• No results found

3.3.1 ʼn Definisie van uitbranding

Volgens Van der Merwe (2006:138) is uitbranding ʼn siekte van die wat werklik toegewyd is. Waar moegheid slegs ʼn simptoom is, is uitbranding egter veel meer. Uitbranding is die ingee-fase na ʼn langtermyn- of intensiewe stres waar die liggaam se reserwes uitgeput is en ʼn fisiese, emosionele en geestelike ineenstorting plaasgevind het. Uitbranding is daarom iets wat jou hele wese - fisiese (liggaamlike), emosionele/intellektuele en geestelike beïnvloed.

Uitbranding kan volgens Fourie (2008:97) gedefinieer word as ʼn sindroom van emosionele uitputting, depersonalisasie en verlaagde persoonlike prestasie en funksionering. ʼn Patroon van emosionele oorlading en gevolglik emosionele uitputting lê aan die wortel van uitbranding. Coetzer (2007:59) definieer uitbranding as ʼn sindroom wat voorkom wanneer buitensporige aansprake gemaak word op ʼn persoon se energie, krag of bronne. Minirth, et al (1986:14) & Schwab et al (1986:14) beskryf uitbranding as ʼn psigologiese proses waartydens ʼn persoon ʼn reeks negatiewe emosies ervaar: verlies aan entoesiasme, energie, idealisme, perspektief en doelgerigtheid. Van der Merwe (2006:148) definieer uitbranding as ʼn fisiologiese sindroom as gevolg van emosionele uitputting, depersonalisasie en verminderde persoonlike vervulling, wat kan voorkom by individue wat in een of ander hoedanigheid met ander mense werk.

Barboza & Beresin 2007:225) definieer uitbranding soos volg: In Engels en Afrikaans beteken die term “burnout” of uitbranding om iets te verwoes deur dit te verbrand met vuur. Dit is ʼn werkverwante sindroom wat as kern ʼn kroniese beroepstres-respons het wat negatiewe gevolge vir die individu se professionele, gesins en sosiale lewe inhou. Volgens Barboza & Beresin (2007:226) is uitbranding egter spesifiek ʼn gevaar in die helpende professies, omdat die vermoë om ʼn verskil te maak dikwels eers na jare se ondervinding en opleiding kom. Daarom kan daar ook gepraat word van uitbranding wanneer daar na nagraadse teologiese studente verwys word. Alhoewel uitbranding ʼn multidimensionele impak het, blyk dit volgens Van der Merwe (2006:138) hoofsaaklik ʼn emosionele probleem te wees. Van der Merwe (2006:141) wys daarop dat, wanneer daar na uitbranding gekyk word, emosionele eise van ʼn beroep swaarder weeg as die werksituasie self. Volgens Slivar (2001:22) dra ʼn lang tydperk van betrokkenheid met ander mense in situasies wat emosioneel veeleisend is ook by tot emosionele, fisiese en geestelik uitputting. Die konsep uitbranding word

gewoonlik geassosieer met die werkplek en werkverwante stres (Sien ook Papalia, et

al 2007:288-290).

Volgens Kulemoglu & Keskin (2006:37) speel uitbranding ʼn direkte rol by die ontevredenheid binne ʼn persoon se werksituasie. Uitbranding word gekenmerk deur ʼn tekort aan entoesiasme en negatiwiteit in die werksopset, kroniese moegheid, lae energievlakke en sinisme (Weiten, 2005:535). Čubrilo-Turek et al (2006:131) definieer uitbranding as ʼn tipe professionele stres as gevolg van sosiale interaksie tussen persone wat hulp verskaf en die persone wat hulp ontvang. Čubrilo-Turek et

al (2006:131) en Ogresta et al (2008:365) noem as die hoof karaktereienskappe van

uitbranding as onder andere: negatiewe emosies, kroniese moegheid, depressie, skeptisisme, die onvermoë om te konsentreer, angs, slaaploosheid, geïrriteerdheid, ʼn tekort aan energie. ʼn Persoon het homself aanvanklik volledig toegewy aan sy taak maar heel dikwels ook ooreis om aan die emosionele eise van ander te voldoen. Vir die doeleindes van die studie word volstaan met die definisie van Sandström et al (2005:271) wat uitbranding soos volg omskryf:

“Uitbranding verwys na ʼn sindroom wat veroorsaak word deur kroniese stres . Dit

vind plaas wanneer ʼn stimulus so intens geword het, dat ʼn persoon dit nie langer kan hanteer nie.”

Die rede vir die besluit om hierdie definisie te aanvaar is omdat Sandström et al (2005:271) die kern oorsaak van uitbranding omskryf (“kroniese stres”) asook die gevolg van uitbranding insluit (“stimulus wat so intens geword het, dat ʼn persoon dit

nie langer kan hanteer nie”).

Fourie (2008:97) vat die essensie van ekstreme uitbranding soos volg saam:

 Demoralisasie: ʼn Geloof dat jy nie meer effektief as teologiese student en toekomstige predikant kan funksioneer nie.

 Depersonalisasie: Die hantering van jouself en ander op ʼn onpersoonlike wyse.

 Afgetrokkenheid: Onttrekking van verantwoordelikhede.

 Distansiëring: Die vermyding van sosiale en interpersoonlike kontakte:  Om op te gee: ʼn Gevoel van verslaan wees en ʼn opgee van enige hoop om

3.3.2 Onderskeid tussen stres ʼn uitbranding

Volgens Fourie (2008:97) moet uitbranding van stres onderskei word. Cordes & Dougherty (1993:625) wys daarop dat daar sekere ooreenkomste tussen uitbranding en stres, maar ook talle verskille. Waarom moet daar onderskei word tussen stres en uitbranding? Volgens Coetzer (2007:32) identifiseer veral drie belangrike redes:

 Die oorsake van stres en uitbranding verskil besonder sterk;

 Die oplossings vir uitbranding is ook heel verskillend van die wat van toepassing is op stres;

 Onderskeid tussen uitbranding en stres dra by tot meer effektiewe voorkomingsmeganismes.

Volgens Cordes & Dougherty (1993:625) word probleme wat verband hou met stres soms foutiewelik verwar met uitbranding. So word probleme wat verband hou met depressie ook soms verkeerdelik aan uitbranding gekoppel. Dit kompliseer onnodiglik die probleem omdat die probleem verkeerdelik omskryf en benader word. Dit lei tot onnodige verwarring terwyl die student eintlik behandeling vir depressie moet ontvang.

3.3.2.1 Stres

Grobbelaar (2007:54) is van mening dat die begrip “stres” verwys na enige situasie wat kan veroorsaak dat aanpassings gemaak moet word en/of omstandighede moet verander. Louw en Edwards (2003:574) definieer stres as die fisiologiese en psigiese reaksie van die mens op probleme of gebeure. Volgens Grobbelaar (2007:54) word akute stres slegs vir ʼn paar minute na ʼn stresvolle ervaring beleef, waartydens die liggaam verskeie veranderinge ondergaan om te veg of te vlug. Indien die stresvolle situasie van korte duur is en verdwyn, is dit moontlik vir die liggaam om weer terug te keer na normaal. As die stres egter kronies teenwoordig is sal die liggaam sy vermoë om aan te pas verloor en uitgeput raak.

Om die negatiewe effek van stres te meet kan die lewenskrisisse skaal van Holmes en Rahe gebruik word (Van Jaarsveld, 2003:120-121). Hierdie skaal gebruik verskillende stresvolle lewensgebeurtenisse en koppel dit aan ʼn graad tot hoe ʼn mate ʼn persoon die situasie as stresvol beleef (sien Bylaag C vir ʼn uiteensetting van hierdie skaal). Alhoewel daar ʼn onderskeid gemaak word, moet daar in gedagte gehou word dat kroniese stres uitbranding tot gevolg het en dat emosie ʼn komponent van elk is (Van der Merwe, 2006:148, Sandström et al, 2005:271). Stres en

uitbranding kan daarom onderskei word maar nie geskei word nie (Sien ook Papalia,

et al 2007:288-289).

3.3.2.2 Uitbranding

Volgens Fourie (2008:98) word uitbranding die erosie van die siel genoem, want dit gaan gepaard met die “verloor van vertroue in jou eie kapasiteit om ʼn verskil te maak

in jou roeping.”

Barboza & Beresin (2007:226) is van mening dat uitbranding kwalitatief anders as stres is. Uitbranding kan intree terwyl die student eintlik oppad is na vernietiging as gevolg van oormatige stres. Die student word gevolglik uit die stresvolle omgewing gedwing. deurdat uitbranding die student se tempo onmiddellik vertraag en tot traagheid en gevoelens van onbetrokkenheid lei (Sien ook Papalia, et al 2007:285 & 290).

Uitbranding het fisiologiese, gedragsmatige, psigologiese en geestelike kenmerke 1. Fisiologies gaan dit gepaard met uitputting, afmatting, irritasie,

spysverteringsprobleme, hoofpyn, rugpyn en slaaploosheid.

2. Die gedragsmatige kenmerke bestaan uit inter- en intra-persoonlike kenmerke. Interpersoonlike gedragsverandering gaan gepaard met onttrekking en isolasie van kollegas en geliefdes, laat kom vir klas, verveling, geïrriteerd wees met medestudente, ensovoorts. Intra-persoonlike kenmerke is om ongewone lang ure te werk sonder om veel te bereik, besluitneming raak al moeiliker, entoesiasme word vervang met rigiedheid.

3. Psigologiese kenmerke is depressie, ʼn negatiewe selfkonsep, negatiewe houding ten opsigte van werk en die lewe in die algemeen. Die negatiewe houding kom ook tot uiting teenoor mense in die algemeen. Skuldgevoelens en selfbejammering kan afgewissel word met gevoelens van “alvermoë.” Die persoon mag meen hy is tot alles in staat.

4. Geestelik gaan dit gepaard met ʼn verlies van geloof, sin en betekenis. Die student se persoonlike verhouding met God kwyn en kan gesien word in ʼn gebrekkige gebedslewe. Die ineenstorting van ʼn uitgebrande persoon se waardestelsel skep ʼn verdere krisis (Fourie, 2008:98).

Tabel 3.1: Onderskeid tussen uitbranding en stres (Van der Merwe, 2006:139; Coetzer, 2007:36-37).

Uitbranding Stres

Benadeel die vermoë om te kan aanhou omgee.

Stres benadeel aanpasbaarheidvermoëns.

Te veel nood en verantwoordelikheide. Behels die oorgebruik van vaardighede.

Te veel veranderinge, nuwighede of oorgange wat gemaak moet word. Veroorsaak fisiese en emosionele uitputting,

ʼn sinisme, ontnugtering en oneffektiwiteit.

Veroorsaak verlies in persepsie, opsies, regressie, moegheid, depressie en siekte. ʼn Verdedigingsmeganisme wat gekenmerk

word deur onttrekking.

Stres word gekenmerk deur oormatige betrokkenheid.

Emosies word afgestomp. Emosies word ooraktief.

Emosionele skade is primêr. Fisiese skade is primêr.

Uitputting as gevolg van uitbranding het ʼn invloed op motivering en dryfkrag

(emosionele energie).

Die uitputting van stres verminder fisiese energie.

Uitbranding produseer demoralisasie. Stres produseer disintegrasie.

ʼn Verlies aan ideale en hoop. ʼn Verlies aan fisiese energie of brandstof. Depressie wat gepaardgaan met uitbranding

is slegs ʼn simptoom en nie die probleem self nie en word veroorsaak deur hartseer as gevolg van verlore ideale en -hoop.

Depressie as gevolg van stres word veroorsaak deur adrenalienuitputting asook die liggaam se behoefte aan selfbeskerming.

Produseer ʼn gevoel van hulpeloosheid en hopeloosheid.

Stres produseer ʼn gevoel van dringendheid en hiperaktiwiteit.

Uitbranding produseer paranoia,

depersonalisasie en losmaking/onttrekking.

Produseer paniek, vrese en angsverwante versteurings.

Uitbranding laat ʼn persoon voel die lewe is nie die moeite werd nie.

Stres het nie net emosionele gevolge nie maar stel mens ook fisies in gevaar.

3.3.3 Meting van uitbranding

Die Maslach-uitbrandingsinventaris (MBI) is volgens Barboza & Beresin (2007:257) die mees algemene gestandaardiseerde meetinstrument vir uitbranding. Die MBI maak gebruik van die volgende drie sub-skale (vergelyk Van der Merwe, 2006:143):

1. Emosionele uitputting: Hier gaan dit om emosionele dreinering en die

oorskryding van emosionele bronne as gevolg van werkseise. By uitbranding is dit hierdie subskaal wat die meeste prominent na vore kom. Dit veroorsaak die geneigdheid om jouself te distansieer. Die

sleuteldeterminante in emosionele uitputting is werksoorlading, rollekonflik en rolonduidelikheid (Cordes & Dougherty, 1993:626; Densten, 2001:833).

2. Depersonalisering: Hier kom die tweede subskaal na vore.

Depersonalisering is die fase van uitbranding wat gewoonlik na emosionele uitputting voorkom en die interpersoonlike komponent van uitbranding voorstel. Dit is die onpersoonlike, ongevoelige, siniese, negatiewe of koue en oormatig gedistansieerde reaksie teenoor ander waarmee die uitgebrande persoon te doen kry (Barboza & Beresin, 2007:227).

3. Tekort aan persoonlike vervulling: Hier tree die derde subskaal in

werking. Dit is die verminderde gevoelens van bevoegdheid en produktiwiteit. ʼn Negatiewe siening tree in betreffende die persoon (student) se vermoë om binne werksverband te kan presteer en ʼn verskil te kan maak. Suksesse word ook nie erken nie. Die eerste twee subskale kan bydra tot ʼn gevoel van ʼn tekort aan persoonlike vervulling, terwyl hierdie subskaal weer op sy beurt die ander twee skale kan voed (Cordes & Dougherty, 1993:626; Cordes & Dougherty (1993:624).

3.4 MOONTLIKE OORSAKE VAN UITBRANDING BY NAGRAADSE