• No results found

AANPASSINGSPATRONE IN DIE GEES VAN SELFONDERSOEK 1980-

3.3. EKSTERNE INVLOEDE LEI TOT SELFONDERSOEK

In die tagtigerjare het verskeie eksterne invloede ʼn rol gespeel om die ATKV as organisasie tot selfondersoek te dwing. Van die belangrikste was die volgende:

• Die sieninge van invloedryke politici en kommentators • Die invloed van Afrikanerkultuurleiers

• Die gevolgtrekkings van relevante, kontemporêre, akademiese studies 3.3.1. Die sieninge van invloedryke politici en kommentators

In 1979 het die woorde van pres PW Botha ʼn groot invloed op veral die Afrikaner gehad. “We are moving into a changing world, we must adapt otherwise we shall die” (Giliomee 2003:586). Hoewel die hoof van die weermag, genl Constand Viljoen, die kabinet by verskeie geleenthede verseker het dat Suid-Afrika militêr nog vir ʼn lang tyd die bedreiging van buite kon teenstaan, was dit tevergeefs tensy ʼn politieke oplossing gevind word (Giliomee 2003:588). Munger verwys na die skrywer Alan Paton, wat sê dat die Afrikaner aan mag vasgeklou het. Hierdie mag het soos ʼn vesting geword wat in werklikheid sy tronk geword het en waarvan hy nie kon ontsnap nie, en indien hy nie daarvan kan ontsnap nie, sou dit sy graf word (Paton 1979:29).

ʼn Gevolg van hierdie politieke invloed was die verdeeldheid in Afrikanergeledere. Volgens Harrison het eenheid teen die einde van die sewentigerjare nie meer bestaan nie en sou die politieke leiers slegs eenheid kon bewaar indien hulle van verandering sou afsien. Volgens hom was swart mense reeds sinies oor PW Botha se beloftes van verandering. Die mening van ʼn lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer was dat “The Prime Minister’s noises about change are like a wheelbarrow full of tins. We have heard the noise of the tins, but the wheelbarrow has been put down. What now” (Harrison 1981:284). Dr. Anton Rupert het in 1986 ʼn brief aan pres Botha geskryf waarin hy sê dat die idee dat apartheid die wit man se oorlewing kon waarborg ʼn mite was. Hy het geskryf: “Apartheid kruisig ons; dit vernietig ons taal; dit is vernederend dat ʼn eens trotse nasie die melaatses van die wêreld moet wees” (Rupert soos aangehaal deur Giliomee & Mbenga 2006:391).

Die Afrikaanse koerante het ʼn groot rol gespeel in die debat oor apartheid. Volgens Jaap Steyn was onder die bekendste “verligte” redakteurs Piet Cillié en Wiets Beukes van Die

Burger, Schalk Pienaar van Die Beeld, Willem Wepener, Rykie van Reenen en Willem de

Klerk van Rapport, Johannes Grosskopf en Ton Vosloo van Beeld, Hennie van Deventer van Die Volksblad en Harald Pakendorf van Die Vaderland. Verskeie Afrikaanse skrywers en wetenskaplikes het ook tot die einde van die ou politieke bedeling bygedra. Hulle het in verskeie romans die negatiewe aspekte van apartheid uitgebeeld. Ook die NG Kerk het sy skuld aan apartheid bely en in 1998 het die Algemene Sinode apartheid tot sonde verklaar (Steyn 2016:377-379). Steyn bespreek die verskynsel dat joernaliste dikwels daaraan skuldig is dat hulle van die Afrikaner rekenskap vra van hulle volksnaam. Dit skep die indruk dat sommige Afrikaners daaraan twyfel of hulle Afrikaners mag wees of behoort te wees. Daarom kom Steyn tot die gevolgtrekking dat daar maar net ʼn graadverskil is tussen “skryf teen ’n volk of om ’n volk doelbewus in die vergetelheid te laat raak” (Steyn 2015:30).

3.3.2. Die invloed van Afrikanerkultuurleiers

Reeds in 1938 sê die Afrikaanse skrywer NP Van Wyk Louw dat kritiek ʼn nasie se gewete is en dat ʼn volk sonder kritiek verlore is (1970:107–108). Sy waarneming het dit veral teen die Afrikaner se gevoeligheid vir kritiek, wat teen sy nasie gerig is. Hy oordeel dat die Afrikaner kritiek nog altyd aangevoel het as ʼn aanval teen sy bestaan, as ʼn aanval wanneer dit van ʼn buitstaander kom, en as verraad wanneer dit van een van sy eie mense gekom het (1986:166). Oor die taal sê hy is daar baie mense met die gesindheid dat die taal maar moet sterf. Hy skryf hierdie houding toe aan die feit dat die Afrikaner alle kritiek teen die nasie beleef as dat “kritici aan ons wortels geraak het, nie om los te spit nie, maar om af te spit” (1986:167). In die lig hiervan was die vraag dus hoe ver die ATKV se leierskap gedurende die tagtigerjare bereid was om nie net krities na binne te kyk nie, maar ook aanpassings te maak indien nodig.

Benewens Van Wyk Louw was daar ook die rigtinggewende menings van ʼn paar akademici en gesaghebbende kultuurleiers. Hulle het hulle oor die noodsaak van aanpassings deur spesifiek Afrikaanse kultuurorganisasies uitgespreek. Dit het ʼn klimaat geskep waarbinne die ATKV ook interne selfondersoek kon doen. Hoewel nie ʼn leier binne die ATKV nie, was die selfkritiese sieninge van dr Gerrit Viljoen van groot waarde. As kultuurman en eertydse voorsiter van die Afrikaner-Broederbond, en ook as akademikus en latere politikus, is sy mening hoog geag. Hy het reeds sedert die sewentigerjare die stand van die georganiseerde Afrikanerkultuur goed verwoord. Gedurende die tagtigerjare was hy een van die leidende figure wie se standpunte en uitsprake ʼn groot invloed op

Afrikanerdenke in die algemeen uitgeoefen het. Hy moedig reeds in 1974 ʼn groter spektrum van opinies binne die Afrikanergemeenskap aan (Viljoen 1979:1-3).

Hy glo dat Afrikanerskap veel meer gediversifiseerd as vroeër is en dat dit nie net vir die politieke terrein nie, maar ook op kultuurterrein geld. Kultuurorganisasies moet volgens hom hiermee rekening hou, aangesien die Afrikanerjeug se ondervinding van die kultuurwêreld totaal van dié van hulle ouers verskil. Hy sê ook dat daar nie sonder meer aanvaar moet word dat die persoonlike belewenis van jongmense dieselfde reaksies op kulturele, nasionale en selfs ekonomiese roepstemme sal uitlok as dié van die vorige geslag in kultuurorganisasies nie. Daarmee saam gaan ook dat die jonger geslag minder van die emosiebelaaide, onvervulde oogmerke of ideale vir die Afrikaner het waarna hulle kan streef, aangesien dit tot ʼn groot mate reeds vervul is in byvoorbeeld die verwesenliking van Republiekwording (Viljoen 1979:1-3).

Verstedeliking het ook ʼn groot verandering in die gesinslewe van die Afrikaner tot gevolg gehad. Verder het die veranderende rolle van die skool en die kerk tot ʼn toenemende weerstand teen georganiseerd-wees gelei. Jongmense, meer as die ouer geslag, wil nie betrokke wees nie. Hulle toenemende individualisme is volgens hom die oorsaak van hulle kritiese houding jeens intensiewe organisasie. Hulle sien ook nie konkrete resultate wat tot hulle verbeelding spreek en aan hulle behoeftes voldoen nie. Daar sal dus deur die Afrikaner se kulturele organisasies rekening gehou moet word met die feit dat hulle met ʼn verstedelikte volk en ʼn steeds meer verstedelikte jeug te doen het. Daar is ook minder vrye tyd vir Afrikanerjongmense. Die rede hiervoor kan toegeskryf word aan toenemende welvaart en die eise van die beroepslewe. Gevolglik het baie begaafde mense nie die tyd om hulle tot kultuurorganisasies te verbind nie (Viljoen 1979:1-3).

Viljoen kom tot die gevolgtrekking dat kultuurorganisasies ʼn groter rol sal moet speel om die mens te help om sy vrye tyd beter te benut en meer konstruktief te gebruik. Dit is dus belangrik dat kultuurorganisasies bewus moet wees van die veranderings wat in die Afrikaner se leefwêreld plaasvind. Die Afrikaner sal sy metodes gedurig krities moet hersien ten einde by die veranderende eise van die tyd aan te pas. Daar moet veral gewaak word teen stagnasie.

Viljoen noem dan ʼn paar kenmerkende veranderings van daardie tyd wat ʼn invloed op die funksionering van kultuuraktiwiteite uitoefen, naamlik die verkleining van die wêreld as gevolg van versnelde kommunikasie; ʼn versnelling in die pas van verandering en die gevolglike veroudering van bestaande opvattings; modernisering en die gevolglike

generasiegapings wat ontstaan; die groot rol van die elektronika in, wat hy noem, die “tegnotroniese era”. Dan ook die verstedeliking van die Afrikaner wat die jeug dwing om hulle voor te berei op die stadslewe; die groter spektrum van heterogeniteit wat binne die vroeër oorwegend enersdenkende Afrikanervolk ontwikkel het; die uitwerking van materiële voorspoed en welvaart op die volk en die uitwerking van drie dekades van ononderbroke Nasionale Partybewind. Gevolglik het organisasies ʼn nuwe idioom nodig, nuwe vorms, ʼn nuwe tempo en veral nuwe standaarde van doeltreffendheid (Viljoen 1979:7).

As oplossings vir hierdie probleem noem Viljoen die volgende: groter aandag aan moderne bestuursmetodes; benewens vrywillige werkers, ook ʼn beperkte aantal voltydse deskundiges; ʼn meer persoonlike benadering ten opsigte van taakopdragte aan lede in plaas van ʼn onpersoonlike benadering, en dan ʼn nuwe benadering tot kommunikasie by kongresse wat eerder op tweerigting- as eenrigtingverkeer gerig is. Een van die veelseggendste opmerkings wat Viljoen maak, is dat die groot meerderheid Afrikaners eintlik buite die invloed en kontak van hulle kulturele organisasies leef en dat dit spesiale inspanning en aanpassing verg om hulle te bereik. Wat die politiek betref, maak hy ʼn ewe veelseggende opmerking, naamlik dat die Afrikanerleiers hoegenaamd nie van plan was om ten volle van die statutêre mag af te sien nie (1979:2-10).

Dit is stellings soos hierdie wat gemaak het dat, ten spyte van progressiewe denke soos hierbo uiteengesit, Viljoen steeds deur sommige analiste as meer behoudend as verlig beskou is. Dit is waarskynlik waarmee baie ATKV-lede ook in hierdie tyd geworstel het: die paradoks dat behoudende lede wel ook die noodsaak van verandering ingesien het, maar nie kans gesien het om die stap na verandering te neem nie. Hierdie skynbare teenstrydigheid word later in hierdie hoofstuk duidelik wanneer daar na uitsprake deur lede tydens kongresse verwys word.

3.3.3. Die gevolgtrekkings van relevante, kontemporêre akademiese studies

Ander navorsers en akademici het ook reeds sedert die sewentigerjare gewys op die belang daarvan dat ʼn kultuurorganisasie hom by veranderende omstandighede moet aanpas. Die taalwetenskaplike en kundige oor die herkoms van Afrikaans, JC Steyn, is van mening dat kultuurorganisasies soms gestagneer het. In Tuiste in eie taal. Die behoud

en bestaan van Afrikaans sê hy dat hierdie organisasies ʼn slegte naam gekry het omdat

hulle “versteen” geraak het (Steyn 1982:217). In ʼn artikel oor die rol van verenigings in die kultuurlewe waarsku Stals dat kultuurorganisasies dikwels nie met die werklikheid

rekening hou nie en van die “lewe afgesny is” (Stals 1971:7). In ʼn sosiologiese studie oor die kulturele lewe van blanke Afrikaansprekendes aan die Witwatersrand, waarsku Els dat kultuurorganisasies nie na die verlede moet terugverlang asof dit so ideaal was nie. Vir Els moes die organisasie duidelikheid hê oor sy taak en doelstellings. Aanpassings by die behoeftes van ʼn dinamiese kultuurgemeenskap was noodsaaklik en volgens hom moes daar weggedoen word met uitgediende maniere waarop kultuur bevorder is (1971:335- 337).

GG Pienaar verwys in sy studie wat handel oor die doelverwesenliking van Afrikaanse kultuurorganisasies in Bloemfontein hoe belangrik leierskap op kultuurgebied is (Pienaar 1969:175, 185). Reeds in 1971 was daar, volgens Els, onder Afrikaners ʼn neutrale gevoel en gebrek aan opregte liefde ten opsigte van die Afrikaanse volkseie (1971:333-335). Onder die jeug was daar, volgens ʼn bekende kultuurhistorikus, OJO Ferreira, dikwels die gevoel dat ʼn kultuurorganisasie niks vir die moderne jeug bied nie (1982:36). Marius Swart stel dit soos volg: “Kultuur is nie staties nie. Dit bevat altyd die twee pole van tradisie en vernuwing, van behoud en verandering” (Swart 1987:339).

Die vraag was nou of die ATKV van hierdie navorsing oor die probleme van kultuurorganisasies kennis geneem het en hoe hy daarop gereageer het. In afdeling 3.4.3 hieronder word meer in besonderhede hierop ingegaan.

Die destydse besturende direkteur van die ATKV, dr Frits Kok, het in sy proefskrif oor die taak van minderheidskultuurgroepe die ontwikkelingsgang van die ATKV in drie fases onderskei. Hiervolgens was een van die fases die tydperk vanaf 1960 tot 1984, toe ʼn klemverskuiwing plaasgevind het wat die ATKV se kultuurproduk betref. Dit het gedui op die ag wat geslaan is op die ontleding van die situasie teen die einde van die sewentigerjare (UR 25/84; Kok 1992:163).