‘Tag, ou dogter, jy was seker nog nooit so welkom nie,’ sê Oom Tom en hy druk sy
paphangende hemp onder sy broek in. ‘Vanaand moet die koring op die naat van sy
rug lê. Wat sê jy, Wynand?’
‘Net so, Oom.’
‘Maar mens verbrand vandag tot in die grond,’ sê Oom Tom en drink gretig koffie.
‘Dit sal netnou beter word.’
Linda kry vir Hannes uit haar hart jammer. Hy is bloedrooi verbrand, tot sy oë is
rooi, en sy lippe is wit en droog.
‘Hoe gaan dit, Hannes?’ Daar kom 'n blye vreugde in sy verwaarloosde gesig en
dankbaar antwoord hy, ‘nee dit gaan, dankie, net die son is so verskriklik.’ Maar sy
vreugde gaan gou weer oor in donker, dreigende jaloesie toe hy sien hoe Linda met
sag-stralende oë koffie vir Wynand inskink en die duidelike tekens openbaar van
liefdevolle toegeneëntheid teenoor hom. Dit gaan soos 'n skok deur Hannes en vir
'n oomblik word dit donker voor hom, sy neusvleuels roer en sy bors wieg vinnig op
en neer. En tog doen hy niks. Net die beker in sy hande bewe saggies. In sy
dagtes is dit 'n woeste dwarreling. Nors stap hy saam met die ander na sy sekel toe...
‘Kyk, kêrels,’ sê Oom Tom, ‘dit lyk vir my as ons optel van nou af, dan kan ons
teen sononder klaar wees. Ons kan die koring wat oor is, verdeel,’ en sekuur wys die
vereelte voorvinger die vakke vir elkeen aan, terwyl twee kleurlinge gerwe moet
bind en dit na die mied toe moet dra. En nou is dit wegval, elkeen aan sy vak, elkeen
met die onuitgesproke gevoel van mededinging in sy hart - al is dit nie teen die snyers
langs hom nie, dan is dit teen die koring wat hom uittart, wat hom lok om te kom,
wat hom terg om te verower. Die son sak laer en die geweld van die son se hitte word
minder, terwyl skugter skaduwees agter die snyers begin aanreis. Rustig en seker
soos altyd sny Oom Tom, met die gelykmatig vooruitskietende arms, en langs hom
is Hannes wat nou woes en vaarterig sny, terwyl hy kort-kort skelm loer na Wynand,
wat met vaste gang voortgaan. Anderkant Wynand is die maer figure van Stefaans
en April te sien. Noudat dit koeler word, raak hulle tonge weer los en die aanhoudende
kompetisie-gees tussen die twee is skynbaar hewiger, noudat elkeen sy duidelik
afgemete vak het om te sny.
‘Toe dan, April-man, toe dan platneus
Boesman, Katryn staan mos en kyk van die huis af. Hoe wikkel jou agterlyf vir my
so soos 'n haas s'n wat 'n hou met 'n knopkierie gekry het,’ praat Stefaans terwyl sy
vinnige hande seker werk, die gesig naby die grond.
‘Aha, my ou pappa, waar stap so'n vaal Hotnot nie lekker aan met die koring nie!
Hy hoor net hoe die Bolandse plathakskene hier blaas-blaas langs hom. Hei jong,
hierdie wêreld se volke het nie 'n blaasbalk in die bors nie! Dis somar lekker stilweg
sny dat Katryn moet sê: maar kyk, hoe kon die wye-neusgate uit die Boland ooit soos
'n hanslam agter my aanstap? Die ding se wind is dan somar vroeg in die middag al
uit! Maar kyk vir ou Aprillie - ag, maar so'n Hotnot sny vir my te dierbaar!’ Linda
wat in die koelte van 'n mied gaan sit het om na die werkery te kyk, moet uitbars van
die lag vir die lawwe kompeteerdery. Dan volg haar oë weer vir Wynand en Hannes.
Waarom sou Hannes skielik so nukkerig geword het?... Haar hart is by daardie groot
figuur wat vir haar die kragtigste, die aangenaamste werker is wat sy ooit ontmoet
het. Sy diep stem, sy seker manier van praat en die sagte, beskermende weemoed in
sy oë. Sy hele lewe is vir haar onpeilbaar, sy sielelewe 'n nooit uitgesproke geheim.
Soms sien sy dat, as hulle kerslig al lankal uit is, dan brand
syne nog. Sy wonder wat hy doen. Sy het al aan haar klein broertjie, Bennie, gevra
wat die oom altyd doen in sy kamer, maar Bennie, wat gereeld by Wynand in die
kamer was, het net gesê dat hy deur papiere blaai en dan weer lees. Sy het al 'n
onkeerbare nuuskierigheid in haar voel opwel om deur sy goed te snuffel as hy op
die land is, om uit te vind of hy portrette, briewe van 'n meisie by hom het. Maar sy
was te skugter. As iemand haar daar moes vang! Selfs haar ma... Sy kan nie daaraan
dink nie. Sou Wynand iets van haar geheim weet? Nog nooit het hy die minste teken
gegee dat hy die liefde in haar oë gemerk het nie. Maar sy was ook te skugter, te
bang om vir hom iets te laat merk. As sy alleen is, besluit sy telkens om vir hom iets
te wys van haar gevoel, maar wanneer sy by hom is, dan oorweldig 'n afwerende
skugterheid haar. Sy is magteloos. Sy kan nie daaraan dink dat hy ooit moet weggaan
nie. Haar lewe sal een leegte wees. O, hy moet weet wat sy voel, voordat hy vertrek
... hy moet weet ... Uit haar dromery skrik sy plotseling op toe sy die hewige
wedywering sien wat daar op die land aan die gang is. Die son is nou taamlik laag
en 'n fris windjie, die voorloper van die aand, huiwer reeds deur die koringare. Al
sy kragte span Hannes in om nie uit te sak nie, want 'n
wilde, opswepende jaloesie kook daar in sy hart om hierdie rondloper te verneder
In document
C.M. van den Heever, Somer · dbnl
(pagina 51-55)