deurmekaar getweng van ghitaarsnare wat gestem word. terwyl 'n konsertina met
weemoedige wysie begin om dan weer te verstom. Deur die menigte beweeg daar 'n
mooi meisiesfiguur .. Haar oë kyk vreemd en weemoedig na die mense en sy luister
maar half na wat vir haar gesê word. Haar hart is so onrustig, so seer dat trane telkens
na haar oë wil kom... Môre gaan Wynand weg. Hy het reeds sy goedjies reg gesit.
Wat help dit alles of sy vir haar wil wysmaak dat hy maar 'n rondloper is, dat sy hom
oor 'n dag of wat, ná sy vertrek, weer sal vergeet. Haar hart is so onseker... Sy kan
nie daaraan dink dat hy moet vertrek nie. Die plaas sal daarna dood en eentonig wees.
Al die klein vreugdes wat sy in die laaste tyd gehad het: koffie na die land of die
dorsvloer bring, in die tuin gaan loop met die stille
hoop dat sy hom daar sal kry, vir hom sy kos aangee aan die tafel - dit sal alles weg
wees, die plaas sal haar verveel, sy sal verlang ... en weet dat alles vergeefs is, dat
sy hom nooit weer sal sien nie. Dit laat die gedagtes stroom deur haar, sy maak wilde,
romantiese planne, maar yl en onwesenlik vervlugtig hulle in die werklikheid as haar
skugterheid ontwaak... Sy kan nie haar jong hart verstaan nie. 'n Impulsiewe drang
jaag haar voort, en dan is daar vir oomblikke so'n eindelose weemoed en teerheid in
haar hart, dat sy teen Wynand se bors sal wil huil totdat sy getroos is. Môre moet hy
weg! En môreaand, as almal nog in 'n feestelike stemming is, dan sal hy ver van die
plaas af wees, en niemand sal weet in watter eensaamte haar hart woon nie ... nie
eers hy sal dit weet nie! Want dit is wat haar so ontstemd laat rond dwaal: geen teken
van sy kant dat hy die liefde in haar oë merk nie. Daardie middag in die tuin, toe hy
haar om die lyf gegryp het en twee moerbeikolle op haar wange gedruk het, was dit
of haar hele wese na hom toe oprys en het sy nie iets in die krag van sy greep gemerk
nie, in sy verbouereerdheid? Maar sy het haar vergis, want daarna het hy geen teken
openbaar van liefde nie; wel was hy baie goed en vriendelik ... maar daardie blik
wat meer is as vriendskap?... Het sy dit ooit by hom gemerk?
Die konsertina begin sag-weemoedig met 'n outydse wals en opeens strum-strum
die ghitaar ritmies same. Voete begin skuur oor die vloer, tabberds skuiwe langs die
gewitte mure langs en dobberende skaduwees krioel oor die mure, 'n fantastiese
beweeglike spel van uitrekkende figure en aanswellende vorme. Oom Tom is self in
die baan en met wye draaie en hoog-opgetelde voet maak hy en Tant Mieta kringe
deur die vertrek, terwyl 'n glimlag van genoeë in sy baard lê.
‘Kyk tog vir Oom Tom!’ skree een van die jongkêrels opgewek, ‘die ou groot
koringboer dans vanaand so fyn of hy op 'n lyn loop.’ Oom Tom lag net onderlangs.
'n Opwelling van teerheid kom in die laaste tyd by hom op as hy sy dogter Linda
sien. Dis of sy vaderhart intuïtief aanvoel dat sy ly, dat hy haar moet beskerm. Daarom
dans hy, ná die wals verby is, 'n sities met haar en onhandig, sonder dat hy presies
weet wat om te sê, fluister hy vir haar: ‘Linda jy moet maar opgewek wees op
Oujaarsdagaand. Mens is net eenmaal jonk!’
‘Ja pa,’ sê sy gedwee, en haar blou, weemoedige oë ontroer die vader. Maar die
gedagte agter daardie oë vat hy nie... net
eenmaal jonk! En so moet die enigste liefde wat sy nog gehad het, ondergaan sonder
dat iemand dit sal weet. So sal dit moet sterwe soos dit gebore is. En wie gee om? 'n
Drang om wild en roekeloos te wees, kom in haar bloed op, maar dan weer dou die
vreemde heimwee neer as die konsertina so ween, die voete so skuiwe, en sy weet
dat hierdie stuk van haar lewe môre afgesluit sal wees. Sy hou vir Wynand dop soos
hy daar voor die venster sit en konsertina speel, vooroorbuig en die instrument dan
oplig en hom dan stadig toedruk, met sy groot hoof langs die instrument...
‘Komaan dan, Wynand,’ roep iemand, ‘môre is jy weg. Jy moet verlaas nog dans,
jong! Skep Oom Tom se blou-oog-dogter.’ En sonder die minste aarseling doen hy
dit, en sag gly hulle oor die vloer weg. Haar hart is lig en swewend. Die las, die
bekommernis is in hierdie oomblik vergete, en haar liefde laat haar ritmies gaan, met
oorgegewe genot aan die laaste aand van saamwees... Laat hom maar merk wat sy
voel, laat al die mense dit merk en maar klets, bokant alles is die drang en opregtheid
van haar liefde... Hannes wat ook aanwesig is, teen die begeerte van sy pa, het eers
buite rondgedwaal. Maar die musiek lok hom nader. Dae van kwelling en
liefdesverlange het die wilde begeerte in hom wakker gemaak om vir haar vanaand
In document
C.M. van den Heever, Somer · dbnl
(pagina 117-121)