• No results found

mens so na die sterre opkyk en jy dink aan jou ou klein lewetjie. Nou spook jy om 'n bestaan te maak op die grond en netnou lê jy daaronder, en die ou wêreld gaan

In document C.M. van den Heever, Somer · dbnl (pagina 73-80)

maar weer sy gang. Nou ja, naand Tom. Nou begin die stroom van gedagtes weer.’

‘Hou op met die bekommernis, man; dit help mens niks. Nag, Frans.’

‘Nag, Tom.’

Daar kraak 'n deur en Oom Frans verdwyn. Oom Tom loop in die rigting van sy

eie huis. Hy staan stil en kyk lank na die majesteit van die ster-bestrooide hemel, so

ontsaglik en vreemd-lokkend in hierdie uur. Hy skud saggies sy kop en stap dan

mymerend voort. Sy voetstappe klink swaar oor die donker aarde.

VII.

‘Wat is jy in die laaste tyd so onderstebo?’ vra Hannes se moeder vir hom die aand

ná ete. Maar hy skuiwe net nukkerig rond en half-onbeskof kom dit: ‘Ek makeer

niks.’ Vandat hy dieselfde middag van Oom Tom se land gekom het en in sy

buitekamer gaan lê het sonder om eers te kom koffie drink, het sy gemerk dat hy

ongelukkig is, maar vergeefs of sy iets uit hom kan kry.

‘Maar is jy nie siek nie, Hannes?’ hou die moeder aan.

‘Maar, ma, ek sê mos ek makeer niks! Hou dan nou op!’ bars die seun los. Oom

Faan, wat die onbeheersdheid van die seun aanhoor, skreeu uit die vertrek naasaan:

‘Hannes, praat jy met 'n meid? Ons het nie jou fiemies nodig nie!’ Die seun spring

knor-knor op en stap woedend na sy buitekamer toe. Hy slaan die deur toe dat dit

klap. Toe voel hy half bevrees dat sy pa sy woestheid sal kom wreek en gaan pateties

op sy bed sit met 'n seer hand

onder die kin. Hy verwag so half-half dat sy pa se groot figuur elke oomblik kan

verskyn, nadat hy die deur oopgestamp het ... Maar niks gebeur nie. Daarbuite sjirp

'n kriek eentonig en rek sy naggeluid in eenselwige hale uit. Hannes voel nie lekker

in sy lyf nie. Dit is of die son hom gevang het en sy bloed nou onrustig en warm deur

hom laat stroom. Sy oë, rooi na die vreeslike dag in die son, kyk slap na die deinende

kersvlam. Daar is 'n wilde begeerte in sy hart om die wapad te vat en weg te gaan

-vérweg. Anderkant die grense van hierdie plaas sal daar seker meer geluk vir hom

wees. Sy ouers, Linda, Oom Tom - almal staan soos vyandige magte teenoor hom.

En in sy seunshart smag dit nou na ruimte. Hy wil weg, sodat hulle nooit weer van

hom sal hoor nie. Maar voor hom lag twee sagte oë en daar om haar mond is dié

verleë trekkie... Hy frommel met sy vingers deur sy hare. O, die ruimte! Hy maak

sy buitekamer se deur oop en kyk oor die tuin heen na die verre, donker

heuwelrondinge, na die goue aandster wat daaroor straal, en 'n donker heimwee brand

in sy bloed na ander wêrelde, ander lande ... miskien die dood ... Hy skrik vir die

ontsettende gedagte en sy verlangende oë kyk lank na die sipresboompies wat

naald-regop by die kerkhof staan, donker

wagte wat 'n hele paar families boere bewaak hier in die rusplek aan die voet van die

randjie. Dit moet seker koel en rustig in die aarde wees, diep weg onder die grond,

waar selfs geen ster meer brand nie... Wag, wat makeer hy? Dit is lawwe gedagtes.

Maar die donker nag suig sy hart vas, die nag wat soos 'n swart reus oor die wêreld

kom en almal oorweldig .. die nag en die dood... Hy huiwer. Hy sluit die deur en kyk

na die wande van sy buitekamer, met die spokende skaduwees skuiwend daar oor

heen, na die kaal balke, na sy bed. Sy liggaam gloei of 'n koors in sy bloed aan nader

is. Hy trek hom uit, maak die klein venstertjie van die vertrek wyd oop en gaan dan

lê. Maar die bedompigheid hinder hom. Hy rol rond in sy bed.

En nou staan die hele dag weer in sy geheue op, 'n brokstuk verskriklike lewe, wat

aan hewigheid win in hierdie stille naguur. Hy gaan na die koringland toe vroeg in

die môre, hy is vol arbeidslus, vol hoop dat hy Linda sal sien en dat hy naby haar sal

kan wees. Hy sien die groeiende lig wat die hele hemel verhelder en dan die laaiende

somerdag wat nog deur sy liggaam heenbrand. Hy sien die koring voor hom ... en

dan opeens die verskriklike oomblik toe hy met 'n skok bewus geword het van Linda

se liefde vir die

loper... Sy onbeheersdheid, en die gevoel van vernedering toe hy deur die koring na

die huis gestap het... Hy rol rond, vou die kussing onder sy kop en word dan opeens

bewus van die klopping van die bloed deur sy liggaam, 'n yle gedruis deur sy hoof.

Die son het hom bepaald kwaad gedoen. Hy sluimer weg en die bontste beelde dwarrel

deurmekaar. Hy hoor dat iemand sê dat hy lankal dood is, dat hy begrawe lê in die

kerkhoffie. Deur sy drome voel hy 'n aangrypende heimwee, hy huil, en toe hy wakker

word, voel hy die trane op sy wange... Hy beleef nou so diep die nag se geweldige

eensaamheid. O, dis beter om in 'n stad te woon waar baie mense is. Hier is dit

vreeslik, waar die lug en grond dieselfde tasbare geheimsinnigheid het wat jy deur

jou bloed kan voel. Dan is dit weer beelde en ongemerk wandel hy in die land van

die slaap weg. Maar nou is dit ontsettend. Hulle sny op 'n oewerlose see van

koringlande die lang, oneindige lang halms af. Hy sien hoe Linda deur die koring

kom en hoe Wynand haar merk. Maar hy spring tussenbei en stamp haar weg. Dan

kap hy sy sekel in Wynand se nek - en hy hoor hoe skrille, hoë klanke opstyg: hy

het gemoor! hy het gemoor! Oom Tom hardloop agter hom aan en sy bene word al

swaarder, hy sink weg en die hemel is soos

'n vlam bloed... Hy is nat van die sweet toe hy wakker skrik. Die bloed dreun swaar

aan sy slape en sy liggaam gloei soos vuur. Die koors is in sy lyf. Môre gaan hy weg;

sy pa en ma sal hom nie terughou nie, en Linda sal baie spyt wees as sy hoor dat hy

weg is, en sy sal hom dan waardeer. En dit gee hom 'n weemoedige blyheid om te

dink dat sy na hom sal verlang, sal wens dat hy moet terugkom omdat hy nou vir

haar meer waarde gekry het. O, maar hy voel so sleg! Die nare rondloper het sy lewe

en geluk aan stukkies kom slaan, en hy sal met Linda trou en weg gaan en haar later

in die steek laat. Maar dit sal haar verdiende loon wees, omdat sy 'n groot en ware

liefde gesmaad het. Dit is of die nag met hamerslae op sy hoof neerdonder. Die sweet

staan op sy voorkop. Sê nou maar hy sluip nou versigtig na Wynand se kamer en

gaan wurg hom, wurg hom... Hy rol rond, en dan duister die slaap weer oor sy

bewussyn neer en die verwarde beelde skommel weer nader. Linda kom aangewandel

oor haar pa se werf. Maar sy is maer en uitgeteer en huil baie. En hy wil na haar toe

gaan, maar hy kan nie, want hy is al lankal begrawe ... en uit sy graf kan hy geen

geluid kry nie. En dan weer ander beelde. Vreeslike sinlike begeertes gryp hom aan,

en dan kom daar weer stilte

en hy hoor die donker ruising van sy koorssieke bloed... So wandel die nag aan,

verskriklike nag, waarin ander dromeloos slaap. Dit word stiller in hom. Die voornag

lê soos 'n donker vallei vol verskrikkinge agter hom. Hy sluimer weg en sien vir

Linda op die groenkweek sit, en van ver af wink sy hom en hy kom nader en gaan

sit langs haar. En haar oë lag diep in syne, en sy vertel hom dat hy alles verkeerd

verstaan het, dat sy hom al die jare lief gehad het. Hy is oorweldig en kan niks sê

nie. En haar woorde genees hom. Hy is so bly ... maar agter hom voel hy onheil. Hy

kyk om en sien Wynand staan met 'n vreeslike trek van wraak op sy gesig. Hy wil

vir Linda om hulp vra, maar sy is weg, en hy sien hoe Wynand wegskuiwe van hom

af tot hy 'n swart stippel is wat ver oor die koringlande verdwyn... Toe hy sy oë

oopmaak, val daar lig in sy kamer. Hy staan op en afgemat staar hy deur sy venstertjie

na die dag wat oor die hemel begin lig, na die bulte wat verweg opskemer teen die

eerste tinte van lewe, na die aarde wat die komende dag verwelkom met 'n frisheid

wat hang oor die lande asof die songeweld van die vorige dag nooit bestaan het nie...

VIII.

Die dae skuiwe rustig voort, son-deurgloeide dae wanneer die donderwolke soos

In document C.M. van den Heever, Somer · dbnl (pagina 73-80)