• No results found

AANPASSINGSPATRONE 1990-1995: DENKAANPASSINGS IN DIE NUWE POLITIEKE MILIEU EN VOORTSPRUITENDE AKSIES

4.2. INTERNE DENKAANPASSINGS EN VOORTSPRUITENDE AKSIES

4.2.2. Bestuur: uitvoerende direkteur (besturende direkteur)

ʼn Ledevereniging soos die ATKV ontvang sy opdrag van sy lede in die vorm van jaarlikse kongresse waar besluite onder leiding van ʼn direksie geneem word. Die direksie is verantwoordelik om oorhoofs die aktiwiteite van die organisasie te beheer en die pad vorentoe vir die organisasie aan te dui. Dit sluit onder meer die formulering van ʼn organisasievisie en -missie gebaseer op bepaalde waardes in. Die doen-deel, dit wil sê die stel en bereik van doelwitte, is egter die verantwoordelikheid van bestuur onder leiding van die uitvoerende direkteur (sedert 1993 “besturende direkteur” genoem). Dit is belangrik dat daar sinchronisasie tussen beheer en bestuur sal wees, spesifiek wat betref ʼn gedeelde visie vir die organisasie. Hendry en Kiel bevestig hierdie benadering deur daarop te wys dat die direksie baie effektief die strategiese rigting van die organisasie kan aandui sonder om in konflik met die hoof- uitvoerende beampte (besturende direkteur) te wees (Hendry & Kiel 2004:513).

ʼn Suksesvolle besturende direkteur en later voorsitter van Naspers, Ton Vosloo, sê oor leierskap dat dit selfbevraagtekening beteken, maar nie vertwyfeling nie. Hy sê ook dat hy homself as bestuurshoof nie maklik aan selfvoldaanheid oorgegee het nie. Daarom het hy as leier in die invloedryke Afrikaanse media dadelik werk gemaak van aanpassing by die politieke landskap toe hy in 1983 die leisels van Naspers oorgeneem het. Volgens Vosloo moes die politiek van die toekoms die fokus word. Hy verklaar sy visie vir Naspers duidelik as hy sê: “Die kultuur van eng, eksklusiewe nasionalisme moes nek-om gebuig word. Ons moes ʼn meer inklusiewe Suid-Afrikaansheid begin kultiveer” (Vosloo 2018:132). Hy lê baie klem op diens en is van mening dat geen organisasie vir ʼn ander doel bestaan as om diens aan die samelewing te lewer nie. Hy voel sterk oor die vertroue wat die direksie in die bestuursleier moet hê en die bestuursleier moet kan staatmaak op die betroubaarheid en bekwaamheid van spanleiers ondertoe (Vosloo 2018: 129, 132-133).

Ook die ATKV kon nie in hierdie veranderende tye homself isoleer van die politiek van die dag nie en daarom is dit belangrik om te let op hoe die uitvoerende direkteur, mnr Frits Kok, hierdie rol namens bestuur vervul het. Sy begrip van die rol van ʼn suksesvolle bestuurder het baie met Vosloo s'n ooreengestem. Sy jaarverslae aan ATKV-kongresse in

die oorgangsjare na ʼn nuwe politieke bedeling in die jare 1990 tot 1994 spreek van optimisme vir die toekoms; die Afrikaner se groot rol wat hy in Suid-Afrika en Afrika speel, ʼn gesindheid van wedersydse respek tussen mense en die behoud van waardes, en dan ook uithouvermoë. Sy rol as leier in die neëntigerjare kan dus beskou word as ʼn poging tot die vestiging van ʼn fyn balans tussen wat Vosloo “eng, eksklusiewe nasionalisme” noem en die bou aan ʼn meer “inklusiewe Suid-Afrikaansheid” (Vosloo 2018:132).

Soos reeds aangetoon, moes hierdie twee hoofstroomdenkrigtings steeds ruimte binne die organisasie gegee word terwyl terselfdertyd ernstige verdeeldheid voorkom moes word ter wille van die ATKV se oorlewing. Soos in die vorige afdeling oor die denke binne die direksie aangetoon is, was daar in die neëntigerjare klaarblyklik baie goeie sinchronisasie tussen die direksie en die besturende direkteur se benadering tot verandering.

Frits Kok was besturende direkteur van die ATKV van 1981 tot 2006. Hy het in 1992 ’n doktorsgraad in Afrikaanse kultuurgeskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch onder prof PW Grobbelaar van die Departement Afrikaanse Kultuurgeskiedenis verwerf. Die titel van sy proefskrif is Die taak van Kultuurorganisasies in minderheidskultuurgroepe met

besondere verwysing na die ATKV. Hy is binne en buite die organisasie hoog geag en sy

sterk leiding om die organisasievisie te help verwesenlik, kan kwalik oorskat word. Vervolgens ʼn paar uittreksels uit stellings deur Kok tydens die lewering van sy jaarverslae in die moeilike politieke oorgangstyd in die jare 1990 tot 1995. Daarvan kan afgelei word of hy die ATKV suksesvol ten opsigte van die nuwe bedeling help posisioneer het en terselfdertyd gepoog het om die lede met hom saam te neem op hierdie onbekende pad. Sunday, Adekunle en Roseline (2014) glo dat ʼn organisasie se oorlewing baie van sy leierskap en strategie afhang. Hulle maak in hierdie verband twee belangrike gevolgtrekkings: eerstens dat ʼn leier moet begryp wat vir die suksesse en mislukkings van die organisasie verantwoordelik is, en tweedens dat hy nie net op sy eie vaardighede kan staatmaak nie. Hulle wys ook op die gevaar van ʼn leier wat te veel mag in ʼn organisasie bekom en as gevolg van suksesse wat die organisasie behaal later outokraties (“solo- minded”) word (Sunday, Adekunle & Roseline 2014:49).

In sy 1990/91-verslag aan die kongres noem Kok dat die Afrikaner nog altyd deur sy geskiedenis as minderheidsgroep by veranderende omstandighede kon aanpas. Dit loop soos ʼn goue draad deur sy geskiedenis. Die volgende aanhaling som waarskynlik Kok se benadering as bestuursleier van die ATKV oor ʼn tydperk van uiteindelik 25 jaar op: “Daarom is dit belangrik dat ons soos in die verlede, kop omhoog, gelowig, trots, maar

regverdig die toekoms tegemoet gaan – nie as verloorders nie, maar as argitekte en positiewe bouers aan die Suid-Afrika van môre wat plek het vir al sy inwoners” (ATKV- Jaarverslag 1991:49). Vir Kok het die ATKV, ten spyte van die feit dat die ATKV ʼn minderheidsgroep verteenwoordig, nogtans ʼn rol in die breë samelewing gehad.

Kok verwys na ʼn vars bries van internasionale aanvaarding na afloop van die politieke veranderinge nadat Suid-Afrika vir so lank die muishond van die wêreld was. Volgens hom is Suid-Afrika die “vonkprop” van Afrika” (ATKV-Jaarverslag 1991:49). Die Afrikaner en die ATKV het hierin ʼn besondere rol gespeel. Verwysende na die ATKV, sê hy dat die organisasie met groot optimisme en vertroue in die toekoms van Suid-Afrika voortgewoeker het op ʼn veelheid van terreine ter uitbouing van die Afrikaner se kultuur. Hy roep kongresgangers en die organisasie op om aan ander te gun wat hulle vir hulleself gun, en dat hulle begrip moet hê vir die proses wat in die land aan die gang is. Sy beroep op kongresgangers is verder om met hoop aan die toekoms te bou. Lede moet nie die onbekende vrees nie en hulle pessimisme afskud. Hy pleit vir doelgerigtheid vanuit ʼn magsposisie en ʼn toekoms waar vryheid en verantwoordelikheid hand aan hand gaan en waarin die Afrikaner steeds ʼn belangrike rol speel (ATKV-Jaarverslag 1991:49).

In sy 1991/92-jaarverslag wys Kok op die belangrikheid van groepsbewustheid wat behou moet word, maar dat dieselfde ook aan ander dieselfde gegun moet word. “Vandat Jan van Riebeeck die eerste tree op die Kaapse sand gegee het, loop die voetspore van ʼn ontwakende volk al dieper die binneland in, eers as soldate en matrose, dan as jagters, vryburgers en boere, dan as Trekkers en uiteindelik as die Afrikanervolk van vandag. ʼn Volk wat, nieteenstaande die feit dat hy so dikwels verdag gemaak word, tog lewensruimte vir die talle groepe in Suid-Afrika kon bied” (ATKV-Jaarverslag 1991/92:39). Volgens Kok is daar wêreldwyd ʼn toename in groepsbewustheid omdat minderheidsgroepe hulle eie identiteit wil behou. Hy verwys na 1987, waartydens daar op nie minder nie as 25 plekke in die wêreld oorloë tussen verskillende kulturele of godsdienstige groepe was (ATKV- Jaarverslag 1991/92:39).

Aan die ander kant, sê Kok, is dit baie belangrik om te besef dat daar ter wille van vrede in die toekoms ʼn geleentheid en ruimte gebied moet word aan die verskillende volke in Suid- Afrika, ook die Afrikaner, om sy kulturele behoeftes ongehinderd uit te leef. Vir hierdie behoeftes, glo Kok, hoef Afrikaners nooit verskoning te maak nie, want daarsonder sal vrede nie moontlik wees nie. Hy wys daarop dat die Afrikaners lankal reeds, soos hulle voorgangers, die eerste treë die toekoms in geneem het. Die uitdagings van die hede lê vir hom voor die hand. Deur die loop van jare kon Afrikaners uitdagings in die oë kyk,

oplossings soek en steeds vorentoe beweeg. Nou, meer as ooit tevore, moet in hierdie proses van verandering op so ʼn manier opgetree word dat dit wat vir die Afrikaner kosbaar is, behou word. Terselfdertyd moet hierdie voorreg ook vir ander gegun word. Kok glo dat sonder die Afrikanervolk se samewerking daar nooit ʼn vreedsame Suid-Afrika kan wees nie. ʼn Verloorderhouding wat so dikwels voorkom, moet egter agtergelaat word en daar moet in die geloof, met trots en waardigheid, maar ook onverskrokke aan die nuwe Suid- Afrika gebou word. Dit sal verseker dat die Afrikanervolk beskou sal word as een wat nie ondergekry kan word nie (ATKV-Jaarverslag 1991/92:39-40). Weer eens was die tema van sy verslag dus die reg van Afrikaners as kultuurgroep om hulle kultuur uit te leef, maar terselfdertyd dit ook vir ander kultuurgroepe te gun. Vertroue op God is ook ʼn deurlopende tema.

Tydens die ATKV-kongres op Hartenbos in 1993 is die kongrestema “Praktiese Kultuurbevordering”. In sy verslag oor die voorafgaande finansiële jaar lê Kok klem op die feit dat kultuur ʼn totale lewenswyse is, dit wil sê alles wat die mens doen om by sy omgewing aan te pas. Die kultuurvormende proses is ʼn totale lewenswyse, want dit omvat die totaliteit van religieuse gebruike, ʼn ekonomiese stelsel, sosiale gebruike, ʼn politieke stelsel, ʼn regstelsel, ʼn taal sowel as kuns en spel. Volgens Kok dien kultuur nie net as tussenganger tussen die mens en sy omgewing nie, dit bied ʼn spesifieke meganisme om sy probleme te hanteer, ʼn metode waarmee hy sy lewe so aangenaam moontlik maak. Daarby verskaf kultuur selfvertroue aan die individu en lei tot aanvaarding deur die groepe. Kultuur verskaf dus op sy mees basiese vlak ʼn gevoel van sekuriteit en geborgenheid en vorm sodoende een van die sterkste dryfvere van die menslike gedrag. Hy vergelyk dit dan ook met ʼn handskoen waarbinne die kultuurgebruiker warm pas (ATKV-Jaarverslag 1992/93:29).

Verwysende na die uitdagings van die tyd oordeel Kok dat nie net vir die Afrikaner nie, maar ook vir die ATKV daar groot uitdagings is en moeilike vrae is wat beantwoord moet word. Hy glo dat die ATKV sy ledebasis dringend sal moet vergroot en dat die organisasie se taak vorentoe is om te bly voortbestaan, want hy moet omsien na die behoeftes van die kultuurgemeenskap waarbinne hy funksioneer. Hy wys daarop dat die organisasie nie net ingestel moet wees op bewaring en handhawing van kultuur nie, maar ook die ontwikkeling en uitbouing daarvan (ATKV-Jaarverslag 1992/93:39-40).

Die ATKV werk egter binne ʼn omgewing waarin sy vermoë om sy doelwitte te bereik, beperk word. Daarom moet die ATKV werk aan die uitbouing van noodsaaklike strukture soos ʼn eie massamedia, eie opvoedingstelsels en eie kunsbevorderingsmeganismes. Die

organisasie moet ook aanpasbaar wees om met ʼn behoorlike organisasiekultuur aan die vereistes van die tyd te voldoen. Kok verwys na moderne en professionele metodes wat gebruik moet word en aktiwiteite wat van hoogstaande gehalte is. Verder moet finansiële bates uitgebou word ter wille van doeltreffendheid (ATKV-Jaarverslag 1992/93:39-40). Volgens Kok sal die ATKV ook aan sy beeld moet bou. Lede se betrokkenheid op plaaslike vlak is daarom so belangrik ten einde ʼn bydrae tot die Afrikanerkultuur, die breë Afrikaanse gemeenskap en Suid-Afrika as geheel te lewer. Sy retoriese vraag is dan wat die ATKV as organisasie, wat uit gelowiges bestaan, met hierdie toekoms wat in sy hande is, gaan doen (ATKV-Jaarverslag 1992/93:29, 39-40). Dit is opvallend dat Kok klem lê op die rol van lede op plaaslike vlak en spesifiek op ʼn waarde soos geloof wat ʼn groot rol in hulle denke en optrede behoort te speel. Jokinen verwys na Meneghetti (1995), wat bevestig dat die waardes wat vir organisasievrywilligers van belang is, baie sterk in ag geneem moet word wanneer hulle bestuur word (Jokinen 2012:21).

Op die Buffelspoortkongres van 1994 fokus die besturende direkteur op die voorwaardes vir groei van ʼn organisasie soos die ATKV ten einde dinamies deel van die toekoms te bly (ATKV-Jaarverslag 1993/94:31). Dit dui weer eens op sy visie vir Afrikaans en vir die ATKV as organisasie. Vir Kok lê die sleutel vir die behoud van ʼn spesifieke groep se kultuur in die kultuurkrag van daardie groep. Dit behels die vermoë van ʼn spesifieke groep om homself in ʼn omgewing van groot verandering te handhaaf. Dit is onder meer afhanklik van faktore soos leierskap binne-in die groepe en die ekonomiese vermoë van die groepe ATKV-Jaarverslag 1993/94:31).

Soos by die vorige kongres beklemtoon hy dat die groep ook hulle eie opvoeding en opvoedkundige stelsels wil beheer, beskik oor hulle eie massamedia, hulle eie kreatiewe vermoëns en uitvoerende kunste wil uitbou en hulle eie verenigings en instellings stig. Die ATKV se aktiwiteite is juis gerig op uitbouing van hierdie kultuurkrag. Hy sê dat die ATKV aan dieselfde wetmatighede gekoppel is as enige groot maatskappy. Hoewel die ATKV se besigheid hoofsaaklik kultuur is, word dit gedoen op grond van gesonde sakebeginsels. Daarom is die ATKV se sakebedrywigheid van die grootste belang, aangesien dit sy kultuurbedrywighede finansier. Die ATKV moet dus kennis neem van die vereistes wat nodig is vir groei en voortbestaan (ATKV-Jaarverslag 1993/94:31).

Volgens Kok sal die ATKV in die toekoms:

• Moet omsien na die behoeftes van die kultuurgemeenskap waarbinne hy funksioneer

• Moet ingestel wees nie net op die bewaring en handhawing van kultuur nie, maar ook op die ontwikkeling en uitbouing daarvan

• Doeltreffende ledebetrokkenheid moet verkry • Suksesvol as kulturele drukgroep moet funksioneer

• Moet handhaaf en bou aan noodsaaklike strukture soos eie massamedia, opvoedingstelsels en kunsbevorderingsmeganismes

• Moet saamwerk met ander kultuurorganisasies

• ʼn Behoorlike organisasiestruktuur moet hê, asook ʼn professionele personeelkorps • Dinamies en dus ʼn organisasie van daad moet wees

• Suksesvol en doeltreffend moet wees ten opsigte van kultuuroordrag • Aktiwiteite moet bedryf wat van hoogstaande kwaliteit getuig

• Oor die nodige finansiële vermoëns moet beskik om die organisasie te versterk en uit te bou

• ʼn Suksesvolle beeld moet hê

• Ter sake moet wees vir doeltreffende taakvervulling (ATKV-Jaarverslag 1993/94:41- 42).

Hy sluit sy jaarverslag met die volgende treffende gedagte af: Die geskiedenis wys dat ons doeners is ten spyte van ʼn beeld van ʼn “langasemvolkie”. Dit is dus nou nodig om die langdradigheid en baie praat te los om dinge te doen (ATKV-Jaarverslag 1993/94:42). In aansluiting by die kongrestema, naamlik “Aktiewe bouer aan die toekoms” wys dr. Kok tydens die 1995-kongres op ATKV-Goudini op die siekte van ons tyd, naamlik onsekerheid. Dit lei tot daadloosheid en onttrekking en ʼn gevoel van pessimisme en ʼn “Ek- het-mos-gesê-houding” as dinge verkeerd loop. Volgens Kok is so ʼn houding egter dikwels tot mense se eie nadeel. Die ingesteldheid behoort te wees om waarde toe te voeg wat niks hoef te kos nie. Hy wys dan ook daarop dat die ATKV die kundigheid, die vaardigheid en die vermoë het om ʼn rol in die toekoms te speel wat werklik saak maak. Dit kan met geloof en oortuiging gedoen word (ATKV-Jaarverslag 1994/95:38).

Uit Kok se toesprake by algemene jaarvergaderings blyk dit dat hy die ATKV se werksomgewing, naamlik die Afrikaanse kultuurwêreld met sy lede as vrywilligers, goed

verstaan het. Hy kon ook die taak en uitdagings van die organisasie klinkklaar formuleer en kommunikeer. In hierdie verband moes hy natuurlik in sinchronisasie met die ATKV- direksie funksioneer. In hoofstuk 7 word op hierdie onderwerp uitgebrei, waar aandag gegee word aan dié aspek van sy leierskap en sy verhouding met die direksie.