• No results found

Almal luister verbaas

In document C.M. van den Heever, Somer · dbnl (pagina 60-70)

‘Wat is dit?’ vra Oom Tom, effens nukkerig, want ná die verskriklike dag voel hy

nou nie eers lus om 'n paar treë te stap nie. Hy wil van die aandlug geniet.

‘Ek weet nie, Oom,’ kom die antwoord.

‘Nou goed, ek kom,’ en Oom Tom staan stram-stram op en dink: is dit nie miskien

in verband met die bog Hannes nie? Maar wat sal Frans met 'n ander se kind te doen

hê? Hm, die mense het altyd iets, veral as mens doodmoeg en gedaan is. Hy trek die

aandlug diep in sy longe op... Hy voel nou sterker en kragtiger. In hom gloei nog die

herinnering ná van die son-deurlaaide dag wat nou dood is, maar sy hart voel ook

bly dat sy koring af is, dat die lug nie tekens van reën wys nie. Vooroor stap hy om

die randjie.

‘Naand, sus Hester,’ sê hy vir die vrou wat hom op die drempel van haar agterdeur

staan en inwag. ‘Tag, jy het my amper laat skrik. Ek dag daar is een baie ernstig siek

by julle.’

‘Nee, Boet Tom, dis gelukkig nie so erg nie. Kom in, dan sal ek jou vertel.’ Oom

Tom buk by die warm vertrek in en gaan in die klein spensie sit waar die slap vlam

van 'n kers sy flikkerlig laat opbewe teen die mure.

‘En, sus Hester, wat is dit?’ begin Oom Tom somar dadelik. Sy bebaarde gesig lyk

nou enigsins woes in die kerslig, sy oë is

lep en gedaan, maar hy luister tog met inspanning na wat aan hom vertel word.

‘Boet Tom, 'n ding hinder my nou al 'n rukkie,’ begin sy en die dikkerige vinger

stryk gelykmatig die kleedjie voor haar weg, ‘jy sien, Frans is nie hier nie. Van

daardie haelbui af wat ons koring platgeslaan het, het hy hom byna dood bekommer.

Hy loop in die môre veld-toe en kom eers laat in die aand terug. Hy wil sy mond nie

aan kos sit nie. Ek sit nou juis weer en wag vir hom. Vanmiddag ná ete is hy weg.

Hy dwaal somar so rond in die lande en veld. Wat moet mens doen, Boet Tom?’

Haar stem het gaandeweg versag en haar laaste woorde klink byna soos 'n dringende

smeking. Haar donker oë is op Oom Tom gerig, wat 'n hele ruk stilsit en dan stadig

sê: ‘Ek het dit nooit geweet nie. Die werk op die lande het my so besiggehou dat ek

nie kans gehad het om met Frans in die laaste tyd te gesels nie. Foei, foei, dat die

arme ou broer hom die ding so aantrek.’

‘Ja Boet Tom, ek sê dit nou maar vir jou,’ en tant Hester veë 'n traan uit die oë

weg, ‘die skuld maak hom so gedaan. Jy weet self hy het sy hande stukkend gewerk,

daar is nie 'n lui haar op daardie man se kop nie, maar kyk nou! As die dag nog breek,

is hy al uit, en so gaan dit tot sononder. Ons het ons hart

so op die korinkies gesit. En dit is nou net of die Here dié haelbui vir ons land bedoel

het. Dis darem om hartseer te voel, Boet Tom.’ Sy sug en trane glans in haar oë.

‘Ja sus, die Here se weë is wonderlik. Mens verstaan darem partymaal gladnie

waarom dinge so moet loop nie.’ En toe bly hy stil, asof hy geen raad het nie.

Daarbuite blaf 'n hond weemoedig in die aandstilte. Toe klink daar voetstappe buite,

'n keel word skoongemaak en Oom Frans kom binne.

‘O jy is hier. Naand, Tom.’ Oom Tom is verbaas om te sien hoe vervalle sy broer

se gesig is. In sy hart wel 'n innige vertedering op om te help, om te keer dat sy broer

nie afgly na ondergang nie.

‘Naand, Frans.’ Toe is daar stilte vir 'n oomblik.

‘Kom ons gaan sit buite,’ sê Oom Frans met onsekere stem. ‘In die huis is dit so

bedompig. Dankie, vrou, ek wil nie eet nie. My maag voel in die laaste tyd nie lekker

nie,’ volg dit ontwykend. Op die stoep is dit koel. Voor hulle doem die nagvorm van

die randjie op en daaragter tril die sterre met 'n helderheid soos alleen die somernagte

ken.

‘Dit was 'n vreeslike dag,’ begin Oom Tom.

‘Ja man, dit lyk of alles verskrompel en

verskroei moet word. Die hele spul lyk my in die laaste tyd agterstevoor.’ Oom Frans

se woorde kom skerp en bitsig, of hy alles wat hy sê, helder deurdink het en alle

moed laat vaar het om nog enige sin of orde in die gang van die ou wêreld te ontdek.

Tant Hester, wat net vir 'n rukkie buite kom staan het, gaan moedeloos na binne; sy

ken hierdie manier van praat van haar man in die laaste tyd. Sy laat die twee broers

alleen. Miskien kan Tom iets met hom uitrig. Die Here alleen weet....

‘Ja, dit was 'n hete dag,’ sê Oom Tom weer, hy voel-voel so na die rigting wat sy

broer dink. Hy hou nie van die toon waarin hy nou pas gepraat het nie. ‘My koring

is vandag af. Dit het ook maar broekskeur gegaan om dit so ver te kry, want stroke

stroke het begin uitslaan.’ En nou druk hy deur met wat hy wil sê: ‘Dit was darem

alte jammer dat dit haelbui juis jou land moes vang.’

‘Maar, man, daar is niks snaaks aan nie,’ en Oom Tom voel met 'n ligte skok die

nuwe manier van praat by sy broer. Daar klink 'n roekelose, uitdagende klank in wat

hom onthuts laat voel. Stoterig kom die woorde: ‘Alles is mos agterstevoor gereël.

Jy en ek werk ons half kapot, ons kry die saad in die grond, en as die koring net mooi

groen in die pyp staan, dan kom die sprinkane. Jy onthou

hoe hulle voor verlede jaar elke groenigheidjie op die land weggevreet het. Ons het

gekeer wat ons kon, maar dit was mos wolke en wolke. Jy kon net sowel vir die son

sê hy moet nie opgaan nie. Hulle was skaars weg om te gaan broei, om later weer

klaar te wees vir ons, toe reën dit dat alles wegspoel, jy onthou waar hierdie spruit

gelê het en hoe ons damme gebreek het. En toe kom 'n gunstige tydjie. Kyk, hoe

pragtig was die koring. Myne was nog nooit so mooi nie. En net toe ek moet begin,

kom die hael en slaan mooi alles tot op die grond plat. Ek vra jou nou: is dit nie alles

agterstevoor nie?’ Hy hou op met dieselfde tartende klank in sy stem, en toe kom

die stilte weer en die verruimende frisheid van die somernag - en altwee kyk nou en

dan op na die sterre, glansend soos diepe geheime van lewe en ewigheid.

‘Ek dink darem.’ sê Oom Tom naderhand, ‘jy praat darem te maklik van

'agterstevoor.' As 'n mens baie swaar kry, dan lyk dit vir jou so, maar die weë van

die Here loop snaaks, Frans. Ek stry nie: vandag het ek dit gelukkig getref, maar

môre kry jy weer 'n kans. As ek so na die ou natuur kyk party dae, dan word dit vir

my al duideliker: dit is alles op en af. Ons saai die koring, die saad sterwe in die

grond en dan kom daar nuwe lewe. Die

son verskroei alles, daar is bedompigheid, maar dis maar net die voorloper van reën.

Vandag wil die ou aarde jou skoon afskud, dit lyk of hy jou nie verdra nie, en jou

met jou familie en al wil verdelg, en môre is alles weer mooi, en net wat jy plant,

groei. Dit is vir my te wonderlik as ek daaroor dink. Die ou aarde is vir my skoon

soos 'n mens: hy het sy nukke en buie - en mens kan daar niks aan doen nie.’

‘Ja, Tom, jy kan maklik praat, jy sit met al jou koring. As 'n mens dit goed tref,

dan kan jy alles mooi insien. Maar as jy vanaand in my plek is, sal jy anders voel.

Daar is niks wat 'n mens se hele lewe so opvreet as skuld nie. As jy op die dorp kom,

moet jy gedurig met jou kop op jou bors loop, bang dat die winkelier of prokureur

jou sal roep en sê dat, as jy nie nou betaal nie, dan gaan hy jou opskraap. Ek wil jou

nou net mooi vertel; jy dink ek is te erg met pratery,’ klink dit sagter en met weemoed

in die stem, ‘ek kan jou wys: hier in die huis lê 'n paar rekeninge wat jou sal laat

skrik. Dit is honderd pond hier, twee honderd daar en so tot hulle jou toegegooi het

in 'n graf waaruit jy nooit weer sal kan kom nie. Ek het dit alles mooi uitgereken

gehad. As ek hierdie jaar se koring kon geoes het en die prys het so gebly, dan het

ek

die ergste skuld doodgevee en ek kon met 'n lekker en 'n geruste hart die nuwe jaar

ingaan. Maar hoe nou? Ek en my familie moet wapad-toe. Dis al. Wat help dit my

nou dat ek my hande deurgewerk het? Nee wat, jong, ek bly daarby: alles is

agterstevoor. Wag maar eers tot die ou wêreld jou afsmyt dat jy daar lê, dan sal jy

voel wat ek nou sê?’ Oom Frans gee 'n lang sug en sit toe weer roerloos in gedagtes

versink.

‘Frans, jy moet my nie verkeerd verstaan nie,’ en Oom Tom rek hom effens uit,

‘tag, maar my lyf is seer van die koringsny en son. Ja, wat ek wil sê is: ek sit nie hier

vir jou en preek nie. Jy weet met my gaan dit ook maar hard - die borsketting trek

styf. Maar wat ek meen, is dat mens nie moedeloos en roekeloos moet word nie. Jy

weet hoe dit gaan. Jy raak naderhand heeltemal jou vertroue kwyt en jou familie ly

daaronder. Onthou jy vir Tys Rooikraal? Toe sy skape daardie tyd so dood is aan die

geilsiek en die sprinkane al sy gesaaide opgevreet het, het hy mos begin drink. En

waar is Tys vandag? Hy ry klippe aan op die dorp. Man, ek sê vir jou, mens moet

maar lelik vastrap in die lewe, want gly jy eers, dan beland jy netnou daar onder, en

terugklim is dan verniet. Dan bly dit somar afdraende.’ Oom Tom wil so graag sy

broer

oortuig. In sy bloed voel hy hier onder die sagte somernag-hemel hoe goed en ryk

dit is om te lewe, hoe die aarde nie diegene sal afskop wat hom vertrou nie... Maar

hy voel ook dat die saad van sy goeie bedoelinge op klipharde gruisgrond val, en dit

wond hom, want seker en onwrikbaar volg Oom Frans se woorde:

‘Ja, Tom jong, die lippetaal is baie lekker, maar sê my hoe 'n mens jou skuld moet

betaal, as die wolwe net klaar staan om op jou te spring? Daar lê die knoop.’ Die

beweging wat daar nog in die huis was, is nou stil, die goue skynsel van kersligte

verdwyn uit die vensters, soos moeë werkers hulle oorgee aan die rus van die kort

somernagslaap, en oor die doodstil land rus daar nou 'n sagte nagvrede, wyd tot waar

eensame sterre hulle lampe aan die wande van die duister hemel gehang het. Oom

Tom voel dat hy sy broer moet help. Môre, as die laaiende son weer soos 'n ontsaglike

oondvuur oor die wêreld gaan, dan sal hy dalk weer anders voel, baie meer selfsugtig,

maar in hierdie heilige somernag het die goedheid van sy wese oopgegaan soos die

suiwer kelk van 'n nagblom...

‘Ek sal jou sê, Frans, ek sal jou probeer deurhelp. My skuld is baie, maar die een

mens is daar om die ander te help. As alles

goed gaan, dan sal ek by die duisend sakke koring wen. As ek dan 'n pond per mud

kry, dan betaal ek al my winkelskuld af, ek maak nog 'n goeie gat in die eerste verband

wat ek op my grond het, ek laat staan eers die wa en nuwe tuie wat ek wou koop, en

ek probeer jou 'n klompie leen.’

Vir 'n rukkie word net die swaar asemhaling van Oom Frans gehoor, dan klink dit

bewoë: ‘Baie dankie, Tom ... tag kyk daar ver slaan weerlig uit ... ai, die weerlig net

soos die aand toe ons by jou daar op die kweek gelê het ... ja, baie dankie, man, maar

dink maar eers aan jou huis. Jy weet dit seker nie, maar vandag kry ek vir Tjaart

langs die pad. Hy sê my toe dat koring tot op twaalf sjielings geval het. Almal wen

glo vanjaar. Daar is te veel. Ek sê jou mos: met die boer is daar altyd iets verkeerd.’

Die berig tref vir Oom Tom soos 'n slag wat hy uit die donker kry, en vinnig kom

dit: ‘Man, Tjaart het seker verkeerd verneem. Dis ontmoontlik!’

‘Nee man, jy weet Tjaart is 'n kêrel wat lankal met die marke werk. Hy sê dat hy

vas glo dat daar 'n skelmstuk agter sit. As daar te veel koring die jaar gewen word,

hoef pryse nie so te sak nie. Daar is groot menere wat die toutjies trek. Ons werk ons

hande kliphard, en agter die skerm sit die menere en hulle

laat die pryse van ons koring val net soos hulle wil. Aan die een kant is die natuur

teen jou, en wen jy nog iets, dan werk jy vir ander wat met die vet-vet profyte bly

sit. Ek vra jou nou: watter kant toe?’ Oom Tom is botstil. Netnou nog was hy bly en

het in sy gedagte die skoonheid gelê van 'n ryke oes wat wag, die vooruitsig van sy

skuld wat kan betaal kom, van hulp wat hy aan sy arme broer wil gee... Nou het 'n

skok alles deurmekaar laat dwarrel, en hy voel hartseer en ontnugter. Sy gedagte het

nou eenmaal vasgeanker aan die een prys: koring is nou 'n pond 'n sak. Snaaks dat

'n ding so vas in 'n mens se kop kan groei, somar sonder 'n goeie rede. En nou? Dit

klink alles so waar wat Frans daar sê dat hy al sy berekeninge weer sal moet oorbegin.

Dit word warm langs sy voorkop en hy bars driftig los:

‘Maar as die pryse dan so kan val net soos daardie groot menere wil, dan moet die

Regering 'n stang in hulle bek sit en ry die duiwels bloots! Is ons dan volk wat ons

moet doodwerk vir die safte-handjies wat net heeldag tjeks tyken?’

Maar lakoniek kom die antwoord net: ‘Die Regering is kop in een mus met die

In document C.M. van den Heever, Somer · dbnl (pagina 60-70)