• No results found

3.6 GEVOLGE VAN UITBRANDING TOEGEPAS OP NAGRAADSE TEOLOGIESE

3.6.2 Direkte gevolge van uitbranding

3.6.2.6 Uitbranding is traumaties

Volgens Maartens (2006:11) is uitbranding traumaties. Dit is een van die mees traumatiese dinge wat ʼn geroepe, begaafde, toegewyde, ambisieuse, gemotiveerde mens kan oorkom. Met die bostaande gevolge (3.6.2.1 – 3.6.2.5) in gedagte, kan ingesien word dat die verskillende gevolge van uitbranding weer ʼn traumatiese ervaring tot gevolg sal hê. Dit tref die huwelik en gesin van die uitgebrande individu met dieselfde geweld as enige ander trauma. Uitbranding is volgens Maartens (2006:11) ʼn besondere tragiese vorm van trauma. Dit tas ʼn persoon tot in die kern

van sy menswees aan: Leierskap, geloof, kreatiwiteit, lewensvreugde, visionêre en analitiese denke, verhoudings, die gesinslewe, en die voorheen dinamiese persoon se selfvertroue word intens geraak. Uitbranding is volgens Maartens (2006:11) so tragies omdat dit voorkombaar is. Uitbranding kan nalatigheidstrauma of ʼn trauma van onkunde genoem word.

Volgens Retief (2004:22) bly die gevolge van trauma ʼn persoon lank by, selfs nadat die gebeure wat tot die trauma aanleiding gegee het verby is. ʼn Trauma sluit altyd volgens Wright (2006:70) een of ander vorm van verlies in. Al het die persoon nie iets fisies verloor nie, is daar ʼn verlies van vorige oortuigings, ʼn verlies van vreugde uit dit wat jy doen en beskouings wat nou bevraagteken of verwerp word. Een van die ergste nagevolge van ʼn traumatiese belewenis is dat dit ʼn mens se hele lewe en Godbeskouing skud en die persoon se selfkonsep dikwels baie verander. Dit ruk ʼn persoon tot in die kern van jou wese en jy word met baie diep vrae aangaande jou eie oortuigings en aannames gekonfronteer. Retief (2004:27) wys egter daarop dat ʼn persoon geleidelik weer tot ‘normaal’ terugkeer (sien figuur 3.13). ʼn Deel van hierdie normaliteit sluit gewoonlik ʼn mate van groter bewustheid van die kwesbaarheid van die lewe in. Volgens Wright (2006:71) is daar mense wat na erge trauma totaal beheer oor hulle self en die lewe verloor en Posttraumatiese Stresversteuring ontwikkel.

Retief (2004:29) wys op die belangrikheid vir mense (veral teologiese studente wat aan uitbranding ly) om te verstaan wat emosioneel en biologies met hul tydens ʼn traumatiese ervaring gebeur. In die onderstaande diagram gee Retief (2004:29-31) ʼn skematiese voorstel van die proses van verwerking van trauma. Die toon die verloop van die vlak van funksionering van ʼn persoon na die belewing van trauma:

Diagram 3.13 : Die normale verloop van ʼn trauma (Retief, 2004:30).

Gestel (a) is die gewone, alledaagse vlak van funksionering. Die persoon verrig sy normale lewenstake met gemak en hanteer sy omstandighede as niks buitengewoon nie. Op die grafiek toon die lyn (b) hoe ʼn persoon na ʼn traumatiese ervaring reageer. Die eerste fase (sien diagram 3.13) – wat op die grafiek voorgestel word as die impakfase – beskryf ʼn persoon se reaksie net na die gebeurtenis. Dis asof die persoon tot stilstand geruk word. Die getraumatiseerde persoon se funksionering daal vir ʼn kort tyd tot onder (a). Mens ervaar ʼn gevoel van ongeloof oor die situasie. Dit is tydens hierdie fase waar daar spesifieke veranderinge in ʼn mens se brein plaasvind (vergelyk hier met Tabel 3.2 - Breingolf aktiwiteit). Die normale aard van breingolwe verander van beta na theta. Beta-golwe val binne die band 14-30Hz. Die mens is by sy bewussyn en funksioneer ‘normaal’. Theta-golwe val binne die band 8- 13Hz. Die mens is ‘in ʼn voorbewussyn’, dus funksioneer hy nie werklik by sy volle bewussyn nie. Delta-golwe val binne die band 4-7Hz. Die persoon is nou ‘in’ sy onderbewussyn (ʼn Meting onder 4Hz dui daarop dat die mens in ʼn koma is).

Wanneer ʼn mens se brein in die theta-toestand is, funksioneer dit asof dinge stadiger gebeur. Die brein se vermoë om ervarings en waarnemings logies te kategoriseer word beïnvloed. Dit is die rede waarom dit soms kort na ʼn traumatiese gebeurtenis vir ʼn persoon moeilik is om al die besonderhede te onthou of in ʼn logiese volgorde te onthou. Die tweede fase (sien diagram 3.14) – die sogenaamde reaksiefase – volg

wanneer jou byniere groot hoeveelhede adrenalien begin afskei en die persoon ʼn veg-, vlug of vries (en soms ʼn ‘opgee-’) reaksie toon. Tydens hierdie fase vind ʼn mens soms dat ʼn persoon dinge doen wat normaalweg nie fisies moontlik is nie. Dit mag vir ʼn kort tydjie akuut wees, die persoon is ‘gereed om amper enigiets te doen.’ Die funksionering van die brein tydens trauma word deur Retief (2004:32) & Wright (2006:70) op die volgende wyse voorgestel.

Figuur: 3.14 Die brein en trauma (Retief, 2004:32).

Volgens Grobbelaar (2007:68) veroorsaak kroniese stres en uitbranding dat te veel neuro-oordragstowwe soos dopamien, noradrenalien en efedrien (ook adrenalien) vrygestel word, wat verreikende nadelige gevolge vir die hele liggaam kan inhou. Die bostaande diagram wys dat die amigdala boodskappe oor die waargenome traumatiese gebeure aan die res van die brein stuur. Volgens Retief (2004:33) sit dit die sogenaamde hipofise-pituïtêre-bynier-driehoek aan die gang. Groot hoeveelhede streshormone word deur die byniere afgeskei. Hierdie groot hoeveelhede van streshormone – kortisol – wat afgeskei word oorspoel dan die brein. Die hipokampus – wat ʼn rol speel by geheue – en die pituïtêre adrenale klier het reseptore vir die streshormone wat die geheuefunksie van die hipokampus belemmer en dus die persoon se vermoë om te onthou beïnvloed.

Na ʼn tyd – minute of ure, dikwels selfs langer – beweeg die persoon na die derde fase (sien diagram 3.14) – die Terugtrek- of Vermydingfase. ʼn Ander streshormoon, kortisol, word saam met die adrenalien deur die byniere afgeskei. Die persoon probeer die negatiewe dinge (persone, plekke, werk, ens.) wat tot sy trouma gelei het vermy. Volgens Retief (2004:36) vermy slagoffers dikwels ook die geleentheid om hulp te soek. Die langtermyngevolge hiervan is egter uiters negatief. Skuldgevoelens

en persepsies hoop op oor wat die persoon kon gedoen het om sy negatiewe situasie te kon voorkom.

Retief (2004:38) wys daarop dat dit geweldig uitputtend is om vir ʼn lang tydperk in hierdie derde fase te verkeer. Dit het ʼn negatiewe effek op geestelike en liggaamlike vlak, deurdat streshormoonvlakke styg en hoog bly. Soms word mense volgens Retief (2004:38) in so ʼn mate uitgeput dat hulle heeltemal onderpresteer en amper nie krag het vir normale aktiwiteite nie. As die persoon nie weer na die normale vlak van funksionering terugkeer nie kan dit aanleiding gee dat die persoon, soos diagram 3.13 aantoon, aan Posttraumatiese Stresversteuring (PTSV) ly. Dit is tydens hierdie fase waar heling, aanpassing en aanvaarding moeilik plaasvind.

Wanneer ʼn persoon volgens Retief (2004:40) die vierde fase (sien diagram 3.14) wat bekend staan as die Integrasiefase ingaan, vervaag die ooraktiewe reaksie. Die persoon keer geleidelik terug na normale funksionering. Die streshormoonvlakke, liggaams- en breinfunksionering keer terug na normaal. Maar as ʼn persoon volgens Retief (2004:42) na ʼn tyd nie terugkeer na normale funksionering nie hak die persoon vas in fase drie. Die persoon bly onttrek en raak uitgeput – wat uitbranding kan vererger – en het depressie en ʼn ineenstorting tot gevolg. Omdat so veel emosionele energie in die trauma vasgevang is, kan daar nie gesonde emosionele verbintenisse maak nie (Sien ook Wright, 2006:71-72).

3.7 ’N SAMEVATTENDE GEVOLGTREKKING RAKENDE DIE OORSAKE EN GEVOLGE VAN UITBRANDING IN DIE KONTEKS VAN NAGRAADSE TEOLOGIESE STUDENTE

Uit die bostaande ondersoek vanuit ʼn multidissiplinêre oogpunt blyk dit dat uitbranding iets is wat die teologiese student in sy hele wese, fisies (liggaamlik), emosioneel/intellektueel en geestelik beïnvloed. Faktore wat uitbranding by teologiese studente sowel as latere predikante tot gevolg kan hê, is: ʼn oorlading van werk, ʼn gebrek aan beheer oor akademiese werk, ʼn tekort aan beloning (emosioneel of finansieel) vir ʼn nagraadse teologiese student se bydrae, ʼn gebrek aan onderlinge verbondenheid en gemeenskap, die verlies van werkvreugde, ʼn gebrek aan persoonlike verhoudings, die tekortkoming van die voorbereiding van die “persoon” van die leraar vir die bediening, gebrekkige opleiding betreffende insig in die belangrikste emosionele sisteme, die onvermoë om gesonde grense te handhaaf, ens. Die grootste bydraende faktor by uitbranding by teologiese studente is wanneer bepaalde wanpersepsies oor uitbranding en om ʼn geroepene te wees, waarvan valse

skuldgevoelens die grootste faktor is, bestaan. Die drang om bepaalde behoeftes te vervul en ʼn geweldige veranderingstempo is verdere oorsake van uitbranding by teologiese studente en latere predikante. Stygende lewenstandaarde, latere aftrede asook inligtingsoorlading is oorsake van uitbranding weens hierdie versnelde veranderingstempo.

Omdat teologiese studente oor die algemeen geweldige werkslading het, moet hulle hierdie stressors op ʼn holistiese wyse leer bestuur. Studente kan op attent gemaak word om simptome van uitbranding op ʼn vroeë stadium te identifiseer en dit dan doeltreffend te bestuur en te voorkom. Tydens die teologiese studie moet daar meer gefokus word op die persoonlike geestelike groei en vorming van die student. Dit is belangrik vir opleidingsinstansies soos die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika om studente te identifiseer wat moontlik simptome van uitbranding beleef en hulle daarvoor toerus om die oorsake, simptome en gevolge van uitbranding ook self te identifiseer. ʼn Deeglike begrip van die verskynsel en die proses of siklus van uitbranding kan gevolglik help om die slaggate van hierdie vernietigende en aftakelend probleem te vermy. Studente behoort byvoorbeeld te weet hoe om oormatige stres (oorlading) te herken, leer om belangrike grense te handhaaf en om aksie te neem om die nodige aanpassings en veranderinge te maak.

Hierdie multidissiplinêre ondersoek maak dit vanuit ʼn psigologiese oogpunt duidelik dat daar ʼn onderskeid gemaak moet word tussen stres en uitbranding en dat hierdie onderskeid in gedagte gehou moet word by die behandeling van die uitgebrande nagraadse teologiese student. Vanuit die psigologie word ʼn waardevol meetinstrument gegee waarvolgens uitbranding gemeet kan word. Hiervoor word gebruik gemaak van die MBI wat van die volgende drie sub-skale gebruik maak om uitbranding doeltreffend te meet: Emosionele uitputting, rolonduidelikheid, depersonalisering en ʼn tekort aan persoonlike vervulling. Verder word die studie rondom die oorsake van uitbranding belig vanuit die psigologie deur te kyk hoe bepaalde persoonlike faktore die nagraadse teologiese student se kans op uitbranding te verhoog. So word daar onderskeid gemaak tussen Tipe A en Tipe B- gedrag. Probleme soos uitbranding kan volgens die psigologie ook ontwikkel weens ʼn tekort aan die vervulling van behoeftes. Omdat uitbranding ʼn student in sy hele wese raak – fisies, emosioneel en geestelik – kan uitbranding direk aan die vervulling of tekort aan vervulling van die mens se behoeftes verbind word. So kan vrees vir mislukking ook bydra tot uitbranding.

As direkte gevolge van uitbranding het hierdie multidissiplinêre studie geïdentifiseer dat uitbranding tot depressie aanleiding kan gee asook geweldig traumaties wees vir die nagraadse teologiese student. Verder dat uitbranding ook ʼn groot impak op die nagraadse teologiese student se fisiese gesondheid kan hê. Kroniese stres en uitbranding kan beskadiging of wanfunksionering van enige deel van die liggaam veroorsaak. Stres en uitbranding kan oor ʼn lang tydperk kumuleer en sal die immuunstelsel sodanig benadeel dat die liggaam later onbevoeg raak om die geringste spanning te hanteer. So kan uitbranding onder meer hartsiektes, beroerte, spysverteringsprobleem, gewigsprobleme, diabetes en pyn vererger.

In die lig van 1 Konings 19:1-18 rondom die Elia se ervaring van uitbranding en God se sorgende ontferming oor Elia is dit duidelik dat uitbranding deur God nie as sonde gesien word nie. God sien ook nie sy dienaar se uitbranding as swakheid of die verloning van sy roeping nie. God ontferm Hom oor sy brose dienaar en lei hom tot herstel. Adams (1970:105) se standpunt dat simptome wat psigopatologies van aard is, direk aan sonde toegeskryf kan word asook sy standpunt dat persoon nie deur middel van Psigoterapie genees kan word nie omdat hulle bloot net “siek-gelowiges” is vanweë hulle sonde (vgl. ook Collins, 2005:11) dra in die lig van 1 Konings 19:1-18 en die voorafgaande studie oor oorsake en gevolge van uitbranding nie enige meriete nie.

Die bespreking van die oorsake en gevolge van uitbranding in hierdie hoofstuk, het ʼn duidelike toepassingsvlak in die konteks van die nagraadse teologiese student se situasie. Daarom gaan in hoofstuk 4 ondersoek ingestel word na wat die huidige belewing en persepsie van uitbranding by nagraadse teologiese studente van die GKSA is deur ʼn empiriese studie te doen.

HOOFSTUK 4

DIE BELEWENISSE EN PERSEPSIES VAN

UITBRANDING BY NAGRAADSE TEOLOGIESE

STUDENTE VAN DIE GEREFORMEERDE KERKE IN

SUID-AFRIKA – ’N EMPIRIESE STUDIE

4.1 INLEIDENDE OPMERKINGS

In hoofstuk 3 is vasgestel wat die moontlike oorsake en gevolge van uitbranding by die genoemde studente mag wees in die lig van bestaande navorsing. Daar is pertinent gekonsentreer op die oorsake en simptome van uitbranding en wat die implikasies hiervan vir nagraadse teologiese studente is. Verder is besin oor watter gevolge onbehandelde uitbranding moontlik op die nagraadse teologiese student sal kan hê. In hoofstuk 3 is daar ook uitgewys watter moontlike wanpersepsies oor uitbranding bestaan. Die vraag wat in hierdie hoofstuk beantwoord gaan word, is: Wat is die huidige persepsies en belewing van uitbranding by nagraadse teologiese studente van die GKSA?