• No results found

3.4 MOONTLIKE OORSAKE VAN UITBRANDING BY NAGRAADSE

3.4.2 Die manier waarop ʼn probleem kan ontwikkeling tot uitbranding

3.4.2.1 Die vervulling van behoeftes en uitbranding

Die eerste konsep in die Crabb model is behoeftes. Hy baseer sy model op Maslow se hiërargie van behoeftes. Hierdie benadering is van mening dat, om ʼn werklik vervulde lewe te lei, dit nodig is om soveel as moontlik van ʼn persoon se behoeftes op die verskillende vlakke te bevredig (Retief, 2004:47). Omdat uitbranding ʼn student in sy hele wese raak – fisies, emosioneel en geestelik – kan uitbranding direk aan die vervulling of tekort aan vervulling van die mens se behoeftes verbind word. Dudley & Dudley (1994:44) wys daarop dat teologiese studente geweldig verander gedurende hul studies ten opsigte van areas soos emosionele stabiliteit, hul behoefte vir die bediening en hul passie vir mense. Minirth, et al (1986:16) maak die opmerking dat die belewenis van uitbranding die totale persoon aantas. Weiten (2004:535) onderskei uitbranding op drie vlakke, naamlik: emosionele, fisiese en geestelike vlak. Omdat die student ʼn fisiese, emosionele en geestelike wese is, het die student ook fisiese, emosionele en geestelike behoeftes (Kingma, 2000:23):

 Fisiese behoeftes behels die liggaamlike behoeftes wat die mens nodig het om fisies te oorleef, om met ander woorde jou liggaam aan die lewe te hou.

Dit is daarom die mees basiese behoefte (Crabb, 1977:114; Retief, 2004:48). Die volgende fisiese simptome kan dan met uitbranding geassosieer word: Slaaploosheid of meer as gewoonlik slaap; verlies aan seksuele belangstelling; maagsere; permanente gevoelens van uitputting; rugpyn; hoofpyne asook migraines; nekpyn; prikkelbaarheid (geïrriteerdheid); lusteloosheid; verlies aan eetlus of ʼn onversadigbare eetlus spysverteringsprobleme; hoë bloeddruk; die onvermoë om te konsentreer; nagmerries/herhalende drome; maklik skrik; ongeluksvatbaarheid; word snags dikwels wakker; rondvroetel; meer as gewoonlik rook; verwarde gedagtes; gebruik van kalmeermiddels/slaappille; vra oormatig uitstel vir werk; paniekerigheid; hartkloppings; voortdurende verkoues vanweë verlaagde immuniteit; hartaanvalle en beroertes (in ernstige gevalle van uitbranding) (Minnaar, 1991:4-6; Van Jaarsveld, 2003:115).

Volgens Stone (2008:76) kan die meeste mense dit hanteer om ʼn nag of twee sonder slaap klaar te kom. Maar ʼn lang tydperk van slaaploosheid veroorsaak verwarring, geïrriteerdheid, woede uitbarstings, senuweeagtigheid en ander simptome wat die belewenis van uitbranding kan vererger. Volgens Stone (2008:76) kan die volgende vorms van slaaploosheid voorkom tydens die belewenis van uitbranding:

 Die persoon word vroeër in die oggend wakker, byvoorbeeld 4 uur en bly dan wakker tot opstaantyd.

 Die persoon mag dit moeilik vind om aan die slaap te raak of slegs ʼn rustelose vorm van slaap ervaar waarna hy sal opstaan en voel asof hy nooit geslaap het nie.

 Die persoon mag amper die hele tyd slaap (behalwe in die nag).

Wanneer daar ʼn eis aan ʼn persoon gestel word, reageer sy liggaam as geheel daarop. Organe soos die brein, die kardiovaskulêre sisteem, die spysverteringsisteem asook die spiersisteem (Minnaar, 1991:4). Volgens Coetzer (2008a:13) lei spanning en stres wat nie hanteer word nie in sommige gevalle tot die oormatige gebruik van alkohol en ander chemiese middels. Die vermindering van energie en gepaardgaande uitputting wat simptomaties is van die oormatige gebruik van chemiese middels, is geneig om die reeds aanwesige gevoelens van uitbranding verder te versleg (Weiten & Lloyd, 2000:80).

 Emosionele behoeftes behels aspekte soos aanvaarding van jouself as geheel, aanvaarding deur ander, eie waarde, selfaktualisering ens. Daar is twee nodige insette om ʼn mens se emosionele behoeftes te vervul. Die eerste hiervan is ʼn behoefte aan eiewaarde: Om ʼn doel te hê, om belangrik te voel, om gewaardeer te voel, om doeltreffend te wees in jou werk, betekenis te hê, om ʼn impak te maak, die behoefte om te behoort, om sinvolle verhoudings te hê en by ander mense betrokke te wees (Retief, 2004:48). Die tweede is ʼn behoefte aan sekuriteit: Onvoorwaardelike en konstante liefde asook permanente aanvaarding deur ander (Crabb, 1977:61).

Emosionele behoeftes sluit volgens Retief (2004:48) aspekte in soos die begeerte na respek, selfagting, die begeerte om te presteer, selfversekering en om toereikend binne die persoon se eie lewensomstandighede te funksioneer. Wat ʼn persoon se verhoudings met ander mense betref, word daar gestreef na aandag, erkenning en waardigheid. Coetzer (2008b:33) wys daarop dat studente ook ʼn groot behoefte aan goedkeuring het. Dit maak dit egter moeilik om enigiemand teleur te stel. Volgens Retief (2004:48) is een van die belangrikste elemente hier die behoefte aan selfverwesenliking. Dit verwys na die student se behoefte om homself te ontwikkel tot sy volle potensiaal.

Volgens Minirth, et al (1986:16) is die persoon wat dan uitbranding beleef ontnugter en voel as persoon en as werker na ʼn mislukking. Volgens Weiten & Lloyd (2000:80) behels emosionele uitbranding gevoelens van hulpeloosheid, hopeloosheid en om vasgevang te voel. Asook tekens van woede, sinisme, negatiwiteit en geïrriteerdheid kom na vore. Daar kan frustrasie wees as gevolg van innerlike twyfel, wat weer tot depressie lei. Volgens Coetzer (2008a:12) is nog ʼn algemene simptoom ʼn valse skuldgevoel omdat daar gepoog is om oormatig verantwoordelik of toegewy te wees. Dit gaan weer gepaard met die gevoel dat ʼn sekere taak nie goed genoeg of perfek genoeg voltooi is nie. Die verstandelike moegheid manifesteer in hoë vlakke van negatiewe gedrag teenoor jouself, jou werk en lewe in die algemeen.

Volgens Willcock et al (2004:357) is die volgende simptome ook teenwoordig by emosionele uitbranding: apatie, konsentrasieprobleme, verminderde eiewaarde, gevoelens van teleurstelling, disoriëntering of verwarring,

selfmoordgedagtes, ʼn gevoel van onaangename afwagting, ʼn onbeheerbare humeur, angstigheid, ʼn afname in belangstelling, fyngevoeligheid of liggeraaktheid, onnodige herkontrolering van werk en besluitloosheid. Depressie is geneig om dan na vore te kom aangesien die persoon in hom/haarself teleurgestel is omdat hy/sy nie meer in staat is om dieselfde vlakke van effektiwiteit te handhaaf as vroeër nie (Minnaar; 1991:4; Coetzer; 2008:12).

 Geestelike behoeftes kom veral in die uitlewing van godsdiens te sprake - dat die mens ʼn verhouding met God en Jesus Christus moet hê. Sodra daar nie meer aan hierdie behoeftes voldoen word nie, of dit afgeskeep word deur byvoorbeeld ʼn te groot werklading, kan dit uitbranding tot gevolg hê. Dudley & Dudley (1994:44) wys daarop dat stres en angs ʼn negatiewe effek het op ʼn persoon se geloof en hul liefde vir God. Uitbranding en hoë vlakke van stres het ʼn negatiewe uitwerking op ʼn nagraadse teologiese student se toewyding en roeping. ʼn Student sal weer positief reageer namate hy die vermoë ontwikkel om bepaalde stresvolle situasies te hanteer en namate daar geleentheid is om geestelik te groei en te ontwikkel (Dudley & Dudley, 1994:44).

Simptome soos onttrekking, geïrriteerdheid, en ander wyses om die stres lading te kan hanteer word gesoek – alkoholmisbruik, om weg te hardloop, om sosiaal te onttrek, ens. (Crabb, 1977:115). Aangesien ʼn persoon wat uitbranding beleef fisies en emosioneel uitgeput is, is dit vir hulle moeilik om aan die toekoms te dink, hulle onttrek hulle van enige interpersoonlike intimiteit. Aangesien hulle emosioneel gedreineer is, raak dit uiteindelik ook hulle geestelike lewe (Coetzer, 2008a:10).

So ervaar sommige persone tesame met uitbranding ook geestelike uitbranding. ʼn Persoon wat geestelik uitgebrand is kan geneig wees om perspektief te verloor en kan ook nie meer bepaal waar hulle eie grense lê nie. Die gevoel dat God magteloos is en dat hulle self die enigste persoon is wat iets in hulle situasie kan hanteer, word al meer by die persoon wat op pad is na uitbranding. Minirth, et al (1986:20) maak die opmerking dat persone wat geestelik uitgeput is bewustelik of onbewustelik weier om op God se krag te vertrou en probeer om op hulle eie hulle situasie te hanteer (Minnaar, 1991:6; Collins, 2005:83).

Bogenoemde gedrag lei weer volgens Halonen & Santrock (1996:508) tot simptome van skeptisisme, en ʼn verlaagde self-doeltreffendheid, ʼn begeerte om te onttrek, verlaagde gevoel van sukses en ʼn verlaagde selfbeeld. Coetzer (2008a:14) sluit hierby aan deur uit te wys dat stilswye en onttrekking hier na vore kan kom. Dit voel vir die persoon of hulle in ʼn geestelike vakuum is waar dit voorkom asof daar niemand of niks is wat kan help nie. Met verloop van tyd kom gevoelens na vore om moed op te gee en dan voel dit asof ander en God ook moed opgegee het met hulle.

Retief (2004:46) wys die effek van uitbranding op Maslow se hiërargie van behoeftes. Die onderstande diagram kan as samevatting van die bogenoemde behoeftes dien:

Diagram 3.5: Maslow se hiërargie van behoeftes en uitbranding (Retief, 2004:46).