• No results found

2.16 EKSEGETIESE GEVOLGTREKKINGS UIT 1 KONINGS 19 OOR ELIA SE

2.16.1 Inligting met betrekking tot die oorsake en belewenis van uitbranding vanuit

 Gevoelens van bitterheid en onvergenoegdheid

Elia was verbitterd oor die feit dat die Israeliete volgens hom hulle rug op God gedraai het deur die verbond te verbreek, die altare van die Here af te breek en die profete dood te maak. Nou lyk dit vir hom asof hulle hom ook wil doodmaak, en dink hy dat hy heeltemal alleen oorgebly het. Hierdie gevoelens maak Elia twee keer aan God bekend met presies dieselfde woorde (1 Konings 19:10,14). Omdat Elia hierdie gevoelens van bitterheid en onvergenoegsaamheid ervaar het, maak dit hom volgens Coetzer (2008a:112) meer kwesbaar vir uitbranding en uiteindelik depressie.

 ʼn Fisiese oorsaak

Volgens Coetzer (2008a:114) was fisiese uitputting ʼn verdere oorsaak van Elia se moedeloosheid en uitbranding. Tydens die gebeure in 1 Konings 19:1- 18 en die voorafgaande gebeure het Elia geweldige hoeveelhede fisiese, emosionele en geestelike energie verbruik. Hy was ure op die top van Karmelberg waar hy besig was. Dit was fisiese inspanning om ʼn altaar te bou, ʼn bul te slag en op te sny, hout te kry en die bul op die hout op die altaar uit te lê (1 Konings 18:23-24). Daarna is hy met die Baälprofete Karmelberg af na Kisonspruit toe waar al 450 Baalpriesters doodgemaak is (1 Konings 18:40). Na hierdie slagting het Elia weer Karmelberg op geklim tot heel bo en sewe maal intensief gebid om reën, wat drie jaar droogte sou beëindig (1 Konings 18:42-44). Daarna het hy ongeveer 32 km van Karmelberg tot die stad Jisreël gehardloop (1 Konings 18:46).

Voordat Elia enigsins kans kry om te rus en te eet, bereik Isebel se dreigement hom (1 Konings 19:2). waarna hy vir sy lewe gevlug het. Toe hy in Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat en self ʼn dagreis ver die woestyn ingegaan. Teen die tyd dat hy onder ʼn besembos gaan sit het en gewens het hy gaan dood, het hy ongeveer 160 km te voet afgelê (1 Konings 19:3-4). Coetzer (2008a:115) beskryf in hierdie konteks dat wanneer ʼn persoon sy liggaam oor alle limiete dryf en nie die basiese reëls – ontspan, slaap, voedsel en water – nakom waarvolgens God ʼn mens se liggaam geskep het nie, is so ʼn persoon ʼn besliste kandidaat vir uitbranding en depressie.

 Impulsiewe optrede

Onmiddellik nadat Elia Isebel se doodsdreigement ontvang het vlug hy vreesbevange die woestyn in. Elia neem ʼn impulsiewe besluit en kom eers tot besinning onder die besembos. ʼn Persoon wat uitbranding beleef neem baie maklik impulsiewe besluite en is soms geneig om oorhaastig te reageer, eerder as om hulle omstandighede rasioneel te benader. ʼn Besluit wat op die ingewing van die oomblik geneem word lei dikwels tot terneergedruktheid, depressie en tot latere skuldgevoelens, selfverwyt en selfveragting vanweë hulle ondeurdagte optrede. Dit is egter belangrik dat ʼn persoon na God se wil soek in elke besluit wat hy moet neem en nie impulsief en oorhaastig groot besluite neem nie (Coetzer, 2008a:112).

 Omstandighede belangriker as God

Toe Isebel per boodskapper laat weet dat sy beoog om hom te laat doodmaak op dieselfde wyse as wat Elia die Baälprofete laat doodmaak het, kyk hy vas teen hierdie probleem (1 Konings 19:2). Al sy gedagtes, energie en inspanning is slegs op sy probleem gefokus. Wanneer ʼn persoon paniekbevange na sy omstandighede kyk eerder as na God, maak dit egter die deur oop vir neerslagtigheid. In so ʼn situasie is ʼn mens geneig om impulsiewe, onrealistiese en oorhaastige besluite te neem, dikwels ten koste van die persoon se eie liggaam. As Elia rustig en kalm geraak het in plaas daarvan om paniekerig te raak nadat hy die dreigement van Isebel ontvang het, en as hy na God se wil en leiding gevra het, sou hy waarskynlik sy situasie totaal anders benader het (Coetzer, 2008a:115).

 Na ʼn hoogtepunt van emosionele ervaring volg dikwels ʼn insinking Na ʼn tyd van vele konfrontasie met Agab en die Baälgodsdiens het Elia ʼn geestelike hoogtepunt bereik op die Karmelberg. Volgens Van der Merwe (2006:114) is ʼn persoon soos Elia wat ʼn besondere hoogtepunt na ʼn lang tyd van worsteling en harde werk bereik het, besonder kwesbaar vir hierdie diep emosionele insinking. In plaas daarvan om ʼn geleentheid te hê tot ontspanning en heropbou van sy energie na die konfrontasie met die Baälpriesters, word Elia onmiddellik weer met die volgende probleem gekonfronteer – Isebel se doodsdreigement. Niks is meer uitputtend as wanneer ʼn persoon konstant met probleme gekonfronteer word sonder enige werklike rus nie. Dit het Elia emosioneel, geestelik en fisies op die uiteinde totaal getap. Toe die tweede stressor op Elia afkom was hy eenvoudig emosioneel, fisies en geestelik nie gereed daarvoor nie (Vosloo et al, 1991:191).

 Onrealisties verwagtinge

Volgens Coetzer (2008a:115) hou uitbranding dikwels verband met onrealistiese en onvervulde verwagtinge. Hierdie besondere oorsaak van uitbranding is ook by Elia in 1 Konings 19:1-18 teenwoordig. Eerstens was Elia by die klimaks van sy loopbaan as profeet. Tweedens was hy op ʼn besondere wyse geseënd in alles wat hy aangepak het tot hiertoe. Al wat nou nog moet gebeur, was Isebel se bekering tot die enigste ware God. Dan sou hy kon sê dat hy sy roeping en taak suksesvol voltooi het (Coetzer, 2008a:116). Maar al was die grootste deel van sy taak voltooi, was hy egter nie geestelik waaksaam genoeg nie. Elia se verwagtinge dat Isebel tot inkeer sou kom is nie vervul nie. Die teenoorgestelde vind egter plaas, dit draai alles teen Elia. En omdat sy verwagting nie gerealiseer het nie het dit spoedig oorgegaan in uitbranding en depressie.

Elia val in hierdie moedeloosheid omdat hy sy fisiese en emosionele bronne totaal uitgeput het en hy ook nie gebruik gemaak het van die geestelike bronne tot sy beskikking nie. Elia verwyt God asof God hom in die steek gelaat het en vergeet hoe God die bron was van al sy krag en sukses: (1) God sorg vir Elia langs die Kritspruit deur kraaie te beveel om vir Elia brood en vleis te bring (1 Konings 17:4-7) (2) God gee die wonderwerk by die weduwee waar Elia tuisgegaan het deurdat die weduwee se meel en olie nie opgeraak het nie (1 Konings 17:14). (3) God wys dat Hy die ware God is deur

na Elia se gebed vuur uit die hemel te stuur om die offer te verbrand (1 Konings 18:36-38). (4) God gee na Elia se gebed die reën na die droogte (1 Konings 18:42-45).

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat Elia depressief geraak het omdat hy gekonsentreer het op onrealistiese verwagtinge vir homself eerder as om te fokus op dit wat hy reeds deur die krag van God bereik het. As dit toegepas word op die uitgebrande persoon kom hierdie fout dikwels volgens Van der Merwe (2006:47) voor. Wanneer ʼn persoon wat reeds uitgebrand is se probleme nog verder op hom afkom word God se beloftes van die verlede en dit wat die Here reeds vir en deur hom gedoen het, maklik vergeet. Mens voel dan ook soos Elia: ʼn mislukking en deur God in die steek gelaat. Maar God kom wys telkens weer sy diensknegte dat Hy besonder bemoeienis met hulle het. Hy kom tel hulle weer op uit die diepte van depressie en uitbranding en wys hulle weer Sy belofte vir die toekoms - soos vir Elia onder die besembos (Vosloo et al, 1991:191).

 Ontvlugting en isolasie

Vanweë Elia se uitbranding en depressie onttrek en sonder hy homself af. Hy laat sy slaaf in Berseba agter en vlug alleen verder die woestyn in om homself te isoleer (1 Konings 19:3). Volgens Coetzer (2008a:118) gee hy sy ondersteuningsnetwerk prys op die stadium wanneer hy hulle die nodigste het. Dit is kenmerklik van ʼn uitgebrande persoon wat voel dat hy niks meer het om te gee nie. Die uitgebrande persoon trek homself terug en konfronteer homself slegs met sy eie negatiewe gedagtewêreld. ʼn Ondersteunings- netwerk is uiters noodsaaklik in sodanige omstandighede.

 Swak selfbeeld

Elia sê in 1 Konings 19:4: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek

is niks beter as my voorvaders nie.” Elia vergelyk homself met sy voorouers

en beskou homself as ʼn mislukking. Hy gebruik die laagste punt wat hy bereik het as die maatstaf om sy waarde en bruikbaarheid vir God te bepaal. Paulus skryf in 2 Korintiërs 12:9 dat God se krag juis tot volle werking kom wanneer hy swak is (Vosloo et al, 1991:191).

2.16.2 Insigte met betrekking tot die behandeling van uitbranding vanuit 1