• No results found

AANPASSINGSPATRONE 1990-1995: DENKAANPASSINGS IN DIE NUWE POLITIEKE MILIEU EN VOORTSPRUITENDE AKSIES

4.2. INTERNE DENKAANPASSINGS EN VOORTSPRUITENDE AKSIES

4.2.3. Kongresbesluite: lidmaatskap en takfunksionering

Die ATKV-statute van 1934 was die eerste uitbreiding van die oorspronklike lidmaatskapvoorwaardes van 1931 en het spesifiek gestipuleer dat die vereniging uit lede van “Europese herkoms” bestaan. Verder was dit natuurlik net lede van die Suid- Afrikaanse Spoorweë en Hawens, of die eggenoot, eggenote of kind van ’n lid van die Spoorweg- en Hawepersoneel (ATKV-statute 1934:artikel 7). In 1990 is die statute verder gewysig toe lidmaatskap oopgestel is vir nie-Vervoerdienslede, toe meerderjarige kinders van lede, ongeag of hulle by Transnet werk, ook lid van die ATKV kon word (ATKV-statute 1990:artikel 5).

ʼn Baie belangrike statuutwysiging (beskrywingspunt 30/91) ten opsigte van lidmaatskapvoorwaardes vind tydens die 1991-kongres plaas. Dit sorg vir ʼn verruiming van lidmaatskap tot enige werknemer binne die Vervoerdienste of ATKV wat hom met die Afrikanerkultuurgroep assosieer en hom daarin uitleef (artikel 5.1.2) en die grondslag, hoofdoelstelling en grondwet van die ATKV onderskryf (artikel 5.1.3) (ATKV-statute 1991:artikel 5; ATKV-Kongresjaarboek 1992:17).

Die bepaling dat net blankes (mense van Europese afkoms) lid van die organisasie kon word, is dus geskrap. Die rede vir hierdie wysiging was tweërlei:

Eerstens het die Vervoerdienste begin privatiseer, en as Transnet het die tradisionele werwingsveld van die ATKV gekrimp op grond van personeelverminderings binne die Transnetgroep. Daar het dus ʼn behoefte ontstaan aan ʼn groter mark wat nie net eksklusief tot Transnet beperk was nie.

Tweedens het die Suid-Afrikaanse politieke bestel so verander dat dit duidelik geword het dat kwetsende en rassistiese bepalings binne die ATKV se statute weggelaat moes word. Daarby het die besef ook gegroei dat die Afrikaanse kultuur, en in die besonder die Afrikaanse taal, meer as net die besit van die blanke Afrikaner is (ATKV-Kongresnotule 1989: besluit 46/89; Notule van die Uitvoerende Raad 1989: besluit 164/89; Kok 1992:170). Kok wys daarop dat dit ʼn bewys was dat die ATKV as kultuurorganisasie aanpas by omstandighede om sodoende nie net uit te brei nie, maar ook steeds ter sake te bly (1992:170).

Die geskrapte rasbepaling is egter wel vervang met die voorwaarde dat, as iemand ʼn lid wil word, hy “hom met die Afrikaner-kultuurgroep [moet] assosieer en hom daarin uitleef”. Die vereiste vir lidmaatskap is dus so verander dat toegang tot lidmaatskap nou oop was vir mense wat tradisioneel nooit daartoe toegang gehad het nie (ATKV-statute 1991:artikel 5). Sodoende is ʼn kultuurnorm in plaas van ʼn kleurnorm aangewend vir lidmaatskap en het die ATKV, as minderheidskultuurorganisasie, op ʼn besondere wyse by die eise van die Suid-Afrikaanse bestel aangepas (Kok 1992:170).

Verdere wysigings aan die akte van oprigting en aan die statute word in 1993 tydens die kongres op Hartenbos (19 tot 21 Augustus) aanvaar. Die doel van hierdie wysigings was om die potensiële ledebasis van die ATKV uit te brei en om te voldoen aan die vereistes van die Ontvanger van Inkomste, asook om algemene opknapping aan ATKV-eiendom te bewerkstellig. Die ATKV behou as gevolg van hierdie wysigings aan die akte van oprigting steeds sy status as maatskappy sonder winsoogmerk. Dit beteken dat hy ook steeds vrygestel is van die verpligting om normale maatskappybelasting te betaal. Die rede vir die wysigings was dat die ATKV besef het dat sy kultuurtaak so omvattend geword het dat hy nie meer net Transnetgebonde kon bly nie. Volgens die voorsitter was die tyd nou ryp om ander mense wat dieselfde Afrikanerwaardes en -sentimente deel as lede te aanvaar. Die direksie sou steeds beperk word tot Transnetwerknemers omdat toekomstige nuwe lede nog nie ’n bydrae gelewer het nie. Die statuutwysigings was dus gemik op die uitbreiding van die ledebasis, wat op daardie stadium baie verklein het as gevolg van die rasionalisering wat binne Transnet plaasgevind het. Die feit dat die kongresgangers hierdie voorgestelde wysigings eenparig aanvaar het, het weer eens die organisasie se verbintenis tot aanpassing bevestig (ATKV-Kongresjaarboek 1993:9, 15, 17).

Die ATKV se lidmaatskap het dus nou oor ʼn paar jaar ʼn proses deurloop waarvolgens lidmaatskap oop was vir mense van alle rasse en nie net tot werknemers van Transnet beperk was nie. Hierdie proses moet as een van die belangrikste aanpassingspatrone van die organisasie in die veranderende politieke en kulturele milieu sedert 1980 beskou word. In die 1990/91-boekjaar het 4 490 nuwe lede by die ATKV aangesluit (ATKV-Jaarverslag 1990/91:46). Daarna het nuwe aansluitings vergeleke met die 1990/91-boekjaar ʼn afname getoon, naamlik 1 121 in 1991/92 en 1 689 in 1992/93. Die hoofrede hiervoor was dat ’n groot aantal ATKV-lede by Transnet uit diens getree het en gevolglik outomaties ook hulle lidmaatskap van die organisasie verloor het. Daar is wel spesiale pogings aangewend om hulle lidmaatskap te behou (ATKV-Jaarverslag 1991/92:38; 1992/93:36).

In die 1993/94-boekjaar het daar weer aansienlik meer nuwe mense as lede by die organisasie aangesluit, naamlik 6 733. Die hoofrede hiervoor was die samesmelting van die ATKV met die ATKB, waarna reeds verwys is. Benewens 2 733 nuwe aansluitings het 4 000 voormalige ATKB-lede nou outomaties as ATKV-lede bygekom (ATKV-Jaarverslag 1993/94:40). In 1994/95 is 3 198 nuwe lede gewerf wat, vergeleke met die afname in aansluitings tussen 1990 en 1993, weer ʼn groeikurwe begin het (ATKV-Jaarverslag 1994/95:35). Ten spyte van die ander faktore wat genoem is, kan daar aanvaar word dat die politieke onstabiliteit, veral van 1990 tot 1994, ʼn rol in die wisselende aansluitingsgetalle gehad het.

In die tydperk onder bespreking het takgetalle ’n bestendige groei getoon van 33 in 1990 tot 44 in 1995 (ATKV-Kongresjaarboek 1991:46;1996:41). Lidmaatskap van ʼn ATKV-tak is vrywillig en maak slegs ’n klein persentasie van die organisasie se totale ledetal uit. Die kultuurwerk wat egter oor jare deur ’n klein groepie taklede in gemeenskappe gedoen word, het nog altyd gespreek van entoesiasme en passie vir die saak van Afrikaans. Die rol van takke in die ATKV verg egter ’n afsonderlike studie om reg te laat geskied aan hulle bydrae tot die organisasie se suksesse. Daar word in hoofstuk 6 in meer besonderhede na takke se rol as agente vir verandering in die ATKV gekyk.