vlammend in die nag op, 'n rooi gat vreet langs die uitstaande stoppels in en 'n rand
van dansende vlammetjies flap oor die grond. Sy daad staan nou met brandende
helderheid in Hannes! Woes spring hy op die mied toe om die onbeskadigde gerwe
uit te gooi... Wynand is die eerste wat 'n gloed deur die venster sien ... Met groot
hale hardloop hy na die mied, en die hele string mense tou agter hom aan. Hoog in
die donkerblou van die somernag laai die dansende vlamme springend op en die goue
tonge bewe skitterend bokant die inmekaarsakkende, gloeiende strooi. Die seun werk
wild, onbeheersd, en as hy weer 'n gerf uitruk, tuimel die hele brandende massa op
hom neer met 'n gekraak van strooi en wappering van vlamme ... maar Wynand is
by ... die vuur verskroei sy arms, hande en gesig ... die smeulende gerwe waai weg
uit sy verbrande vingers soos hy probeer om vir Hannes uit te haal. Toe die ander
bykom, struikel 'n potswart figuur uit die smeulende rook met die slaphangende
Hannes oor sy skouer. Daar gaan net een kreet van die verbaasde mense op: ‘Here!’
Die verbrande seun word huistoe
gedra en Wynand, wat totaal blind voel, steier-steier aan die arm van iemand wat
hom lei. Aan die mied is niks te doen nie. Die vuur kan gelukkig nie die lang gras
en ander mied bykom nie. Die vlamme verteer vinnig die droë strooi, die wind dryf
hulle aan dat hulle soos 'n goue, vlammende draak opklim in die donker nag en die
mied tot 'n smeulende massa laat vergaan, waaruit vlammetjies nog flappend opskrik
en weer verdwyn ... En terwyl Oom Tom sy handewerk so sien vergaan, vee hy die
sweet, sweet van angs, van sy voorkop af en kreun verbysterd, terwyl hy omdraai
van dié swart smeulende hoop wat sy redding moes gewees het: ‘Wie het dit ooit
kon dink? ... maar van hierdie ou lewe moet jy altyd die ergste verwag! Hoe jammer
tog..’ En krom-krom stap hy aan, terwyl die nagloed van die brand rosig voor sy
voete oor die donker aarde skyn...
XII.
Die hele nag deur, tot die daeraad van die nuwe jaar oor die bulte geskemer het, het
Hannes roerloos gelê, en dit was moeilik om te sê of hy nog lewe. Oom Frans het sy
karperde laat plat lê dorptoe om die dokter te haal, wat eers ná sonop die volgende
môre daar aanland en toe vir Hannes ondersoek, sy wonde verpleeg om daarna ook
vir Wynand te besoek, wat nie bewusteloos soos Hannes is nie, maar tog nie kan roer
in die bed van die brandende pyne aan sy lyf nie. Toe die dokter terugstap na sy kar
toe, kom Oom Faan gedwee met sy hoed in die hand en vra: ‘Dokter, hy sal tog
deurkom, nè?’
‘Hy is baie siek, Oom Faan. Julle moet hom mooi oppas. Voer maar stip uit wat
ek gesê het. Môre is ek weer hier.’ En net voor hy wil ry, vra hy skielik: ‘Wat het
dan gebeur? Het Hannes die mied aan die brand laat raak, of het hy gekeer ná die
skelmstuk gedaan is, miskien deur een van die volk?’
‘Nee, dokter, Hannes sal nooit die mied aan die brand laat raak het nie. Hy is 'n
boerseun, en het te veel verstand om met vuur naby 'n mied te speel. Nee, sy werk
is dit nie. Hy het natuurlik gesien dat die mied aan die brand is, en, wakker seun wat
hy altyd was, het hy somar dadelik bygespring. Ek het 'n gedagte dat dit een van die
volk se werk is.’
Nadat die stofstreep van die dokter se kar al oor die bult verdwyn het, staan Oom
Faan nog roerloos in die pad. Dat hierdie ding op Oujaarsaand oor sy huis moes kom!
Dit is 'n beproewing. As die arme Hannes tog net eers kan praat en vir hom sê hoe
dit gekom het. Hy voel darem baie hartseer oor die groot slag wat vir Oom Tom
getref het ... Die kans om vir Driefontein in die hande te kry is nou beter ... wag, daar
is hy al weer vol sondige gedagtes, en sy kind lê tussen lewe en dood... Hy stap na
die vrykamer toe waar Hannes lê, en op die pad daarheen ontmoet hy sy vrou. Hy
voel so hulpeloos, hy wil haar troos, maar al wat hy kan sê is: ‘En vandag nogal
Nuwejaar.’ Die trane glans in die moeder se oë en sonder om 'n woord te sê, gaan
sy na die kombuis. Op die punte van sy tone gaan die vader by die siekekamer in,
en 'n groue gevoel van bedruktheid oorweldig hom hier. Sy seun! Hannes lê met
verband
om sy hele gesig, sy arms en lyf. Net die geslote oë, neus en mond is sigbaar. Daar
is geen teken van lewe nie, en die twee vrouens wat by hom sit en nou en dan sy
lippe natmaak, knyp skelm 'n traan weg en staar dan deur die smal opening van die
venster na waar die somergloed daar buite lê. Die plankvloer in die eetvertrek kraak
en behoedsaam kom Oom Tom in die siekekamer. Die ontroering wel in Oom Faan
se keel op, hy het die rusie met sy buurman vergeet, 'n groot hand skiet vooruit en
druk dié van Oom Tom lank en innig, terwyl die trane saggies afloop in sy baard.
Hier in die gedempte lig van die kamer kom daar 'n verhewe erns almal se gedagtes
vul: die eerbied vir die dood. Dag-vir-dag werskaf hulle rond, elkeen met sy klein
plesiertjies, sy begeertes en verwagtinge, maar nou wyk al daardie dinge weg, want
hulle staan op die grens van die ewige... Hier is die ydelheid en rusie oor 'n bietjie
meer besitting vergete. want hier herinner die misterie van 'n ander lewe hulle daaraan
dat hulle tenslotte almal bywoners is, wat eersdag sal moet trek ... die een vroeër en
die ander later... na 'n land wat niemand nog ooit gesien het nie en waaruit niemand
terugkeer nie...
Oom Tom draai om en verwyder hom uit die gewyde stemming wat daar in die
In document
C.M. van den Heever, Somer · dbnl
(pagina 124-128)