• No results found

3.4 MOONTLIKE OORSAKE VAN UITBRANDING BY NAGRAADSE

3.4.3 Versnelde veranderingstempo in die samelewing as oorsaak van

Volgens Toffler (1971:19) sal dit in die toekoms al moeiliker word om by te bly met die geweldige tempo van verandering. Baie mense sal nie die vermoë hê om konstant by hierdie veranderinge aan te pas en dit te hanteer nie. Toffler (1971:19) noem hierdie verskynsel die “toekoms skok” en klassifiseer dit as die belangrikste siekte van die toekoms. Weens hierdie geweldige veranderingstempo sal mense meer en meer gedisoriënteerd voel en die onvermoë beleef om aan te pas (Toffler, 1971:20; Minnaar 1991:2). Volgens Grobbelaar (2007:54) is chroniese stres in vandag se lewe reeds aan die orde van die dag. Die tempo waarvolgens ons lewe versnel elke jaar en die konstante gejaagdheid in die kontemporêre lewenstyl word geassosieer met chroniese opwekking van die veg-of-vlug-sindroom.

Volgens Grobbelaar (2007:59) dwing stressors ʼn persoon om te reageer en voortdurend aan te pas by dinge. Hierdie aanpassing is oor die algemeen nie skadelik nie, behalwe as daar te veel aanpassings in ʼn te kort periode plaasvind, veral betreffende dit wat ongewens en onbeheerbaar is. In vandag se lewe het stres geweldig toegeneem: in effek verkeer die meeste mense vier en twintig uur per dag, sesdae ʼn week in die veg-of-vlug-situasie.

In ons tyd sal ons totale nuwe sosiale verskynsels sien. ʼn Stroom van verandering met so ʼn geweldige tempo dat dit ons daaglikse lewe beïnvloed en ʼn effek sal het op

die wyse hoe ons oor die wêreld rondom ons voel. Ons sal nie langer dieselfde dink oor die lewe as wat die mense in die verlede daaroor gedink het nie. Vanweë tegnologiese veranderinge, die “inligtingsontploffing”, veranderende waardestelsels en ʼn versnelde lewenstempo, word die mens aan groter eise blootgestel (Toffler, 1971:25; Minnaar, 1991:2).

Volgens Minnaar (1991:2) word daar geskat dat ongeveer 70% van alle pasiënte wat dokters gaan spreek, ʼn simptoom openbaar wat met stres verband hou. In die VSA was daar tussen 1950 en 1973 ʼn toename van 152% ten opsigte van mans en 302% ten opsigte van vroue wat die frekwensie van afwesigheid van werk as gevolg van psigosomatiese siektes betref. Volgens Minnaar (1991:3) is die volgende drie farmakologiese produkte heel bo-aan die lys van apteekverkope: Valium, ʼn kalmeermiddel; Inderal, voorgeskryf vir hipertensie; en Tagmet, voorgeskryf vir maagsere. Hieruit blyk dit dat stres ʼn baie aktuele en dringende probleem vir die moderne mens geword het. Volgens Stone (2008:21) ervaar mense vandag meer depressie as in die verlede. Hierdie verhoogde ervaring van depressie het drie tot tien keer verhoog sedert die einde van die tweede wêreldoorlog.

Volgens Muller (2001:7) was globale kennis in die laaste dekade van die 20ste eeu reeds besig om elke twee jaar te verdubbel. Dit beteken dat die magdom van kennis en inligting waaroor aan die begin van die 1990’s beskik is, in die jaar 2030 net een persent van die wêreld se kennis sal uitmaak. Muller (2001:11) is van mening dat die wêreld en tegnologie so vinnig verander en daar deesdae soveel nuwighede is dat dit ons letterlik die toekoms “in trek”, in plaas daarvan dat ons deur die verlede “gestoot word.” Die wêreld is so vinnig besig om te verander dat ons sukkel om by te bly. Dit het fisies onmoontlik geraak om by te bly.

Volgens Muller (2001:12) is dit belangrik om te besef dat die tempo van vernuwing steeds vinniger word. Die eerste groot “revolusies” in die mens se geskiedenis was die landbou- revolusie sowat 10 000 jaar gelede toe diere mak gemaak en grassade selektief verbou is tot “graan” (Toffler, 1971:21). Die volgende groot revolusie was die Industriële Revolusie, toe moderne produksiemetodes begin het. In die twintigste eeu is dit gevolg deur die inligtingsrevolusie wat deur die rekenaar aan die gang gesit is. Ons het nog nie eers die hoogtepunt van die inligtingsrevolusie beleef nie, en reeds is ʼn enorme golf van verandering, die biologiese revolusie, besig om momentum te kry (Muller, 2001:12).

Maar hoe weet ons dat die veranderingstempo versnel? Muller (2001:12) beskryf die versnelling van die veranderingstempo soos volg: Stel ʼn mens jou die laaste 3000 jaar se geskiedenis voor as ʼn horlosie waarvan elke minuut 50 jaar se geskiedenis verteenwoordig, dan het al die bekende elemente wat die moderne wêreld help skep het, eers nege minute gelede hul verskyning gemaak het. Volgens Muller (2001:12) sou dit op hierdie tydskaal beteken dat die Gutenberg se drukpers (15de eeu), wat die Renaissance help inlui het die gebeurtenis is wat nege minute gelede plaasgevind het. Dit sal beteken dat dit nog ses minute geduur het voordat die volgende tegnologiese gebeurtenis plaasgevind het met die uitvinding van die telegraaf en die stoomlokomotief. Dit was die begin van die Industriële Revolusie van die agtiende eeu (Muller, 2001:12).

Twee minute gelede het die telefoon, die radio en die vliegtuig hul verskyning gemaak en was ons al aan die begin van die twintigste eeu. ʼn Minuut gelede het die rolprent ontstaan, is die radio uitgevind en was ons al aan die begin van die twintigste eeu. Tien sekondes gelede het televisie beskikbaar geword, terwyl die rekenaar eers vyf sekondes gelede sy verskyning gemaak. Dit alles is ʼn sekonde gelede gevolg deur die kommunikasiesatelliet en kort op sy hakke die laserstraal (Muller, 2001:13):

Diagram 3.8: Voorstelling van veranderingstempo (Muller, 2001:14)

Dit is duidelik dat uitbranding die nommer een gevolg is van hierdie veranderingstempo. Hierdie veranderingstempo het onder andere die volgende stresfaktore tot gevolg: ʼn stygende behoefde aan verbeterde lewenstandaarde, druk tot latere aftrede en verhoogde inligtingsoorlading:

 Stygende lewenstandaarde: Volgens Muller (2001:24) het die geweldige tempo van verandering in die wêreld tot gevolg dat die lewenstandaarde net so vinnig styg. Ons insette om aan hierdie standaarde te kan voldoen moet ontsettend hoog wees. Die gevolg is meer werk en langer ure, vir ʼn hoër inkomste. 12 6 9 3 10 11 8 7 4 5 2 1

Drukpers – 9 min gelede

Telegraaf en lokomotief – 3 min gelede Telefoon, radio en vliegtuig – 2 min gelede

Klankfilm – 1 min gelede

Gebeur NOU:  Genetiese manipulasie  Nanotegnologie Laser – gedeelte van ʼn sekonde gelede

Kommunikasiesatelliete – 1 sekonde gelede Rekenaar – 5 sekondes gelede

Televisie – 10 sekondes gelede Verandering is nie ʼn nuwe verskynsel nie,

maar die huidige tempo van veranderinge versnel

Die horlosie verteenwoordig 3000 jaar se geskiedenis (een minuut ongeveer 50 jaar)

Hiervolgens het geen saakmakende ontwikkelings voor ongeveer 9 minute gelede plaasgevind nie!

 Later aftrede: In Suid-Afrika het ons reeds te doen met ʼn tekort aan opgeleide persone. Die persone wat wel opgelei is vir ʼn bepaalde beroep moet langer in daardie beroep werksaam wees en dit het ʼn later aftrede tot gevolg. Mense met bepaalde vaardighede werk nog lank na hulle bestemde tyd van aftrede. Muller (2001:40) maak die opmerking dat binne ʼn dekade bekwame mense eers op 75 jaar sal aftree. Volgens Muller (2001:23) gaan kennis een van die skaarste en duurste kommoditeite van die toekoms word. Kennis is nie meer soos in die Middeleeue, toe kennis deur enige iemand vrylik in besit geneem kon word nie. Vandag beteken kennis: inligting wat tot ʼn verkoopbare produk omvorm is. Kennis is geld werd en nuwe kennis word toenemend beskerm deur internasionale konvensies en wetgewing (Muller, 2001:23) (Sien ook Papalia, et al 2007:271-272).

Die konstante en vinnige ontwikkeling in die wêreld sal ook aan die ander kant die volgende tot gevolg hê: Die vermoë om lewenslank te studeer, gaan die deurslaggewende belang vir elkeen wees. Voortdurend sal nuwe vaardighede en kennis aangeleer moet word om by hierdie spoedige veranderinge te kan aanpas. Toffler (1970:318) noem hierdie verskynsel ʼn inligtingsoorlading of “information overload.”

Volgens Coetzee (2007:33) emeriteer meer predikante as wat studente in die GKSA afstudeer. Daar sal in die tydperk 2007 – 2017 bykans 65 predikante teen die ouderdom van 65 aftree. Volgens Coetzee (2007:33) is die huidige tendens dat predikante voor die ouderdom van 65 emeriteer (wat volgens Grobbelaar (2007:109) en Badenhorst & Fleischmann (2008:40) grotendeels toegeskryf kan word aan ʼn oormate stres). Dit kan beteken dat heelwat meer as 65 predikante in die genoemde tydperk sal aftree. Volgens Coetzee (2007:33) sal ʼn getal van 80 predikante wat emeriteer ʼn akkurater skatting wees. Coetzee (2007:34) bereken dat daar teen 2017 ʼn tekort van tussen 92 en 123 predikante sal wees in die GKSA. Aan hierdie aanvraag sal studente wat afstudeer geensins kan voldoen nie. Om te voorsien aan die tekort, sal predikante wat nog in staat is om na die bereiking van die ouderdom van 65 te werk, in die bediening moet bly.

Krüger (2008:29) wys egter ook daarop dat gemeentes reeds dikwels van geëmeriteerde predikante gebruik maak om hulp te verleen. Dit is veral ʼn verskynsel wat op die platteland gevind word. Krüger (2008:29) maak ook die

opmerking dat gemeentes meer van die dienste van geëmeriteerde predikante – as hul steeds die krag en vermoë daarvoor het – gebruik moet maak omdat daar so ʼn geweldige tekort aan predikante is. Dit moet egter slegs as tydelike oplossing van die probleem beskou word (Sien ook Papalia,

et al 2007:271-272).

 Inligtingsoorlading: Volgens Toffler (1971:312) en Papalia, et al (2008:408) het die geweldige tempo van verandering nie alleen ʼn uitwerking op die fisiese (siekte) toestande nie, maar is die snelle pas van verandering ook ʼn aanval op die psige van die mens. Net soos die liggaam ingee onder omgewings oorstimulasie, sal die “verstand” van die mens in sy besluitnemingsproses ingee wanneer dit oorlaai word. As gevolg van die geweldige inspanning om by die veranderingstempo aan te pas, kan die fisiese en geestelike gesondheid van die persone wat moeilik by veranderende situasies aanpas, uitbranding tot gevolg sal hê.

Volgens Toffler (1971:312) en Papalia, et al (2008:409) kan suksesvolle aanpassing alleenlik plaasvind wanneer die vlak van stimulus – die hoeveelheid verandering – nie langdurig of te hoog is nie. ʼn Persoon kan ʼn situasie slegs hanteer wanneer die omgewing ʼn sekere vlak van stres produseer. ʼn Persoon sal natuurlik nie op sy beste presteer wanneer hy vir ʼn te lang periode oorlaai word met stres nie. Uitbranding is daarom die respons op oorstimulasie. Uitbranding vind plaas wanneer ʼn individu gedwing word om bo sy aangepasde vlak te funksioneer. Volgens Coetzer (2008a:15) lei ʼn onvermoë om aan te pas tot die belewenis van uitbranding. Namate daar die toename in verandering in ʼn individu se omgewing is, begin die nodige fisiese vermoë of psigiese veerkragtigheid om bepaalde eise te hanteer, ontbreek. Uitbranding is dus die onvermoë om in ʼn bepaalde situasie te kan oorleef (Sien ook Papalia, et al 2007:435-438).

Phillips (2007:114) wys daarop dat vrees uit twee gesigspunte kom: (1) vrees vir die onbekende, en (2) vrees vir die toekoms. ʼn Vrees vir die onbekende ontstaan uit die feit dat daar nie genoegsame waarborge is nie. Verandering is ʼn groot lewensfaktor in vandag se samelewing. Volgens Collins (2005:77) is angs al “die amptelike emosie van ons tyd, die basis van alle neuroses” en die “mees deurdringende sielkundige fenomeen van ons tyd” genoem. Stres is so oud soos die mensdom self, maar die gekompliseerdheid en pas van die moderne lewe het ons van die teenwoordigheid daarvan bewus gemaak en waarskynlik die invloed daarvan verhoog.

Veranderinge van woonplek, werkgewer of skool behaal gewoonlik heelwat punte op die stresskaal (Bylaag C). Studies toon aan dat indien daar te veel stres punte akkumuleer gedurende die loop van een jaar, die kans groot is dat jy beduidende fisiese en emosionele probleme kan ontwikkel (Coetzer, 2008a:87). Van Jaarsveld (2006:120) en Coetzer (2008a:87) maak gebruik van die Holmes-Rahe stres skaal (Bylaag C). Hierdie stres skaal identifiseer die intensiteit van stresfaktore wat deur ʼn individue ervaar is gedurende die voorafgaande jaar. ʼn Totaal van 200 of meer strespunte op hierdie skaal kan dui op die aanwesigheid of waarskynlikheid van uitbranding.

Volgens Coetzer (2005:19) impliseer afskaling – soos wat die predikantekorps verklein - dat ʼn bepaalde predikant se produktiwiteit moet vermeerder, met ander woorde dat al minder mense al meer werk moet doen. Onderwysers sit met te groot klasse, verpleegsters moet meer pasiënte hanteer. Waar verskeie gemeentes hulle eie predikant gehad het, moet hulle nou ʼn predikant deel met ʼn ander gemeente. In sommige gevalle moet ʼn predikant drie tot vier gemeentes bedien.

3.5 SIMPTOME VAN UITBRANDING TOEGEPAS OP NAGRAADSE TEOLOGIESE