• No results found

1.7 Omskrywings

1.7.5 Paradoksale teorie van verandering

Deel van die navorsing behels dat ʼn ondersoek gedoen word hoe verandering of transformasie volgens Groome plaasvind, en hoe dit vergelyk met die paradoksale teorie van verandering volgens die Gestaltteorie. Beisser (1970) het die paradoksale teorie van verandering geformuleer aan die hand van die werk van Frederick Perls. Volgens Beisser vind verandering plaas wanneer iemand word wat hy is en nie wanneer hy probeer om te word wat hy nie is nie. Verandering vind daarom nie plaas wanneer iemand daartoe geforseer word nie, maar wel wanneer ‘n persoon tyd en energie gebruik om te wees wat hy is. Yontef (2005:83) verduidelik dit soos volg:

When people identify with their whole selves, when they acknowledge whatever aspect arises at a moment, the conditions for wholeness and growth are created.

Die paradoksale teorie van verandering is ‘n kernkonsep van Gestaltteorie, waarvolgens bewuswording en kontak tot spontane verandering lei.

1.7.6

“Top dog/underdog”

“Top dog” en “underdog” verwys in Gestaltteorie na twee onderskeie aspekte van die self wat in spanning met mekaar is. Die “top dog” stel eise en verwagtinge aan ‘n persoon deur middel van “jy moet” boodskappe. Daarteenoor word die “ek wil” aspek van die persoon die “underdog” genoem (Blom, 2006:43). Dit blyk dat Yontef (2005:86) nie altyd na die “top dog / underdog” konflik verwys ter verduideliking van die paradoksale teorie van verandering nie, en soms slegs verwys na die “shoulds” wat groei inhibeer. In Yontef (1993:77-78) se vroeëre werk verwys hy wel na die “top dog” as ʼn boelie en ʼn moraliserende gesaghebber, teenoor die “underdog” wat deur middel van passiwiteit beheer uitoefen.

Die navorsing behels dat die verband tussen Groome se benadering en die Gestalt konsep van “top dog” en “underdog” ondersoek word. Volgens die navorser kan die “top dog”, “shoulds” en “jy moet” boodskappe die wyse waarop geloofsinhoud oorgedra word beïnvloed aangesien ‘n wettiese en moralistiese benadering tot geloofsvorming nie wenslik sou wees nie.

1.7.7

Introjeksie

Binne die konteks van Gestaltteorie, word introjeksie as ‘n kontakgrensversteuring3

gesien (Lobb, et al., 2005:33; Blom, 2006:32). Volgens Blom (2006:32) vind introjeksie plaas wanneer inhoud vanuit die omgewing sonder kritiek en bewustheid aanvaar word. Dit beteken dat spesifieke inhoud nie geassimileer word nie. Yontef (1993:179) definieer ‘n introjeksie as die inname van ‘n partikel in sy geheel, sonder dat dit deel van die organisme word. Blom (2006:32) haal verskeie outeurs aan (vgl. Aronstam, 1989; Hardy, 1991; Korb et al., 1989; Yontef & Jacob, 2000) waarvolgens ‘n introjek ‘n idee, houding, geloofsinhoud of gedrag kan behels. Corey (2009:204) beskou ‘n introjeksie steeds as vreemd (“alien”) tot die persoon, aangesien die betrokke inhoud nie geanaliseer en herstruktureer is nie.

Introjeksie is die proses waarvolgens kontak en spontane groei inhibeer word. Vanuit die Gestaltteorie behoort die kontakmodifikasie van introjeksie ‘n invloed te hê op prosesse van geloofsvorming. Indien geloofsvorming voortdurend tot introjeksies kan lei, sonder dat assimilering plaasvind, kan die implikasies wees dat integrasie van geloof nie plaasvind nie.

1.7.8

Gestalt Kontaksiklus

Woldt en Toman (2005:ix) verwys na die onderskeie benaminge wat in Gestaltterapie gebruik word vir die proses waarmee persone kontak met die omgewing maak. Dikwels word daar ook afwisselend verwys na die ervaringsiklus,

3

Joyce & Sills (2009:105-118) verduidelik ‘n verskuiwing van die terminologie vanaf “kontakgrensversteurings” na “kontakmodifikasies”. Die argument behels dat dit steeds oor ‘n kontakfunksie gaan en daarom nie met ‘n negatiewe beskouing

Gestalt ervaringskontinuum, Gestalt kontaksiklus en die Gestalt homeostase siklus. Blom (2006:26-27) onderverdeel die kontaksiklus in vyf fases:

a) Bewustheid/sensasie;

b) Mobilisasie/keuse van relevante aksie; c) Finale kontak/Aksie;

d) Post-kontak; en e) Onttrekking.

Daar bestaan verskeie ander indelings van die Gestalt kontaksiklus (vgl. Melnick & Nevis, 2005:103-104; Reynolds, 2005:159-162). Vir die doel van hierdie navorsing volstaan die navorser by die uiteensetting van die Gestalt kontaksiklus soos Blom (2006:26-27) dit beskryf en onderverdeel. Volgens die navorser kan die Gestalt kontaksiklus in dialoog verkeer met Groome se gedeelde Christelike praksis wat as ʼn proses van vyf bewegings beskryf word (vgl. Afdeling 1.2.2. en 2.2).

1.7.9

Praktykbenadering

Hierdie studie het dit ten doel om ʼn benadering te ontwikkel wat belanghebbendes, wat betrokke is by prosesse van geloofsvorming, kan bystaan deur praktiese riglyne te voorsien. Binne die konteks van praktiese teologie word praktyk egter nie van teologie losgemaak nie (Steyn & Masango 2011:2). Osmer (2008:175) se vierde en laaste taak van die praktiese teologie, behels die pragmatiese taak. Die navorser is van mening dat Osmer se benadering tot praktiese teologie daartoe lei dat die pragmatiese taak volledig binne die teologie ingebed is. Osmer (2008:227) stel ʼn pedagogiese strategie voor wat vra na oop-einde riglyne wat rigting verskaf oor die wyse waarop ʼn taak uitgevoer behoort te word. ʼn Praktykbenadering is binne die konteks van hierdie studie ʼn oop strategie wat persone wat by prosesse van geloofsvorming betrokke is, van praktiese riglyne voorsien waarvolgens hulle hul taak binne konkrete kontekste kan uitvoer, sonder om die praktyk los te maak van teologie.

1.8 Samevatting

In hierdie hoofstuk is die navorser se persoonlike motivering en rasionaal vir die studie uiteengesit. Teoretiese raakpunte tussen Groome se benadering en Gestaltteorie is uitgewys, asook die moontlikheid dat ʼn praktykbenadering tot geloofsvorming kan ontstaan vanuit ʼn dialoog tussen Groome se benadering en Gestaltteorie.

Daar is aangetoon dat die navorsing vanuit ʼn postfondasionele benadering hanteer word. Transversale dialoog (vgl. Osmer 2008:170-173) is die model vir transdissiplinêre (cross-disciplinary) dialoog wat gebruik word om vanuit Gestaltteorie en Groome se benadering tot geloofsvorming ʼn praktykbenadering tot geloofsvorming te identifiseer.

Osmer (2008:11) se vier take van die praktiese teologie word gebruik om die fases van die transversale dialoog te bepaal. Die eerste fase behels die deskriptiewe taak, wat in Hoofstuk 2 vervat word met die beskrywing van Groome se benadering tot geloofsvorming. Die tweede fase gaan gepaard met die interpretatiewe taak van Osmer (2008:11), waarvolgens ʼn verklaring van die proses van geloofsvorming vanuit Gestaltteorie voorsien word. Die tweede fase word in Hoofstuk 3 uiteengesit. Die normatiewe taak van Osmer (2008:11) volg in Hoofstuk 4. Tydens hierdie fase word die bevindinge van Hoofstuk 2 en 3 in ʼn transversale dialoog benut om te bepaal wat tydens geloofsvorming behoort te gebeur. In die laaste fase, vervat in Hoofstuk 5, word die resultate van die transversale dialoog gebruik om ʼn praktykbenadering tot geloofsvorming saam te stel.

Hoofstuk 2

’n Beskrywing van die proses van

geloofsvorming volgens Thomas Groome