• No results found

BEELD VAN DIE ATKV TEEN

2.1.3. Agtergrond tot die hantering van uitdagings 1980 tot

2.1.3.1. Politieke veranderings

Die bewindstydperk van pres PW Botha het in 1989 stormagtig tot ʼn einde gekom (De Klerk 1999:165), en hy is deur mnr. FW de Klerk as president opgevolg. Op 2 Februarie 1990 het pres De Klerk tydens die parlementsopening dramatiese politieke veranderinge aangekondig, wat hy opgevolg het met die vrylating van Nelson Mandela op 11 Februarie 1990. Die jaar 1990 was inderdaad ʼn waterskeidingsjaar, veral op politieke gebied (De Klerk 1999:182). Papenfus verwys na De Klerk se toespraak, wat vergelykbaar is met die winde-van-verandering-toespraak wat die destydse Britse eerste minister, Harold MacMillan, dertig jaar vantevore in dieselfde parlementsgebou gelewer het. Toe het dit gegaan oor die onvermydelike aanvaarding van veranderinge in die res van Afrika.

Volgens Papaenfus het dit in pres De Klerk se toespraak gegaan oor veranderinge wat onder meer tot ʼn nuwe, demokratiese Suid-Afrika sou lei (2010:614). Hierdie veranderinge het ook implikasies op vele ander gebiede gehad, onder meer op Afrikaner-kultuurgebied. Die Afrikaner moes nou die krisis van die verlies aan politieke mag hanteer. Kultuurorganisasies soos die ATKV was genoodsaak om die veranderende omstandighede te verreken omdat dit nuwe verhoudinge met die regering van die dag behels het. Hierdie verhoudinge was krities vir die karakter en voortbestaan van die organisasie soos wat mense dit geken het. Wat die ATKV dus in hierdie tydperk gedoen het om proaktief by die omstandighede aan te pas, asook hoe die organisasie teen 2009 geposisioneer was, sal aantoon of dit inderdaad visioenêr was (kyk na hoofstuk 3; ATKV- Jaarverslag 2012:1, 5; 2014:2, 7, 21-22). Benewens ʼn nuwe uitkyk op die politieke filosofie van die nuwe bedeling en hoe dit hanteer moes word, sou die ATKV se voortbestaan ook in gedrang kon kom indien sy lede deur ʼn nuwe rigting in die organisasie vervreem word (kyk na hoofstuk 3 oor lidmaatskap van die ATKV).

2.1.3.2. Veranderende kulturele landskap

In die tydperk 1980 tot 2009 het aansienlike aanpassings ten opsigte van die organisasie se kulturele benadering plaasgevind. Op kutuurgebied was daar, sedert die aanvang van die nuwe politieke bedeling in 1994, bestendige groei ten opsigte van ledetal, takke en kultuuraktiwiteite. Op sakegebied het ʼn debat geheers rondom die herstrukturering van die organisasie om by veranderende eksterne politieke en ekonomiese faktore aan te pas. Volgens Kok het “die kulturele mikpunte van die ATKV veral sedert 1984 verskuif om die

bevordering van die Afrikanerkultuur nie net te rig op die primêre kultuurgebruiker, die Afrikaner self nie, maar ook om die doelwitte te verruim om die Afrikanerkultuur en Afrikaans bekend te stel en te bevorder onder alle groepe, veral anderskleuriges in Suid- Afrika” (Kok 1992:163). Hier is dus sprake van verandering binne die organisasie reeds voor die nuwe politieke bedeling van 1994 ʼn aanvang geneem het. Dit het gedui op ʼn uitwaartse benadering van die Afrikaner en dit sou nog later ook in sy lidmaatskapvoorwaardes neerslag vind.

2.1.3.3. Lidmaatskap

In die begin van die neëntigerjare het die ATKV, wat op daardie stadium nog net blankes as lede gehad het, sy lidmaatskapsvereistes in heroënskou geneem. Die heersende debatte oor Afrikaneridentiteit en die begrippe Afrikaanse, Afrikaanse gemeenskap,

Afrikaanse kultuurgemeenskap en Afrikaanse taalgemeenskap het hom uitgedaag om

standpunt hieroor in te neem (kyk na “Konseptualisering” in hoofstuk 1). Die ATKV- leierskap moes natuurlik sy bestaande ondersteunersbasis, in die vorm van ingeskrewe lede, raadpleeg om te verseker dat hierdie lede aanpassings aan die organisasie se lidmaatskapsvereistes sou steun. Die aanpassings is in 1990 ingelui met die oopstel van lidmaatskap vir nie-Vervoerdienslede. Daar is toe besluit dat die meerderjarige kinders van lede, ongeag of hulle by Transnet werk of nie, ook lid van die ATKV kon word (ATKV- statute 1990:artikel 5). Nog later, in 1991, is die organisasie vir alle rasse oopgestel mits die persoon aan die organisasie se lidmaatskapsvoorwaardes voldoen (ATKV-statute 1991:artikel 5; kyk ook na hoofstuk 3). Die amalgamasie met die Afrikaanse Taal- en Kultuurbond van die Poskantoor (ATKB) in 1993 en die Afrikaanse Kultuurvereniging van die Suid-Afrikaanse Polisie (AKPOL) in 2000 het die ledetal van die ATKV ʼn stewige hupstoot gegee, tot so ʼn mate dat die ATKV in 2000 sy 50 000ste lid ingeskryf het (Die ATKV in ʼn Neutedop 1980-2005, ongepubliseerde ATKV-werksdokument 2005:5).

2.1.3.4. Ekonomiese volhoubaarheid

Benewens kultuur is daar sedert 1980 toenemend ook op sake-aktiwiteite binne die organisasie gefokus. Finansiële volhoubaarheid is ʼn voorvereiste vir die voortbestaan van enige organisasie. Hierdie uitdaging was deur die loop van sy geskiedenis ʼn kardinale deel van die ATKV se besigheidsbenadering en visie. Laasgenoemde is reeds in 1936 gedemonstreer met die aankoop van sy eerste vakansieoord op Hartenbos in die Suid- Kaap (Kaljee 1993:17). Teen 1980 was daar drie sulke oorde wat die finansiële lewensaar

van die organisasie uitgemaak het, en ná 1980 het nog vier gevolg. Die uitdaging was deurgaans om die oorde op so ʼn wyse te bedryf dat dit die finansiële volhoubaarheid van die ATKV as geheel moes verseker. ʼn Baie belangrike element wat nie buite berekening gelaat moet word wanneer volhoubaarheid ter sprake is nie, is die ATKV se unieke samestelling as organisasie. Sy hoofbesigheid lewer ʼn kultuurproduk wat hom die steun van sy lede verseker, en tweedens moet sy selfsorgvakansiebedryf só aan sy kliënte gebied word dat dit vir die belangrikste inkomstestroom van die organisasie as besigheid sorg. ʼn Lewensvatbare besigheidsmodel is dus vir die ATKV kritiek om die inkomste te verskaf wat die saak van Afrikaans kan bevorder.

Benewens die aankoop van sewe vakansieoorde sedert 1930 het die ATKV ook ʼn eie uitgewery aangekoop. Op 1 Oktober 1996 word JP van der Walt Uitgewers, later bekend as LAPA Uitgewers (Lees Afrikaans Praat Afrikaans), tot die ATKV-stal toegevoeg. LAPA moes enersyds die ATKV se fokus op die bevordering van Afrikaans deur middel van lees en skryf bevestig, en andersyds sy sakeafdeling versterk deur ʼn inkomste te genereer (ATKV-Kongresjaarboek 1997:43-45). Met die aanvaarding van ʼn nuwe strategiese benadering in 2006, bekend as die wenstrategie, is ook die sakebenadering van die organisasie geraak (kyk na hoofstuk 7). In 2015 het die organisasie se Algemene Jaarvergadering met ʼn spesiale besluit die ingrypende stap gedoen om die ATKV in twee maatskappye, naamlik ʼn sakemaatskappy en ʼn kultuurmaatskappy, te herstruktureer (ATKV-Jaarverslag 2015:6 22; Kennisgewing van Algemene Jaarvergadering 2015:2-5, 29, 35-41, 43, 46; kyk ook na hoofstuk 7). Dit was deel van ʼn nuwe groeibenadering wat die organisasie begin volg het en waarvan slegs die tyd sou leer hoe suksesvol hierdie besluit was.