• No results found

Konings sit die verhaal van Israel in 1 en 2 Samuel voort vanaf die punt waar die geskiedenis van Salomo tot ʼn einde kom, en dek die volgende vier eeue (Comfort & Elwell; 2001:779; Hill & Walton, 2000:227). Die Koningsboeke fokus op bepaalde primêre figure wat verantwoordelik is om die verbond in stand te hou, naamlik die konings en die profete. Die stem van die profete speel ʼn prominente rol in die verhaal van die konings omdat hulle deur God aangewys is as boodskappers wat funksioneer as die gewete van die afvallige konings (Hill & Walton, 2000:236). In 1 en 2 Konings beskryf die Bybelskrywer die geskiedenis vanaf die einde van Dawid se bewind, die goue era van Salomo, toe die tempel gebou is, die skeuring gedurende die regering van Rehabeam tussen die Noordelike en Suidelike stamme wat die volk in twee amptelike koninkryke – Israel en Juda – verdeel het, tot by die val van Samaria (722/721vC) en die verwoesting van Jerusalem (587vC) (Alexander & Alexander, 2004:276; Hill & Walton, 2000:230; Towns, 2005:405). Volgens Comfort & Elwell (2001:423) was die Noordelike Ryk ekonomies en polities beter af as die Suidelike ryk.

1 Konings speel byna uitsluitlik in Kanaän af. Daar word wel verwys na die omliggende buurstate soos Egipte, Edom, Moab en Ammon, maar hierdie gebiede speel ʼn ondergeskikte rol (Van Rensburg & Nel, 2009:427). Volgens Hill & Walton (2000:230) word Israel se interaksie met die omliggende politieke magte geïntegreer in die Konings boeke. Die twee noordelike bure van Israel, die Arameërs van die binneland en die Fenisiërs teen die kus, speel ʼn meer prominente rol. Reeds tydens Salomo se regering het die Fenisiërs stadstate, Sidon en Tirus, sterk gefigureer. Volgens Du Toit (1974:160) het Elia opgetree tydens die groot keerpunt in die geskiedenis van Israel. Ongeveer 876 vC het die Assiriese mag die eerste keer binne die gesigskring van Israel verskyn. Die groot krisis vir die Noordelike Ryk sou egter in die negende eeu voor Christus kom – die tyd van Omri en Agab. Gedurende die tyd van koning Agab en die profeet Elia het die Fenisiërs weer ter sprake gekom. Omri se seun Agab trou met Isebel wat die dogter was van Etbaäl die hoëpriester van die Baälgodsdiens en latere koning van Tirus. (Comfort & Elwell; 2001:423; Van der Watt, 2003:317).

Isebel word toegelaat om die Fenisiese Baälgodsdiens in Samaria te beoefen, en eien haarself ook die reg toe om enigeen te vervolg wat teen haar godsdiens optree (Du Toit, 1974:160). In dieselfde tyd het die Arameërs, met Damaskus as hoofstad, ʼn politieke en ʼn militêre bedreiging geword. In hierdie tydperk was die belangrikste stede van Israel die twee hoofstede van die twee ryke, Jerusalem en Samaria. Volgens Van Rensburg & Nel (2009:427) is daar twee stelle sosiale en politieke omstandighede wat tydens eksegese van 1 Konings in ag geneem moet word:

1. Eerstens is daar die omstandighede van die mense oor wie se geskiedenis 1 & 2 Konings handel en wat in die negende en agtste eeu voor Christus geleef het. Onder hulle is die konings, burgers, ampsdraers, arbeiders en soldate van die koninkryke van Israel en Juda. Hulle samelewing was aanvanklik relatief eenvoudig gestruktureer. Hulle het in dorpies en landbougemeenskappe gewoon. Die dorpies was veral in die berglande van Samaria en Juda geleë. Die groter stede, soos Jerusalem, Megiddo, Hasor en Bet-San, was administratiewe sentrums waar amptenare van die staat gebly het. Die ekonomie was ongekompliseerd en produksie was grootliks gerig op selfvoorsiening (Van Rensburg & Nel, 2009:427).

Alhoewel die verhaal begin met ʼn stabiele verenigde koninkryk onder ʼn sterk koning (Dawid) het hierdie leefwêreld spoedig verander (Alexander & Alexander, 2004:276). ʼn Ekonomie gebou op kapitaal het spoedig ontwikkel. Die konings en staatsadministrasie het belasting gehef. Landbou het van eenvoudige bestaansboerdery na boerdery waar ʼn surplus produkte geproduseer moes word verskuif om belasting te kon betaal. Volgens Van Rensburg & Nel (2009:427) het die tradisionele stamstrukture en waardes verval. Die staat het ʼn permanente amptenary ontwikkel en ʼn staande leër gehad wat nie tot landbouproduksie bygedra het nie maar deur die staat onderhou moes word. Die verhaal eindig met die volk van God in algehele verval en massadeportasie na Babilonië (Alexander & Alexander, 2004:276).

2. Tweedens moet daar tydens eksegese van 1 Konings 19 volgens Van Rensburg & Nel (2009:427) gefokus word op die sosiale en politieke omstandighede van die mense vir wie die geskiedenis van 1 & 2 Konings geskryf is. Tydens hulle leeftyd het die eerste lesers van 1 & 2 Konings geleef in ʼn wêreld waarin die koninkryke van Israel en Juda soos dit in hierdie boek beskryf word, reeds tot die verlede behoort het. Politieke strukture het in duie gestort en van ʼn sterk staatsopset of staatstruktuur was daar geen sprake nie. Israel en Juda se grondgebied is geadministreer as deel van ander konings se domein.

Die eerste lesers van 1 & 2 Konings (wat na die val van Jerusalem in Babel en Kanaän gewoon het), probeer sin maak uit hulle geskiedenis en wat daaruit geleer kan word om die redes vir die ballingskap te probeer verstaan. Vanuit hierdie oogpunt gee die skrywers van 1 & 2 Konings antwoord op die vrae van Israel. Hierdie vrae is volgens Van Rensburg & Nel (2009:482): “was God onregverdig in sy oordeel oor sy volk wat tot hulle

ballingskap gelei het?” Soos reeds aangetoon, het die hele geskiedenis

afgestuur op die ballingskap omdat die volk en die konings aan die Here ongehoorsaam was, vergeet het van Sy voorskrifte en daarvan afgewyk het.