• No results found

3.4 MOONTLIKE OORSAKE VAN UITBRANDING BY NAGRAADSE

3.4.1 Oorsake van uitbranding by nagraadse teologiese studente

3.4.1.14 Wanpersepsies oor uitbranding en om ʼn geroepe predikant te wees

Grobbelaar (2007:57) wys daarop dat, alhoewel elke persoon uniek is en stresvolle gebeure gevolglik anders beskou, die meeste probleme wat mense ervaar toegeskryf kan word aan foutiewe persepsies van die probleem. Dit beteken dat ʼn mens geneig is om ʼn stressor onnodiglik te beskou as hopeloos, skadelik of negatief. Coetzer (2007:31) vra die vrae: is uitbranding die onvermydelike prys wat betaal moet word

by ʼn mens wat te veel omgee? ....is dit die finale straf vir die feit dat jy ʼn “kanaal” van God se genade is? ....moet dit onverbidderlik sy tol eis terwyl die motief vir diens suiwer is? – Die antwoord is egter ʼn besliste nee! Uitbranding kan as gevolg van die moontlike wanpersepsies in ʼn verkeerde lig beskou word Wanpersepsies oor wat dit behels om ʼn geroepene te wees, sluit onder meer die volgende in:

 Valse skuldgevoelens: Volgens Stone (2008:123) dra ʼn oormaat van skuldgevoelens grotendeels by tot ʼn persoon se belewenis van uitbranding en depressie. Die uitgebrande persoon moet besef dat dit irrasioneel is vir iemand om te dink dat hy oor elke gebeurtenis (binne en buite homself) beheer kan uitoefen. Die uitgebrande persone wat met geweldige skuldgevoelens worstel, moet leer dat hulle hulself nie kan blameer oor dinge wat hulle nie beheer oor kon uitoefen of enige skuld aan het nie. Stone (2008:124) wys daarop dat die uitgebrande persoon maklik sal sê: “Ek moes

in beheer gebly het en nie uitgebrand het nie.” So lei dit tot ʼn oorlading van

skuld wat tot verdere uitbranding aanleiding gee. Vanweë frustrasie dat hulle ideale nie kan manifesteer nie, kan twyfel aan hulle eie geloofwaardigheid ook intree (Coetzer, 2008b:34). Volgens Coetzer (2007:36) ervaar die teologiese student skuldgevoelens omdat hy fisies en emosioneel nie in staat is om verder te gee nie. In Bylaag E is ʼn vraelys wat evalueer of ʼn persoon se verwagtinge te hoog is. Teologiese studente of predikante kan met hierdie meetinstrument vasstel of sy/haar verwagtinge onrealisties hoog is (Moore, 2005:156).

 Verloëning van jou roeping: Volgens Coetzer (2007:89) is sommige geroepe persone van mening dat, indien hulle nie ten volle aan hulle roeping kan beantwoord nie, dit oneer aan God impliseer. Wanneer ʼn student en as latere predikant emosioneel uitbrand, is hy geneig om homself as ʼn mislukking te beskou en te glo dat sy integriteit en geloofwaardigheid as leraar op die spel is. Die druk om “volmaak” te wees in die opvolg van sy roeping, kan ʼn te groot – onnodige – las word om te dra. Die student moet volgens Coetzer (2007:89) ook in staat wees om swakheid en onvermoë te erken sonder om soos ʼn mislukking te voel. Volgens Coetzer (2007:79) is dit ʼn wanpersepsie wanneer ʼn predikant of student by geleenthede dink dat hy, omdat hy deur die Here geroep is, nie mag “nee” sê nie en ten alle tye beskikbaar moet wees. Die wanpersepsie veroorsaak dat hy dan aan homself as ʼn “onwaardige dienskneg” dink. Volgens Coetzer (2007:79) is die

algemeenste wanpersepsies by teologiese studente en predikante die volgende:

(1) Om nooit moeg te word nie;

(2) Om verhewe te wees bo emosionele pyn; (3) Om emosioneel selfvoorsienend te wees; (4) Om vry van materiële behoeftes te wees; (5) Om geestelik perfek te wees.

 Ek moet aan alle verwagtinge wat aan my gestel word voldoen: Volgens Coetzer (2008b:20) is geroepenes van mening dat hulle te midde van uitbranding steeds aan alle vereistes en verwagtinge moet voldoen. Dit is egter onrealisties om aan alle verwagtinge te kan doen. Die student moet aanvaar dat hy net ʼn mens is. Die stres om te voldoen aan bomenslike standaarde eis ʼn geweldige tol op die student se studies en veral sy persoonlike lewe. Volgens Cordes & Dougherty (1993:636) kan ʼn persoon ook byvoorbeeld die persepsie huldig dat hy net moet “aanhou werk” om aan moontlike onrealistiese verwagtinge te voldoen. Dit kan die verdere persepsie tot gevolg hê dat uitbranding in die bediening net maar iets is wat aanvaar moet word en geleer moet word om mee saam te leef.

 Uitbranding is ʼn teken van swakheid en sonde: Dit is ʼn wanpersepsie vir ʼn nagraadse teologiese student om te dink dat dit verkeerd of ʼn teken van “swakheid” is om simptome van uitbranding te beleef of te erken dat dit bestaan (Coetzer, 2005:15). Adams (1970:105) huldig byvoorbeeld die standpunt dat simptome wat psigopatologies van aard is, direk aan sonde toegeskryf kan word (vgl. ook Collins, 2005:11). Adams is van mening dat ʼn persoon nie deur middel van psigoterapie genees kan word nie. Hulle is net “siek-gelowiges” vanweë hulle sonde. Die sonde het ʼn skuldgevoel tot gevolg. Sodra die sonde bely word, word die skuldgevoelens verwyder en die probleem word opgelos. Genesing van psigopatologiese toestande vind volgens Adams plaas deur die belydenis van sonde (Adams, 1970:106; Adams, 1979:20).

 Behandeling is slegs vir siek mense: Volgens Taubes & Ancer (2008:60) vind veral mans dit uiters moeilik om oor hulle lewens en gevoelens met ander te praat. Volgens Taubes & Ancer (2008:60) het baie mense die persepsie dat slegs “siek” mense na iemand moet gaan vir hulp. Verdere

persepsies wat Taubes & Ancer (2008:60) identifiseer is wanneer ʼn persoon sal sê:

o “Ek weet wat my probleem is en ek kan dit self oplos:” Sommige persone sal self soek na oplossings en redes vir hulle omstandighede. Volgens Taubes & Ancer (2008:62) beteken dit nie noodwendig dat ʼn persoon self die oplossing kan vind wanneer hy weet wat sy probleem is nie. Die nagraadse teologiese student wat uitgebrand is kan nie meer noodwendig objektief na ʼn oplossing soek nie. Die insette van ʼn objektiewe persoon soos ʼn berader of sielkundige wat die fisiese en emosionele prosesse begryp, sal die uitgebrande persoon op die “blinde kolle” in sy situasie kan wys en hom help om objektiewe oplossings te soek.

o “Ek is ʼn swakkeling as ek terapie moet ontvang:” Hierdie is volgens Taubes & Ancer (2008:63) die mees algemene wanpersepsie aangaande terapie of behandeling van uitbranding, veral vir ʼn predikant of nagraadse teologiese student wat glo hy moet geestelik en emosioneel selfstandig wees en glo hy moet daarom verhewe wees bo enige emosionele pyn. Volgens Taubes & Ancer (2008:63) sal daar by die persoon wat sy uitbranding onbehandeld laat, probleme manifesteer op wyses waaroor die nagraadse teologiese student nie beheer het nie, soos fisiese siekte en die vernietiging van verhoudings. Die nagraadse teologiese student en latere predikant wat glo dat “hy nie mag huil nie” ignoreer egter net sy probleem en sal later op een of ander stadium geforseer word om aandag aan sy probleme te skenk en hulp te ontvang.

o “Terapie kan my verhoudings bedreig:” Die persepsie dat ʼn predikant en teologiese student verhewe moet wees bo emosionele pyn en dat uitbranding ʼn teken van swakheid of kleingeloof is, mag die persepsie laat ontstaan dat sy verhoudings met ander mense (kollegas, gemeentelede of medestudente) in die gedrang kan kom omdat hy hulp moes ontvang. Die vrees dat mense nie meer dieselfde na hom sal kyk nie of hom sal verwerp, kan die proses tot heling vertraag (Taubes & Ancer, 2008:63).