mure in die koelte nog ryp sal skitter, ryp wat die aarde hard maak en glasig-dood
daaraan klewe, en in die wye lug 'n verlatenheid sal huiwer, diep en ontroerend, 'n
verlatenheid wat vol heimwee is en afskeid, en saans tasbaar opkom uit die lang
stroke spierwit grassaad waarin die sterwende son se strale lê... O, haar hart huiwer;
sy is bang vir wat kom. Uit die volgroeide somerlewe, die vlammende kleurgeweld
om haar, die swaar geur van vrugte in die boord, die deursonde struike en plante en
die groot sonnehemel so wyd-stralend oor alles, kom die boodskap na haar gewonde
hart: afskeid. Dit is die ware betekenis van die lewe: dat in alles wat vir jou skoonheid
was, waar jou hart aan hang of jy dit nooit kan verloor nie, die afskeid reeds te lees
is. So huiwer die afskeid nou in die voldrae lewe om haar... Die lewe het sy groeikrag
aan die aarde gegee. Soos 'n wilde gejuig van kleure en uitbrekende lewe het die
lente gekom en toe verdiep in die rus en die erns van die somer, en nou moet die
najaar kom, en die natuur sal gaan slaap, 'n slaap so stil soos die dood self. Maar
later kom die herontwaking, as die kragte weer gis.
Maar die mens wat sterwe? En Hannes? Nooit keer hy weer terug nie... Maar nooit
is die lewe dieselfde as dit terugkom nie, altyd anders en tog dieselfde skeppende
kragte... Die lewe gaan voort, en tog wil al wat bestaan, dit bly behou... hoe kan hulle
ooit verstaan hoe nietig en klein elkeen is in die groot Gang, wat net vir 'n oomblik
in hulle lewe... Dit is so vol en magtig in die meisie se hart, gedagtes wat te geweldig
vir haar siel is, maar wat in haar opstyg soos die krag van die natuur, van die somer
self... In haar wese voel en weet sy nou iets van die lewe, maar in woorde kan sy dit
nie sê nie, dit staan soos 'n groot, groeiende ontwaking in haar siel wat deur sware
ervaring in die laaste tyd na die sin van die lewe begin vra het... Sy sien nie dat
Wynand nader nie, en sy skrik toe sy 'n geritsel van blare naby haar hoor. Hy word
ontroer deur die weemoed in haar oë en sê: ‘Dis lekker onder die bome. Kom ons sit
hier in die koelte van die wilkerboom.’ Sonder om te antwoord, doen sy dit en staar
droomverlore oor die gladde damvlak, waarop klein, spiesvormige sonvonkies tril.
‘Ek wil net kom groet, Linda,’ sê hy, ‘ek was al by al die ander mense op die
plaas.’ Dit is of sy met 'n skok tot die werklikheid ontwaak. Die dood van Hannes,
die gebeurde
net voor hy gesterwe het, het haar lewe met 'n vreemde erns vervul, waarin 'n nuwe
mens gebore is. Die dogter in haar, die blymoedige, opgewekte kind is dood... die
ervaring het haar lewe voorberei vir die erns, die onvermydelike van die lewe. Wynand
voel duidelik die verandering in haar aan. En dit laat hom nou praat, gesels oor iets
waaroor hy nog nooit met iemand wou praat nie. Sy dwing hom daartoe - veral
daardie warm gloed in haar oë, wat vir hom in die tydjie hier op die plaas, nuwe hoop
en drome laat droom het, wat weer genadeloos doodgemaak moes word...
‘Linda, ek wil jou iets vertel,’ sê hy, en sy kyk opeens diep in sy oë. Dit maak hom
byna sprakeloos. Dit dwing hom amper om haar nader te trek na hom... Maar hy
beheers hom. Om nou alles te bederwe! ‘Jy wonder seker wat se plesier ek daarin
het om so van plaas tot plaas te gaan en koring te sny.’ En haar oë antwoord daarop.
‘Ek sal jou vertel waarom my lewe is soos dit is. Dan kan jy daaroor nadink as ek
weg is.’ Vir 'n oomblik bly hy stil. ‘Ek is 'n plaasseun. Ek het op 'n plaas grootgeword,
en ken al hierdie dinge’ hy wys na die bome en gras om hulle, ‘net soos jy. My pa
wou gehad het ek moet predikant word, en ek was ook 'n ruk op die kweekskool.
Maar my hart was nie by die
werk nie ... ek is skelm-skelm daar weg, en toe hy dit hoor, het hy my vervloek, my
onterf ... ek was nooit weer op ons plaas nie. Ek het gedag dat hy dit glad te erg
beskou, ek was jonk en vol planne, en het gedag dat elkeen die reg het om van sy
lewe te maak wat hy wil... Op die kweekskool was ek alreeds dwarskoppig en het
omgegaan met mense teen wie ek gewaarsku is ... maar ek het met hulle omgegaan
net omdat ek teen hulle gewaarsku is. Toe ek uit 'n brief van my moeder verneem
hoe kwaad my vader vir my is, is ek na Johannesburg. Daar het ek in 'n kantoor
gewerk. Ek het met die wildste mense omgegaan... en baie gedrink. Hoe ouer ek
geword het, hoe meer die vloek van my vader wat op my gerus het, my gehinder
het... Hy het te hore gekom hoe ek lewe, en toe ek hom later 'n brief skrywe of ek
nie kan plaastoe kom om met hom te praat nie, het hy my nie eers geantwoord nie.
'n Rukkie daarna het ek verneem van sy dood ... dat my moeder die ou plaas sou
verloor ... En wonderlik genoeg: toe wou ek die vloek van my vader van my verwyder.
Ek wou die ou plaas red ... ek wou terug daarheen. Toe het ek eers besef hoe lief ek
die grond het... En toe doen ek die verkeerde ding. Ek vat vyfhonderd pond van die
kantoor se geld en dag
ek sal duisende op die reisiesbaan maak, en weer die kantoor se geld terugbring,
sonder dat iemand dit merk. Ek was so seker van die perd ... ja, dis maar goed dat jy
niks van daardie dinge weet nie. Ek het alles verloor .. en toe 'n jaar tronkstraf! Ja,
Linda, jy sal eendag verstaan hoe swaar dit is om jou geheim, jou eensaamte alleen
te dra ... elke mens moet oor daardie brug ... Toe ek uit die tronk kom, verneem ek
dat my skande my moeder se dood gekos het ... ek kon nêrens werk kry nie. Ek was
melaats... As jy eenmaal in ons land in die tronk was, dan is jy melaats..’ Hy slaan
sy oë neer en byt op sy lip. ‘As mense verneem daarvan, verander hulle somar meteens
en hulle laat vat of hulle bang is vir 'n aansteeklike siekte. In Johannesburg het ek 'n
ruk rondgeval, maar oral het die skaduwee van die tronk my agtervolg. Jy kan nie
dink wat dit is nie... Dit verteer die sterkste mens. Vriende draai hulle rug op jou,
almal lyk agterdogtig en as hulle iets van jou verlede uitvind, kan hulle nie gou
genoeg wegkom nie. Jy is melaats. Dis al.’ 'n Trek van pyn kom oor sy gesig en 'n
rukkie sit hy stil.
‘Toe is ek uit die stad. En van daardie tyd af gaan ek van plaas tot plaas. Dit is die
beste. Want bly jy 'n rukkie, dan vind hulle dit uit, en wie vir jou goed was, verander
in 'n
knip. Jy kan hulle aansteek... So moet ek dan maar voort.’ Hy sien hoe daar trane
glans in Linda se oë en bewoë sê hy: ‘Linda, as ek jou een raad kan gee: pas jou op
in jou jong jare. Kyk met wie jy omgaan! Dit is vreeslik om melaats te wees! Ek
weet nou hoe jy oor my voel. Ek is gewoond om net op teleurstellinge te wag.’
‘Nee,’ sê sy en byt op haar lip.
‘Linda, jy ken nog nie die wêreld nie. Teenoor een wat geval het, is hy genadeloos
en wreed, al loop baie skurke wat in die tronk hoort, los - net omdat hulle goed kan
knoei. Ek was 'n dwaas, en ek het die prys betaal.’ En skielik spring hy op. ‘Linda,
ek moet weg.’ Verward staan sy ook op. Waar is nou die droomskone taal van haar
liefde? In die werklikheid van hierdie oomblik kan sy niks sê nie, en tog is haar hart
so vol. Haar hele siel lê in haar oë. 'n Oomblik swyg Wynand en in die afskeidstilte
tril die heimwee-lied van 'n leeurik uit die somerbloute van die lug.
‘Julle was goed vir my,’ sê hy naderhand met neergeslaande oë, ‘en jy, Linda, het
vir my 'n ruk gehelp om goed te wees. Ek het weer leer vertrou ... ek sal jou nie
vergeet nie... Nou dag, Linda.’ Sy wil iets sê, maar hy hou sy hand regop om haar
die swye op te lê, asof hy weet wat sy gaan
sê... Haar lippe beweeg, dit is of haar gesig vertrek. Sy kan geen woord uitkry toe
sy hand uit hare gly nie... Hy loop stadig van haar af weg oor die krakende blare en
stokke. Hy kyk nog 'n slag om, en dan gaan hy, effens geboë, na die huis. Oor 'n
rukkie kom hy te voorskyn. Oom Tom loop 'n endjie saam met hom. Dan gaan hy
alleen met die wapad langs. Van die wilkerboom af lê die pad duidelik oop. Sy volg
die figuur deur haar traan-dowwe oë, soos hy al kleiner en kleiner word ... en
naderhand wegraak agter die bult, wat duskant die blouige verte lê, waarheen hy reis,
'n vreemde reis, altyd maar na die blou van die verte en na die oneindige...
Sy lê haar wang teen die koel bas van die wilkerboom, en toe snik sy of haar hoop,
haar lewe, alles vergaan het... Lank lê sy so stil, met haar wang teen die boom, haar
liggaam op die sagte aarde en in haar gebroke hart die diepe wete dat alles moet
verbygaan...
In document
C.M. van den Heever, Somer · dbnl
(pagina 141-147)