• No results found

BEELD VAN DIE ATKV TEEN

2.4. DIE AFRIKANER OOR DIE AFRIKANER

2.4.1. Christelik-nasionaal en polities konserwatief

Hier word slegs na enkele prominente persone se sieninge verwys ten einde die beginsel onder bespreking te bevestig. Teen 1980 was die konserwatiewe stem binne die Afrikanerpolitiek besig om in omvang en hoorbaarheid toe te neem. Die meer verligte benadering van eerste minister PW Botha se regering het gevolglik teen 1982 ʼn skeuring in die Nasionale Party tot gevolg gehad, wat gelei het tot die totstandkoming van die Konserwatiewe Party onder leiding van dr AP Treurnicht. Dit was eers tydens die laaste jare van die bewindstydperk van mnr FW de Klerk, in die neëntigerjare, dat die heftige politieke bedreiging van konserwatiewe kant afgeweer kon word.

Dr AP Treurnicht se siening van Afrikanerskap was onder meer dat die Afrikaner nie net ʼn identiteit besit nie, maar dat dit inderdaad ʼn God-gewilde identiteit is. Hy het geglo dat die Afrikaner-Calvinis sy Christen-Afrikanerskap op alle terreine wil uitlewe en hy het dit dan ook vir ander kultuurgroepe, onder meer die Engelssprekende en die kleurling, gegun om Christelik-nasionaal te wees. Daarom dat hy verbastering as die verloëning van identiteit beskou het, asook die beleid van afsonderlike ontwikkeling voorgestaan en aan die toepassing van Calvinisme gekoppel het (Degenaar 1977:12).

In sy outobiografie haal dr Carel Boshoff, wat een van die vaders van die volkstaat- gedagte en eerste inwoners van Orania was, die inhoud van die dokument Dertig stellings

oor die Volkstaat aan. In hierdie dokument word die Afrikaner beskryf as “’n selfbewuste

en onderskeibare kultuurgemeenskap waarvan die lede ʼn onderlinge lotsverbondenheid ervaar sover dit die verlede en toekoms aangaan en wat deur ʼn gesamentlike staatstrewe beslag aan hulle politieke gemeensaamheid gegee het” (Boshoff 2012:368). Die dokument erken dat nie alle Afrikaners hulle Afrikanerskap op dieselfde manier beleef nie, dat hulle nie dieselfde optree nie en nie ewe veel waarde aan hulle Afrikanerskap heg nie. Hierdie verskynsel is normaal. Politieke verdeeldheid, of selfs ʼn oorwig van kritiese stemme, hef egter nie, volgens hierdie dokument, die gemeenskap se bestaan op nie.

Dan maak die dokument ʼn saak uit vir ʼn eie Afrikanervolkstaat waar die Afrikaner se voortbestaan as kultuurgemeenskap verseker sal word (Boshoff 2012:368). Die opstellers van die dokument is oortuig dat Afrikaners se taal en kultuur op die lange duur slegs in ʼn volkstaat sal oorleef. Volgens Boshoff het die media en politieke kommentators hierdie Afrikanervryheidsbeweging gestigmatiseer as ver regs en konserwatief en dat dit apartheid

wou handhaaf. Volgens Boshoff het hy self die beeld as ʼn aartskonserwatiewe gekry en hy skryf dit toe aan die feit dat sy politieke sieninge in stryd was met hervormings van die hoofstroompolitiek van die dag (2012:368,372,380).

Ten opsigte van stigmatisering sê Eloff dat daar regse elemente in die Afrikanergroepering is wat die beeld van die Afrikaner stigmatiseer, sodat hy as “ʼn bebaarde middeljarige man in kakieklere met ʼn mauser in die hand” voorgestel word. Volgens Eloff “romantiseer hierdie Afrikaner die prentjie van die formidabele Boere wat die Britse Ryk meer as twee jaar lank besig gehou het” (Eloff 2016:153-154). Dit is wel ʼn vraag of Boshoff in hierdie kategorie sou val of nie.

Prof Gerrit Viljoen, akademikus, Broederbondvoorsitter en politikus, was reeds in 1979 van mening dat die Afrikaner op daardie stadium veel meer gediversifiseer was as vroeër. Volgens hom was daar meer soorte Afrikaners as wat op daardie stadium in die pers die “establishment” genoem is. Die Afrikaner het meer uiteenlopend as voorheen gedink en daarom moet ʼn groter spektrum van opinies binne die Afrikanergemeenskap op die politieke en kulturele terrein gehuisves word. Vir Viljoen beteken die term Christelik-

nasionaal dat daar gefokus moet word op die welsyn van die Afrikanervolk, maar sodat dit

aan Christelike norme voldoen. Vir hom is Afrikanernasionalisme se “moeitevolle geskenk” aan Suid-Afrika die uitleef van die leuse “Suid-Afrika Eerste” (Viljoen 1979:14). Hy maak die veelseggende stelling dat Afrikanerskap ʼn “kragsentrale” in die politiek moet wees. In dié verband haal hy dr DF Malan aan, wat gesê het dat hy eerder die behoud van sy eie nasionaliteit, gebaseer op ʼn eie geskiedenis, bo politieke mag verkies. Viljoen het dus die Afrikaner gesien as “draers van ʼn beginselbenadering eerder as blote pragmatisme, eerder nastrewers van idealisme as blote materialisme en eie voordeel” (Viljoen 1979:1,2,14). As sodanig word hy dan teen 1980 as konserwatief gekategoriseer, hoewel hy in later jare veel meer verligte uitsprake gemaak het en selfs ʼn prominente rol in die totstandkoming van die nuwe staatkundige bedeling na 1994 gespeel het.

2.4.2. Selfkritiek

Hier word weer eers slegs na enkele prominente persone op die kulturele en politieke terrein verwys ten einde die beginsel te beklemtoon. Hierdie persone het met Afrikanerskap geassosieer, maar het die beginsel van gesonde selfkritiek verstaan.

Een van die leidende Afrikaanse skrywers van sy tyd, NP van Wyk Louw, bied reeds in 1939 ʼn rigsnoer tot objektiwiteit as dit by selfkritiek kom. Hy sê: “die groot kritiek [ontstaan] wanneer die kritikus hom nie buite, maar in die midde van die groep stel wat hy kritiseer,

wanneer hy weet dat hy onverbreekbaar verbind is in liefde en noodlot en skuld aan die volk wat hy waag om te bestraf; wanneer hy nie praat van ‘hulle’ nie, maar van ‘ons’” (Louw 1970:107-108).

Seker een van die mees omstrede eksponente van hierdie selfkritiese benadering was dr Willem de Klerk: akademikus, skepper van die terme verlig en verkramp en redakteur van die destydse nuusblaaie Vaderland en Rapport. Volgens Giliomee het die term verkramp verwys na mense wat na rigiede apartheid wou terugkeer, terwyl verligtes lojaal aan die Nasionale Party gebly het en binne die strukture van die volksbeweging (soos die Broederbond) hervormings voorgestaan het (2016:85).

In die voorwoord tot sy publikasie, Afrikaners: Kroes, kras, kordaat, skryf De Klerk dat dit ʼn “subjektiewe seleksie” en “blote standpunte” is (De Klerk 2000:5). Volgens hom beskou die Afrikaner homself as dat hy ʼn eksklusiewe roeping in Afrika het, dat hy uitsluitlik uit die blanke ras bestaan en Christelik-Calvinisties is. Hy is van mening dat toe Afrikanermag en dominansie op sy hoogtepunt was, dit ʼn “aanstoot en walg” gebring het by veral bruin mense “wat deel is van die Afrikaanse taal en kultuur”. Dit het ook ʼn woede gebring by swart mense en Engelse Suid-Afrikaners wat graag met “ons” (bedoelende die Afrikaner) wou assosieer, maar wat in die proses verneder is (De Klerk 2000:14-15).

Hy noem dan ʼn hele reeks stereotipes wat van die Afrikaner bestaan, naamlik die volgende: die Afrikaner se sin vir mistiek – ʼn tradisie van spookstories en bygelowigheid; tradisioneel kerklik; ʼn aanpasbaarheid wat buig onder die onvermydelike en wat slim die seile na die wind kan span om te oorleef en in te pas; tendense van sentimentaliteit, nostalgie en swaarmoedigheid; teruggetrokkenheid, maar ook mense wat kan oor- aksentueer en rammetjie-uitnek, lawaaierig en bombasties kan wees; selfs grootpraterig, Ook vaag en versigtig in standpuntstelling, dus onuitgesproke. Hy noem ook eienskappe soos om geneig te wees tot selfregverdiging en skynheiligheid; hoë waarde wat geheg word aan paternalistiese gesag; boelieagtig; individualisties, maar nie aanhangers van die liberale individualisme nie. Volgens De Klerk het die Afrikaners se kudde-instink en tendens tot gesagsonderwerping die gevolg dat hulle agternalopers van leiers op alle terreine is. Tog twis hulle onder mekaar, gun mekaar nie maklik die son nie en werk nie maklik saam nie. Hy maak dan die belangrike gevolgtrekking dat die onderskeidende van die Afrikaner se kultuur is dat daar nie ʼn tipiese Afrikaner bestaan nie. Tog voel hy dat die Afrikaners wel ʼn groep mense is wat deur eenheid van taal en historiese ontwikkeling ʼn duidelike besef van samehorigheid besit, met ʼn volksaard wat organies gegroei het uit die lewe van die volk (2000:80-84).

In De Klerk se tipering van die Afrikaner is die eienskappe wat hy identifiseer egter nie so uniek as wat die leser met die eerste oogopslag sou dink nie. Eienskappe soos ʼn “sin vir mistiek”, “swaarmoedigheid”, “waarde wat aan paternalistiese gesag geheg word” en nog ʼn hele paar meer kom by baie individue en gemeenskappe reg oor die wêreld voor en is eintlik bloot menslike eienskappe wat nie sonder meer as die kenmerke van ʼn bepaalde kultuurgroep vasgepen kan word nie. De Klerk erken self dat sy werk subjektief is (De Klerk 2000:5) en stel homself gevolglik bloot aan kritiek. Hy weerspreek homself dikwels in die opnoem van die een eienskap na die ander. So byvoorbeeld is daar teenstrydighede in eienskappe soos “teruggetrokkenheid” teenoor “lawaaierigheid”, in “agternalopers van leiers” teenoor “mense wat nie maklik saamwerk nie” (De Klerk 2000:80-82). Dit het tot gevolg dat die leser sy aanbieding by tye eerder amusant as ernstig sou kon beskou. Tog is De Klerk se tipering van die Afrikaner ook in sekere opsigte waar van die ATKV- Afrikaner. Die gemene deler vir die ATKV-lid bly egter taal en die historiese ontwikkeling van ʼn bepaalde volkskultuur. Dit is die organisasie se ontstaansrede. In die tagtigerjare was die baie sterk onderliggende etno-nasionale karakter van die Afrikaner ook in die ATKV-lid te vind. Volgens Kotzé toon vergelykende studies oor nasionalisme duidelik dat taal en historiese ontwikkeling van die belangrikste kenmerke van die onafhanklikheidstrewe van volkere soos die Iere, die Belge, die Grieke en die Spanjaarde was (1969:34-39). Die ATKV-lid was dus in hierdie opsig geensins uniek nie. Hy was oor die jare deel van ʼn volksbeweging wat tot en met die tagtigerjare vir hom as kultuurgroep bepaalde voordele ingehou het. Teen die einde van die tagtigerjare was verandering op politieke gebied egter onafwendbaar en moes ATKV-lede ʼn keuse maak. Hierdie keuse het gelê tussen die behoud van die Christelik-nasionale ideologie of ʼn groter kritiese ingesteldheid met die oog op aanpassing by nuwe omstandighede.

As deel van De Klerk se selfkritiese ingesteldheid het hy sommige Afrikaners as “oorskatters” gekategoriseer. Volgens hom is die oorskatters idealiste wat ideologies ingestel is en Afrikaneruniekheid aan ʼn nuwe geslag Afrikaners wil verkoop. Sy siening is ook dat hierdie Afrikaners hulle kultuurerfenis aan ʼn nuwe politieke en taalbedeling wil opdwing (De Klerk 2000:84).

Vir die Stellenbosse akademikus prof Willie Esterhuyse het die beeld van die Afrikaner veral ook gegaan oor hulle verhouding met ander bevolkingsgroepe, spesifiek die bruin mense. Esterhuyse het reeds in 1979 gesê dat die kloof tussen die Afrikaner en veral die bruin middelstand by die dag groter word. Volgens hom was daar ʼn diepe wantroue onder (bruin) elite-groepe en die studerende jeug teenoor die goeie wil en bedoelinge van die

Afrikaner, veral wat politieke en burgerregtelike aangeleenthede betref (1979:84). Sy siening is verder dat gematigde bruin leiers hulle nie openlik met die Afrikaner wil assosieer nie omdat mense hulle daarvan kan beskuldig dat hulle “met die Boere heul” (Esterhuyse 1979:84). Volgens Esterhuyse heers hierdie agterdog en vervreemding teenoor die witman en die Afrikaner in besonder, veral op professionele vlak en onder groot getalle van die elite-groep in die bruin gemeenskap (1979:84). Indiër- en swart studente beskou volgens Esterhuyse die Afrikaner as verkramp, wreed, buitensporig patrioties, politiek behep, aggressief en dominerend. Hierdie studente wil die grootste moontlike afstand hou van Afrikanerstudente. Hy verwys na ʼn opname onder bruin studente waarin bevind is dat hulle nie eendag hulle dogters sal toelaat om met ʼn Afrikaner te trou nie.

Ook op kerklike gebied het, volgens Esterhuyse, vervreemding al ver gevorder. Die Afrikaner word geassosieer met die diskriminerende maatreëls wat die politiek meegebring het en wat ander groepe laat voel het dat hulle tekort gedoen word en selfs gekul is. Esterhuyse wys op die feit dat bruin mense voel dat daar baie oor en van en selfs namens hulle gepraat word. Daar word egter nie saam met hulle gepraat sodat hulle en die Afrikaners mekaar op dié manier beter kan leer verstaan nie. Hy erken ook dat die negatiewe beeld van die Afrikaner versterk word deurdat hy allerlei stereotipe beelde van bruin en swart mense het. Dan is daar ook die werklikheid van ʼn paternalistiese baas/knegverhouding van wit mense teenoor swart mense en Indiërs. Esterhuyse maak in hierdie verband die stelling dat die Afrikaner aanpassingsprobleme sal hê so seker as ʼn wintermotreën in die Kaap. Hy vra hoe wit mense bevry kan word van geykte denk- en handelingspatrone wat afgestem is op ʼn era wat, volgens hom, onherroeplik tot die verlede behoort (1979:84-85, 89-90). Vir hom moet die Afrikanerheersers ter wille van geregtigheid meer hervormingsgesind en ten gunste van vernuwing wees (1979:74). Bogenoemde stellings is natuurlik reeds in 1979 gemaak. Intussen het die politieke en kulturele landskap heelwat verander en kon Esterhuyse en ander se opinie van die Afrikaner moontlik al verander het.

ʼn Man met ’n groot invloed op die Afrikanerdenke en beeld van die sewentiger- en tagtigerjare was die redakteur van Die Burger, Piet Cillié. Hy verwys na tipiese kenmerke van die Afrikaner as die volgende: streng Calvinisties; ʼn streng puritein wat seksuele moraliteit betref; ʼn onkritiese aanbidder van die verlede en passievol oor grond. Ook is die Afrikaner fanaties verbonde aan die Afrikaanse taal en het hy sterk sieninge oor die politieke progressiwiteit van die Engelssprekendes. Volgens Cillié wil die moderne

Afrikaner ook nie gestereotipeer word as die tipiese landelike Afrikaner nie (Cillié1990:14; Munger 1979:40).

Die akademikus en latere leier van die opposisie in die Parlement, dr Frederik Van Zyl Slabbert, verklaar homself baie duidelik as ʼn Afrikaner as deel van sy introspeksie oor wie hy as Afrikanermens is. In die proses erken hy die soms negatiewe beeld wat daar van hierdie kultuurgroep bestaan, maar ook dat hy hom nie daarvan kan losmaak nie. Hy beskryf sy Afrikaneridentiteit soos volg: “In my ervaring en sin maak van die wêreld is my Afrikaans-wees ʼn werklikheid waarmee ek moet saamleef en vrede maak. Dit is ʼn sosiale geboortevlek. Ek word daaraan geken, en word daarvolgens gestereotipeer en beoordeel. In my ervaring van self moet ek, solank ek hier is, tot ruste kom met die werklikheid van Suid-Afrikaner, Afrikaan, Afrikaner en blanke wees. En ek wil nie elders wees nie” (Slabbert 1999:7).