• No results found

4.6 Normatiewe riglyne vir geloofsvorming

4.6.6 Uitnodiging tot kreatiwiteit

Gestaltteorie toon aan dat ʼn uitnodiging tot kreatiwiteit bemagtigend is vir bewustheid. In Afdeling 4.5.12 is die duidelike rigtingwyser van kreatiwiteit bespreek.

Dit gaan ook saam met die riglyn wat in Afdeling 4.6.5 voorsien is, naamlik ʼn waarderende openheid.

Kim (2012) het ʼn studie gemaak van Groome se Gedeelde Christelike praksis en die werk van Maxine Greene, wat ʼn estetiese opvoeding vir menslike vryheid ontwikkel het. Kim (2005:135) illustreer die belang van “poiesis” soos volg:

For the purpose of Christian religious education, to bring God’s justice in community, knowing God and others should emphasize aesthetic knowing—Shared Poiesis. Shared Poiesis is sharing the love of God who is just and compassionate, and the love of neighbors throughout world. It is a way of knowing God and others that includes more than an imposed determinate cognition or only intellectual judgment. In Shared Poiesis, the rich source of the aesthetic way of knowing, through perceptions, feelings.

In Afdeling 4.6.2 is reeds die riglyn geïdentifiseer dat ontmoetings met die Christelike Storie en Visie noodsaaklik is. In Afdeling 4.4.9 is ook die sleutelrol wat kreatiewe uitdrukking in Groome se proses speel geïdentifiseer. Groome se benadering en Gestaltteorie het twee duidelike trajekte wat hier in dieselfde rigting wys.

Vanuit die missionale ekklesiologie is daar nie ʼn duidelike rigtingwyser geïdentifiseer wat kreatiwiteit aanmoedig nie, behalwe dat die ervaring en belewenisse van mense belangrik is. Dit is veral ook Hilton (Afdeling 4.3.8) se bydrae oor missionale spirituele vorming wat die rol van kreatiwiteit in Bybelse vorming uitgewys het.

Groome en Gestalt illustreer die potensiaal wat kreatiewe uitdrukking het in die rol van bewustheid/onderskeiding. Die noodsaaklikheid dat mense kan identifiseer hoe hulle getransformeer kan leef, verg ook kreatiwiteit. Om oop te wees vir alternatiewe en om deurgaans, lewenslank, in die geloof gevorm te word, is ʼn kreatiewe proses.

4.7 Samevatting

In hierdie hoofstuk is daar gefokus op die vraag: “Wat behoort tydens geloofsvorming te gebeur?” Die missionale konteks van die NGK is as agtergrond geskets. Vanuit die beskrywing van Groome se proses (Hoofstuk 2) en die interpretasie van geloofsvorming vanuit ʼn Gestaltteoretiese perspektief (Hoofstuk 3)

is spesifieke rigtingwysers vir geloofsvorming aangedui, wat in ʼn postfondasionele dialoog riglyne geïdentifiseer het vir geloofsvorming. Spesifieke rigtingwysers vanuit missionale ekklesiologie is ook in die dialoog betrek, aangesien dit deel is van die konteks van die dialoog.

Transversale dialoog (Osmer 2008:170-172) behels transdissiplinêre (cross-

disciplinary) dialoog wat alle velde betrokke by die dialoog respekteer. Die

implikasies vir die dialoog in hierdie hoofstuk is dus dat Gestaltteorie, Groome se benadering en missionale ekklesiologie nie tot een universele geheel geïntegreer is nie. Die transversale model van dialoog het dit wel moontlik gemaak om vanuit missionale ekklesiologie, Groome se benadering én Gestaltteorie riglyne te identifiseer wat duidelik word wanneer die onderskeie velde langs mekaar geplaas word.

In die proses is ses spesifieke riglyne geïdentifiseer:

a) Die doelwit van geloofsvorming is die Bewind van God;

b) Die spilpunt van geloofsvorming behoort ontmoetings met die Christelike Storie te behels;

c) Onderskeidende wysheid; d) Selfopofferende verhoudings; e) Waarderende openheid; f) Kreatiwiteit.

Alhoewel Gestaltteorie nie die “Bewind van God” as ʼn doelwit vir geloofsvorming na die dialoog toe gebring het nie, is dit ʼn duidelike riglyn wat vanuit Groome se benadering asook die missionale ekklesiologie uitgestaan het. Die ander riglyne is geïdentifiseer deurdat die riglyne op verskillende wyses duidelik na vore getree het vanuit die transversale dialoog.

Die volgende hoofstuk (Hoofstuk 5) fokus op die praktykbenadering wat vanuit hierdie transversale dialoog ontwikkel.

Hoofstuk 5

ʼn Praktykbenadering tot geloofsvorming

5.1 Inleiding

In Hoofstuk 4 is daar gefokus op die normatiewe taak van praktiese teologie (vgl. Osmer, 2008:11). Normatiewe riglyne is geïdentifiseer op grond waarvan die prosesse van geloofsvorming behoort plaas te vind. Hierdie riglyne is gegenereer vanuit die dialoog tussen Groome se benadering en Gestaltteorie, binne die konteks van missionale ekklesiologie.

In die vierde fase van Osmer se hermeneutiese spiraal, is die pragmatiese taak van praktiese teologie ter sprake. Aansluitend by Osmer (2008:4) se pragmatiese vraag, “How might we respond?”, beantwoord die navorser die volgende navorsingsvraag in hierdie hoofstuk: “Hoe kan daar reageer word op die insigte wat ontwikkel is oor die praktyk van geloofsvorming vanuit die dialoog tussen Thomas Groome se benadering en Gestaltteorie?”. In die beantwoording van die pragmatiese vraag sal ʼn praktykbenadering tot geloofsvorming daargestel word. ”

Figuur 5.1: Pragmatiese taak (Osmer, 2008:11)

Beskrywende/ Empiriese Taak Interpreterende Taak Pragmatiese Taak Normatiewe Taak

Die pragmatiese taak behels die formulering van praktyk-teoretiese riglyne en doelwitte om verandering of vernuwing tot gevolg te hê. Osmer (2008:176) beskryf die formulering van die praktyk-teoretiese riglyne as “... forming and enacting strategies of action that influence events in ways that are desirable”. Die pragmatiese taak ontsluit dus die vraag: In die lig van die voorafgaande drie fases, hoe kan daar betroubaar en doeltreffend gereageer word op die praktyk van geloofsvorming?

Die transversale dialoog wat in Hoofstuk 1 beskryf is, sal in hierdie hoofstuk gevolg word om die pragmatiese taak te voltrek. Die transversale dialoog tussen Gestaltteorie en Groome se benadering, binne die konteks van missionale ekklesiologie, het bepaalde normatiewe riglyne tot gevolg gehad, wat met die gevolgtrekkings in hierdie hoofstuk deurgetrek word tot spesifieke implikasies vir die praktykbenadering tot geloofsvorming.

In die hantering van die implikasies vir die praktyk van geloofsvorming, sal daar ook in hierdie hoofstuk telkens terugbeweeg word na die ander drie take van praktiese teologie, aangesien Osmer se model juis ʼn hermeneutiese sirkel behels (vgl. Osmer, 2008:11).