• No results found

2.6.1 Die God van Israel is waarlik God

In die boek 1 Konings staan die boodskap dat die God van Israel waarlik God is sentraal. In teenstelling met die afgode wat die produk van mense werk is, is die God van Israel waarlik God en aktief betrokke by die mensdom se doen en late (Alexander & Alexander, 2004:276). God is die Skepper wat bo alles is. Hy is intiem betrokke by Sy skepping. Hy kan nie in die tempel of in die verbondsark vasgevang word nie (Van Rensburg & Nel, 2009:428). God is die Een wat in beheer is van die natuur en die geskiedenis bepaal. Al kom dit voor of God verwyderd is van sy skepping en volk is Hy steeds in volle beheer van sake. Hy heers oor alle volke en oor die hele wêreld. Die omliggende volke en die konings van die twee ryke is instrumente waarmee God sy doel bereik (Van der Watt, 2003:308).

2.6.2 Egte lojaliteit aan God

Volgens Van Rensburg & Nel (2009:428) is een van die sentrale temas van die Koningsboeke die egte lojaliteit (of ʼn gebrek aan egte lojaliteit) van Israel in hulle

godsdiens. God is uniek en eis daarom eksklusiewe verering. In aansluiting by die Kanaänitiese godsdiens blyk dit dat Israel God deur beelde vereer. Sommige van Israel se konings het spesifiek ruimte gemaak vir die afgodsdiens (Van der Watt, 2003:308). Volgens Van Rensburg & Nel (2009:428) tel Salomo, Jerobeam I en Agab onder hulle. Wanneer die volk en hulle leiers (die konings) op God gerig is en sy voorskrifte gehoorsaam, heers daar volgens Alexander & Alexander (2004:276) vrede en voorspoed. Politieke en ekonomies rampspoed oorval Israel en Juda as ʼn direkte gevolg van die ineenstorting van die volk se morele waardes en hulle godsdienstige verval (Alexander & Alexander, 2004:276).

Die beoordeling van die volk se godsdiens beoefening is die maatstaf waaraan elke koning van die Noordelike- en Suidelike ryk onderwerp is. Geen van die konings van die Noordelike ryk word in die Koningsboeke positief beoordeel nie, want elkeen van die konings het gesondig (Van Rensburg & Nel, 2009:428). Net soos die konings van die Noordelike Ryk beoordeel is, is die konings van die Suidelike Ryk beoordeel. Van die Suidelike Ryk is slegs Hiskia en Josia positief beoordeel, wat in 2 Konings aan die orde kom. Politieke of militêre sukses het volgens Van Rensburg & Nel (2009:428) nie in die beoordelings getel nie. Wat saak gemaak het was hoe elke koning die egte lojale godsdiens bevorder het. Die boek beklemtoon hoe belangrik dit is dat die wat aan God verbind is op ʼn bepaalde wyse moet lewe. Die gevaar is egter verdeelde lojaliteit.

2.6.3 Die optrede van die konings van Israel en Juda en die ballingskap

Die rede waarom die val van Jerusalem en die ballingskap plaasgevind het, is gesetel in die beoordeling van die konings se rol is die godsdiens. Volgens Van Rensburg & Nel (2009:429) is daar ʼn basiese onderskeid tussen die godsdiens van Israel en die van Juda. In die Noordelike Ryk het Jerobeam I as die eerste koning, onmiddellik sy eie amptelike godsdiens begin reël. Elemente van die Kanaänitiese godsdiens het ingekruip. Gebruike, offerandes en die verskillende simbole by die heiligdomme het by die Kanaänitiese godsdiens ingepas, maar nie by die God van Israel nie (Hill & Walton, 2000:237; Comfort & Elwell; 2001:423).

Met die verowering van die Noordelike Ryk deur die Assiriërs word die saak beklemtoon dat die Here nie met hulle godsdiensbeoefening tevrede was nie (Van Rensburg & Nel, 2009:429; Van der Watt, 2003:308). By die Suidelike Ryk het die tempel die sentrum van die godsdiens uitgemaak. Vreemde elemente het by die tempeldiens ingekruip, maar dit is wel weer reggestel. Wanneer ʼn koning die

tempeldiens tot sy reg laat kom – waar God verkies het dat Sy naam verheerlik moet word – is die koning positief beoordeel. Wanneer ʼn koning wel vir valse godsdienste ruimte laat, maar tog steeds reg leef, is hy voorwaardelik positief beoordeel. Indien ʼn koning ruimte laat vir die Kanaänitiese godsdiens in Jerusalem is hulle net soos die konings van Noordelike Ryk, negatief beoordeel (Hill & Walton, 2000:237).

Die vrae wat volgens Van Rensburg & Nel (2009:429) in 1 Konings gevra word, is:  Het die konings God reg gedien?

 Het hulle die volk op die pad gelei wat God vir hulle gewys het?

 Het hulle alle praktyke en idees van die Kanaänitiese godsdiens uitgeroei of bevorder?

Die uiteindelike oordeel in 1 & 2 Konings is dat die konings wat ongehoorsaam was, verantwoordelik gehou moes word vir die uiteindelike ballingskap. Die groot oorsaak van die ballingskap was nie God nie. Dit is juis die Here wat die koning weer deur die profete tot terugkeer en herstel roep. Die skuld van die ballingskap het by die Israeliete self gelê. Die gebeurtenis met die val van Samaria in 772 vC, die val van Jerusalem in 586 vC en die uiteindelike ballingskap, was nie God se plan nie, dit was God se straf op die veelvoudige ongehoorsaamheid van die volk. God oordeel die volk soos Hy gewaarsku het, maar God se genade is groter as sy oordeel. Hy bly die Verbondsgod wat Sy liefde eindeloos betoon (Van Rensburg & Nel, 2009:430; Van der Watt, 2003:308).

2.6.4 Elia se stryd en God se sorg

Volgens Alexander & Alexander (2004:276) is ʼn belangrike element in die verhaal die opkoms van die profeet Elia. Hy het die opdrag ontvang om die volk terug te roep na God toe. Hy moes ʼn droogte aankondiging waar Hy koning Agab konfronteer met ʼn eenvoudige maar aangrypende boodskap. Die boodskap hou in dat dit vir ʼn paar jaar gaan opbou reën en dou. God het groter mag oor die skepping as die Kanaänitiese god. Met die dramatiese gebeure rondom die droogte wys God dat Hy die God is oor die skepping (Comfort & Elwell; 2001:423).

Volgens Du Toit (1974:163) was die konflik nie tussen ʼn profeet en ʼn koning nie, of selfs tussen die profeet Elia en die klomp profete van Baäl nie. Dit was ʼn direkte konfrontasie tussen die Here - die Verbondsgod van Israel - en Baäl, die natuurgod van die Kanaäniete. Baäl was gesien as die god van storm, reën en vrugbaarheid.

Hy was verantwoordelik vir reën in die regte seisoen. Sodoende was hy die waarborg vir goeie oeste en die gesonde voortbestaan van mens en dier. Omdat daar onder die Israeliete talle boere was het hulle saam met hulle Kanaänitiese bure na Baäl vir reën en vrugbaarheid opgesien (Van Rensburg & Nel, 2009:465).

In die proses het hulle die God van Israel uitgeskuif. Hulle het Hom wel nog geëer as die God van die geskiedenis, maar nie besef dat Hy oor die hele skepping heers nie. Koning Agab se toenadering tot die Fenisiërs en sy vrou Isebel se aktiewe bevordering van die verering van Baäl, het bygedra tot die Here se optrede teen hulle soos Elia vooraf aan Agab oorgedra het. Volgens Alexander & Alexander (2005:292) was Isebel fanaties oor haar godsdiens. Drie jaar lank het sy alles in haar vermoë gedoen om die aanbidding van God in Israel uit te roei. Nou kom Elia – een mens teen 450 Baälprofete – met ʼn uitdaging: Hy stel voor dat die krag van God gemeet moet word teen die van Baäl, sodat daar gesien kan word wie die ware God is. Baäl is magteloos – Baäl kan vuur net so min stuur as wat hy reën kan stuur. Dit is die Here wat “die lewende God” is. Die Here se vuur brand die offer. Die volk roep uit: “Die Here is God! Die Here is God!” Die Baälprofete word doodgemaak. En die droogte kom tot ʼn einde. Uit vrees dat Isebel hom wil laat dood maak, vlug Elia. Volgens Alexander & Alexander (2004:292) het Elia as gevolg van geestelike en liggaamlike uitputting verval in die greep van uitbranding en depressie, angs en teleurstelling. Hy vlug suidwaarts, na die Sinaiwoestyn. Onder die besembos het Elia agtergekom dat God steeds vir hom sorg. God stuur ʼn engel om vir Elia in sy nood te sorg (Comfort & Elwell; 2001:424). Op die berg Horeb waar God Hom aan Moses openbaar het, praat Hy met Elia – nie deur die een of ander skouspel nie, maar deur die stilte. Sy selfbejammering word hanteer en die pad vorentoe uitgestippel. God leer Elia dat hy nie die enigste gehoorsame en getroue persoon is wat oorgebly het nie. God gee vir Elia ʼn nuwe opdrag en nuwe krag om dit uit te voer (Comfort & Elwell; 2001:424).