• No results found

Die Duitse historikus Leopold von Ranke verstaan geskiedenis as vakdissipline as ʼn strewe na objektiwiteit. Hierdie siening vloei voort uit die historisisme. Hierdie wêreldbeskouing plaas die mens, sy geestesontwikkeling en sy kultuurskepping in die middelpunt. Volgens Von Ranke is die wêreld van die mens, die geskiedenis, saamgestel deur die besondere, eenmalige en onherhaalbare historiese feite of menslike handelinge wat vervul is met wil en doel. Alles wat werklik is, word slegs deur die geskiedenis verstaan, elke mens of volk se karakter word daardeur onthul. Hy sien nie die historikus as regter of politieke wegwyser nie, maar ʼn dienaar van die wetenskaplike waarheid (Von Ranke soos aangehaal in Van Jaarsveld 1980:8,131). Hierdie uitgangspunt is egter nie genoeg om aanpassingspatrone van ʼn kultuurorganisasie soos die ATKV in perspektief te sien nie. Bepaalde gebeure en denkrigtings moet in die hede verstaan word. Dit word in die res van hierdie studie aangetoon.

In die lig van voorgenoemde is Van Jaarsveld se siening oor die wese van die geskiedskrywing dus ook van groot belang. Volgens hom word daar algemeen aanvaar dat die geskiedskrywing die beantwoording van ʼn vraag is wat ʼn historikus aan die verlede stel. Die redes hiervoor kan, volgens hom, uit intellektuele nuuskierigheid wees of met die doel om ʼn gebeurtenis vanweë sy belangrikheid te begryp, of om die wortels van ʼn huidige vraagstuk bloot te lê met die oog op beter begrip van sowel die oorsprong van die vraagstuk of “sy nawerking in die hede” (1974:91). Die vraag wat in hierdie studie ter sprake is, is hoe die ATKV hom sedert 1980 by ʼn veranderende politieke en kulturele milieu aangepas het. Veral die derde kenmerk wat Van Jaarsveld noem, is van toepassing: daar word gesoek na beter begrip vir sowel die oorsprong van waarom die ATKV hom moes en wou aanpas by die hede. Die antwoord is veral te vinde in die

denkrigtings van die organisasie se leierskap, kongresbesluite en aanpassings aan die organisasie se visie- en missie-stellings, wat in hoofstuk 3 in besonderhede bespreek word.

In aansluiting hierby sê Johann Tempelhoff dat geskiedenis ʼn dissipline is wat met die bestudering van die mens en die proses van verandering binne ʼn tydruimtelike konteks verband hou. Dit is ook kollektiewe herinnering, die bergplek van ervaring waardeur mense ʼn sin van hulle sosiale identiteit ontwikkel en terselfdertyd oor die vooruitsigte van die toekoms besin (2010:9,19,25). Die ATKV se geskiedenis gaan juis oor die handelinge van mense en verandering wat oor tyd plaasgevind het. Daarom word daar deurentyd oor die toekoms besin.

Walsh se siening sluit hierby aan, naamlik dat die funksie van geskiedenis is om die mens bewus te maak van die karakter van sy eie tyd deurdat hy dit met ʼn ander tyd vergelyk en kontrasteer (Walsh soos aangehaal deur Marwick 1970:17).

Marwick bevestig die belang van geskiedenis as hy sê dat ons nie van geskiedenis kan ontsnap nie en dat ons lewens beheer (“governed”) word deur wat ons glo in die verlede gebeur het. “Without a knowledge of history, man and society would run adrift, rudderless craft on the uncharted sea of the past” (Marwick 1970: 240).

Pieter Geyl se gevolgtrekking dat die geskiedskrywing lei tot “verrijking van onze cultuur”, die “aankweken van de historische geesteshouding” en “opheldering van het hede en zijn problemen door ze in perspectief te plaatsen” is ook van toepassing (Geyl soos aangehaal deur Van Jaarsveld 1974:132). Die ATKV se aanpassingspatrone verskaf perspektief ten opsigte van die organisasie se verlede en waar hy hom tans as kultuurorganisasie in ’n veranderende Suid-Afrika bevind (kyk na hoofstuk 2 en 3).

Die ATKV se geskiedenis in die tydperk onder bespreking bevestig die wese van geskiedenis as vakdissipline. Ten einde die organisasie vandag te verstaan, moet die veranderinge wat oor tyd in die Afrikanergemeenskap en die Suid-Afrikaanse samelewing plaasgevind het, geken word om dit te kan verstaan. Met behulp van kennis van die organisasie se geskiedenis verstaan die mens die karakter van sy eie tyd teenoor wat dit vroeër was.

Bogenoemde historici se definisies van die geskiedenis as vakdissipline skep dus ʼn raamwerk waarbinne die ATKV se geskiedenis vir die tydperk 1980 tot 2009 gedokumenteer en geïnterpreteer kan word.

1.2.3. Kultuurgeskiedenis as vakdissipline

Aangesien die benadering van die studie oorwegend kultuurhistories van aard is, is daar ʼn aantal bykomende aspekte wat metodologies aandag verdien.

Die “vader van die kultuurgeskiedenis”, die Nederlandse kultuurhistorikus Johan Huizinga, se siening is dat elke geslag, elke kultuurgemeenskap of volk sy eie vrae aan die verlede stel en sy eie antwoorde daarop verstrek (Huizinga soos aangehaal deur Van Jaarsveld 1974:129). Die vrae wat in hierdie studie aan die verlede gestel word, is enersyds wat die inhoud en omvang van aktiwiteite van die ATKV in ʼn bepaalde afgebakende tydperk was, en andersyds hoe die organisasie die veranderende politieke en kulturele milieu binne hierdie tydperk hanteer het. Hierop word in hoofstuk 2 en 3 in besonderhede ingegaan.

Volgens Jan Romein is die taak van die kultuurhistorikus om te soek na die verband tussen alle lewensterreine in ʼn spesifieke tyd (Romein soos aangehaal deur Van Jaarsveld 1980:28). In hierdie studie word die verband tussen twee lewensterreine, politiek en kultuur, ondersoek.

OJO Ferreira identifiseer ʼn kombinasie van twee tipes kultuurgeskiedskrywing. Hy onderskei tussen ʼn tematiese en ʼn ontledende of analitiese benadering 1988:97). Benewens die tema van hierdie proefskrif, wat ʼn tematiese benadering veronderstel, word die ATKV se geskiedenis in wyer verband geplaas en ontleed. Beide hierdie benaderings is dus van toepassing op ʼn kultuurhistoriese analise van aanpassingspatrone soos dit in die ATKV waargeneem is.

Die kultuurhistorikus Matilda Burden verduidelik die metodologie van kultuurgeskiedenis in die Burden-model, wat deur haar ontwerp is. Dit verskaf die teoretiese raamwerk wat die bevredigendste basis vir ʼn kultuurhistoriese studie soos hierdie verskaf.

Burden se definisie van die begrip kultuurgeskiedenis is soos volg: “Kultuurgeskiedenis maak ʼn studie van die kultuurproduk, die skeppingsproses wat dit tot stand gebring het, die stimulus wat die proses geïnisieer het, en van die samehang van of verbande tussen kultuurprodukte en die dimensies waarbinne hulle tot stand kom; dit is ʼn studie waarbinne

die skepper, dit wil sê die mens self, sentraal staan” (Burden 2000:19). Die Burden-model (figuur 1, p. 32) is ʼn driedimensionele voorstelling van die vlakke of dimensies waarbinne kultuurgeskiedenis funksioneer. Dit bestaan uit drie asse wat mekaar reghoekig sny en wat omring word deur ʼn sirkel, wat van die geheel ʼn bal maak. Buite-om hierdie bal verskyn nog twee sirkels, wat die sfere van die natuur en die bonatuur voorstel (2000:20). Vervolgens ʼn verduideliking van enkele kultuurhistoriese begrippe ten einde die model se inhoud ten beste te begryp. Daar word eerstens na die betekenis van die begrippe

geestelike kultuur en stoflike kultuur gekyk. Geestelik verwys in hierdie verband na

nietasbare of niemateriële kultuur, en stoflik na tasbare kultuur. Burden wys daarop dat hoewel die model tasbare en nie-tasbare elemente skei, dit ter wille van bruikbaarheid gedoen word. Die sterk verbintenis wat daar egter tussen die tasbare en nietasbare ten opsigte van kultuur bestaan, moet volgens Burden baie duidelik erken word. Twee ander begrippe wat in die model ter sprake kom, is patrisiërkultuur (waarna soms verwys word as

formele kultuur) en volkskultuur, waarna soms verwys word as informele kultuur.

Patrisiërkultuur verwys na mense wat die geleentheid tot skoling en opleiding in ʼn akademiese sin gehad het en ook die middele om dit te bekom. Volkskultuur verwys na die individu of groep wat kultuurprodukte skep waarvoor hulle nie formele, akademiese opleiding ontvang het nie. Volgens Burden skep elke mens volkskultuur en moet dit nie met “kennis van ʼn bepaalde volk” verwar word nie, aangesien laasgenoemde term dikwels as nasionalisme verstaan word. Verder is dit belangrik om te verstaan dat elke patrisiërmens ook ’n volksmens is, hoewel nie elke volksmens ’n patrisiërmens is nie (2000:20-25).

ʼn Begrip van die term tradisioneel is ook van groot belang. In die konteks van die model word daarmee bedoel ʼn verskynsel wat reeds deur die gemeenskap aanvaar is en as ʼn tradisie van geslag tot geslag oorgedra word. In teenstelling daarmee word met die begrip

eietyds moderne of hedendaagse verskynsels bedoel wat nog nie as tradisies erken is nie.

Daar word geen ouderdom aan een van hierdie twee begrippe gekoppel nie. Die model is ook ʼn bevestiging dat kultuur dinamies is en dat kultuurgeskiedenis al die prosesse in kultuurvorming bestudeer. Die aktualiteit daarvan word nie net aan tradisie gekoppel nie. Die hedendaagse konteks is juis ook van uiterste belang. Laastens is daar die begrippe

natuurlike omgewing en bonatuur. Dit verwys na die niemensgemaakte dimensies wat

stand kom. Burden beskryf dit as “die mens se verwysingsraamwerk waarbinne hy dink, leef en skep” (Burden 2000:25-26).

Met bogenoemde begrippe as agtergrond en met verwysing na figuur 1 (kyk na p. 32), word die model soos volg geïnterpreteer:

Die AB-as dui die kontinuum aan waarop die geestelike kultuur (A) en stoflike kultuur (B) aangetref word. In figuur 2 (kyk na p. 32) word ʼn aanduiding gegee van moontlike hooftemas van kultuurgeskiedenis wat op hierdie as aangetref word. Die CD-as in figuur 1 verteenwoordig die twee tipes kultuur, naamlik patrisiër- (C) en volkskultuur (D). Die EF-as toon die dimensie van tyd aan en dui die onderskeid tussen tradisionele en eietydse kultuur aan. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat daar nie ʼn middelpunt op een van die asse is waar een element (soos op die pole van die asse aangedui) in die ander oorgaan nie. Die vaagste van almal in dié verband is juis by die begrippe tradisioneel en

eietyds. Die rede hiervoor is dat iets wat nog relatief jonk in jare is, alreeds as tradisioneel

beskou kan word, terwyl iets wat al baie jare bestaan steeds as eietyds beskou kan word. Die model gee ook ʼn goeie verstaan van die tydsdimensie omdat dit aantoon dat kultuurgeskiedenis hom ook met die eietydse, hedendaagse verskynsels en prosesse besig hou. Laastens is daar die twee sfere wat met stippellyne aangedui word wat rondom die model aangebring is en waarvan die betekenis hierbo in die konteks van die natuurlike omgewing en die bonatuur verduidelik is (Burden 2000:20-26). Uiteindelik is die waarde van die model dat dit die belang van verbande tussen verskeie dimensies en onderdele beklemtoon (Burden 2000:17).

Volgens Burden omvat die metodologie van kultuurgeskiedenis die volgende: die inhoud of werklikheid wat bestudeer word; die benadering, dit wil sê die invalshoek waaruit die inhoud bestudeer word; die doelwitte (die redes waarom die werklikheid bestudeer word en wat met die studie bereik wil word), en dan die navorsingsmetodiek, wat ʼn relevante literatuurstudie, sowel as die aanwending van verskeie ander bronne is wat vanuit ʼn kritiese hoek benader word (2000:29). Vervolgens word in die konteks van die onderwerp van hierdie studie na bogenoemde elemente verwys.

Die inhoud wat bestudeer word, is die historiese verloop van die ATKV se geskiedenis vanaf 1980 tot en met 2009. Dit behels die taal-, kultuur- en sakeaktiwiteite van die organisasie, asook hoe dit gegroei en in hierdie tydperk struktureel verander het. Verder word daar aandag gegee aan hoe die organisasie bestuur en beheer is om te wees wat dit

teen 2009 was. Dit vorm die histories-empiriese gedeelte van die studie wat vanaf hoofstuk 4 tot 7 weergegee word. In hoofstuk 5 en 6 word veral gefokus op die taal- en kultuurprojekte van die organisasie, die groei en ontwikkeling van sy ledebasis, die rol van takke in die organisasie, asook sy sakemodel, wat die uitgewery en selfsorg-oorde behels. Die invalshoek waaruit die inhoud bestudeer word, is kultuurhistories, wat tot gevolg het dat beide die geestelike (nietasbare) en stoflike (tasbare) kultuur bestudeer word. In die ATKV se geval behels eersgenoemde onder meer temas soos geestesklimaat, geloof, interkulturele beïnvloeding, die kunste, kommunikasie en die woordkuns wat almal nietasbare produkte lewer en wat die basis van die meeste ATKV-kultuurprojekte vorm. Hierdie projekte neem tot ʼn groot mate ʼn patrisiër-karakter aan, byvoorbeeld musiek- en redenaarkompetisies. Sommige kultuurprodukte van die ATKV het egter ook ʼn volkskarakter, byvoorbeeld takaktiwiteite, wat dinge insluit soos braaivleisaande of verskeidenheidskonserte, met deelnemers wat uit die plaaslike gemeenskap kom. Die bewaring van en herlewing van die rieldans as kultuurproduk van die Khoi-mense het ook ʼn volkskarakter, is niematerieel van aard en tradisioneel. Voorbeelde van stoflike kultuur is die terreine, geboue en ander strukture wat aan die ATKV behoort en deur die organisasie in stand gehou word, asook die artefakte wat in die ATKV se Hartenbos-museum bewaar en uitgestal word. In hoofstuk 5 en 6 word in meer besonderhede ingegaan op hierdie onderskeidings soos dit in die ATKV se aktiwiteite vergestalt is.

Die doelwitte van die studie is om te bepaal of die ATKV in die veranderende politieke en kulturele milieu sekere aanpassingspatrone getoon het wat ingevolge die voorafgaande metodologiese benadering vir nuwe produkte verantwoordelik was. Die rede hiervoor was dat die ATKV ʼn bepaalde beeld gehad het wat hy in die lig van die veranderinge wou afskud. Hiervoor moes hy aanpas. Daar word dus gekyk na wat hierdie aanpassingspatrone was en dit word dan in hulle historiese konteks geïnterpreteer ten einde te bepaal hoe die kultuurproduk van die organisasie na afloop van die aanpassings gelyk het. ʼn Kritieke verwysingspunt is deurgaans die ontstaansrede van die organisasie, en aanpassings word deurlopend hieraan gemeet. Die visie en missie van die organisasie, en hoe dit oor tyd aangepas is, is veral duidelike aanwysers in hierdie verband (kyk na hoofstuk 3).

Soos in die Burden-model aangedui word, is daar verskeie moontlike hooftemas in die kultuurgeskiedenis. Temas wat op die AB-as (figuur 2) van dié model voorkom en wat verwant is aan politiek as een van die nietasbare elemente, is geestesklimaat en

interkulturele beïnvloeding. Omdat politiek so ʼn groot invloed op aanpassings in die ATKV gehad het, is dit nodig om laastens iets daaroor te sê. Die tydperk onder bespreking is gekenmerk deur groot politieke veranderinge in Suid-Afrika, wat op sy beurt ʼn selfondersoek na die kulturele wese van die organisasie en sy werksaamhede tot gevolg gehad het. Interkulturele beïnvloeding was deurgaans ʼn faktor wat ʼn rol in die geestesklimaat binne die organisasie gespeel het. In hoofstuk 2 en 3 word hierop uitgebrei. Volgens Burden is kultuurgeskiedenis “een van die geesteswetenskaplike dissiplines wat hom die beste leen tot interdissiplinariteit, maar het sy bepaalde benadering tot kultuur wat verskil van die baie ander dissiplines wat hulle met dié konsep bemoei” (Burden 2000:19). In hierdie studie is interdissiplinariteit ʼn gegewe. Die uitdaging is om dit wat bestudeer word, in breër verband te plaas – of dit nou kleiner of groter in omvang is (Ferreira 1988:97-98). Daar moet dus ʼn deeglike studie van die kultuurproduk gemaak word. In hierdie studie se geval is dit die ATKV se hantering van die reeds bestaande kultuurprodukte waarmee hy werk, en om dit dan binne die konteks van die totaliteit van kultuurgeskiedenis te kan plaas – ʼn konteks waarbinne die verbande tussen die onderskeie dimensies en onderdele duidelik deur die model verstaanbaar gemaak word. Dit is hier waar die politieke dimensie so ʼn belangrike rol speel.

Die politieke veranderinge in Suid-Afrika sedert 1980, en veral ná 1990 en 1994, het die stimulus verskaf wat ʼn bepaalde skeppingsproses van die gees laat ontstaan het, wat weer vir ʼn bepaalde kultuurproduk of denkwyse binne die organisasie verantwoordelik was. Ten opsigte van die konteks van die tema van hierdie studie is die voortdurende skeppingsproses (ook in denke) ʼn demonstrasie van die aanpassingspatrone van die organisasie in hierdie tydperk. Politieke veranderinge het ʼn nuwe perspektief op die Afrikanerkultuur genoodsaak. Hierdie nuwe perspektief het ʼn invloed daarop gehad dat die organisasie homself op baie gebiede aangepas het. Dis hier waar die beeld van die organisasie en sy reaksie daarop (wat in hoofstuk 2 en 3 hanteer word) veral ter sprake kom, en wat dan ook bevestig wat die aanpassingspatrone was wat kenmerkend van die organisasie was. Soos hierbo aangedui word, hang die kultuurproduk ook ten nouste met die abstrakte, die konsep en die denksisteem saam omdat dit ook in werklikheid ʼn produk van die menslike gees is wat uit ʼn behoefte voortspruit (Burden 2000:19). Dit is hierdie produk van die menslike gees wat nagevors word om te bepaal of daar teen 2009 ʼn “nuwe ATKV” bestaan het.

Figuur 1: Die Burden-model

Figuur 2: Die AB-as van die Burden-model,met ʼn aanduiding van moontlike hooftemas van kultuurgeskiedenis

1.3. BRONNESTUDIE

1.3.1. Inleiding

Die bronne wat vir hierdie studie aangewend is, word breedweg in twee kategorieë verdeel, naamlik primêre en sekondêre bronne. Daar word in toepaslike hoofstukke van hierdie studie in ʼn ruim mate van primêre bronne uit die ATKV se argief gebruik gemaak. Die doel hiervan is enersyds om feitelike inligting oor die inhoud van ATKV-werksaamhede te bekom en so ʼn sinvolle sintese van die organisasie se geskiedenis vir die tydperk onder bespreking te verseker. Andersyds is dit veral van belang om denkpatrone binne die organisasie na te gaan en dit te beoordeel ten opsigte van die tema van hierdie proefskrif. Benewens die primêre bronne vorm sekondêre bronne in die vorm van literatuur ʼn belangrike deel van die studie. Hierdie bronne is meestal gebruik om agtergrond en perspektiewe oor die Afrikaner en die breë Afrikaanse gemeenskap te bekom, asook om kundige perspektiewe oor aspekte van verandering en leierskap in die konteks van die studie te gebruik.

1.3.2. Sekondêre bronne

In The Last Trek. A Study of the Boer People and the Afrikaner Nation (1957) skryf Sheila Patterson dat sy so objektief as moontlik die ontwikkeling van Boer na Afrikaner probeer naspoor het. Sy het ook gekyk na die Afrikaner se ontwikkeling van onderdrukte nasie na sy eie onderdrukkende nasionalisme met die doel dat mense die realiteit agter die konvensionele stereotipes moet kan sien. Sy sê dat die doel van die boek was om nie- Afrikaners genoeg stof te bied ten einde hulle tot ander insigte te bring en terselfdertyd Afrikanernasionaliste genoeg te irriteer sodat hulle meer oor hulleself sal begin skryf vir mense van buite (Patterson 1957:vii).

Patterson het die tydperk tussen 1948 en 1955 in Suid-Afrika deurgebring en het verskeie studies van groepsverhoudinge tussen wit en bruin mense en tussen wit mense onderling onderneem (Patterson 1957:vii; stofomslag). Sy het dus eerstehandse kennis van die situasie in Suid-Afrika in die eerste jare van apartheid gehad, en ʼn mens sou gevolglik ʼn sekere mate van objektiwiteit van haar waarnemings en gevolgtrekkings as buitelander kon verwag.

Een van haar gevolgtrekkings is dat die Boer se vrees vir die Afrika-mens gespruit het uit die eindelose oorloë op die oosgrens gedurende die neëntiende eeu (Patterson 1957:278- 279). Dit kan inderdaad as ʼn objektiewe gevolgtrekking gegrond op feite beskou word.

Patterson verwys na die werk van prof RW Wilcocks, Cultural History of the Afrikaner, waarin hy ʼn aantal kenmerke van, soos hy dit noem, die “ware Afrikaner”, opnoem (Patterson 1957:278). ʼn Kenmerk wat deur Wilcocks genoem word, naamlik “aversie teen alle dissipline”, is egter teenstrydig met ʼn vroeëre opmerking waar hy praat van “fondness for order” en “respect for law”. Die beeld wat Patterson self skep van die tradisionele agrariese boer (1957:278-279) is egter in vele opsigte wel in die kol. Willem de Klerk se voorstelling van die Afrikaner in die neëntigerjare bevestig dit, ten spyte van die verskillende kontekste waarin hy en Patterson dit aanbied – Patterson tydens die