• No results found

vra ek julle?’ sê Stefaans uitdagend, met sy matrasagtige hare hier en daar onder sy klein flenterhoedjie uit

In document C.M. van den Heever, Somer · dbnl (pagina 27-33)

‘Wat praat jy, Boesman van die Boland!’ tart April met 'n hoonlag, ‘toe julle volke

nog daar albaster gespeel het, toe staan ons al lankal so kop-tussen-die-bene die

koring hier en aanja die land af. Julle kan mos gan sny nie? Drink, ja!’

‘Hoor bietjie so'n windmaker-bossie-Hotnot! Hy wat nog nie eers oor hierdie

randjies behoorlik was nie. Hoor bietjie! Ag nee wat, April man, jy praat skoon soos

'n man wat in sy eet-en-drink getrap moet word. Julle hoor: daar in die Boland as die

son só sit,’ en die vlies-oë korrel na die vlam van die son, ‘dan was hierdie ou stukkie

koring lankal af - lankal. Ons het daar 'n baas gehad met so'n hoepel-heup. Jy sien

hierdie voskop Baas Wynand, wat vir hom wie hou, ag wat! hierdie tyd was hy lankal

kaiings en die hoepelheup het nog so stil-stil weggeweie in die koring, somar so

stil-stil - Aik jou Boland, lekker land, almal se land!’ roep hy jolig uit en klap met

sy skoene dat die rook so staan op die grond.

‘Mens moet die grootmond met sy bawerbek somer so'n vinnige een in sy wind

gee! Hy vererg my alte veel. Ons volke hou ons

nie hier op met sulke opskepskottels nie!’ sê April gemaak-boos en sit sy beker neer.

‘Kyk,’ dreun Oom Tom se stem opeens, ‘dinge lyk nie vir my mooi nie. Wat is

dit daardie?’ en hy wys na die donderwolke wat hoër gekom het en hulle skaduwees

nou diep en koel oor die koringlande jaag - groot, breë kolle, wat geheimsinnig reis

soos vervlugtigende boodskappers van komende onheil.

‘Eers gerwe bind!’ skreeu Oom Tom en die werkers spring dadelik aan die werk.

Dit is lang strooihalms uitsoek, 'n handige knoop daarin gee, dit slaan om die lyf van

bymekaargeraapte halms wat onder by die afgesnyde plek gelyk gestamp word op

die grond, weer 'n handige deurtrek-knoop gee, en die gerf staan met sy skuddende

are regop. So verrys hulle een na die ander, soos klein goue tentjies op die ruimte.

Linda volg Wynand se bewegings of elkeen vir haar 'n wonder is. Sy sien die sterk

bruin arms wat die koring regskud, die vinnige hande wat knoop en loslaat, die knie

wat druk op die gerf, en dit is vir haar of sy nou vir die eerste keer merk hoe mooi

hierdie werk van gerwe-bind is, hoe pragtig die koringland lyk, met die regopstaande

gerwe daarop en verderweg: die trekkende wolkskaduwees oor die see van halms.

En nou word die gerwe aangedra na 'n plek toe waar Oom

Tom en Wynand die mied begin pak, terwyl die ander die swaar gerwe aangee.

‘Ag, maar so'n taaibos-Hotnot is linnelam,’ skreeu Stefaans uitdagend vir April, ‘die

litjies lyk nie verniet soos spaansriet en die kop soos 'n slonspampoen nie! Die dagga

het hom teen die grond geskop! Maar kyk tog waar stap hierdie Bolandse jong met

sy breë poubors - ai Katryn, liefde en asyn, môre aand sal ek daar syn! Wag, laat my

lê, wat laat staan julle my nie?’ Met handige hale skiet hy die gerwe na die twee

pakkers toe op en kyk met 'n lag om sy mond na April, wat parmantig antwoord: ‘Jy

dra nog vanaand 'n sluier oor daardie rosyntjie-oë van jou. Die volke van hierdie

wêreld spook met twee appels dat 'n Bolandse ding somar sterre helder oordag sien.

Dis somar net hu! dan rol hy soos 'n klomp afval deurmekaar. Jy moet vir Katryn

laat staan! Nog voor jy jou kom kry, dan maak ek 'n besem van jou maer lyf en vee

die werf skoon voor haar oë.’ Die ander volk lag net vir dié grootpratery, terwyl

Stefaans, so in die wegdraf met die gerwe, skreeu: ‘Katryn sal tog 'n ding met 'n

makou-bors aankyk. Hoor hoe fluit sy asem noual. Maar die Bolandse Hotnot stap

nog doodstil weg, jy sien net die blaaie roer - vang daarbo, grootbase, die jong uit

die Boland is vandag

krap; wat sal hy hom laat pla deur hierdie kortsnoet-Boesman, wat noual wil gaan

lê en slaap op die gerwe - bolyf, beeslyf - vat die gerwe somar styf!’ en hy bokspring

dat Linda moet uitbars van die lag. Wynand kyk bo van die mied af en dis haar

heerlikste beloning as sy oë, wat anders so stroef kan kyk, bly glimlag in hare. 'n

Warmte sprei oor haar gesig en impulsief neem sy die emmer en bekers en stryk

haastig na die huis toe.

‘Ek het vir julle gesê,’ beduie Oom Tom bo-op die mied, wat netjies gepak die

stoppelkant soos 'n gelyk muur na buite wys, ‘kyk daar!’ Sy vinger wys na die lug.

Die wolke wat netnou nog soos spierwit domme die lugeinder verheerlik het, het

oopgesprei en saamgesluit tot 'n onegalige sluier wat hoër en hoër skuiwe. En vér

oor die lande drywe die wolkskaduwees, met hier en daar 'n sonkol tussenin, 'n

bewegende skoonheid oor die land, met die are wat nou en dan opglans as 'n strook

sonlig dit vang.

‘April, gaan haal jy vir ons die bokseil,’ sê Oom Tom, ‘en dan trek julle volk hom

mooi oor die mied. Ons staan maar solank huis se kant-toe. Het julle daardie

bliksemlig gesien? Hm, dit lyk nie goed nie.’ En terwyl die blanke snyers huistoe

stap, word die weer blouer. Bliksemstrale speel daarin en die

donder rommel verweg in die onheildraende stilte. Die koring ruis kort-kort in 'n

vlaag van die wind, en dan staan hulle weer skugter en ootmoedig en wag op die

storm, weerloos en tog so trots, so hoog-gehalm... 'n koelerige wind het ontwaak en

in snye en vore speel dit deur die koringlande aan dat dit 'n bewegende see word wat

dein en in kolle lewe en swaai.

‘Ek hou nie van hierdie wind nie - dis glad te koud,’ sê Oom Tom en trek sy skouers

op. Wynand kyk op na die blou weer. Die wind laat sy hoed neerflap in sy oë en

blaas sy hemp tot 'n wit bol. Verweg kan hulle die reëntoue nou al sien, hier en daar

yl uitgestrek, maar op ander plekke word dit donkerder, 'n vaal-blou geriffelde kolom

wat die uitsig op die verte heeltemal vernewel. 'n Bliksemlig sny verblindend oor

die lande en soos 'n verdoemenis val 'n donderslag, gevolg deur 'n skeurende gekraak,

en dan is dit stil, net die geruis van die koring, soos 'n groot skare wat bid voordat

die geweld van 'n veldslag losdreun.

Toe hulle in die huis stap, sê Tant Mieta bang: ‘Tom, maar dis vreeslik! As die

Here tog maar net gee dat dit nie hael is nie. Dan word ons brood uit ons mond gevat.’

Oom Tom sê niks. Maar hy is bleek. Hy dink aan Frans, aan Basie en Faan... Dit is

of hy

hulle nou baie nodig het - en of hy hulle moet gaan help. Maar bokant hom voel hy

die geweld van die storm, hy besef die mens se magteloosheid, en hy kan nouliks

deur die venster kyk na die koring, so bang en seer voel hy. Soos trillende vlamme

kom en gaan die bliksems oor die venster, en dan die donderslae wat val, geweldig

soos kanonvuur wat losknetter. Die storm gaan losbreek! En die arme koring, weerloos

onder die geweld van die hemel! Oom Tom krimp byna inmekaar, maar in sy hart

bid hy: ‘Here, moet tog nie dat hierdie groot beproewing oor ons kom nie.’ Hy kan

nie mooi samehangend dink nie, maar voel net hoe die storm hom met lyflike angs

vervul vir die vol, rypende are daar op die land. Die eerste groot druppels spat

stukkend op die dak, en soos vinnige pyle uit die hemel straal dit nou grond toe dat

dit ruis oor die aarde. Dankie Here, dis reën! word gesug. Oom Tom voel eindeloos

verlig, maar die swaar weer vul hom met vreemde beklemming. Die volk is seker in

hul struise. Elke oomblik kan die dood nou kom, 'n bliksemstraal - en dis verby!

Maar wat is dit? ‘Dis hael!’ klink dit uit 'n paar monde. Die reën het verminder, maar

eers in enkele stene spring die hael op die dak, plets springend op die grond neer, en

dan volg dit al vinniger, dit dreun oor die dak en buitekant galop die wit

korrels, sommige so groot as ertjies, maar ander soos voël-eiers. Soos 'n leër wit

vernielers spring hulle op die koringland toe, op die rypende are - Oom Tom sit sy

hande voor sy oë. Binne in hom breek daar 'n duiwelse, magtelose woede los. Sy

hart vloek. Wat help dit om te bid? Onkeerbaar kom die haelstorm en die werk van

'n jaar, al jou hoop, jou hele bestaan, word platgeslaan! Hy voel 'n vreeslike, goddelose

drang in hom opkom om uit te hol en met sy vuis na die wolke te dreig en te raas en

tekere te gaan... Maar daar neem die geruis op die dak opeens af. 'n Haelkorrel tik

nog hier en daar. Oom Tom en Wynand storm albei deur-toe. Soos 'n verwyderende

kommando woestaards ruis en dreun dit weg in die rigting van Oom Frans se lande,

en die donder rommel ná soos 'n magtige veldheer se stem wat opsweep tot die stryd.

Oom Tom kan nie verstaan wat aangaan nie....

‘Kyk, Oom,’ sê Wynand, ‘hier is die weer skoon, die bui trek soontoe!’ En waarlik,

oor 'n rukkie is dit stil op die dak. Net in die verte rommel die weer weg. Soos 'n aap

spring en plas Oom Tom deur die hael en water. Hy moet sien wat gebeur het by die

land! Wynand en die seuns volg.

Oom Tom voel of 'n groot las van hom afsak toe hy by die kant van sy land kom.

In document C.M. van den Heever, Somer · dbnl (pagina 27-33)