• No results found

3.3 Filosofiese wortels van Gestaltteorie

3.3.1 Fenomenologie

Volgens Clarkson (2004:15) kan fenomenologie, soos ontwikkel deur Husserl, Sartre en Merleau-Ponty, beskou word as dié filosofiese benadering wat in die hart van Gestalt lê. Frederick Perls, wat as die stigter van Gestaltterapie beskou word, het Gestaltterapie as die enigste terapeutiese metode gesien wat suiwer op fenomenologiese beginsels funksioneer (Clarkson 2004:15). Die doelwit van Husserl se fenomenologie, is kennis van die waarheid (Crocker, 2005:68-70). Hierteenoor is die doelwit van die fenomenologiese metode in Gestaltteorie meer prakties georiënteerd: dit fokus op die heling en groei van spesifieke individue, groepe en instellings (Crocker 2005:68).

Vanaf Husserl se fenomenologie tot met die fenomenologiese metode wat in Gestaltterapie gevind word, het daar dus ʼn verskuiwing plaasgevind. Crocker (2005:70-71) skryf die verskuiwing toe aan die invloed van twee ander persone: Heidegger se eksistensiële weergawe van die fenomenologie, en Buber se fokus op die “I/Thou” verhouding binne dialoog (Buber se invloed word verder in Afdeling 3.3.2. bespreek.) . Heidegger het die Westerse denke ver verwyderd beskou van die geleefde ervarings van mense (Crocker, 2005:71). Soos met Heidegger se benadering, begin Gestaltterapie met die veld van die organisme/omgewing. Die implikasies van die skuif in die fenomenologiese metode is dat die belewing en die beskrywing van ʼn fenomeen belangriker word as die interpretasie daarvan.

Yontef (1993:124) haal vir Idhe aan wanneer hy fenomenologie beskryf:

Phenomenology is a discipline that helps people stand aside from their usual way of thinking so that they can tell the difference between what is actually being perceived and felt in the current situation and what is residue from the past.

Ook Crocker (2005:67), verwysende na Spinelli, beklemtoon die fenomenologiese metode van Husserl as ʼn manier om ervarings te skei van interpreterende benaderings wat op ervaringsdata geforseer word. Husserl, soos aangehaal deur Crocker (2005:66), beskou die realiteit as onkenbaar soos wat dit werklik is, behalwe vir die mens se eie organiserende persepsies en begrip. Wat wel geken kan word, is die verskynsel (“appearances”) van dinge, aangesien die mens nie kon losbreek uit die menslike manier van “weet” nie. Terselfdertyd wil die mens betekenis heg aan ervarings en sal ook betekenis aan alle ervarings probeer heg. Alhoewel daar ooreenkomste sal wees op die wyse waarop alle mense spesifieke ervarings beleef, sal elke persoon se persepsies en interpretasies daarvan uniek wees.

Die doel van Gestalt fenomenologiese verkenning, is bewustheid of insig. Daarom maak Gestaltterapie gebruik van gefokusde bewustheid en eksperimentering om insig te verkry. Die wyse waarvolgens bewustheid verkry word, is van groot belang in ʼn fenomenologiese benadering. Dit handel nie net oor persoonlike bewustheid nie, maar ook oor bewustheid van die proses waarvolgens dit plaasvind (Yontef, 1993:124).

Spinelli, soos aangehaal deur Crocker (2005:67), identifiseer drie reëls wat in ʼn fenomenologiese benadering funksioneer:

a) Pas die reël van “epoché” toe: enige beoordeling of interpretasies van die realiteit word vir eers ter syde gestel;

b) Gee ʼn beskrywing van die fenomeen volgens die onmiddellike en konkrete indrukke daarvan, steeds sonder om te interpreteer;

c) vermy dit om te bepaal watter beskrywings van ervarings belangriker is as ander.

Hierdie drie reëls stel mens in staat om so ver moontlik al die nodige indrukke en data in te samel om uiteindelik die bes moontlike verduideliking vir ʼn fenomenologiese benadering te kan voorsien. Dit skep ruimte vir openheid en buigsaamheid.

Crocker (2005:68) vestig die aandag op “epoché” as die belangrikste van die drie reëls vir Gestalt. Dit beskryf die betekenis wat die individu aan ervarings verbind. In Gestaltterapie word die fenomenologiese benadering as’t ware ʼn hermeneutiese taak, aangesien dit gaan oor die interpretasie van fenomene, maar vanuit die oogpunt van die individu (Crocker, 2005:68):

The process of hermeneutics in Gestalt therapy is one of discovering the meanings the client has given situations and people in her experience and tracing the impact of these meanings on how the client lives through time and circumstances.

Binne die konteks van Gestaltterapie wys Joyce en Sills (2014:31) uit watter invloed dit op die houding van die terapeut behoort te hê:

The phenomenological method is in fact as much an attitude as a technique. It involves approaching the client with an open mind and a genuine curiosity, where nothing matters except the discovery of his personal experience.

Joyce en Sills (2014:31) wys op deurslaggewende implikasies wat die fenomenologiese benadering in Gestalt het wanneer mense voortdurend aktief besig is om betekenis te heg aan hulle omstandighede en ervarings. ʼn Persoon is altyd ʼn aktiewe deelnemer aan dit wat ervaar word en hoé dit ervaar word. Die

fenomenologiese benadering gaan oor meer as die ontbloting van betekenis wat ʼn persoon aan ʼn ervaring heg (Joyce & Sills, 2014:32).

Die gevolgtrekking wat gemaak kan word aangaande ʼn fenomenologiese perspektief op prosesse van geloofsvorming, is dat die mens self kies watter betekenis hulle heg aan dit wat aan hulle oorgedra word. Terselfdertyd bring dit die vraag na vore: Indien persone wat met geloofsvorming gemoeid is aanspraak sou maak op tydlose waarhede – wie se verantwoordelikheid is dit om die waarhede van toepassing te maak in mense se lewens? Vanuit ʼn Gestalt- fenomenologiese perspektief, is dit die mens self wat geloofswaarhede vir hom/haarself toe-eien. Die verantwoordelikheid vir sin-gewing berus by die mens self. Prosesse van geloofsvorming behoort dít te verreken.

Joyce en Sills (2014:32) identifiseer drie komponente wat deel uitmaak van ʼn fenomenologiese benadering:

“Bracketing”: Oortuigings, veronderstellings en oordele word tydelik opgehef,

sodat die persoon binne sy/haar situasie raakgesien kan word, asof vir die eerste keer.

Beskrywing: Daar word gefokus op dit wat voor die hand liggend is en dit word in konkrete terme beskryf. Joyce en Sills (2014:36) beskryf dit as ʼn kragtige komponent in die fenomenologiese benadering wat mense help om in voeling te kom met hul eie ervarings.

Horisontalisme: Alles wat gebeur en na vore kom, word tydelik as ewe belangrik gereken.

Die houding wat gepaard behoort te gaan met ʼn fenomenologiese benadering, is aktiewe nuuskierigheid (Joyce & Sills, 2014:38). Bogenoemde drie komponente kan ingespan word tydens prosesse van geloofsvorming, sodat persone die geleentheid gegun kan word om aktief betekenis te heg aan dit wat hulle leer.

Volgens Clarkson (2004:15) bemagtig die fenomenologiese benadering mense om hulle eie betekenis te ontdek deur middel van die proses. Dit bring hierdie studie by die volgende bousteen van Gestaltteorie: dialogiese eksistensialisme. In die bespreking van dialogiese eksistensialisme is daar ʼn oorvleueling met die

fenomenologie, aangesien veral die filosofie van Heidegger in beide die fenomenologie en die dialogiese eksistensialisme ʼn rol speel.