en Faan. Naand!’ Basie en Fanie kom ook op die kweekgras sit, terwyl hul vrouens en kinders na die huis toe gaan.

‘Hoe maak julle koring?’ vra Oom Tom en hy kyk na sy swaer Basie.

‘Man, dit maak hier en daar geel kolle. Môre gaan ons inspring.’

‘Ja,’ sê Oom Faan, die kêrel wat die stuk grond van die een broer gekoop het wat na Johannesburg is, ‘dit sal miskien 'n goeie jaar wees - beter as baie ander. Maar die skuld! Ek wonder watter boer vandag nie skuld het

C.M. van den Heever, Somer

(14)

nie? Die geld kom by die een hand in en gaan weer by die ander uit.’ Hy kyk fynskerp deur die skemer-donker na Oom Frans se gesig, maar kan niks uitmaak nie. Skuld ja...

‘Ja,’ antwoord Oom Frans, ‘die ou-mense, wat die geld nog onder die kooi gebêre het, was beter af. Maar dinge was darem ook beter in hulle dae. Dit word vandag al moeiliker om 'n bestaan te maak. Die grond word al kleiner en kleiner. Ek vrees eintlik as ek moet dink aan wat eendag van my kinders gaan word. Mens moet jou ou grondjie hou, want as jy dié verloor, dan moet jy na Johannesburg of een van dié plekke toe. En as jy eers in die myne is, dan is dit netnou tering - jou bors fluit soos jy sukkel om asem te kry. Dis maar vastrap hier - dis al. Maar dit gaan broekskeur.’

Oom Faan trek aan sy snorbaard. Die vier lê 'n rukkie en kyk na die sterrehemel bo hulle, nou glansend en suiwer oor die aarde uitgeplavei. Die laaste rooi strepie het uit die weste verdwyn en die oneindigheid van die hemel, met die sagte skoonheid van die melkweg daarin, boei die oë van al vier boere, wat klein en nietig voel hier onder die majesteit van die somernag.

C.M. van den Heever, Somer

(15)

‘Dis miskien maar die beste,’ sê Oom Tom naderhand, ‘om soos hierdie Wynand te wees - julle weet die kêrel wat vir my sal help koring sny. Hy het nie kind of kraai nie, hy gaan van plaas tot plaas en bekommer hom nie oor die dag van môre nie.’

‘Dis ook maar 'n los soort lewe,’ sê Oom Faan, ‘as hy moet oud word, sal die wêreld hom begin vasvat. Dan merk mens eers wat jou familie vir jou werd is.’

‘Hm,’ kreun Oom Tom.

Van die huis se kant af kom nou 'n hele boel mense - Wynand op die voorpunt, met vrouens en kinders agter hom. Hulle lag en praat en Oom Faan se seun Hannes, 'n frisgeboude kêrel van twintig jaar, probeer net om in die omgewing van Linda te bly - die mooi dogter met haar blou oë en geel hare.

‘Ons bring waatlemoene,’ sê Wynand luidrugtig, ‘Oom Tom het rêrig gesorg dat hier vroeg waatlemoene is.’

Op die kweek gaan almal sit, en die mans haal hulle knipmesse uit en laat die waatlemoene, wat net van die land af kom, kraak as die lem deur die groen skil sny.

‘Wynand,’ sê Oom Tom, terwyl hy die pitte uit 'n groot skyf kap, ‘jy het nogal goed gepluk - almal ryp. Ek het nie gedag jy het kennis van waatlemoene nie.’

C.M. van den Heever, Somer

(16)

‘A ja, Oom Tom, hoe sal ek hulle nie ken nie? Hulle is mos net soos 'n mens: van buite lyk hulle groen, maar van binne is hulle ryp.’

‘Hm,’ sê Oom Tom, terwyl die ander lag, ‘dit klink nogal skrifgeleerd.’

Hulle kan mekaar net onderskei, want dit is taamlik donker hier op die kweek. In die Ooste is egter 'n flou strepie lig sigbaar - tekens dat die maan netnou sal opkom.

Linda sit op haar knieë 'n end van Wynand af. Sy let op al sy bewegings, wat nie altyd maklik te volg is in die onseker lig nie. Sy voel so vreemd gelukkig en bly om net naby hom te wees, om sy diep stem te hoor, en hier onder die oneindigheid van die sterre, wat so vriendelik op haar neerglans, hier met die milde geur van die rypende koring wat hang in die aandlug, voel sy so gelukkig en bly dat sy lewe, voel sy hoe goed almal is, almal wat hier deelneem aan die waatlemoenfees, en is sy selfs meer toegeeflik teenoor Hannes, wat al nader na haar geskuiwe het en nou teen haar sit.

Hy voel gelukkig oor haar opgeruimdheid, haar toegeneëntheid teenoor hom en sien duidelik daarin tekens van haar liefde...

‘Het julle dit gesien?’ vra Oom Frans, ‘weerlig na die Noordekant toe.’

‘Ja,’ sê Basie, ‘ek het netnou al soiets gemerk, maar ek was nie seker nie.’

C.M. van den Heever, Somer

(17)

Al die oë is nou na die noorde gerig, en toe opeens glans die bliksemlig agter die donker wêreldeinde uit, 'n bleek, wit vlam wat vinnig opskiet en weer verdwyn en die hemel donkerder agterlaat as voor sy verskyning.

‘Ja,’ sê Oom Tom en knip sy mes toe, ‘as dit nou moet reën, sal jy 'n boddery sien.

Mens vrees eintlik dat dit dalk kan hael. Mog ons daarvoor bewaar bly. Maar net môre spring ons mos in, of hoe sê julle boere?’

‘Netso,’ klink dit vrolik.

‘Wynand,’ beveel Oom Tom byna, ‘speel dan vir ons bietjie konsertina, jong. Jy kielie die ding mos goed.’

‘Hier is hy,’ sê Hannes en gee die konsertina aan.

‘My vingers is styf,’ sê Wynand en voelvoel so bietjie aan die klawers en dan begin hy met 'n sagte, treurige wals wat weemoedig oor die werf klink.

‘Waar is laas Nuwejaar se dans?’ sê Hannes en kyk verlangend na Linda, maar sy merk dit skynbaar nie. Elkeen raak verdiep in eie gedagtes en kyk op na die sterre wat verweg lok, uit wêrelde wat hulle alleen maar kan aanvoel deur 'n verlange, skrynend en onnoembaar teer.

Nou speel Wynand 'n wals, dan 'n sities en 'n polka. Party voete speel mee met die maat en hier en daar klink 'n binnensmondse gesing

C.M. van den Heever, Somer

(18)

op, wat plotseling luider word as almal spontaan die slepend-weemoedige wysie volg .. En wanneer kom ons troudag, Gertjie, Gertjie ... Hoe is dit so stil met jou?’ Oor die werf klink die stemgeluid weg en kwyn heen oor die luisterende koringlande.

Verweg speel die weerlig nou en dan uit.

Dit is vir Linda of alles saamsing: die velde rondom, die glansende sterre daarbo, die aarde ... alles ruis weemoedig saam in hierdie tere lied, wat haar verlangens dra, haar verlangens wat sy self nie kan noem nie, versluierd soos hulle lewe en net hunker in die deining van die lied, die lied wat aanswel en wegkwyn. Sy weet net dat daar iets heiligs in haar hart gebeur, en haar hart seën die wêreld omdat dit so mooi is vanaand ... Voor haar sien sy die lenige lyf van Wynand en die bewegende konsertina.

Sy sien hoe sy kop vooroor hang in die naglig wat al helderder word. Hy lyk so groot, so beskermend in die stygende lig van die maan.

‘Kyk,’ sê Oom Tom opeens, ‘ons moet gaan lê. Môre moet ons vroeg opstaan.

Daar is nie kans vir laat lê nie.’

Die musiek hou op en dit is vir Linda of alles weer terugvloei in nugterder vorm.

Daar volg 'n luidrugtige groetery, en terwyl elke groepie sy rigting kies, kom die maan bokant

C.M. van den Heever, Somer

(19)

die bulte uit, en dit is of die koringvelde, bult aan bult, met die donker skaduweeslote tussenin, opeens oprys in sag-wit heerlikheid om hulde te bring aan die ongenaakbare heerser oor die naghemel...

C.M. van den Heever, Somer

(20)

III.

In die vroeë môreskemer word daar gewerskaf in Oom Tom se huis; sekels word reggesit, daar word koffie gedrink en met vaak-lomerige stemme gepraat. Linda het vroeg opgestaan om koffie te maak, en in die stilte van die more, toe die eerste gekraai van 'n haan wyd oor die landskap geklink het, het sy, met 'n aangename

droomstemming gevul, voor die vuur gesit en luister na die sagte, vredige gedreun van die vlamme om die ketel. Sy voel nou so bly in die verruimende môrekoelte.

Haar gees is nog gedeeltelik versink in die beelde van haar drome, toe sy netnou nog rustig lê en slaap het. En met die droomsaligheid in haar, verinnig deur die

vredestemming van die komende dag, gaan sy rond, skink koffie in en luister na Wynand se diep basstem, wat nou en dan 'n woord uit en dan weer swyg en die hele ruimte leeg laat.

‘Komaan, kêrels,’ klink dit opeens soos 'n bevel van Oom Tom se kant af; sekels kletter,

C.M. van den Heever, Somer

(21)

emmers klink, daar word met swaar môrestemme gegroet en die snyers vertrek na die land. Die wind wat oor die ontwakende wêreld trek, spoel 'n fris koelte teen hulle aan en laat die krag in die liggaam ontwaak, 'n krag wat begin dors na arbeid, na verowering. Dof klink hulle stappe oor die grond. Beeste wat luiherkouend gelê het, staan langsaam op - vreemde donker gedaantes wat stadig begin beweeg en dan weer gaan staan met die onbeweeglike kop na die groep donker snyers gedraai. Die sterre het ongemerk begin wegglans aan die bleker-wordende hemel en nou kom 'n breë, deurskynende ligstreep in die Ooste, wat uitdy en die skaduwees agter die bosse voor hom uitjaag. Met kragbewustheid stap die snyers die komende daeraad tegemoet en sien hoe die verre bultrondinge opgroei teen die stygende lig en hoe die koringlande helderder lyn begin aanneem uit die dynsigheid wat nog luier in holtes en duike.

Langs hulle staan die koringhalms roerloos, met die deemoedige are soos in gebed voor die heerlikheid van die komende dag, miskien hul laaste dag. Tussen hulle huiwer die frisheid van die môre en lê kolle kolle donker, wat nou al onrustiger word en netnou saggies sal veryl voor die alles-oorweldigende lig.

‘Hier moet ons inval,’ sê Oom Tom en hy

C.M. van den Heever, Somer

(22)

kap sy sekel in die grond. Voor hulle lê die geel stuk koring, en die môrewind, wat met sagte vaarte kom, streel nou oor die koringvlak heen, daar gaan 'n rimpeling oor die oppervlakte, die are knik statig en dis weer stil, 'n stilte wat gevolg word deur weer 'n diepe gefluister van die halms, 'n fluistering van die somer wat die are ryp gemaak het, 'n fluistering van die more-aarde wat dankbaar is oor sy vrugte en wat die harte van die snyers rustigbly maak en hulle nooi tot die arbeid. Anderkant die kol koring wat so ryp is dat dit plekplek sal uitslaan as dit nie gesny word nie, lê 'n vak wat effens verkleur en verderweg nog 'n ander wat groen is en wat nog fris opgee in die daeraad-lig, want die Ooste het nou donker-rooi geword, met fyn fonkellyne oor die heuwelkante - teken dat die son straks sal verrys en die laaste skaduwees soos onwesenlike gedagtes sal laat vervlugtig.

Oom Tom kyk 'n slag na die Ooste en dan klink dit ‘daar's hy, kêrels’ en sy vingers gryp 'n koringstoel bymekaar, die sekel girts daardeur - die aanval het begin. Tien ander snyers sak ook weg, 'n ry gekromde rugge vorm 'n streep langs die koring af en vooruitskietende hande en sekels laat die koring verdwyn. Wat straks nog vorstelike stoele was, volle are, lenig gebalanseer op deursky-

C.M. van den Heever, Somer

(23)

nende halms, lê nou magteloos op die kluiterige grond, sonder die

eenheid-in-skoonheid van die natuur ... Girt! girt! vreet die sekels voort, swaar skoene trap duike in die stoppelgrond en gaan aan terwyl die hopies afgesnyde koring agterbly en blink begin glans in die vreugdestrale van die son, wat vorstelik verrys het en die koringare laat skitter, 'n lang veld van goue lewe wat rimpelend wag op die

vernietiging van die sekel. 'n Gat lê daar al in die koring en in die gelyk muur van hoë halms beweeg die geboë gestaltes maar, 'n hand skiet vooruit, 'n sekel sny girtsend deur die saamgevatte strooihalms, wat neergesit word dat die are vir 'n oomblik bewend skud asof uit doodsangs, en so gaan dit voort... Al wat sigbaar is, is die roerende lywe en skuddende lyn van die koring waar die sekel wegvreet en die vallende koringhopies bly lê, glansende strokies op die stoppel-harde kluitgrond.

Die son klim hoër, en soos op ander somerdae groei die hitte vinnig aan. Die morekoelte is nou weg, en 'n broeiwarmte damp uit die aarde op, en 'n wolkie dynserigheid begin op die koring lê. Dit begin netnou effens beweeg, 'n bedrieglike lugspieëling wat tower in die ruimte. Vinke ruis in glansende, ritmiese swerms van die donker-groen tuin af oor die land, en kort-kort skreeu 'n snyer ‘Oe-a!’ om

C.M. van den Heever, Somer

(24)

hulle op te ja, want self die fladderige voëlverskrikkers oral op die land boesem geen vrees meer in by die gulsige korrelverslinders nie. Hulle vlie met 'n ruisende gedreun op en sak op 'n ander plek neer waar luidrugtige kaffertjies hulle dan weer verwilder met kleilatte.

En so groei die somerdag in geweld. Ver in die Weste verskyn donderwolke. Eers is die donserige punte net sigbaar anderkant die trillende wasigheid, maar dan groei die wit rondinge uit, kolom na kolom, tot die wêreldeinde omtroon is deur die spierwit bakens wat rustig heers oor die ruimte van die velde. En die snyers swoeg voort! Die hande, wat nog ongewénd is aan die baie vat, word rou-rooi, maar daar is geen kans om lank met jou hande in die moeë rug te druk nie. Die oë meet net vlugtig die end koring vorentoe, die broek word ingedagte opgetrek en dan span die hemp weer glad oor die warm blaaie, die sekel blits in die son en die sweet rol onder die hoed uit en drup oor die vuurwarm gesig. Oom Tom lyk of hy krom gebore is. Taai soos sening is die droë lyf, en die lang bobbejaan-arms skiet so afgemete-juis uit, werk so stelselmatig dat dit die ander snyers moedeloos maak; net die vat van die gebreide man, sy rustig-sekere gang, maak onervare snyers, wat onegalig bontval, onbewus boosaardig oor hul eie on-

C.M. van den Heever, Somer

(25)

handigheid. Kort-kort veë hulle die sweet van hul gesigte en skiet dit weg oor die stoppels, dan volg 'n ‘Soe!’ 'n Oomblik word die bewende landskap opgeneem, gekyk of daar nog geen koffie van die huis af kom nie en dan is dit weer wegval met 'n traer lyf as netnou, want al ongenadiger word die son. As die wolke maar gou hoër wil klim, sug meer as een, maar stadig is die gang van die natuurdinge, sonder 'n wil om die swoegende mense hier te dien...

Naby Oom Tom sny Wynand. In die diep vore van die gesig gaan die sweet staan en loop tot op sy oop bors af. Netnou het dit gelyk of hy uitsak teen die instinktiewe reëlmaat van Oom Tom se snyery, maar nou, met die stygende son, terwyl die ander lomerig word en stadiger werk, begin sy meesterskap duideliker uitkom. Waar Oom Tom die sening-taaie snyer is wat, sonder links of regs te wyk, op sy doel af gaan, vak vir vak, daar is Wynand die kragtige arbeider wat op die duur meer sal versit, nie so sekuur-vas soos Oom Tom nie, maar met 'n swier, 'n veroweringskrag wat dit 'n lus maak om na hom te kyk. Netnou is dit ook duidelik dat hy by sy krag 'n vaardigheid van sy eie het, 'n vaardigheid wat toeneem hoe meer hy gewoon raak aan hierdie koringland.

‘Ho-ha!’ skreeu Oom Tom, die snyers pik

C.M. van den Heever, Somer

(26)

hulle sekels in die warm grond vas en stap met vaste treë na Linda toe, waar sy met 'n groot emmer koffie staan.

‘Hoe lyk dit, ou sus?’ sê Wynand terwyl hy met sy groot hoed probeer om sy gesig koeler te waai, ‘werk ons darem fluks?’ Sy lag net skaam. ‘Ek weet rêrig nie hoe julle dit in hierdie hitte hou nie,’ sê sy en vrywe 'n koringaar in haar hand uit. Vet en geel glim die sagte korrels bymekaar as sy die wolke fyngemaalde strooi wegblaas.

‘Kyk vir Frans-hulle doer teen daardie bult,’ sê Oom Tom wat met 'n arm in die sy, sy koffie gretig staan en drink. ‘En daar na ondertoe kan mens vir Basie en Fanie sien met hulle span. Soe, die boere is omgekrap vanjaar!’ Drie van die seuns wat help sny, is van 'n naburige plaas. Hulle staan met ruvoorbarige oë na Linda en kyk, sodat sy haar naderhand vererg. Die ander snyers is kleurlinge, wat nou oorlams opsy staan en gesels oor die snyery sover.

‘Soe, maar die droë baas met sy orangoetang-arms stap somar baie saf oor 'n akker - jy sien net die groot hand en die sekel, die groot hand en die sekel - dis al wat jy sien. Ai, waar is die Bolandse dae toe ons die volk gewerk het dat hulle wegsteier en soos jong osse neerslaan op die land! Waar is dié dae,

C.M. van den Heever, Somer

(27)

vra ek julle?’ sê Stefaans uitdagend, met sy matrasagtige hare hier en daar onder sy klein flenterhoedjie uit.

‘Wat praat jy, Boesman van die Boland!’ tart April met 'n hoonlag, ‘toe julle volke nog daar albaster gespeel het, toe staan ons al lankal so kop-tussen-die-bene die koring hier en aanja die land af. Julle kan mos gan sny nie? Drink, ja!’

‘Hoor bietjie so'n windmaker-bossie-Hotnot! Hy wat nog nie eers oor hierdie randjies behoorlik was nie. Hoor bietjie! Ag nee wat, April man, jy praat skoon soos 'n man wat in sy eet-en-drink getrap moet word. Julle hoor: daar in die Boland as die son só sit,’ en die vlies-oë korrel na die vlam van die son, ‘dan was hierdie ou stukkie koring lankal af - lankal. Ons het daar 'n baas gehad met so'n hoepel-heup. Jy sien hierdie voskop Baas Wynand, wat vir hom wie hou, ag wat! hierdie tyd was hy lankal kaiings en die hoepelheup het nog so stil-stil weggeweie in die koring, somar so stil-stil - Aik jou Boland, lekker land, almal se land!’ roep hy jolig uit en klap met sy skoene dat die rook so staan op die grond.

‘Mens moet die grootmond met sy bawerbek somer so'n vinnige een in sy wind gee! Hy vererg my alte veel. Ons volke hou ons

C.M. van den Heever, Somer

(28)

nie hier op met sulke opskepskottels nie!’ sê April gemaak-boos en sit sy beker neer.

‘Kyk,’ dreun Oom Tom se stem opeens, ‘dinge lyk nie vir my mooi nie. Wat is dit daardie?’ en hy wys na die donderwolke wat hoër gekom het en hulle skaduwees nou diep en koel oor die koringlande jaag - groot, breë kolle, wat geheimsinnig reis soos vervlugtigende boodskappers van komende onheil.

‘Eers gerwe bind!’ skreeu Oom Tom en die werkers spring dadelik aan die werk.

Dit is lang strooihalms uitsoek, 'n handige knoop daarin gee, dit slaan om die lyf van bymekaargeraapte halms wat onder by die afgesnyde plek gelyk gestamp word op die grond, weer 'n handige deurtrek-knoop gee, en die gerf staan met sy skuddende are regop. So verrys hulle een na die ander, soos klein goue tentjies op die ruimte.

Linda volg Wynand se bewegings of elkeen vir haar 'n wonder is. Sy sien die sterk bruin arms wat die koring regskud, die vinnige hande wat knoop en loslaat, die knie wat druk op die gerf, en dit is vir haar of sy nou vir die eerste keer merk hoe mooi hierdie werk van gerwe-bind is, hoe pragtig die koringland lyk, met die regopstaande gerwe daarop en verderweg: die trekkende wolkskaduwees oor die see van halms.

En nou word die gerwe aangedra na 'n plek toe waar Oom

C.M. van den Heever, Somer

(29)

Tom en Wynand die mied begin pak, terwyl die ander die swaar gerwe aangee.

‘Ag, maar so'n taaibos-Hotnot is linnelam,’ skreeu Stefaans uitdagend vir April, ‘die litjies lyk nie verniet soos spaansriet en die kop soos 'n slonspampoen nie! Die dagga het hom teen die grond geskop! Maar kyk tog waar stap hierdie Bolandse jong met sy breë poubors - ai Katryn, liefde en asyn, môre aand sal ek daar syn! Wag, laat my lê, wat laat staan julle my nie?’ Met handige hale skiet hy die gerwe na die twee pakkers toe op en kyk met 'n lag om sy mond na April, wat parmantig antwoord: ‘Jy dra nog vanaand 'n sluier oor daardie rosyntjie-oë van jou. Die volke van hierdie wêreld spook met twee appels dat 'n Bolandse ding somar sterre helder oordag sien.

Dis somar net hu! dan rol hy soos 'n klomp afval deurmekaar. Jy moet vir Katryn laat staan! Nog voor jy jou kom kry, dan maak ek 'n besem van jou maer lyf en vee die werf skoon voor haar oë.’ Die ander volk lag net vir dié grootpratery, terwyl Stefaans, so in die wegdraf met die gerwe, skreeu: ‘Katryn sal tog 'n ding met 'n makou-bors aankyk. Hoor hoe fluit sy asem noual. Maar die Bolandse Hotnot stap nog doodstil weg, jy sien net die blaaie roer - vang daarbo, grootbase, die jong uit die Boland is vandag omge-

C.M. van den Heever, Somer

(30)

krap; wat sal hy hom laat pla deur hierdie kortsnoet-Boesman, wat noual wil gaan lê en slaap op die gerwe - bolyf, beeslyf - vat die gerwe somar styf!’ en hy bokspring dat Linda moet uitbars van die lag. Wynand kyk bo van die mied af en dis haar heerlikste beloning as sy oë, wat anders so stroef kan kyk, bly glimlag in hare. 'n Warmte sprei oor haar gesig en impulsief neem sy die emmer en bekers en stryk haastig na die huis toe.

‘Ek het vir julle gesê,’ beduie Oom Tom bo-op die mied, wat netjies gepak die stoppelkant soos 'n gelyk muur na buite wys, ‘kyk daar!’ Sy vinger wys na die lug.

Die wolke wat netnou nog soos spierwit domme die lugeinder verheerlik het, het oopgesprei en saamgesluit tot 'n onegalige sluier wat hoër en hoër skuiwe. En vér oor die lande drywe die wolkskaduwees, met hier en daar 'n sonkol tussenin, 'n bewegende skoonheid oor die land, met die are wat nou en dan opglans as 'n strook sonlig dit vang.

‘April, gaan haal jy vir ons die bokseil,’ sê Oom Tom, ‘en dan trek julle volk hom mooi oor die mied. Ons staan maar solank huis se kant-toe. Het julle daardie bliksemlig gesien? Hm, dit lyk nie goed nie.’ En terwyl die blanke snyers huistoe stap, word die weer blouer. Bliksemstrale speel daarin en die

C.M. van den Heever, Somer

(31)

donder rommel verweg in die onheildraende stilte. Die koring ruis kort-kort in 'n vlaag van die wind, en dan staan hulle weer skugter en ootmoedig en wag op die storm, weerloos en tog so trots, so hoog-gehalm... 'n koelerige wind het ontwaak en in snye en vore speel dit deur die koringlande aan dat dit 'n bewegende see word wat dein en in kolle lewe en swaai.

‘Ek hou nie van hierdie wind nie - dis glad te koud,’ sê Oom Tom en trek sy skouers op. Wynand kyk op na die blou weer. Die wind laat sy hoed neerflap in sy oë en blaas sy hemp tot 'n wit bol. Verweg kan hulle die reëntoue nou al sien, hier en daar yl uitgestrek, maar op ander plekke word dit donkerder, 'n vaal-blou geriffelde kolom wat die uitsig op die verte heeltemal vernewel. 'n Bliksemlig sny verblindend oor die lande en soos 'n verdoemenis val 'n donderslag, gevolg deur 'n skeurende gekraak, en dan is dit stil, net die geruis van die koring, soos 'n groot skare wat bid voordat die geweld van 'n veldslag losdreun.

Toe hulle in die huis stap, sê Tant Mieta bang: ‘Tom, maar dis vreeslik! As die Here tog maar net gee dat dit nie hael is nie. Dan word ons brood uit ons mond gevat.’

Oom Tom sê niks. Maar hy is bleek. Hy dink aan Frans, aan Basie en Faan... Dit is of hy

C.M. van den Heever, Somer

(32)

hulle nou baie nodig het - en of hy hulle moet gaan help. Maar bokant hom voel hy die geweld van die storm, hy besef die mens se magteloosheid, en hy kan nouliks deur die venster kyk na die koring, so bang en seer voel hy. Soos trillende vlamme kom en gaan die bliksems oor die venster, en dan die donderslae wat val, geweldig soos kanonvuur wat losknetter. Die storm gaan losbreek! En die arme koring, weerloos onder die geweld van die hemel! Oom Tom krimp byna inmekaar, maar in sy hart bid hy: ‘Here, moet tog nie dat hierdie groot beproewing oor ons kom nie.’ Hy kan nie mooi samehangend dink nie, maar voel net hoe die storm hom met lyflike angs vervul vir die vol, rypende are daar op die land. Die eerste groot druppels spat stukkend op die dak, en soos vinnige pyle uit die hemel straal dit nou grond toe dat dit ruis oor die aarde. Dankie Here, dis reën! word gesug. Oom Tom voel eindeloos verlig, maar die swaar weer vul hom met vreemde beklemming. Die volk is seker in hul struise. Elke oomblik kan die dood nou kom, 'n bliksemstraal - en dis verby!

Maar wat is dit? ‘Dis hael!’ klink dit uit 'n paar monde. Die reën het verminder, maar eers in enkele stene spring die hael op die dak, plets springend op die grond neer, en dan volg dit al vinniger, dit dreun oor die dak en buitekant galop die wit

C.M. van den Heever, Somer

(33)

korrels, sommige so groot as ertjies, maar ander soos voël-eiers. Soos 'n leër wit vernielers spring hulle op die koringland toe, op die rypende are - Oom Tom sit sy hande voor sy oë. Binne in hom breek daar 'n duiwelse, magtelose woede los. Sy hart vloek. Wat help dit om te bid? Onkeerbaar kom die haelstorm en die werk van 'n jaar, al jou hoop, jou hele bestaan, word platgeslaan! Hy voel 'n vreeslike, goddelose drang in hom opkom om uit te hol en met sy vuis na die wolke te dreig en te raas en tekere te gaan... Maar daar neem die geruis op die dak opeens af. 'n Haelkorrel tik nog hier en daar. Oom Tom en Wynand storm albei deur-toe. Soos 'n verwyderende kommando woestaards ruis en dreun dit weg in die rigting van Oom Frans se lande, en die donder rommel ná soos 'n magtige veldheer se stem wat opsweep tot die stryd.

Oom Tom kan nie verstaan wat aangaan nie....

‘Kyk, Oom,’ sê Wynand, ‘hier is die weer skoon, die bui trek soontoe!’ En waarlik, oor 'n rukkie is dit stil op die dak. Net in die verte rommel die weer weg. Soos 'n aap spring en plas Oom Tom deur die hael en water. Hy moet sien wat gebeur het by die land! Wynand en die seuns volg.

Oom Tom voel of 'n groot las van hom afsak toe hy by die kant van sy land kom.

Dis

C.M. van den Heever, Somer

(34)

vir hom byna ongelooflik, maar die hael het net op die rand van die land langs getrek;

hier lê 'n klomp koringstoele plat - maar verder, geen skade nie! Sy hart juig. Hy voel skaam oor sy heidense woede gedurende die storm. Die Here was tog genadig vir hom!

‘Mastig, Oom, dis 'n geluk - mens kan dit byna nie glo nie,’ sê Wynand opgetoë.

‘Ja, man, so het ek dit nog selde gesien. Hm, ek kan my oë amper nie glo nie.’

‘Maar ek dink dit lyk treurig by Oom Frans,’ sê Wynand en wys met sy vinger in die rigting wat die blou weer trek.

‘Die arme ou broer,’ is al wat Oom Tom sê, en toe pyl hy somar in die rigting van Oom Frans se lande. Die ander kyk hom met medelyde agterna. Die nat skoene van Oom Tom spat deur die kuile water soos hy stap. Die bui het nou oor die bultrondinge verdwyn, maar lê nog soos 'n blou rif na die Ooste toe, en kort-kort kom nog 'n flou gedreun deur die skoon lug. En die son kom agter die flenters syige wolke uit en breed skiet sy milde glans oor die land en laat 'n wemeling van druppels aan die are en halms fonkel, kostelik en fyn soos sierade wat die donderstorm nagelaat het. 'n Hond van Oom Frans kom met sy nat lyf en styf omhoogstaande stert oor die nat grond aangedraf, en agter hom kom sy

C.M. van den Heever, Somer

(35)

baas, haastig en verwilderd, met 'n nare voorgevoel dat die vreeslikste gebeur het.

‘Middag, Frans.’

‘Middag, Tom.’

Tot by die kant van die land loop die twee broers sonder om 'n woord te sê. Altwee is oorweldig. Of jy 'n groot trop beeste deur die koring geja het, lê die stoele

deurmekaar, platgeslaan, in nare wanorde. Die regop halms met die glansende baard van die koring, die dik korrels en sagte deurskynende strooi, wat so koninklik oor die grond geheers het en so buigsaam, so sierlik gespeel het in die wind, lê akelig, bemodderd en stukkend op die haelbedekte grond - pappery en strooihalms deurmekaar, met die wit kolle hael tussen-in.

Oom Frans sluk en sluk. Hy byt op sy lip en sy oë dwaal oor sy hele land. Net op een punt staan 'n klein strokie, so fris en sterk naas die akelige verwoesting langsaan.

Hy veë met sy hand oor sy oë. Sy broer Tom weet nie wat om vir hom te sê nie. Hulle loop nog 'n end langs die land af, sonder om 'n woord te praat. Dan sê Oom Tom eerbiedig: ‘Die hael se kant het my koring gevang, maar baie min skade gedoen.

Kyk, dit het ook verby Basie en Faan se lande getrek. Net jou koring het in die slag gebly.’

‘Ja.’

C.M. van den Heever, Somer

(36)

Hulle klei verder deur die nat grond, met hul oë voor hulle gerig.

‘Wat gaan jy nou maak, Frans?’

‘Ek weet nie.’ Oom Frans se oë kyk vir 'n oomblik vas na die onweer wat nou soos 'n ring ver anderkant die bulte opblou.

‘Ons moet jou probeer help,’ sê Oom Tom gedemp.

Maar daar is geen antwoord nie.

En so stap die twee broers terug in die helder son wat nou weer vol oor die blinkende aarde skyn asof die donderbui nooit sy heerskappy versteur het nie.

C.M. van den Heever, Somer

(37)

IV.

Die aand is swaar van geure ná die onweersbui van die middag en 'n bedwelmende frisheid damp uit die koringlande op. Hannes sit in sy buitekamer op die holmatbed met sy hand onder sy kin gestut. Die kersvlam rek kort-kort langer, brand dan weer stil en laat skaduwee-branders roei oor die gewitte mure. Hannes se gedagtes dwaal in die laaste tyd gedurig maar om Linda, en altyd verlang sy hart na haar aanwesigheid en sien hy haar glimlaggende oë en hoor hy die helder stem wat met vreemde bekoring in sy herinnering bly naklink. Hy kan gladnie uitmaak of sy hou van hom nie, en juis in die talmende onsekerheid lê 'n soetheid wat hom rondjaag, hom laat hunker na 'n antwoord en tog soms weemoedig-bly laat voel dat die tere geheim nog syne alleen is, dat niemand daarvan weet nie. As sy in sy oë kyk, ruk sy hart van ongekende vreugde, en hy wonder wat sy wil sê, of sy hou van hom en of sy hom net jammer kry .. Sy weet tog dat hy graag naby haar wil wees.

C.M. van den Heever, Somer

(38)

Maar haar houding teenoor hom word almeer 'n raaisel. Hou sy nie dalk van daardie vent Wynand meer as van hom nie? Dit word donker in sy siel van jaloesie. Waarom verhelder haar gesig altyd so as Wynand met sy ou lawwe grappe in 'n geselskap kom? Maar dis tog onmoontlik; hy is heelwat ouer as sy, en dis 'n rondloper wat hier en daar koringsny, en dan weer laat vat die wye wêreld in. Ag nee, dit is onmoontlik.

Hy weet dat hy maar net jaloers is, onredelik jaloers is ... Maar die nare onsekerheid, dit verteer 'n mens. Hy dwaal gedurig rond met die drome aan haar in sy siel. Hy haat almal. Net in haar aanwesigheid is hy gelukkig. Daardie leegte wat sy altyd vul in sy lewe, die genot om te verneem dat sy in die nabyheid is - nog nooit het hy dié salige gevoel gehad nie, so verlang na 'n mens se aanwesigheid nie, en was hy so hulpeloos, so lomp in haar bysyn nie. Hy sit 'n kussing teen die muur, krul hom behaaglik op in die bed, sluit sy oë, en dan begin die eindelose stoete beelde in vreemde warreling, maar altyd oorheers sy alles met haar helderblou oë, die ligte geel hare en suiwer stem. Sy verbeelding vermooi nou die kleinste voorvalletjie waaraan sy verbonde is, dit spin sy verlange vaster en vaster om haar. Hy sit weer langs haar die aand toe hulle die waatlemoene op die groenkweek oopgesny het, hy skuiwe

C.M. van den Heever, Somer

(39)

nader tot hy langs haar leun en met heimelike plesier kan kyk na haar bewegings in die donker. Hy sien so duidelik die omgewing, met die lig van die opkomende maan wat stadigaan oor die bultelyn silwerig geskuiwe het, totdat die koringlande

geheimsinnig verrys het, lang bleek stroke onder die ontsaglikheid van die naghemel.

Ja, sy was goed vir hom daardie aand. Maar waarom kan hy nie so ver kom en net probeer om haar hand te vat en sy geheim te fluister nie? Telkens en telkens as hy kans het, deins hy terug. En dan sien hy weer die geselskap van nou die middag in Oom Tom se huis. Hy sien en voel hoe sy bevallig met die skinkbord koffie inkom, die kort moutjies stewig om die arms, die verleë trekkie om die mond wat vir hom altyd so mooi is. Hy het spesiaal die plekkie langs hom gehou, sodat sy daar kan kom sit, maar sy het ewe ernstig in 'n ander deel van die vertrek plek gaan sit asof hy gladnie bestaan nie! En toe Wynand binnekom, het haar oë geskitter van blyheid, sy het dadelik vir hom koffie gaan haal en naby hom gesit, met toegespitste aandag geluister na alles wat hy sê en uitbundig gelag vir elke ou snaakse dingetjie wat hy gesê het. O, as hy weet dat sy meer hou van Wynand as van hom, dan sal hy vreeslike dinge kan doen. Hy was so gelukkig hier voor dié grootprater gekom het, hy was seker

C.M. van den Heever, Somer

(40)

sy het al die tyd vir hom gevoel, en nou is dit alles stukkend, verniel. Nee, hy verbeel hom dit maar. Hoe kan sy verlief raak op dié kêrel, wat miskien somar 'n slegte rondloper is, 'n wie-weet-watse verleier! Om te dink hy is gedurig daar by haar in een huis en hy moet hier alleen in sy buitekamertjie sit en twyfel. Dit is onregverdig teenoor hom. Miskien is alles nie so erg as wat hy dink nie. Sal hy nie 'n briefie aan haar skrywe, vir haar alles sê wat hy voel nie? Dan druk hy dit in haar hand net soos hy van haar wil weggaan ... En sy kan dit dan lees, en as hy haar weer sien, sal haar oë straal as sy na hom kyk - en hy sal weet!

Die bedjie kraak toe hy opspring en op 'n kassie rondsoek na papier. Hy kry 'n stukkie en sit dit op sy knie. Langsaam begin hy met sy potlood skrywe, en dit gee hom 'n heimelike, diepe vreugde om dit daar te sien staan op papier, soos dit nog maar altyd in die geheimsinnige skoonheid van sy siel gelewe het: Liefste Linda...

Ja, so moet dit wees. Dit is die waarheid. Hy sal vir haar sê hoe hy al die tyd om haar getreur het, allenig rondgedwaal het in die veld, want hy was bevrees om te bekén hoe lief hy haar het.

Maar hy het nog geen reël geskrywe nie of 'n gevoel van minderwaardigheid oorval hom, hy skeur die papier fyn en gooi dit weg. Sê

C.M. van den Heever, Somer

(41)

nou maar sy wys die brief aan ander, aan Wynand, en hulle lag hom helder uit! Die verliefde klein botterkop wat sulke dinge kan skrywe! Hy sug. Dan neem hy weer 'n stukkie papier en skrywe Hannes en Linda daarop. Hy begin letters doodtrek wat in altwee name ooreenslaan, kyk na die resultaat en verbrand die papier. Hy is laf.

Hy wens hy kon anders wees, weer soos vroeër, maar haar oë lag alweer na hom toe of sy hom roep. ‘Hannes’; hy hoor so duidelik dat sy sy naam noem en 'n soet weemoed styg in hom op. Hy blaas sy kers dood, stap die kamer uit, en trek die deur agter hom toe. Buite is dit 'n helder somernag, skoon en rein na die donderweer, en skuimligte wolkies drywe yl oor die sterre, blinkend oor die sag-blou diepte van die hemel gestippel. 'n Gevoel van sy kleinheid oorweldig vir Hannes onder die

stilswyende mag van die sterre, onder die ewigheid van honderde wêrelde wat op hulle gang gaan, geluidloos deur die nag - en hier is hy 'n klein mensie met sy verlange en liefde, met sy hoop en drome... Hy gaan kort-kort staan om na die oneindige nagskoonheid te kyk. Nog nooit was die wonder, die onbegrepe diepte van die Heelal met sy ewige beweging so na aan sy hart nie... Op die werf is alles stil. Sy ouers slaap seker al, want die lig is weg uit hulle kamervenster. Oral net die stilte van die nag,

C.M. van den Heever, Somer

(42)

en in die verte die helder gekwaak van paddas. Die gang van sy lewe is vir hom duister. Hy voel 'n groot wêreld van geheime wat wag, sy hart raak net daaraan, maar daar is vir hom geen helderheid nie.

Hy loop oor die slaap-dooie werf en 'n paar bloekombome ruis in hul drome oor hom en staan toe weer stil, hul takke donker teen die ligtende agtergrond van sterre.

Hy wandel versigtig of hy wil tas aan die toekoms... en tog, alles is so onseker - so ook sy liefde. Rondom hom is die slapende koringlande, die oneindige donker land wat nou wyd-uit lê tot by die oewers van die sterre. Die onsekerheid! Gister het Oom Frans se koring nog hoog gestaan. Vanaand lê hulle plat in die modder, en van die pragtige koringland het net 'n stuk verwoesting oorgebly. Hy huiwer as hy so oor die donker aarde kyk, of onsigbare magte daarin skuil wat jou kan bespring en oorweldig...

Hy dink weer aan die verwoeste koringland en aan sy liefde....

Linda... hoe heilig klink die naam nie in die helder somernag nie. Hy loop in die rigting van Oom Tom se huis. Daar is nog lig in die venster. Sou Linda en Wynand nie miskien sit en gesels by die kerslig nie? Weer die vreeslike jaloesie in sy hart...

O, as dit waar moet wees, sal hy die kêrel kan vermoor. Watter vreeslike gedagtes ... vermoor. Maar

C.M. van den Heever, Somer

(43)

sy hart hang so aan die meisiekind met haar helder oë, die verleë trekkie om die mond en die fyn beweging van haar liggaam, soos hy dit nog by geen vrou gesien het nie.

Hy moet weet of dit Linda en Wynand is wat gesels, al moet hy ook soos 'n dief nadersluip en by die venster gaan afluister wat hulle sê. Maar sê nou iemand moet hom betrap, watter vreeslike skande sal dit nie wees nie! Hy loop nader, maar onverwags struikel hy oor 'n kantien wat klinkend wegrol. Hy stap vinnig weg - hy kies die voetpad na die volk se stroois toe. As iemand hom gehoor het, sal hy maak asof hy 'n boodskap na die stroois toe moes gebring het. Oom Tom kom by die agterdeur uit en 'n stroom lig val oor die werf. Hy staan 'n rukkie en gaan toe weer na binne.

Hannes loop tot by die stroois. Die vlamme van die volk se vuur speel krullend in die nag op en verlig die gesigte wat wyd in 'n kring daarom sit.

‘Hoe hou julle dit op so'n nag naby die vuur?’ vra Hannes terwyl sy stem nog die tekens van sy lewe-na-binne dra.

‘Nee baas,’ sê April, ‘ons braai maar somar bietjie mielies. Dit was 'n kwaai weer, nè baas.’

‘Vreeslik.’

‘Baas Tom was darem baie gelukkig. Toe die mieliepitte so dans daar na die land se kant

C.M. van den Heever, Somer

(44)

toe, toe dag ek die koring gaan somar nou-nou op hul knieë staan, ja my baas.’

‘Is julle moeg?’ vra Hannes en kyk na die kring gesigte, fantasties verhelder deur die vlamlig. Katryn sit tussen April en Stefaans.

‘Nie te erg nie, basie,’ sê April en krap met 'n stokkie in die vuur en steek dan sy kortsteel-pyp op, ‘dis net die jong uit die Boland wat vanaand sulke lang gape gaap.

Ons is mos gewénd aan werk hier. Maar hulle lippe is mos daar in die Boland vasgegroei aan die vaatjies wyn.’

Dit is soos vet in die vuur. Stefaans draai hom met geweld na April toe asof hy hom met die plat hand 'n hou oor die mond wil gee. ‘As ek nie vir Katryn ontsien nie, Boesman, dan klap ek jou nou dat jy haak-en-kruk loop en speel oor die werf.

Praat van werk! Basie, jy moes vanmiddag gesien het toe ons van die land kom, die ding se bene swik-swik soos hoepels. Maar waar stap die Bolandse jong nie toe nie - sy kniekoppe kielie-kielie somar hier so onder sy bors.’

‘Ag sies vir julle,’ sê Katryn en staan op, ‘ek hou my nie met sulke grootpraters op nie.’ Sy verdwyn in die stroois. Vir 'n rukkie is dit stil.

‘Basie, het Basie al gehoor hoe Oom Malooi met sy osse praat? Oom Malooi sê vir die kleinbaas waar hy 'n bokkie sal kry,’ sê April.

C.M. van den Heever, Somer

(45)

‘Watwo hy iets daarvan weet,’ sê Hannes ongelowig maar staan tog nader. Maar ou Malooi verroer hom nie. Soos 'n verdorde aap sit hy daar, 'n droë handjie om sy deurgebrande pyp.

‘Vertel, Oom Malooi,’ klink dit.

‘Hoe lyk dit, Outa,’ sê Hannes opeens baie vriendelik.

Nog 'n hele ruk sit die ou so roerloos; toe ruk hy 'n sak vorentoe, frommel daarin en opeens lê die dolosse in die lig van die vlamme. Die ou waai met sy droë handjie oor sy toorgoed, prewel iets. Toe kom die skor stem: ‘Die osse wil nie mooi praat nie. Hulle is kwaad. Hulle sê die Basie se hart staan só,’ en hy wys na die noordekant toe. ‘Die een os, julle sien hier, stoot die anner os. Die basie se hart wil baklei. Hy wil baklei teen die ander baas - maar die anner os is sterk. Kyk hoe staan hy.’ Hannes se hart klop onrustig. ‘Dankie, Outa. Dis genoeg. Nouja, nag volkies!’ Hy hoor hoe die antwoord agter hom aandreun. Hy weet dat die oorlams skepsels nou sal praat van sy vinnige vertrek. Dat hulle raai en grappe maak. Laat hulle loop!

Die een is sterker as die ander! Dit is somar kaf. Wie kan in die toekoms lees?

Tog is die onrus hierbinne, die onsekerheid.

C.M. van den Heever, Somer

(46)

‘Linda,’ sag noem hy haar naam of sy hom kan hoor, maar dan is alles weer stil en die sterrehemel lê so blink en glansend oor die rustig-uitgestrekte donkerheid van die aarde. ‘Maar die anner os is sterk.’ Hy haal vinniger asem. So'n liefde het hy nog nie geken nie; Linda en sy lewe is vir hom eweveel werd. ‘Maar die ander os is sterk,’

klink 'n skor stem in sy verbeelding na. Met 'n onrustige gemoed gaan hy voor sy kamer staan en maak stadig die deur oop. Die onsekerheid....

C.M. van den Heever, Somer

(47)

V.

Dit is of die hele landskap verdrink lê in die neerwegende hitte van die somerdag.

Daar is geen wolkie aan die lig-bewende blou hemel nie en die beweginkie wind wat daar nog was, het lui gaan insluimer op die ryp are van die koring, wat nou roerloos staan en opgee soos 'n glansende vlakte. Die snyers wat vanmôre voor sonop ingeval het, rus nou vir 'n rukkie ná middagete op plekkies waar daar 'n koeltetjie is. Ná die reën is dit of die son hom nou met alle geweld werp op die aarde om al die vogtigheid weer op te drink uit die klam oppervlakte en die arbeiders op die lande so bruin soos die grond self te brand. In die wind-stil somermiddag is dit of alles uitdor en verskrompel, of dit te swaar gaan om asem te haal, of die son en die verwarmde aarde alles wil doodbrand wat nog lewe. Dit lyk of die vlakte en lande in 'n groot oondvloer verander het, so bewe die gloed op na die warm hemel, waar die son genadeloos in staan en vlam dat

C.M. van den Heever, Somer

(48)

jy jou oë nie na boontoe kan ophef nie. Langs 'n mied lê die kleurlinge uitgestrek en slaap, April met 'n wyd-oop mond waaruit rukkerige keelklanke kom. Die hande wat netnou nog styf om die natgeswete handvatsel van die sekel geklem was, hang nou slap en willoos na die grond toe. As 'n lastige vlieg daarop kom sit, dan ruk die spiere en die slaper gee miskien 'n ligte kreun. Rondom hulle hol nou en dan 'n glansende kriek met onverwagte draai deur die harde stoppels. 'n Paar ramme staan 'n endjie van die mied af met hul koppe na mekaar toe terwyl die sye onrustig wieg. En die hitte van die son vlam maar genadeloos oor die land, asof soiets soos die koelte van die aand nou ver en onmoontlik is, en die geweld van die oomblik die enigste is wat daar bestaan. In die huise, met hul platdakkies van sink, is dit onuithoubaar, want die hitte slaan soos 'n wolk van bo af neer. Onder die bome in die tuin het sommige gaan skuiling soek. Daar lê die koel skaduwees van die wilkerbome, maar buite die koelte-kring is weer die glinsterende felle sonlig wat nydig voortbrand asof niks mag bly lewe nie en die geduldige aarde al sy vrugte moet sien vergaan.

Maar in die hitte-golwing is daar opeens lewe. Oom Tom se stem klink deur die lome stilte, en van verskillende plekke kom die snyers

C.M. van den Heever, Somer

(49)

nou skynbaar onwillig, met lustelose gang na die snyplek op die land. Daar is nie kans om lank te rus nie, want vak na vak koring word nou ryp, die are slaan uit en dit is nou kromstaan deur die hewigste hitte deur tot dit voel of die son jou gaar bak deur jou hemp. Die arms van die snyers is nou gebrand en hul blaaie voel styf-seer, en nou is dit al weer wegval! Eers onwillig vat aan die strooi van die koring, dan styf-styf die arm vooruitskiet totdat die bewegings losser word en die wemeling van halms voor jou wyk en wyk - en tog nooit 'n end kry nie! Die snyers is dof-loom in die liggaam, maar stadigaan kom daar meer krag as die bloed nuwe arbeidsdrang voel en dit duideliker word dat, as daar so gesny word, hulle miskien teen die aand se kant ál die koring sal kan af hê. Tussen Oom Tom en Wynand sny vanmiddag 'n vaardige werker: Hannes. Nadat sy pa se koring af is, het hy dit so bewerk om vir een dag by Oom Tom te kom help. Hy het die saak goed geplooi, patetiese verhale vertel van koring wat by Oom Tom in stroke uitslaan. Sy vader het nie vermoed wat in sy seun se hart omgaan nie, hoe die liefde sy dae vul met goue drome nie en hoe die jaloesie sy lewe versomber en hom stuurs en onaangenaam maak. In die

middagloomheid praat niemand nie. Dit is net

C.M. van den Heever, Somer

(50)

die girt-girt van die sekels, die langsame versit van voete en die sagte geritsel van vallende halms. Die lang strook koring stryk goudgeel weg na die plek toe waar die hael 'n strepie gevang het, en nou en dan kyk van die swakste snyers verlangend oor die goue gelykte, waarop die son vonkelend neerbrand. Hulle meet wanneer die einde daar sal wees - nog net 'n paar handevol moet volg en die sekel dan in die gort gehaak kan word - klaar! Maar nou is dit rusteloos voortsny tot dit voel of die vreeslike middagson jou soos 'n dier in die nek wil doodbyt, tot die sweet jou oë donker maak en jou rug voel of dit nooit weer reguit sal kan buig nie. Die voetsole brand soos vuur, 'n duiseling styg kort-kort hoof toe, maar daar is geen genade nie. Die koring sal uitslaan! Geduldig staan die goue leër en wag om gevel te word en strook na strook val hulle en bly magteloos in hopies agter die snyers lê. Kort-kort kyk iemand in die rigting van die huis of die koffie nog nie kom nie.... Opeens is dit of 'n nuwe krag deur Hannes se loomheid tintel - want hy merk dat Linda langs die koring aankom met die koffie. Terwyl hy vinniger sny, kyk hy met arendsoë of Wynand haar nie sien nie, kyk hy skerp om te sien watter uitwerking sy op hom het. Maar rustig sny Wynand voort. Eers toe Oom

C.M. van den Heever, Somer

(51)

Tom se stem half-triomferend ‘koffie!’ skreeu, buig hy regop, veë die sweet uit sy oë en blaas hard op sy warm hande.

‘Tag, ou dogter, jy was seker nog nooit so welkom nie,’ sê Oom Tom en hy druk sy paphangende hemp onder sy broek in. ‘Vanaand moet die koring op die naat van sy rug lê. Wat sê jy, Wynand?’

‘Net so, Oom.’

‘Maar mens verbrand vandag tot in die grond,’ sê Oom Tom en drink gretig koffie.

‘Dit sal netnou beter word.’

Linda kry vir Hannes uit haar hart jammer. Hy is bloedrooi verbrand, tot sy oë is rooi, en sy lippe is wit en droog.

‘Hoe gaan dit, Hannes?’ Daar kom 'n blye vreugde in sy verwaarloosde gesig en dankbaar antwoord hy, ‘nee dit gaan, dankie, net die son is so verskriklik.’ Maar sy vreugde gaan gou weer oor in donker, dreigende jaloesie toe hy sien hoe Linda met sag-stralende oë koffie vir Wynand inskink en die duidelike tekens openbaar van liefdevolle toegeneëntheid teenoor hom. Dit gaan soos 'n skok deur Hannes en vir 'n oomblik word dit donker voor hom, sy neusvleuels roer en sy bors wieg vinnig op en neer. En tog doen hy niks. Net die beker in sy hande bewe saggies. In sy ge-

C.M. van den Heever, Somer

(52)

dagtes is dit 'n woeste dwarreling. Nors stap hy saam met die ander na sy sekel toe...

‘Kyk, kêrels,’ sê Oom Tom, ‘dit lyk vir my as ons optel van nou af, dan kan ons teen sononder klaar wees. Ons kan die koring wat oor is, verdeel,’ en sekuur wys die vereelte voorvinger die vakke vir elkeen aan, terwyl twee kleurlinge gerwe moet bind en dit na die mied toe moet dra. En nou is dit wegval, elkeen aan sy vak, elkeen met die onuitgesproke gevoel van mededinging in sy hart - al is dit nie teen die snyers langs hom nie, dan is dit teen die koring wat hom uittart, wat hom lok om te kom, wat hom terg om te verower. Die son sak laer en die geweld van die son se hitte word minder, terwyl skugter skaduwees agter die snyers begin aanreis. Rustig en seker soos altyd sny Oom Tom, met die gelykmatig vooruitskietende arms, en langs hom is Hannes wat nou woes en vaarterig sny, terwyl hy kort-kort skelm loer na Wynand, wat met vaste gang voortgaan. Anderkant Wynand is die maer figure van Stefaans en April te sien. Noudat dit koeler word, raak hulle tonge weer los en die aanhoudende kompetisie-gees tussen die twee is skynbaar hewiger, noudat elkeen sy duidelik afgemete vak het om te sny.

‘Toe dan, April-man, toe dan platneus

C.M. van den Heever, Somer

(53)

Boesman, Katryn staan mos en kyk van die huis af. Hoe wikkel jou agterlyf vir my so soos 'n haas s'n wat 'n hou met 'n knopkierie gekry het,’ praat Stefaans terwyl sy vinnige hande seker werk, die gesig naby die grond.

‘Aha, my ou pappa, waar stap so'n vaal Hotnot nie lekker aan met die koring nie!

Hy hoor net hoe die Bolandse plathakskene hier blaas-blaas langs hom. Hei jong, hierdie wêreld se volke het nie 'n blaasbalk in die bors nie! Dis somar lekker stilweg sny dat Katryn moet sê: maar kyk, hoe kon die wye-neusgate uit die Boland ooit soos 'n hanslam agter my aanstap? Die ding se wind is dan somar vroeg in die middag al uit! Maar kyk vir ou Aprillie - ag, maar so'n Hotnot sny vir my te dierbaar!’ Linda wat in die koelte van 'n mied gaan sit het om na die werkery te kyk, moet uitbars van die lag vir die lawwe kompeteerdery. Dan volg haar oë weer vir Wynand en Hannes.

Waarom sou Hannes skielik so nukkerig geword het?... Haar hart is by daardie groot figuur wat vir haar die kragtigste, die aangenaamste werker is wat sy ooit ontmoet het. Sy diep stem, sy seker manier van praat en die sagte, beskermende weemoed in sy oë. Sy hele lewe is vir haar onpeilbaar, sy sielelewe 'n nooit uitgesproke geheim.

Soms sien sy dat, as hulle kerslig al lankal uit is, dan brand

C.M. van den Heever, Somer

(54)

syne nog. Sy wonder wat hy doen. Sy het al aan haar klein broertjie, Bennie, gevra wat die oom altyd doen in sy kamer, maar Bennie, wat gereeld by Wynand in die kamer was, het net gesê dat hy deur papiere blaai en dan weer lees. Sy het al 'n onkeerbare nuuskierigheid in haar voel opwel om deur sy goed te snuffel as hy op die land is, om uit te vind of hy portrette, briewe van 'n meisie by hom het. Maar sy was te skugter. As iemand haar daar moes vang! Selfs haar ma... Sy kan nie daaraan dink nie. Sou Wynand iets van haar geheim weet? Nog nooit het hy die minste teken gegee dat hy die liefde in haar oë gemerk het nie. Maar sy was ook te skugter, te bang om vir hom iets te laat merk. As sy alleen is, besluit sy telkens om vir hom iets te wys van haar gevoel, maar wanneer sy by hom is, dan oorweldig 'n afwerende skugterheid haar. Sy is magteloos. Sy kan nie daaraan dink dat hy ooit moet weggaan nie. Haar lewe sal een leegte wees. O, hy moet weet wat sy voel, voordat hy vertrek ... hy moet weet ... Uit haar dromery skrik sy plotseling op toe sy die hewige wedywering sien wat daar op die land aan die gang is. Die son is nou taamlik laag en 'n fris windjie, die voorloper van die aand, huiwer reeds deur die koringare. Al sy kragte span Hannes in om nie uit te sak nie, want 'n

C.M. van den Heever, Somer

(55)

wilde, opswepende jaloesie kook daar in sy hart om hierdie rondloper te verneder voor Linda, om vir haar te wys wie die baas-werker is, om eens en vir altyd soos 'n koning te heers oor die hele boel en die akelige gevoel van minderwaardigheid vir goed van hom af te smyt. Maar sy bene bewe onseker onder hom en hy voel 'n magtelose wrok na sy harsings styg, as hy die rustige onversetlikheid van Wynand sien, hoe hy sny asof hy nie moeg kan word nie, hoe hy nie opkyk nie, maar net koring agter hom laat en sy vak kleiner en kleiner laat krimp. Hy besef dat hy agterbly, want Wynand het ongemerk sy vaart versnel asof hy hom wil uittart. So'n rondloper!

Vaarterig skiet Hannes vooruit, maar doodsekuur besef hy hoedat hy verloor, hoedat Wynand hom agterlaat, want Wynand is al wat hy sien, die enigste wat sy hele wese beheers... Hy begin sleg sny, koringhalms bly nog regop agter hom staan, ander buig onder sy voete plat. 'n Onbeheersde drang kom impulsief in hom op om die vent by te loop en sy sekel in sy nek weg te pik... Vreeslike wraakgedagtes vervul hom. En toe gebeur die onverwagte. Wynand kyk deur sy sweet-omrande oë op en sê

vriendelik: ‘Hannes, jy sny darem nou lelik - kyk hoe staan die koring nog agter jou.’

Dit is soos 'n donderslag wat op die

C.M. van den Heever, Somer

(56)

seun se gespanne gestel val. Linda het seker dié vernedering gehoor. Hannes gaan regop staan, sy gesig bloedrooi van son en van woede, en onsamehangend koggel dit oor sy skurwe lippe: ‘Laat my staan, jou ou rondloper. Ek klap jou somar nou in jou smoel, jou ou lae verleier.’ Wynand buig regop, onaangenaam verskrik deur die woestheid van die seun. ‘Wat sê jy daar?’ vra hy ferm, ‘wat bedoel jy daarmee?’

Wat weet die seun? flits dit deur hom.

‘Wat bedoel ek daarmee?’ huil-skreeu die seun byna, ‘jy is somar 'n rondloper, 'n ou smeerlap. Wie is jy om vir my te beveel?’ Al die sekels het opgehou om te sny. So'n wending het niemand verwag nie. Maar Oom Tom se besliste stem dreun deur die spanning: ‘Hannes, hoe kan jy so 'n ding sê vir Wynand? Kan jy bewys wat jy sê?

Is jy skoon van jou positiewe af? Jy moet om verskoning vra.’

Maar die seun is een en al weerbarstige uittarting. Hy haak sy sekel in sy gord, trek sy broek hoër en skreeu: ‘Loop julle almal na die hoenders - julle,’ en hy kyk verwoed skuinsweg na Linda, wat beangs nader gekom het, ‘met julle rondloper en al!’ Toe stap hy vinnig weg deur die koring, die ongelukkigste mens op die hele plaas. Almal kyk hom ag-

C.M. van den Heever, Somer

(57)

terna, Wynand nie met wraaksugtige oë nie, maar met medelye...

‘Hm,’ sê Oom Tom, ‘nogal astrant né, en vol skelwoorde. Ek sal bietjie met sy pa gesels. Natuurlik kwaad oor hy nie kan byhou nie. Wie die duiwel het gesê hy moet by kom! Moet jou nie steur aan die seun nie, Wynand, ek sal met sy pa praat.’

‘Dis goed, Oom,’ sê Wynand sag en half hees.

‘Dis 'n botterkop wat te groot is vir sy skoene,’ praat Oom Tom, en almal val weer weg. Maar vir 'n ruk is die arbeidstemming bederwe. Linda loop hartseer huistoe.

Laag oor die bulte hang die son nou, en soos 'n oneindige seëning sink die koelte oor die land ná die hete somerdag wat so lank en swaar was. Stefaans merk duidelik dat April begin uitsak en in die taaie werkerslyf, wat so rietskraal lyk, ontwaak 'n sataniese spotlus, 'n onweerstaanbare uittart-begeerte: ‘Komaan, April man, of sal ons vir jou 'n gerf bring om op te gaan slaap? En dan wou jy met my saamsny, agge nee, foeitog!

Dis nog nooit waar nie! Vanaand, as ek en Katryn al uitgesels het, dan slinger die ding met sy pottoe-oë eers op die werf in. Ag, maar Stefaans, jy ken jou mos al uit die Bolandse dae - lank van lyf

C.M. van den Heever, Somer

(58)

met die wolhaar kyf! Sies tog, vir die platkop-Boesman.’

Of die verskriklike hitte van die dag weinig aan hom gedoen het, swewe die Bolandse jong nou letterlik voor April uit, vinnig en sekuur sny hy, dat self Oom Tom vir 'n oomblik moet kyk na hierdie meester van die sekel. April se oë draai wit rond soos hy beur; hy kan nouliks nog bitsig uitblaas: ‘Ek klap nog jou

pannekoek-lippe toe - jou rondloper.’ Maar hy voel sy magteloosheid en vernedering, en skaam-skaam bly hy nou agter, vol jaloesie, omdat hy weet hoe die volk hom vanaand by die strooise sal spot. Dit gaan nou end toe, en op die voorpunt sny Wynand en Stefaans. Hoe swierig die Bolandse jong ookal vat, sny en neersit, Wynand skiet vooruit met sy rustige gang, sy kragtige en sekere vat wat almeer versnel sonder dat hy halwe werk doen. Die stoele voor hom, waardeur die aandson goudgeel skyn, word minder, nog drie, twee - hy buig regop en kyk om na Stefaans wat met snorkerige vaart aankom, oor 'n rukkie sy laaste handvol neersit en toe uitdagend omkyk, spring dat die stof langs sy flenterbroek opdwarrel en skreeu: ‘Vanaand gaan die Bolandse jong somar breed sit langs Katryn! Die knopkop sal dan seker nog skilpad-speel met die koring.’

C.M. van den Heever, Somer

Referenties

GERELATEERDE DOCUMENTEN

Op 27 februari van dit jaar publiceerde Brazilië Nieuws een artikel van de Folha de São Paulo met uitleg over de bewegingen die president Bolsonaro steunen en die tot op

Table 2: Median total expected waiting time from referral by GP to treatment, by specialty, 2020 (in weeks) Table 3: Median patient wait to see a specialist after referral from a GP,

Policy recommendations to mitigate the physician shortage emphasize on increasing enrolment at medical schools, improving the distribution of physicians in urban and rural areas

Die rugpyn word al hoe erger en toe hy uiteindelik by sy dokter uitkom, word daar besluit dat hy vir verdere toetse moet gaan.. Sy dokter noem vir hom die moontlikheid van kanker

Tot slot een heel vrolijk tegeltableau dat vroeger in de binnenstad te vinden was, en nu net daarbuiten. Wie Gouda per trein verlaat, loopt in de centrale stationshal op weg

Wat Schweizer -Reneke se swart dorpsontwikk:eling betref, was een van die eerste sake wat aandag van die W-TVL BAR geniet het die verkryging van 'n amptelike naam vir Lokasie Twee.

het 'n sware stryd gekos om haar los te maak van die ankers wat haar ouers in haar lewe gegooi het, maar hierdie nuwe aansuigkrag, die magnetiese wonder waarteen sy magteloos is,

Onze structuren zijn zeker niet volmaakt maar in elk geval beter dan deze van sommige andere Belgische universiteiten, waar een te ver doorgedreven democratisering en