gaan die twee broers ook deelneem aan die protes teen die ontnugterende
prysskommelinge... Dit is bedompig in die saaltjie toe Oom Tom en Oom Frans
agterlangs plek neem en nuuskierig oor die plaat koppe heen kyk. Hier en daar groet
iemand hulle. Die gesoem van stemme word stiller en 'n paar hande word geklap en
voete op die vloer gestamp toe die voorsitter en twee sprekers op die verhoog gaan
sit. Nadat die voorsitter die doel van de vergadering verduidelik het, staan mnr.
Wessels, die eerste spreker, op. Hy is self 'n boer en het al 'n paar teenslae gehad in
prowinsiale verkiesings. Sy dik snôr hang soos twee swawelvlerke oor sy mond, en
dit lyk vir Oom Tom te koddig as die baard so op- en afgalop as die kêrel driftig
beduie. Hy praat vir die twee broers bietjie deurmekaar. Twee woorde bly terugkom
en dis ‘koöperasie’ en ‘parasiete’ ... Oom Tom buk naderhand na Oom Frans toe en
vra: ‘Jong, wat is die 'parasiete' waaroor die kêrel so spook?’ En Oom Frans antwoord
gewigtig: ‘Dit lyk vir my dis die
handjies. Dis glo maar 'n hoë Engelse woord wat hy al tussenin koppel.’ Nou en dan
bars daar 'n klein toejuiging los, en toe mnr. Wessels gaan sit en die sweetkrale van
sy voorkop veë, staan die ander spreker, mnr. Tewie Niemand, ook 'n boer, alreeds
en beduie met 'n spelende voorvinger. ‘Dié kêrel praat tog duidelik,’ sê Oom Tom,
‘maar die arme Gabrie Wessels versmoor gedurig in sy eie woorde. Die man verstaan
self gladnie die hoë woorde wat hy gebruik nie. Altyd oorerg!’ Mnr. Niemand
verduidelik langsaam en versigtig hoe nodig dit vir die boere is om saam te staan,
koöperasies te vorm, eerder voorskotte van die koöperasies te ontvang as om hul
koring half verniet weg te gee, en om, langs bestudeerde weg, die markpryse te
beïnvloed en die bokkespronge daarvan te kontroleer. ‘Kyk na julle hande, hoe is
dié gewerk? Van die môre tot die aand het julle bekommernis oor skuld.’ Oom Tom
gee 'n groot sluk en luister met groot oë. ‘Dit is nie nodig nie. Elke boer het die reg
om ordentlik en gelukkig te lewe, maar vandag werk julle julle krom en die middelman
gaan met die groot profyt heen. So lank as ons nie soos broers saamstaan nie, sal ons
daardie mag nooit breek nie! Ons sal maar gedurig vir hulle in die kombuis bly werk.
Laat ons saamstaan!’ besluit hy.
‘Daardie man praat,’ sê Oom Tom en sy twee groot hande klap in mekaar.
‘Jy kan kop of stert uitmaak van wat hy sê,’ meen Oom Frans, ‘maar die arme
Gabrie! Kyk hoe sit die ou nou met sy swaelsterte.’ Mense uit die gehoor kry nou 'n
kans. Voor Oom Tom en Oom Frans het 'n kêrel met krom skof roerloos gesit, terwyl
sy vinger gespeel het met sy bokbaardjie. Hy vlie nou onverwags op en in 'n
opgewonde stem ratel hy: ‘Mnr. die Voorsitter, het dié kopperasie iets te doen met
die kullery wat die anderdag hier aan die gang was? Ek het tien pond betaal, en dis
foe! dis weg,’ en sy hand gly oor sy lippe. Die voorsitter lyk verbyster, maar
naderhand is dit vir hom duidelik.
‘Meneer, u dink aan die aandele wat hier verkoop is vir 'n wie-weet-watse
maatskappy. Ons boere laat ons te maklik kul!’ Maar daarmee is die kêrel nie tevrede
nie, hy beduie woes en dreig met die polisie, en toe die voorsitter hom wil stilmaak,
stap hy uit en dreig verlaas nog met 'n gebalde vuis na die verhoog: ‘Hierdie spul
gaan net so'n kullery afgee!’ Party lag en ander is verontwaardig. Die voorsitter
beduie ernstig met 'n hand in die lug: ‘Vriende, dít is die soort ding daardie wat ons
volk ondermyn: agterdog! Ons stel ons nie op hoogte van feite nie, dan word ons
in valgate gelei deur skelms en naderhand wantrou ons ons eie mense. In Gods naam
laat ons boere tog vertroue hê in mekaar.’
‘Dis maar weer die ou ding,’ fluister Oom Frans vir Oom Tom, ‘ons is 'n klomp
harde koppe! Ons wil nie na raad luister nie, en as ons met die gebakte pampoen sit,
dan verwyt ons mekaar. Pure draadwerk!’
‘Hm,’ en Oom Tom staan onverwags op om met onseker stem iets te sê: ‘Mnr.
die Voorsitter, ons boere het nou al so baie bymekaar gekom, ons neem besluite en
daarby bly dit. En intussen bly die koring se prys net soos die hoë menere hom werk.
Ons boere is te dwarskoppig, die een trek soos 'n skilpad teen die ander. Ons kan
gerus nog maar 'n klomp besluite neem, maar as dit so gaan ...’ hy is half sy
gedagteloop kwyt, ‘dan sal ons turf bly sit.’ Bloedrooi sak hy in sy stoel terug.
Daar gaan 'n gemompel op van: ‘gaan nie ons kop in die halter steek nie! Dis weer
In document
C.M. van den Heever, Somer · dbnl
(pagina 96-99)