• No results found

BEELD VAN DIE ATKV TEEN

2.6. PERSEPSIES VAN DIE ATKV AS AFRIKANERKULTUURORGANISASIE

2.6.1. Etniese oriëntering

Kok verwys daarna dat die ATKV gepoog het om ter sake te wees deur in die besondere behoeftes van die Afrikanerkultuurgemeenskap van sy tyd te voorsien en daarmee saam die Afrikanerkultuur uit te bou. Die ATKV het ook ʼn saambindende rol in die Afrikanerkultuurgemeenskap gespeel deurdat hy betrokke was by groot nasionale projekte (1992:234). Wat die toekoms betref, beskou Kok dit as belangrik dat die ATKV sy rol as Afrikanerkultuurbevorderaar en -standpuntsteller sal moet vervul. Hy verwys ook daarna dat die ATKV moet besef dat, hoewel sy grootste taak die bevordering van die Afrikanerkultuur onder sy eie mense is, daar ʼn besondere uitdaging daarin lê om dié kultuur deur die bou van kultuurbrûe vir al die ander kultuurgroepe in Suid-Afrika toeganklik en aanvaarbaar te maak.

Volgens Kok moet soveel moontlik mense aan die Afrikanerkultuur blootgestel word omdat dit groeipunte vir die Afrikanerkultuur skep, asook begrip vir die spesifieke kultuurgroepe se behoeftes en aspirasies. Op hierdie manier, glo hy, word die idioom “onbekend is onbemind” teëgewerk. In ʼn land soos Suid-Afrika met baie minderhede, kan dit tot harmonie lei (1992:234).Kok sê ook dat die persoon wat binne die Afrikanerkultuur opgevoed is opnuut bewus gemaak moet word en op ʼn deurlopende basis van die waarde van die Afrikaanse taal en die Afrikanerkultuur bewus gehou moet word (1992:234).

Uit bogenoemde kan die gevolgtrekking gemaak word dat die organisasie homself veral aan die begin van die tagtigerjare in die eerste instansie gesien het as ʼn etnies- Afrikanerorganisasie. Die deurlopende gebruik van die terme

Afrikanerkultuurgemeenskap, Afrikanerkultuurbevorderaar en -standpuntsteller, Afrikanerkultuur en Afrikanerkultuurgebruiker bevestig dit. Daar kan dus aanvaar word dat,

aangesien daar so ʼn duidelike verwysing na die etniese kultuurgroep bekend as die Afrikaner is, die lede heelwaarskynlik ʼn oorwegend Calvinistiese, Christelik-nasionale en meer konserwatiewe lewens- en wêreldbeskouing sou hê. Kenmerke wat in hierdie verband aan die Afrikaner toegedig is, het dus ook die persepsie van mense oor die ATKV gevorm.

Dit is egter veelseggend dat Kok ook verwys na aanpassings wat in die toekoms noodsaaklik sou wees. Volgens hom moet die Afrikaner, ten spyte van die beskermende maatreëls wat ná 1990 van hom weggeneem is, steeds sy taak sien as om ʼn betekenisvolle rol in sy vaderland te speel (1992:235). Hy verwys na kongrestemas van die ATKV wat reeds aanduidend was van voorbereiding op verandering. Hierdie temas is onder meer: Die ATKV: doelgerigte kultuurbevorderaar in die nuwe bedeling (1986), Die

ATKV op pad na 2000 (1988), en Afrikaans: allemanstaal vir die jare 90’s (1989). Dit

spreek ook uit die inhoud van verskeie beskrywingspunte en mosies wat deur kongresse aanvaar is. Dit sluit onder meer in dat die ATKV se werksaamhede ter sake gehou moet word (ATKV-Kongresnotule 1988: besluit 37/88), en dat die verskillende groepe van Afrikanerkant na ander groepe die hand moet reik (ATKV-Kongresnotules 1986:besluit 52/86; ATKV-Kongresnotule 1987: besluit 24/87).

Verdere besprekingspunte moedig die Afrikanerkultuurmens aan om sy kulturele aktiwiteite so uit te leef dat ander kultuurgroepe nader aan hom getrek en ʼn gees van welwillendheid daarmee geskep word (ATKV-Kongresnotule 1986:besluit 52/86). Kok maak die gevolgtrekking dat daar hiermee wegbeweeg is van die tradisionele siening dat die Afrikanerkultuur net vir die Afrikaner self is. Hy beskou dit as die ATKV se vermoë om

by veranderende omstandighede aan te pas en dat die organisasie ʼn duidelike siening van sy taak en doelstellings het ten einde ter sake te wees (ATKV-Jaarverslag 1989/90:48). Die logiese gevolgtrekking is dat kenmerkende eienskappe van die Afrikaner, soos deur die Afrikaner en ander aan hom toegedig, ook die persepsie sal wees wat mense van die organisasie self sou hê. Hoewel partypolitieke oortuigings nog nooit ʼn voorwaarde vir ATKV-lidmaatskap was nie, kan daar aanvaar word dat daar ATKV-lede was vir wie hulle politieke sieninge, hetsy konserwatief of “verlig”, nie van hulle identiteit geskei kon word nie. Albei hierdie sienings sou ook inpas by die ATKV se doelstellings, waarna later verwys word.

Willem de Klerk se tipering van twee groepe Afrikaners, naamlik die “oorskatters” en die “onderskatters”, waarna reeds verwys is (2000:84), sou dus waarskynlik gekwalifiseerd op heelwat ATKV-lede van toepassing gemaak kon word.

TM Blaser verwys na “Afrikaner ethnic entrepreneurs [who] created an Afrikaans-centered cultural industry with its icons and events” (Blaser 2007:78). In dié verband verwys hy na hoe kultuurorganisasies, na sy en ander kritici se menings, die Afrikanergeskiedenis aangewend het om die Afrikaners as helde voor te stel en deur middel van feeste die Afrikaner se geskiedenis te herontdek en te rekonstrueer. Op hierdie wyse is die Afrikaneridentiteit volgens hom suksesvol ontwikkel. Blaser is van mening dat die oorheersing van ʼn Afrikaneridentiteit met etniese kenmerke uiteindelik aanvaar is as ʼn sosiale en politieke noodsaaklikheid om die Afrikaner se voortbestaan te verseker (2007:79). Daar moet in hierdie verband onthou word van die ATKV se prominente rol in die reëlings rondom die Simboliese Ossewatrek, wat in 1938 deel uitgemaak het van die herdenking van die Groot Trek ʼn honderd jaar vantevore.

Oor die Afrikaner as ʼn minderheidsgroep in Suid-Afrika en op ander plekke in die wêreld is ʼn Belgiese politikus, Francis van den Eynde, van mening dat die groep steeds met ʼn eie taal, kultuur en godsdiens identifiseer. In ʼn artikel wat handel oor minderhede en hulle kulturele identiteit maak die skrywer die stelling dat, hoe verskillend die situasie ook al is waarin ʼn volk hom as minderheid bevind, dit deurgaans etniese minderhede is wat teen alle teenstand in hulle eie identiteit probeer beskerm (2018:1). Hy gaan verder deur te sê dat die strewe van etniese minderhede na onafhanklikheid of ʼn sekere mate van outonomie deur ʼn heersende meerderheid as ʼn bedreiging beskou word. Hy kom dus tot die gevolgtrekking dat die situasie waarin etniese minderhede hulle bevind “nooit echt

comfortabel ” is nie (2018:1). Laasgenoemde gevolgtrekking was in die tagtiger- en neëntigerjare beslis ook op die Afrikaner van toepassing.

Vanuit ʼn etniese hoek gesien, word die gevolgtrekking gemaak dat persepsies van die ATKV in die tagtigerjare die volgende was: ʼn Organisasie waarvan die lede hulleself gesien het as dat hulle ʼn eksklusiewe roeping in Afrika het, dat hulle meestal uit die blanke ras bestaan het en hoofsaaklik Christelik-Calvinisties was (De Klerk 2000:14-15). Die ATKV is dus van buite beskou as ʼn organisasie wat ʼn etniese minderheid, genaamd die Afrikaner, verteenwoordig het. Verder dat hierdie minderheid homself rondom taal en kultuur gemonster het en in sy aktiwiteite sy status as politieke minderheid ter wille van oorlewing moes verreken.

ʼn Verdere perspektief is dat die ATKV in die tagtigerjare ʼn Afrikanerorganisasie was wat uit lede met ʼn groot verskeidenheid uiteenlopende sieninge en kenmerke bestaan het. Munger in 1979 en De Klerk in 2000 het dit tereg verwoord dat daar nie so iets soos ʼn tipiese Afrikaner bestaan nie (Munger 1979:stofomslag; De Klerk 2000:83). Die uitdaging vir die ATKV sou wees om in die veranderde politieke tye hierdie sieninge en kenmerke tot voordeel van die organisasie en sy doelstellings te bestuur.

2.6.2. Organisasiedoelstellings

Die oorspronklike amptelike doelstellings van die organisasie is aanvaar op die sogenaamde “stigterskongres” van die ATKV wat op 16 en 17 Februarie 1931 in Johannesburg gehou is. Hiervolgens sou die vereniging die gebruik van Afrikaans binne sowel as buite die Spoorwegdiens bevorder en ʼn lewendige belangstelling in Afrikaanse kuns en kultuur aankweek, asook die intellektuele en kulturele welsyn van sy lede nastreef (ATKV-statute 1931:klousule 2). Tydens die kongres van 1934 is ʼn nuwe konstitusie aanvaar waarin die doelstellings van die ATKV uitgebrei is om soos volg te lui:

Die gebruik van Afrikaans binne sowel as buite die Spoorwegdiens te bevorder Die Afrikaanse kuns en kultuur veral onder sy lede te bevorder

Die intellektuele, kulturele en maatskaplike welsyn van sy lede te bevorder Die bande van kameraadskap onder sy lede nouer aan te haal

Die belange van die families van afgestorwenes sover moontlik te behartig Die fondse van die Vereniging aan te wend tot die welsyn van sy lede

• Samewerking met ander liggame met dieselfde doel na te streef, mits dit nie die vooruitgang van die Vereniging strem nie (ATKV-Statute 1934:klousule 3)

Samevattend kan gesê word dat die kern van die oorspronklike doelstellings was om Afrikaans in breër verband as net die Spoorweg te bevorder; die Afrikaanse kuns en kultuur onder sy lede te bevorder; na sy lede om te sien en binne die georganiseerde Afrikaanse kultuurwêreld goeie samewerking te gee.

Bogenoemde doelstellings is ná 1980 aan ʼn strategiese bestuursmodelbenadering blootgestel. Onder die invloed hiervan is die organisasie se missie en organisasiefilosofie soos volg bewoord:

“Om die Afrikaanse/Afrikanerkultuur met al sy fasette te bewaar, te handhaaf en uit te bou. “Binne die ATKV glo ons:

• dat ons ʼn goddelike roeping het om ons taak met eerlikheid, integriteit en trots te volvoer;

• dat ons die Afrikanerkultuur kan bewaar, handhaaf en uitbou deur onder andere bemarking, opleiding, projekte en standpuntinname;

• dat ons ons missie moet uitvoer eerstens onder die Afrikanerkultuurgebruiker en dan onder ander kultuurgebruikers;

• dat ons aan ander gun wat ons vir onsself toe-eien en dat ons nooit die eie bevorder ten koste van ander nie;

• dat ons ʼn professionele mensgerigte organisasie is en dat ons ʼn verantwoordelikheid het teenoor ons lede;

• dat ons die ATKV op gesonde sakebeginsels moet bedryf;

• dat ons op die lang termyn die winsgewende voortbestaan van ons sakeondernemings moet uitbou en verseker; en

• dat ons personeel ʼn bate is en ons streef daarna om elkeen se potensiaal ten volle te ontwikkel, elkeen na die ATKV se vermoë te vergoed en voortreflike spanfunksionering te bevorder” (Kok 1992:154).

In hierdie missiestelling is daar duidelike sprake van die bewaring, handhawing en uitbouing van die Afrikanerkultuur, maar ook uitreiking na “ander kultuurgebruikers”. Wie

hierdie kultuurgebruikers is, word nie uitgespel nie, maar uit die navorsing wat volg, blyk dit veral ʼn uitreiking na alle Afrikaanssprekendes (nie net wit mense nie) te wees. Die personeel word steeds as ʼn belangrike bate beskou en daar word nou sterker klem gelê op die organisasie se winsgewendheid ter wille van sy voortbestaan.

In die lig van Adam en Giliomee se analise van die Afrikaner se situasie in die tagtigerjare, word daar gekyk na hoe die ATKV in sy aangepaste doelstellings in hierdie tydperk beide strominge van die Afrikanervolk probeer akkommodeer het.

Eerstens is daar die siening wat die Afrikanervolk uitbeeld as ʼn besondere skepping van God met ʼn bepaalde genetiese karakter, ʼn duidelike kulturele erfenis en konserwatiewe politieke en morele waardes. Volgens Giliomee is kultuurleiers wat hierdie siening deel, meer opreg bekommerd oor die bewaring van kultuurgoedere as die gewone man wat in die eerste plek in die beskerming van sy materiële belange geïnteresseerd is (Giliomee & Adam 1981:96, 98). In ATKV-verband sou hierdie groep dus baie sterk assosieer met terme soos goddelike roeping, Afrikanerkultuur en Afrikanerkultuurgebruiker wat in die ATKV-doelstellings hierbo voorkom.

Teen 1981 was Harrison se belewenis van die toenmalige sekretaris (uitvoerende hoof) van die ATKV, mnr. Horne, dat hy buitengewoon versigtig en formeel was. Hy sê mnr. Horne was geskok dat Harrison die ATKV kon vergelyk met ʼn “Working Men’s Club” in Brittanje. Volgens mnr. Horne word drankgebruik nie aangemoedig nie, die klem van die organisasie is op die Afrikaner se Christelike, patriotiese plig en byeenkomste van die organisasie begin en eindig met gebed. Gevolglik het die ATKV besluit dat Harrison se filmspan nie van die ATKV se aktiwiteite kon verfilm nie. Na aanleiding hiervan het Harrison die afleiding gemaak dat ʼn organisasie soos die ATKV die volmaakte ideologiese basis was vir suksesvolle aktiwiteite wat die Broederbond in die toekoms sou loods (Harrison 1981:97). Die gebruik dat byeenkomste soos vergaderings met gebed geopen word, het teen 2009 steeds bestaan. Dit bevestig die organisasie se verbintenis aan sy doelstellings van die tagtigerjare waarna Kok verwys (1992:145).

Daar is ook ʼn ander siening wat die Afrikaner oorwegend as ʼn kultuurgroep definieer sonder om ʼn politieke konnotasie daaraan te heg. Hierdie siening bejeën Afrikanerskap as een van verskillende lojaliteite en identifikasies. In ʼn nuwe nasiebegrip sal hulle hulle wil identifiseer met hulle taal en kulturele erfenis. Dis ook hierdie groep wat nie glo in ʼn sisteem waarin die bruin mense uitgesluit word terwyl hulle ten volle die Afrikaners se taal, kultuur en tradisies aanvaar nie (Giliomee & Adam 1981:100, 104). Formulerings in die

ATKV-doelstellings wat hierdie siening ondersteun, is dat die ATKV se missie bevorder moet word eerstens onder “die Afrikanerkultuurgebruiker en dan onder ander kultuurgebruikers” (Kok 1992:154). Dit was dus al in die tagtigerjare duidelik dat die uitdaging vir die Afrikaner (en volgens die voorafgaande ook die ATKV) was om die begrippe van etniese verbondenheid en ʼn oorkoepelende Suid-Afrikaanse identiteit met mekaar te probeer versoen.