• No results found

AANPASSINGSPATRONE IN DIE GEES VAN SELFONDERSOEK 1980-

3.4. INTERNE SELFONDERSOEK EN AANPASSINGS

3.4.3. Praktiese aanpassings

Aanpassings ten opsigte van die verwagte politieke veranderinge het in die 1980’s die vorm van ʼn groter inklusiwiteitsbenadering aangeneem. Hierdie aanpassingspatrone het teen die einde van die tagtigerjare hoofsaaklik betrekking gehad op lidmaatskapsvereistes, die uitreiking na ander taal- en kultuurgroepe deur middel van kultuuraktiwiteite en ʼn meer pro-aktiewe sakebenadering. Die ATKV het nou getoon dat woorde en besluite op sy kongresse inderdaad na die praktyk deurgevoer is.

3.4.3.1. Lidmaatskapvereistes

Tot 1990 was lidmaatskap tot blanke spoorwegpersoneel beperk. In 1990 is besluit dat lidmaatskap oopgestel word vir nie-Vervoerdienstelede toe besluit is dat meerderjarige kinders van lede, ongeag die feit of hulle by Transnet werk, ook lid van die ATKV kon word (ATKV-statute 1990:artikel 5). Lidmaatskap was egter steeds geslote vir iemand wat nie van, soos dit gestel is, “Europese afkoms” was nie (ATKV-statute 1934:artikel 7). Laasgenoemde woordkeuse het gevolglik steeds die beeld van die organisasie bevestig as ras-eksklusief, dus net vir wit mense. Dit ten spyte van die feit wat deur Van der Ross gestel word, dat met sekerheid aangeneem kan word dat die meeste van die bruin mense se wit voorsate Afrikaners was (Van der Ross, soos aangehaal deur Giliomee 2007:xiv- xv).

3.4.3.2. Kultuuraktiwiteite

Die ATKV se kultuurprojekte het reeds sedert die begin van die tagtigerjare tekens van aanpassings ten opsigte van sy deelnemers getoon. Vervolgens ʼn kort verwysing na projekte wat ʼn groter inklusiwiteit getoon het. Kortstondige projekte soos ʼn immigrante- gesinsaamtrek en ʼn internasionale kultuuraand is reeds in 1980 aangebied, en immigrante is ook op takvlak betrek (ATKV-Jaarverslag 1979/80:17; 1980/81:50). Na aanleiding van ʼn kongresbesluit in 1981 is ʼn taakgroep in die lewe geroep om die bevordering van Afrikaans onder, soos dit genoem is, “anderskleuriges” te ondersoek. As gevolg hiervan is verskeie samesprekings met kundiges op taalgebied en leiers van anderskleuriges gevoer (ATKV-Jaarverslag 1981/82:57).

In 1983 is ʼn jaarlikse studiebeurs vir studie in Afrikaans aan die Universiteit van Wes- Kaapland ingestel. Hierdie universiteit het op daardie stadium veral bruin studente geakkommodeer. In 1987 het die vroueafdeling van die ATKV (bekend as ATKV-Dames) ʼn “Skool- en Hulpfonds vir Anderskleuriges” gestig. Tydens die tienjarige viering van die onafhanklikheid van die destydse Republiek van Bophuthatswana is ʼn bedrag van R10 000 bewillig om as beurse gebruik te word vir die beste seun- en dogterpresteerders in standerd 9 (ATKV-Jaarverslag 1987/88:45). Uit die aard van die saak sou dit aan swart leerlinge gaan.

In 1984 is besluit dat alle nasionale projekte van die ATKV oop is vir almal om aan deel te neem (UR 25/84). Ook is besluit dat prestasiesertifikate in Afrikaans en Geskiedenis by anderskleurige skole toegeken mag word (Kultuurkomitee-besluit [KK] 36/84). Kok noem dat hierdie besluite ʼn besondere doelwitverruiming teweeggebring het ten opsigte van die

uitbouing van die Afrikanerkultuur onder alle kultuurgebruikers. Dit het ook tot gevolg gehad dat lede van ander groepe toenemend aan die ATKV se kultuurbevorderingsprojekte begin deelneem het (Kok 1992:192).

In 1983 wen ʼn Engelssprekende die ATKV se Afrikaanse musiekfees, en in1986 wen twee bruin deelnemers Crescendo (ATKV-Jaarverslag 1983/84:47; 1986/87:38). Veral uit bruin geledere was daar nou toenemend deelname aan ATKV-projekte. Die Breughel- teatergroep, wat hoofsaaklik uit bruin toneelspelers bestaan het, wen in 1988 en 1989 die ATKV se Amateurtoneelfees (ATKV-Jaarverslag 1988/89:41). In 1987 wen ʼn Engelse toneelgroep van Rondebosch High School in Kaapstad die landwye Skoletoneelkompetisie (ATKV-Jaarverslag 1987/88:38). Engelse groepe (ook uit universiteite) neem ook deel aan die ATKV-Kampustoneelkompetisie, en volgens die uitvoerende direkteursverslag van 1986/87 word die Afrikaanse toneelskat ook op hierdie wyse deur ander kultuurgroeperings uitgebou (ATKV-Jaarverslag UD 1986/87: 41).

Op grond van die sukses wat behaal is met die betrek van ander groepe by die bevorderingsaksies vir die Afrikaanse taal en kultuur, is daar besluit om ook vir swart mense spesiale projekte te skep. Die Afrikaanse Toneel vir Onderwyskolleges (ATO) was die eerste sodanige projek. Dit was gerig op onderwyserskolleges met studente wat ʼn swart taal as moedertaal het. Hierna het gevolg ʼn Afrikaanse koorfees vir swart kore. Sedert 1988 het die ATKV opgetree as borg vir die Gebruiksafrikaans Olimpiade van die destydse Stigting vir Onderwys, Wetenskap en Tegnologie. Hierdie stigting se werksaamhede was gerig op niemoedertaalsprekers van Afrikaans, en die gewildheid van die Olimpiade het binne vier jaar van 9 000 deelnemers tot 23 881 toegeneem (ATKV- Jaarverslag 1988/89:45).

Kok lê in sy proefskrif daarop klem dat kongresgangers tydens die kongres van 1990 dit weer eens bevestig dat dit vir die Afrikaner belangrik is dat Afrikaans nie net deur die moedertaalspreker gepraat moet word nie, maar ook deur anderstaliges en ander kultuurgroepe. So word, volgens Kok, brûe gebou tussen die verskillende kultuurgroepe. Kennis van die Afrikaner en sy kultuur kan so ontstaan. Volgens hom word by die Afrikaanse kultuurbevorderingsprojekte onderlinge begrip, vertroue en respek tussen die onderskeie gemeenskappe bewerkstellig. Sy waarneming is dat die ATKV se aksies en projekte aanvanklik op die bewaring van kultuurgoedere gerig was, maar dat die klem al hoe meer verskuif het na die bevordering en uitbouing van die Afrikaner se kultuur oor ʼn breë front (ATKV-Jaarverslag 1989/90:48; Kok 1992:194-195).

Wat eersgenoemde betref, het die historikus Kapp se navorsing teen 1990 getoon dat daar ʼn kwynende belangstelling in tradisionele Afrikaanse volksfeeste was. Kapp verwys na die rol wat die ATKV in sy vroeë bestaansjare deur middel van die skouspelagtige herdenkings van historiese gebeure gespeel het om die historiese bewussyn van die Afrikaner wakker te maak (1990:11).

Volgens Kapp het die ATKV al jare vantevore deur middel van feeste ʼn feestradisie onder die Afrikaners geskep, met die klem op aktiewe deelname aan volkspele, boeresport, vleisbraai en saamsing (1980:31, 34). Teen 1988 was die ATKV ook, soos met die Simboliese Ossewatrek van 1938, betrokke by die herdenking van ʼn groot Afrikanergeleentheid, naamlik die 150-jarige herdenking van die Groot Trek. Die Afrikanervolkswag, wat in 1984 tot stand gekom het, is reeds in 1985 lidmaatskap van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) geweier omdat die FAK geoordeel het dat die Afrikanervolkswag sedert sy stigting verantwoordelik was vir verdeeldheid binne Afrikanerkultuurgeledere (Boshoff 2012:333).

Twee denkrigtings oor die aard en inhoud van hierdie belangrike gebeurtenis het gevolglik duidelik geword: aan die een kant was daar die FAK en sy geaffilieerde organisasies wat ʼn loslitkarakter aan die herdenkingsfees wou gee, en aan die ander kant die Afrikanervolkswag, wat gevoel het ʼn “loslitfees” nie gepas sou wees nie. Die redes hiervoor was, volgens die Afrikanervolkswag, die noodtoestand waarin die land verkeer het, die land se isolasie op internasionale terrein en die grensoorlog wat nog aan die gang was. Die ATKV het hom by die FAK se denkrigting geskaar. Gevolglik is twee feeste deur die verdeelde Afrikanerkultuurgemeenskap gereël. Beide feeste het hulle hoogtepunt op 16 Desember 1988 bereik – die FAK s’n (waarvan die ATKV deel was) by die Voortrekkermonument, en die Afrikanervolkswag se hooffees by Donkerhoek, 30 kilometer oos van Pretoria (Boshoff 2012:344-345). Die ATKV het hom op hierdie manier van pogings tot skeuring binne Afrikanergeledere gedistansieer sonder om sy verbintenis tot die bewaring van die Afrikaner se erfenis na te laat.

Kapp is van mening dat die ATKV hom veral op twee gebiede van alle ander Afrikaanse organisasies onderskei het: eerstens op die gebied van fondsinsameling vir volksake en veral monumente, en tweedens sy beskikbaarstelling van sy ervaring, vermoëns, kennis en van die werkkrag van sy lede en personeel vir die organisering van groot feeste (1980:34). Kapp maak ook die stelling dat die klem van die ATKV weg van groot nasionale projekte na kultuuruitlewing deur middel van projekte verskuif het. Die takke is al hoe meer ingespan om volksfeeste aan te bied en te reël. Daar is ook al hoe meer op professionele

en gespesialiseerde aktiwiteite gekonsentreer. Volgens Kapp het die ATKV ʼn nuwe rigting ingeslaan in die bevordering van die uitvoerende en skeppende kunste (Kapp 1990:10). In die tydperk 1980 tot 1990 het die ATKV se kultuurbevorderingsaksies deur middel van projekte tot 34 nasionale projekte uitgebrei (ATKV-Jaarverslag 1989/90:36–48; 29–31). Volgens Kok kon die kultuurprojek-aktiwiteite aan die einde van die jare tagtig tot begin neëntigjare breedweg soos volg gekategoriseer word: toneel, musiek, werkswinkels en kursusse, pryse en toekennings en ad hoc-projekte (1992:210).

Aanpassings op hierdie vyf gebiede was die volgende:

• Met die toneelfees is oor ʼn wye front skakeling verkry en is Afrikaans ook onder anderstaliges bevorder (ATKV-Jaarverslag 1979/80:19; 1987/88:38; 1988/89:41). Met die ATO (Afrikaanse Toneel vir Onderwyskolleges) wat in 1985 begin is, was die doel om mense wat ʼn swart taal as moedertaal het, aan te moedig om Afrikaanse toneel te beoefen. Dit het nie net Afrikaans as taal bevorder nie, maar onderlinge respek en vertroue tussen die verskillende kultuurgemeenskappe bewerkstellig. Raadgewers by hierdie kompetisie het ook swart toneelspelers ingesluit en die toneeluitvoerings is na verskillende kolleges geneem om nie net die toneelstukke te beoordeel nie, maar ook spelers van raad te bedien en aan te moedig. Die ATO het ook geleentheid gebied vir die generering van nuwe toneelstukke, onder meer waardeur die swart kultuur en lewenswyse op ʼn visuele manier in Afrikaans uitgebeeld is (ATKV-Jaarverslag 1988/89:42). Die kompetisies is in 1991 uitgebrei om toegang te verleen aan enige amateurtoneelgeselskap van wie Afrikaans nie die huistaal is nie (Notule van die Kultuurkomitee [KK] 1991:besluit 14/91).

• Wat musiekbevordering betref, is benewens ʼn koorfees in 1980 en ʼn revue in 1981 ook kooraande vir senior burgers aangebied. Verder is ʼn Kers-opera asook ʼn Paasspel uitgevoer, met musiek geskryf in opdrag van die ATKV (ATKV- Jaarverslag 1980/81:51). Die hoofdoel van die Crescendo-kompetsie, ʼn eietydse ligteliedjiekompetisie vir mense tussen 15 en 35 jaar, was om ʼn kommunikasiebrug met die jeug te bou (ATKV-Jaarverslag 1974:77). In ʼn poging om brûe te bou was daar aanvanklik twee Engelse kategorieë. Dit het tot gevolg gehad dat daar ook Engelssprekende deelnemers aan die kompetisie was. Daar was dan ook Engelssprekende wenners. Teen 1990 het die Engelse kategorieë egter weggeval en was daar net Afrikaanse kategorieë. Die sukses van die kompetisies kan onder meer gemeet word aan die groot getal nuwe liedjies (720 in getal) wat tussen 1988

en 1990 vir die kompetisie ingeskryf is. (ATKV-Jaarverslag 1988/89:39). In 1989 is ʼn Afrikaanse koorfees vir swart kore begin. Ook hier was die doel om kultuurbrûe te bou en advies aan deelnemende kore te gee. In 1991 is die vereistes vir deelname ook gewysig, soos dié van die ATO waarna vroeër verwys is, sodat enige koorgroep van wie die huistaal nie Afrikaans is nie, kon deelneem (Notule van die Kultuurkomitee [KK] 1991: besluit 49/91).

• Wat betref kursusse en werkswinkels is die ATKV-kursus in kreatiewe skryfkuns vanaf 1985 saam met die Departement Afrikaans en Nederlands van die Potchefstroomse Universiteit vir CHO (tans die Noordwes-Universiteit) begin. Dit was ʼn praktykgerigte kursus waar voornemende skrywers met suksesvolle skrywers in aanraking gebring is, asook met die keurders van verhale en uitgewers. Dit het uiteindelik gelei tot die stigting van die ATKV-skryfskool, wat die eerste volwaardige kreatiewe skryfskool in Suid-Afrika was. Hoewel die deelnemers aanvanklik slegs uit wit kursusgangers bestaan het, was dit soos bogenoemde taal- en kultuurbevorderingsprojekte oop vir mense van alle kultuurgroepe wat daaraan wou deelneem (Kok 1992:222).

• Die doelwit van pryse en toekennings is lank vantevore reeds geïdentifiseer en is ingestel om as aansporing te dien om die Afrikaanse kultuur op ʼn wye verskeidenheid terreine te ontwikkel (ATKV-Jaarverslag 1987/88:43). Oor die jare is onder meer die volgende pryse toegeken: die ATKV-TV-regisseursprys (sedert 1979); ATKV-radioprys (sedert 1985) aan die regisseur, programsamesteller of aanbieder wat binne ʼn gegewe jaar die grootste bydrae ter bevordering van die Afrikaanse kultuur deur middel van die radio as medium gelewer het (KK 33/84); die ATKV-prosaprys vir die gewildste Afrikaanse prosawerk wat in ʼn spesifieke jaar verskyn het (ATKV-Jaarverslag 1984/85:45; 1987/88:43); die ATKV-prysvraag vir Afrikaanse eenakters (1980), en die CR Swart-prys vir eenakters wat in ʼn betrokke jaar vir die ATKV se Tiener-of Amateurtoneelprojek ontvang is vir gebruik in die Tienertoneelkompetisie.

Die ATKV-reklameprys, wat in 1987 ingestel is, se doel was om die skeppende reklameaanwending van Afrikaans te bekroon. Die prys is aanvanklik toegeken vir radio-advertensies, maar later uitgebrei na TV-, tydskrif-, koerant- en buitelugadvertensie. Een van die norme vir toekenning was die korrekte en suiwer aanbieding van Afrikaans (ATKV-Jaarverslag 1988/89:44). Nog later is dit uitgebrei tot ʼn prys vir die beste advertensieslagspreuk in Afrikaans, sowel as vir die

gewildste advertensiepersoonlikheid (Notule van die Kultuurkomitee [KK] 1991: besluit 10/91). Pryse en toekennings sou ná 1990 ʼn toenemend inklusiewe karakter begin aanneem, en daaroor word in hoofstuk 4 uitgewei.

Algemene kultuurbevordering: Die Taalgenoot is sedert sy eerste verskyning in Desember 1931 die amptelike lyfblad van die ATKV. Met dié blad word, volgens Kok, nie net gepoog om die Afrikanerkultuur onder lede te versterk nie, maar van 1990 af word dit ook aan ʼn duisend swart skole en kolleges versprei ten einde “brûe van wedersydse begrip te bou” (Kok 1992:231). In 1987 is die ATKV-Taaldiens as gratis telefoonnavraagdiens ingestel. Die diens was veral ingestel op vertaling van Engels na Afrikaans, en dan ook om mense en instansies met behoeftes aan groter volumes vertaaldienste na kundiges in dié verband te verwys. In 1991 is besluit om vir die ATKV ʼn behoorlike taalplan daar te stel met die doel om Afrikaans binne ʼn meertalige Suid-Afrika te ontwikkel (Notule van die Kultuurkomitee [KK]: besluit 5/91:Bylae A). In hoofstuk 4 word daarop gewys hoe visionêr hierdie besluit was. Dit het die grondslag gelê vir die ATKV se toekomstige fokus op meertaligheid. Reeds in 1991 is ʼn Afrikaanse TV-geletterdheidsprogram gerig op die swart jeug saamgestel (Notule van die Kultuurkomitee [KK]: besluit 26/91; Notule van die Kultuurkomitee [KK]: besluit 45/91).

In 1992 gee die besturende direkteur van die ATKV, dr. Frits Kok, in sy doktorale proefskrif ʼn toekomsblik oor die ATKV se voorbereiding op uitdagings. Hy haal die bekende kultuurhistorikus PW Grobbelaar aan, wat gesê het: “[dat] die Afrikaner voortdurend sy volkskultuurbande van geloof, taal en nasionalisme so [moet] versterk dat hy steeds ʼn betekenisvolle rol in sy vaderland (en op sy klein manier in die lotgevalle van die menslike geslag) kan bly speel” (Grobbelaar 1974:48; Kok 1992:235).

Kok is verder van mening dat die ATKV hom reeds op hierdie uitdaging begin voorberei het as na die kongrestemas (3.4.2 hierbo) tussen die jare 1980 en 1990 gekyk word. Hy beklemtoon dan ook die Afrikaner se vermoë om by veranderende omstandighede aan te pas soos in die verlede. Volgens Kok het die ATKV ʼn duidelike siening van sy taak en doelstellings om ter sake te wees binne die tydsgewrig waarin hy funksioneer (1992:236). Hy wys ook op nog aanpassings uit die verlede, naamlik sy administratiewe struktuur sowel as die vaartbelyning van sy eie interne stelsel van bestuursliggame om aan meer gesofistikeerde vereistes te voldoen. Na sy mening het die klemverskuiwing binne die ATKV saamgeval met dié binne die Afrikanerkultuurgemeenskap, veral nadat hy sy doelwitte om Afrikaans binne die Vervoerdienste te handhaaf, bereik het. Die ATKV se

kultuurbevorderingstaak het nou oorgegaan na deurlopende kultuurbevorderingsprojekte om die Afrikanerkultuur se voortbestaan op die lang termyn te help verseker. In dié verband het die klem op praktiese bevorderingsaksies van gehalte begin val (1992:237).

3.4.3.3. Sakebenadering

Die sukses van die ATKV se sake-afdeling tot aan die begin van die negentigerjare kan toegeskryf word aan die feit dat die oorde en ander sakebedrywighede so uitgebou kon word dat dit as winsgewende entiteite inkomste kon genereer om finansiering te verskaf vir die organisasie se kultuurbevorderingstaak (Jaarverslag van die uitvoerende direkteur [UD] 1989/90:48). Volgens Kok het hierdie finansiële onafhanklikheid selfvertroue ten opsigte van die ATKV se optrede bevorder en kon projekte aangebied word waar daar die behoefte was of waar geleenthede na vore getree het (1992:237). Die Algemene Jaarvergadering van 1989 het hom ook positief uitgespreek oor die noodsaak van die uitbou van ʼn sterk, professionele personeelspan wat as spesialiste die vele aktiwiteite van die ATKV kon bevorder en uitbou (ATKV-Jaarverslag 1989/90:48). Dit het die grondslag gelê vir die ATKV as professionele kultuurliggaam.

3.5. BEELD VAN DIE ATKV TEEN 1990

In die lig van die voorafgaande kan die beeld van die ATKV teen 1990 afgelei word van wat die organisasie self op daardie stadium na buite geprojekteer het. Schein se teorie kan baie effektief soos volg op die ATKV in hierdie tydperk toegepas word (Schein 1980:244- 246). Soos aangedui, was die dekade tussen 1980 en 1990 een van intense selfondersoek na aanleiding van ʼn bepaalde beeld wat van die organisasie bestaan het. Hierdie selfondersoek het uiteindelik tot praktiese aanpassings gelei. Die aanpassings is voorafgegaan deur die normale stadia waardeur die mens, asook die meeste organisasies, in tye van verandering gaan.

Die voorbereidingsfase was veral aan die begin van die tagtigerjare duidelik uit kongresbesprekings en besluite toe die ontwikkeling van ʼn motivering om te verander plaasgevind het. Daar is vroeër in die hoofstuk verwys na die tweeslagtigheid in standpunte wat onder kongresgangers bestaan het, maar dat weerstand teen verandering geleidelik oorkom is. In dié proses ontwikkel, volgens Schein, ʼn emosionele behoefte of druk en word selfvertroue en veiligheid geskep om te verander (Schein 1980:244-246; Joubert 2017:103-106). Laasgenoemde fase van die proses was veral duidelik uit gassprekers en direksielede wat beide sieninge (behoudend en meer progressief) in hulle toesprake probeer akkommodeer het.

In die veranderingsfase het nuwe gedrag en houdings ontwikkel en is ʼn nuwe paradigma geskep. Dit was veral duidelik uit die kongresuitsprake wat al hoe meer die nuwe politieke bedeling geantisipeer het. Rolmodelle speel ʼn groot rol in hierdie proses, en daar is ʼn aktiewe soeke na oplossings en inligting, en blootstelling word hieraan gegee. Laasgenoemde aspek van die veranderingsfase is veral deur die direksie en besturende direkteur as leiers van die organisasie gespeel. Die feit dat die staatspresident twee maal binne drie jaar as gasspreker opgetree het, dien ook as bewys dat die ATKV sy politieke leiding as deurslaggewend vir die organisasie se toekomstige rigting aanvaar het. In ʼn sekere sin het elemente van die veranderingsfase oor die hele dekade reeds plaasgevind. Die gedeelte oor ʼn groter inklusiwiteitsbenadering in projekte wat deur die ATKV beplan en aangebied is, verwys daarna.

Aangesien die 1992-proefskrif van FJ Kok, besturende direkteur van die ATKV teen 1990, onder meer handel oor aanpassings binne die ATKV in die tagtigerjare, is dit nuttig om Kok se siening van die pad vorentoe as maatstaf te gebruik waarteen werklike aanpassings plaasgevind het of nie. Komende van iemand in ʼn leiersposisie in die organisasie, kan daar aanvaar word dat sy visie vir die toekoms van die ATKV gebaseer was op die feite rakende die organisasie se geskiedenis, sy aanpassingspatrone en dan ook sy eie waarnemings. Jaarverslae van die organisasie dien as onweerlegbare bewyse in hierdie verband.

Kok sê eerstens dat die werksaamhede van die ATKV as kultuurorganisasie nie moet vassteek by die handhawing en vorming van die Afrikaner se historiese bewussyn nie, maar dat die ATKV dinamies en ter sake moet wees, met die klem op die ontwikkeling van kreatiwiteit en die ontginning van die skeppende vermoë binne die Afrikanerkultuurgemeenskap (1992:238). Hy haal dan vir Kotler aan, wat in dié verband sê dat die organisasie sy kliënte se veranderende behoeftes moet moniteer en die produkte, dienste en metodes van verspreiding moet aanpas by die behoeftes van die mark (Kotler 1984:2, soos aangehaal deur Kok 1992:238).

Verder is Kok van mening dat die bevordering van die Afrikanerkultuur onder sy eie mense die organisasie se belangrikste taak is, maar dat die besondere uitdaging daarin lê om die Afrikanerkultuur “toeganklik en aanvaarbaar” te maak vir al die ander kultuurgroepe in Suid-Afrika deur die bou van kultuurbrûe (Jaarverslag UD 1989/90:48; Kok 1992:238). Kok sê ook dat indien die gebruikersbasis van die Afrikanerkultuur so breed as moontlik gemaak word, dit groeipunte skep vir die Afrikanerkultuur, en daarmee saam word begrip vir die Afrikaner se behoeftes en aspirasies gevestig. Volgens Kok word die spreuk van

“onbekend maak onbemind” op hierdie manier teëgewerk, en word groter harmonie vir die toekoms in Suid-Afrika met sy baie minderhede bewerkstellig (Jaarverslag UD 1989/90:48; Kok 1992:238).

Uit bogenoemde waarnemings van Kok, asook vanuit ʼn oorkoepelende hoek ten opsigte