• No results found

AANPASSINGSPATRONE 1990-1995: DENKAANPASSINGS IN DIE NUWE POLITIEKE MILIEU EN VOORTSPRUITENDE AKSIES

4.3. EKSTERNE DENKAANPASSINGS EN VOORTSPRUITENDE AKSIES

4.3.1. Verhouding met die regering en die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap

Die filosoof André du Toit is van mening dat die vorige regering se aandrang dat mag essensieel was om die Afrikaner se kulturele oorlewing te verseker, swart nasionaliste sal aanmoedig om die Afrikanerkultuur as hulle vyand te beskou. Volgens hom moes die Afrikanerkultuur dus geskei word van Afrikanermag ten einde te oorleef (Duvenhage 2016:124). Du Toit se gevolgtrekking is verder dat dit nie verbasend is dat veral konserwatiewe Afrikaners hulle na die magsverlies van die 1990’s kon skik nie. Vir hom is die Afrikaners ʼn “redelik magtelose minderheidsgroep wat sy weg deur kompromieë moet vind” (Duvenhage 2016:124). In hierdie opsig verskil hy van Giliomee wat, volgens Du Toit, die Nasionale Party se “onderhandelde magsoorgawe” sien as ʼn manier om te oorleef (Duvenhage 2016:124).

Hoe die akademici ook al oor die situasie geoordeel het, die ATKV was bewus van die feit dat hy ter wille van oorlewing dalk meer as in die verlede sy samewerking aan die nuwe regering en die breër algemene Suid-Afrikaanse publiek sou moes gee. Hierdie gesindheid is op tweërlei wyse gedemonstreer: eerstens uitsprake deur ATKV-lede en die ATKV-

leierskap, en tweedens deur praktiese uitreikaksies in die vorm van doelbewuste bemarkingsaksies en samewerking met die regering, hetsy direk of deur middel van ondersteunende aksies.

Dit was dus nie verbasend dat die ATKV-leierskap die bestaande goeie verhouding met die destydse staatspresident, mnr FW de Klerk, kort na die politieke aankondigings van Februarie 1990 doelbewus probeer verstewig het nie. Hy was die genooide gasspreker by die ATKV-kongres wat tydens die ATKV se 60-jarige herdenking vanaf 16 tot 18 Augustus 1990 op ATKV-Hartenbos gehou is. Die staatspresident se teenwoordigheid het ʼn sterk boodskap van ATKV-samewerking met die regering uitgestuur.

Pres De Klerk verwys in sy toespraak na die belangrike en blywende bakens wat die ATKV langs die pad van die Afrikaner se kulturele ontwikkeling opgerig het. Hy verwys na hoe na aan almal se hart en ook vir hom persoonlik die Afrikaanse kultuur lê. Hy verwys dan na die ATKV se benadering en strewe, wat vertroue gee in ʼn tyd van kommer in sekere kringe oor die toekoms van Afrikaans en die Afrikaanse kultuur. De Klerk vergelyk ook die Afrikaanse taalkultuur met ʼn blom wat so eie aan ons land is soos ons Afrikaanse bodem. “Of dit sal gedy sal grotendeels van ons self afhang – hoe ons hierdie plant vertroetel, hoe ons by ons ander landgenote ʼn liefde daarvoor aankweek en die besef van hoe dit hulle ook kan verryk” (ATKV-Kongresjaarboek 1991:19).

Vir hom is Afrikaans op grond van statistiek die belangrikste brugbouer en kommunikasiemiddel is Suid-Afrika. Hy verwys ook na die brug wat Afrikaans bou tussen die Afrika- en Europese vastelande en dat dit aanklank vind by die groter Germaanse kultuurgemeenskap. Pres De Klerk verwys ook na die belang van epiese gebeure soos die volksplanting aan die Kaap, die Groot Trek, Bloedrivier en die Vryheidsoorloë, wat hom deel van die wêreldgeskiedenis maak en nie uitgewis kan word nie. Hy beklemtoon die belang van die groot persentasie (nagenoeg 70%) belydende Christene in Suid-Afrika, en die bindende faktor wat dit is ten opsigte van die mense van verskillende herkomste in die land.

Hy maak die stelling dat die negatiewe druk op Afrikaans mettertyd sal afneem soos die onderhandelinge oor ʼn nuwe staatkundige bedeling op dreef kom. Hy beklemtoon egter weer elkeen se verantwoordelikheid om Afrikaans se toekoms te verseker. Sy gesindheid teenoor die ATKV word bevestig in sy afsluitingswoorde: “Daar sal ruimte wees vir organisasies soos die ATKV in die nuwe Suid-Afrika om ʼn groter rol te speel as in enige

tydvak van ons geskiedenis. Die ATKV het die regte benadering” (ATKV-Kongresjaarboek 1991:19-20).

Wat die breër Suid-Afrikaanse en internasionale publiek betref, het die ATKV Afrikaans op verskeie wyses doelbewus positief bemark. Reeds in 1991 is ʼn sogenaamde “Trefbrosjure”, bekend as 100 redes om Afrikaans te praat, opgestel wat feite oor Afrikaans op ʼn loslitmanier aan die leser bied (Die ATKV in ʼn Neutedop 1980-2005, ongepubliseerde ATKV-werksdokument 2005:3). Die publikasies Huisgenoot, Rapport,

You, Finansies en Tegniek, Financial Mail en Insig het gehelp met die verspreiding.

Hierdie pamflet was so gewild dat dit ook aangevra is deur verskeie kultuurorganisasies en selfs ambassades in die buiteland. ʼn TV-reeks genaamd Saampraat is op die CCV-kanaal aangebied met die doel om die beeld van die Afrikaner onder die jeug en veral anderskleurige gemeenskappe te bevorder, asook om elementêre praatkennis van Afrikaans aan niemoedertaalsprekers oor te dra. Na afloop van die program is ʼn kompetisievraag gevra en ’n plakker aan elke deelnemer gestuur (ATKV-Kongresjaarboek 1991/92:36).

ʼn Verdere ondersteunende funksie om Afrikaans te bevorder, is aan die RGN gebied vir hulle verslag Geleenthede/bedreigings en kragte/swakhede betreffende die onderrig van

Afrikaans in die sekondêre skool. Verder is Nkosi Sikelel’ iAfrika in Afrikaans vertaal deur

prof Hans du Plessis van die ATKV-Skryfskool. Hierdie vertaling het bevestig dat Afrikaans oor ʼn wye front gebruik kon word. Hulp is ook aan universiteite gegee met die oog op bevorderingsaksies, byvoorbeeld hulp aan ʼn Zoeloesprekende student vir ʼn MA-studie in Afrikaans, asook die aanbied van ʼn Afrikaansdag by die Vista-kampus – ʼn universiteit vir swart studente waarvan die meeste studente se moedertaal uiteraard nie Afrikaans was nie. Verder het daar ook skakeling met persone en instansies oor die gebruik van Afrikaans plaasgevind. Geïdentifiseerde nie-Afrikaanssprekende persone is ook gelukgewens met hulle gebruik van Afrikaans. Mense is op hierdie wyse gemotiveer om Afrikaans te gebruik en daar is gepoog om op grondvlak ʼn positiewe klimaat vir die uitdra van Afrikaans te skep (ATKV-Kongresjaarboek 1991/92:36). Ook op akademiese gebied is daar uitgereik na bruin mense, wat op daardie stadium in groot getalle aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) studeer het. Mnr. E Saal was in 1991/92 die eerste ontvanger van die ATKV-beurs vir ʼn student wat in die vakgebied Afrikaans aan die UWK studeer het (ATKV-Kongresjaarboek 1991/92:36).

In 1993/94 fasiliteer die ATKV ’n Nasionale Kultuurforum bestaande uit ’n groot aantal kultuurgroepe wat op gereelde basis sake van kulturele belang bespreek. Hieruit het ’n

sogenaamde “Multikulturele Dag” met 28 verskillende kultuurgroepe op 15 Mei 1993 gespruit. Die voorwaarde vir deelname was dat eg tradisionele items aangebied moes word. Onder meer is Swazi- en Zoeloedansers, asook kore en groepe uit die Indiërgemeenskap betrek (ATKV-Kongresjaarboek 1993/94:37).

Die ATKV was ook ten volle betrokke by die nasionale Vredesveldtog wat gedurende Augustus 1993 momentum gekry het. Die ATKV het vir hierdie doel kantoorruimte beskikbaar gestel vanwaar die veldtog bedryf kon word. ’n Personeellid, mnr. Giep van Zyl, is vir ses maande gesekondeer om saam met die personeel wat deur die Vredesekretariaat aangestel is om die Vredesveldtog te bedryf, te werk. Bykans 70% van die veldtog se bedrywighede is uiteindelik uit dié kantoor bedryf. Die ATKV het verantwoordelikheid geneem vir die vertaling en beskikbaarstelling van die Vredesveldtog- materiaal wat op 2 September 1993 gebruik is. Dit het die volgende ingesluit:

• Vertaling, opneem en verspreiding van die vredeslied wat deur al die radiostasies gebruik is.

• Vertaling van die vredesverklaring in Afrikaans, asook in nege inheemse tale. • Die beskikbaarstelling van alle persmateriaal in Afrikaans.

• Die beskikbaarstelling en verspreiding van Afrikaanse vredesplakkers vir motors. • Die beskikbaarstelling van personeel en kantoorruimte as verspreidingspunte vir

vlae, knopies, T-hemde en plakkers.

In die 1993/94-verslagjaar is die ATKV ook verteenwoordig by die Uitsaai-Inisiatief vir Demokrasie-opvoeding (DEBI). Hierdie inisiatief het alle kiesersopleiding deur middel van die SAUK se drie TV-kanale en 21 radiodienste geïnisieer en gekoördineer. ’n ATKV-personeellid, me Estelle Stoop, is na DEBI gesekondeer om met die sekretariaat behulpsaam te wees.

• ’n Verdere inisiatief in 1993/94 was hulp aan ander kultuurgroepe om Afrikaanse dae aan te bied. Op hierdie wyse is Promat-Kollege in Springs en twee streekskampusse van Vista Universiteit betrek. ’n Bundel oor die toekoms van Afrikaans is gedruk en tydens hierdie geleenthede as lesings aangebied. Daar is ook ’n kursus in hierdie verband deur die streekkantoor van die Departement van Onderwys en Opleiding aangebied.

Dan is daar ook saamgewerk met die Departement van Buitelandse Sake met opleiding van kadette voor hulle na buitelandse sendings uitgeplaas is. Die ATKV se rol in hierdie verband was om die nodige agtergrond rondom die Suid-Afrikaanse kultuur in die breë te gee, asook oor die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse kuns en musiek. Persone wat die ATKV verteenwoordig het, was ’n personeellid, Ben Ferreira, asook die kunstenaars Jannie du Toit, Christa Steyn en ’n ATKV-lid, Koos van der Watt. Die departement het hulle hoë waardering vir die ATKV se betrokkenheid uitgespreek (ATKV-Kongresjaarboek 1993/94:37).

In 1994/95 is die Nasionale Kultuurforum deur minister Ben Ngubane, Minister van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, toegespreek oor kulturele regte in die nuwe Suid- Afrika. Op 24 September 1995 is weer eens ʼn multikulturele fees aangebied en ʼn groot aantal groepe het opgetree. Die wens is uitgespreek dat dié fees as gereelde instelling op Erfenisdag aanbied sou word (ATKV-Kongresjaarboek 1994/95:36).

In sy jaarverslag oor ATKV-aktiwiteite gedurende 1994/95 verwys die uitvoerende direkteur na voorleggings wat deur ATKV-personeel en -direksielede in die openbare domein gedoen is. Die doel hiervan was om die saak van die ATKV te dien deur sy stem op verskeie gebiede en plekke waar dit nodig is om in belang van die Afrikaner en Afrikaans op te tree, te laat hoor (ATKV-Kongresjaarboek 1994/95:36). Voorleggings is aan die volgende instansies gedoen:

PANSAT (Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad)

• ACTAG (Nasionale Kuns- en Kultuurtaakgroepe) in verband met die toekomstige kuns- en kultuurbeleid in Suid-Afrika

Voorleggings rakende die toekomstige taalbeleid van die verskillende provinsies • Die Onafhanklike Uitsaaiowerheid (OUO/UDA) aangaande die taalbeleid van die

SAUK

Die Film- en Publikasiewetsontwerp

Die Grondwetskrywende Komitee in verband met die nuwe grondwet Die Women’s National Coalition

Op internasionale vlak het die ATKV besoek ontvang van die Vlaamse Minister van Kultuur, die Direkteur van Kultuur van Madagaskar asook die Nederlandse Minister van Welsyn. Dr. Zak de Beer, aangewese Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland, het ook ʼn besoek aan die ATKV gebring, wat as ʼn gebaar van samewerking van regeringskant geïnterpreteer is (ATKV-Kongresjaarboek 1994/95:36).

Die ATKV se taalbeplanningstrategie was veral gemik op nie-Afrikaanssprekendes. Dit is in 1990 opgestel as spesiale projek om onder meer geletterdheid te bevorder. ʼn Taalgeletterdheidsprogram is onder meer oor Afrikaanse TV aangebied. Die ATKV- Taaldiens, wat reeds in 1986 ingestel is, het gepoog om aan die behoefte aan praktiese Afrikaanse klasse onder nie-Afrikaanssprekendes te voldoen. Die publiek kon gebruik maak van ʼn telefoniese taalnavraediens, vertaling en redigering. Die Taaldiens het mense met spesifieke vertalingsbehoeftes ook na die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut verwys. Daar is ook jaarliks met die Terminologiediens van Suid-Afrika geskakel en tussen 150 en 300 oproepe oor taalnavrae is per maand ontvang (ATKV-Kongresjaarboek 1990/91:42; 1992/93:36-37).

Een van die mees veelseggende pogings om na die nuwe maghebbers in die regering uit te reik, was toe die nuwe staatspresident, mnr Nelson Mandela, genooi is om die ATKV- kongres van Augustus 1995 toe te spreek. Mnr. Mandela raak in sy toespraak ʼn aantal onderwerpe aan wat spreek van sy gebalanseerde siening van die bestaande posisie en strewes van die ATKV en die Afrikaanse kultuurgroep. Hy noem die volgende:

• Die ATKV inspireer omdat sy mense moue oprol en doen. • Die Afrikaners se liefde vir Afrikaans is opvallend.

• Die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur is in die verlede soms ten koste van ander tale en kulture in die land gedoen.

• Apartheid het vervreemding tussen Suid-Afrikaners in die hand gewerk.

• Sy ondervinding is dat daar baie raakpunte is tussen die anti-koloniale stryd van die Afrikaner en die bevrydingstryd van die meerderheid Suid-Afrikaners.

• Apartheid het nie net oor rassisme gegaan nie, maar ook oor die strewe na vryheid as ʼn essensiële kenmerk van die Afrikaner se aard.

• Hy glo dat die Afrikaanse taal en kultuur al hoe meer ʼn belangrike bevrydende bydrae in Suid-Afrika moet lewer.

• Hy is beïndruk met die ATKV se sienswyse dat die verskillende kultuurgroepe mekaar deur skakeling en kommunikasie moet leer ken.

• Die ATKV se kundigheid wat opgedoen is met al sy kultuurbevorderende projekte kan ook van groot waarde wees vir die bevordering van die kultuurstrewes van die ander groepe in die land, en wel op ʼn basis van gelyke samewerking.

• Die beskerming van al die tale in die land is die Regering van Nasionale Eenheid se onwrikbare beleid hieroor en ʼn praktiese balans moet gevind word wat erkenning en respek aan al die tale van die land sal verleen. Hiervoor vra hy die ATKV se hulp om met groothartigheid nie net eise te stel nie, want dit kan Afrikaans benadeel. • Afrikaans het uit die bodem van Suid-Afrika gegroei en is gevoed deur die tale en

kulture in Suid-Afrika op soek na ʼn eie identiteit.

• Tydens die rugby Wêreldbekertoernooi van 1995 het gewone mense ʼn voorbeeld aan die politieke en kultuurleiers gestel wat volwassenheid, verdraagsaamheid en versoening betref. Hulle het bewys dat daar ruimte is vir ʼn verskeidenheid kultuurbelewenisse en -simbole – solank as wat een kultuur nie probeer om aan bevoorregting, rassisme en chauvinisme vas te hou nie. Ons land se grootste rykdom is ons mense van verskillende tale en kulture.

• Pres Mandela beklemtoon dat veranderinge aan name, monumente en simbole tot op daardie stadium altyd met verantwoordelikheid plaasgevind het en met onderhandelinge gepaardgegaan het (ATKV-Kongresjaarboek 1996:9-10).

ʼn Interessante opmerking van die president was dat hy verbaas was om te hoor van die ATKV se kommer oor die sogenaamde stereotipering van die Afrikaanssprekende in die oë van ander kultuurgroepe. Volgens hom kan nie alles wat in die land verkeerd geloop het voor die deur van die Afrikaner gelê word nie. Daar hoef dus nie ʼn heksejag teen sekere kultuurgroepe gevrees te word nie. Hy beklemtoon ook sy verbintenis tot nasiebou en versoening, maar dat dit nie goedkoop versoening moet wees nie. Die onderdrukking van die verlede moet nie ontken word nie. Dan kan dit reggestel word en daar kan saam vorentoe beweeg word. Hy herhaal in sy toespraak dat dit nooit weer mag gebeur dat een Suid-Afrikaner teen ʼn ander diskrimineer, die ander onderdruk, uitbuit of minag nie. Suid- Afrika behoort aan al sy mense. Volgens Mandela is almal, ook die ATKV, verbind tot die Heropbou- en Ontwikkelingsplan. Eiebelang moet ondergeskik gestel word aan die groter

belang van Suid-Afrika. Deur hande te vat en saam te werk, kan ʼn gesonde en geïntegreerde gemeenskap opgebou word (ATKV-Kongresjaarboek 1996:9-10).

Uit bogenoemde is dit duidelik dat die ATKV in die oorgangsjare na die nuwe politieke bedeling homself beskikbaar gestel het om deel te wees van die pogings tot nasiebou. Dit is, soos reeds aangetoon, al tydens die kongresse van 1993 en 1994 in soveel woorde deur die voorsitter van die direksie in die vooruitsig gestel. Terugskouend is dit egter ook belangrik om, vanuit ʼn wetenskaplike hoek, perspektief te behou in terme van die verskillende interpretasies van die begrip nasiebou. Het die ATKV dit slegs geïnterpreteer as welwillendheid en samewerking teenoor die nuwe politieke heersers of het dit vir hom ook oor die behoud van sy kultuurregte as minderheidgroep gegaan? Was hy dalk naïef in sy opregte bedoelings, want die ANC-regering se interpretasie van die begrip nasiebou het mettertyd al hoe meer begin verskil van wat die ATKV vanuit ʼn kulturele hoek daaronder verstaan het?

Hierdie kwessies sou verantwoordelik wees vir die spanning wat ná die Mandela-era in die diskoers ter sprake gekom het. Dit vestig dan weer die aandag op dr. André du Toit se interpretasie van die Afrikaner in die nuwe bedeling as bloot ʼn “redelik magtelose minderheidsgroep wat sy weg deur kompromieë moet vind” (Duvenhage 2016:124). Vervolgens ʼn kort wetenskaplike perspektief op nasiebou, versoening en groepsidentifikasie.

Prof Elirea Bornman sê dat die oproep om nasiebou sedert die aanbreek van die nuwe politieke bedeling in Suid-Afrika ’n baie prominente plek ingeneem het. Die nuut verkose ANC-regering het begin om fragmente uit die verlede, soos groepverskille, “etniese tuislande” asook grootskaalse ongelykheid en klasverskille te herkonstrueer (Bornman 2013:17). Bornman verwys na Edward Ramsamy wat ʼn uiteensetting van die historiese aanloop tot die vestiging van nierassigheid gee. Ramsamy wys daarop dat die idee van ʼn inklusiewe Suid-Afrikanisme reeds in die sestigerjare deur Nelson Mandela verwoord is. Nierassigheid was egter nie een van die ANC se stigtingsbeginsels nie en het eerder gegroei uit die latere alliansies met mense van alle rasse en agtergronde wat saam die stryd teen apartheid gevoer het. Bornman verwys verder na Ramsamy se stelling dat die Vryheidsmanifes ʼn multikulturele en veelrassige siening oor nasionale eenheid en nasiebou weerspieël. Die manifes verklaar, volgens hom, byvoorbeeld nie dat identifisering met etniese en rassegroeperings ter wille van nierassigheid afgeskaf moet word nie en erken afsonderlike groepsidentiteite, maar beklemtoon terselfdertyd gelykheid (Ramsamy soos aangehaal deur Bornman 2013:18–19).

Nadat die ANC egter deur die apartheidsregering verban is, het daar ’n klemverskuiwing plaasgevind weg van die multikulturele en veelrassige benadering na ’n ideologie van inklusiwiteit en nierassigheid. Hiervolgens word etniese en rasse-identiteit gesien as ’n oorblyfsel van die apartheidsbeleid van verdeel en regeer. Alhoewel daar steeds erkenning gegee is daaraan dat hierdie identiteite ’n rol in die persoonlike lewens van mense speel, word dit nie as relevant vir die sosiale en politieke lewe van die land beskou nie. Enige vorm van etniese bewustheid word dus as ’n oorblyfsel van apartheid beskou en gevolglik as onbelangrik geag vir die sosiale en politieke bestaan van die nasie. In wese verteenwoordig die nierassige standpunt die beklemtoning van die skepping van ’n burgerlike nasie wat gebaseer is op die toekenning van individuele regte aan alle burgers, ongeag hulle geloof of oorsprong (Bornman 2013:17-19).

Gedurende die tydperk toe die ANC van ’n vryheidsbeweging na ’n regerende party moes transformeer, was rasse- en etniese diversiteit een van die realiteite wat hanteer moes word. Nelson Mandela se siening was dat, ten spyte van hierdie verskille, die ANC moes verseker dat hy die vertroue van die verskillende seksies van die land se bevolking verkry (Bornman 2013:20). Die gevolg was die bevordering van die sogenaamde reënboognasie- metafoor waarvolgens verskillende etniese en rassegroepe – verteenwoordig deur die kleure van die reënboog – uitgebeeld word as sou hulle in ’n eensgesinde geheel verenig wees. Die metafoor van die reënboognasie kan gesien word as ’n kompromis tussen die ANC se verbintenis tot nierassigheid en die behoefte om die voortgesette verpolitisering van etnisiteit in postapartheid Suid-Afrika te hanteer. In plaas van die ontkenning van die sosiale en politieke realiteite van etniese en rassegroepe is dit nou eerder as die boublokke van die nuwe nasie beskou. Ten spyte hiervan bly die doel van reënboogisme egter die skepping van ’n gemeenskaplike lojaliteit aan die burgerlike staat, ’n enkele nasie en een dominante identiteit (Blaser soos aangehaal deur Bornman 2013:21).

Blaser wys daarop dat die benadering ten opsigte van nasiebou onder pres Mbeki verander het na ’n oorkoepelende Afrikanisme wat Afrika-hegemonie in die diverse Suid- Afrikaanse nasie wou vestig (2004:179). Volgens Colin Bundy het hierdie benadering ʼn rasse-ondertoon gehad waarvolgens die patriotisme van wit en bruin mense asook Indiërs bevraagteken is (2007:79-84).

Bornman vra die vraag of ʼn Afrika-identiteit werklik inklusief kan wees en of dit moontlik is