• No results found

3.4 ʼn Basiese uiteensetting van Gestaltteorie

3.4.1 Die Paradoksale Teorie van Verandering

In Gestalt terapie is daar slegs een doelwit: bewustheid (Joyce & Sills, 2014:49; Philippson, 2012:29; Truscott, 2013:191; Yontef, 1993:12; Yontef, 2005:87). Hierdie bewustheid is gefokus op die kontak tussen die self en die omgewing. Bewustheid maak dit vir die persoon moontlik om deur middel van organismiese selfregulering verantwoordelikheid te aanvaar en om met bewuste keuses te besluit hoe hy/sy wil leef. Op hierdie wyse fasiliteer bewustheid persoonlike groei (Truscott, 2013:191). Yontef (2005:87) verwoord dit in die terminologie van veldteorie soos volg: “Awareness in the Gestalt therapy framework is relational; it is a self-process that happens at the interface of the individual and the rest of the field.”

Beisser (1970:77) het die Gestalt proses waarvolgens verandering plaasvind, die paradoksale teorie van verandering genoem. Volgens Joyce en Sills (2014:61) kan die teorie eintlik as ʼn beginsel beskou word. Beisser (1970:77) beskryf die paradoksale teorie van verandering soos volg: “...change occurs when one becomes what he is, not when he tries to become what he is not.” Beisser se werk is die eerste bron waarin die term “paradoksale teorie van verandering” gebruik word. In Gestaltteorie word die terapeut nie as ʼn veranderingsagent beskou nie. Die strategie van die terapeut is om die kliënt toe te laat om te wees waar en wat hy/sy is. Beisser (1970:77) gebruik selfs die werkwoord “aandring” wanneer hy verwys na die terapeut wat van die kliënt verwag om te aanvaar wat in die hier en nou “is”. Volgens Beisser (1970:78) is daar by persone wat opdaag vir terapie ʼn behoefte om te verander. So ʼn persoon beleef ten minste twee intrapsigiese faksies wat met mekaar in konflik verkeer. Die persoon bevind hom/haarself tussen “hoe dit behoort te wees” en “hoe dit is”. Die Gestaltterapeut begin gewoon by die rol waarby die persoon op die oomblik hom/haarself beleef. Die persoon se fokus skuif weldra in elk geval na die ander rol. Die terapeut verwag nie van die persoon om aan een rol voorkeur te gee nie. Die enigste kwessie waaroor dit gaan, is dat van die kliënt verwag word om op die oomblik te wees wat hy/sy is.

Ander vorme van terapie beskou verandering as ʼn geldige doelwit vir terapie – wat van die terapeut die kenner maak wat die kliënt as subjek probeer verander. Joyce en Sills (2014:61) wys daarop dat daar gedurende die afgelope dekade heelwat ander vorme van terapie ook ontwikkel het wat op dieselfde beginsels van natuurlike verandering geskoei is. Beisser (1970:78) se uiteensetting van die paradoksale teorie van verandering word juis gedoen as alternatief vir ander vorme van terapie soos psigoanalise en gedragsterapie.

Beisser (1970:78) verwys op hierdie punt na Perls se “Topdog/Underdog” digotomie, asook die feit dat ʼn terapeut behoort te vermy om in een van die “Topdog/Underdog” rolle vasgevang te word. Vervolgens word eers ʼn kort uiteensetting van die “Topdog/Underdog” digotomie gegee ten einde die paradoksale teorie van verandering uitgebreid te kan verduidelik. Na die bespreking van die “Topdog/Underdog” digotomie, word daar kortliks stilgestaan by die konsepte van

introjeksie en assimilasie, aangesien dit illustreer hoe die mens te werk gaan met eksterne sosialiserende kragte wat aanspraak maak op hoe ʼn persoon “behoort te wees”. Organismiese selfregulering word ook kortliks bespreek, siende dat die paradoksale teorie van verandering daarop berus (Yontef 2005:84). Laastens word daar dan in hierdie afdeling gekyk na die veldteorie, aangesien verandering ʼn funksie van die hele veld is (Yontef 2005:84-85).

3.4.1.1 “Topdog/Underdog”

Perls, volgens Joyce en Sills (2014:160), het graag gewerk met die “topdog/underdog” digotomie. Perls (1969:18) sien die “topdog” as selfgeregtig en outoritêr – ʼn boelie wat werk met “jy moet” en “jy mag nie”. Die “topdog” gebruik manipulering, stel eise en dreigemente. Truscott (2013:192) noem die “topdog” ʼn innerlike diktator. Die “underdog” maak die teenoorstaande pool uit (Joyce en Sills 2014:160) en probeer beheer neem deur middel van passiwiteit (Yontef, 1993:78). Blom (2006:42) beskryf die “underdog” as onseker en onderdanig. Truscott (2013:192) beskou die “underdog” as slagoffer-rebel. Die “underdog” verteenwoordig die “ek wil” aspek van persoonlikheid en verkry gewoonlik die oorhand oor die “topdog” (Blom 2006:43). Die “topdog” en die “underdog” is voortdurend besig om tou te trek. Sodoende ontstaan ʼn dooie punt (“impasse”) wat persone verhoed om elke nuwe situasie met die mees gepaste reaksie en kreatiwiteit te hanteer (Joyce en Sills, 2014:161).

Philippson (2012:74) verwys na Perls, Goodman en Hefferline wat die stryd tussen “topdog” en “underdog” sien as ʼn oorlewingsgeveg wat die gevolg het dat die persoon nie werklik meer bewus is van werklike behoeftes nie.

Weens die holistiese benadering en fokus op die hele mens soos dit in Gestaltteorie plaasvind, is die fokus op integrasie. Beisser (1970:79) beskryf die holistiese benadering soos volg:

The Gestalt therapist further believes that the natural state of man is as a single, whole being - not fragmented into two or more opposing parts. In the natural state, there is constant change based on the dynamic transaction between the self and the environment.

Wanneer persone die geleentheid gegun word om in die oomblik te identifiseer met die “topdog” en die “underdog”, kan integrasie plaasvind. Indien gefragmenteerde en vervreemde aspekte van die self in aparte en gekompartementaliseerde rolle ervaar word, moedig die Gestaltterapeut kommunikasie tussen die rolle aan. Die persoon kan gevra word om die onderskeie rolle te laat praat. Indien die persoon daarteen beswaar maak of ʼn blokkasie identifiseer, is die logiese volgende stap dat die persoon hom/haar ten volle identifiseer met die blokkasie of beswaar. Beisser (1970:79) maak daarop aanspraak dat wanneer ʼn persoon met vervreemde aspekte identifiseer, integrasie spontaan plaasvind.

3.4.1.2 Introjeksie en assimilasie

Yontef (1993:210) wys op die eksterne sosialiserende kragte waaraan individue van vroeg in hulle lewens blootgestel word. Eise en ideale word aan persone voorgehou as wenslik. Hierdie eksterne standaarde kan outomaties verwerp word, of gekonsidereer en dan aanvaar of verwerp word, of outomaties aanvaar en ingeneem word. Die laaste moontlikheid, te wete om dit outomaties te aanvaar, word as introjektering beskou. Introjeksie staan teenoor assimilasie. Dit is wanneer “moets” en “moenies” eenvoudig aanvaar word, sonder dat dit werklik as deel van die self geïntegreer word. “Shoulds are ‘ought’ statements which tell the individual how to regulate his behaviour by external standards in isolation from organismic needs and weighing of internal priorities” (Yontef, 1993:210). Die “moets” is vaste entiteite en nie deel van organismiese prosesse nie, en toon geen buigsaamheid of responsiwiteit nie.

Hierteenoor kan persone egter langs ʼn ander weg kies om ʼn verwagting hul eie te maak: wanneer die persoon ʼn verwagting analiseer en dit integreer as deel van hom/haarself, vind assimilasie plaas. Assimilasie is die vrug van aktiewe kontak – om in te neem wat groei laat plaasvind (Philippson, 2012:16).

3.4.1.3 Organismiese selfregulering

Wanneer ʼn persoon die verwagtinge van ander analiseer, kies en assimileer omdat hy/sy daarin glo, en verwerp wat nie in sy/haar raamwerk inpas nie, vind organismiese selfregulering plaas (Yontef, 1993:210). “Organismic self-regulation requires knowing and owning – that is identifying with – what one senses, feels emotionally, observes, needs or wants, and believes” (Yontef & Jacobs, 2014:300). Organismiese selfregulering veronderstel die kapasiteit om die eksterne wêreld te kan waarneem, sowel as die interne behoeftes, gevoelens en oortuigings, en om dan holisties te weet wat vir die persoon toepaslik in die omgewing is. Alle menslike gedrag word vanuit Gestaltteorie beskou as die uitvloei van hierdie selfreguleringsproses om homeostase te bereik. Homeostase behels die proses waarvolgens die organisme balans handhaaf te midde van veranderende omstandighede (Blom, 2004:23).

Die paradoksale teorie van verandering is gebaseer op ʼn vertroue in die vermoë van die mens om te selfreguleer, op sodanige wyse dat die toepaslikste aanpassing vir die konteks waarbinne geleef word, gemaak kan word (Yontef, 2005:84). Gestaltteorie beskou die mens as inherent selfregulerend en gerig op groei – persone kan nie buite hul eie omgewing verstaan word nie. Hulle word as deel van die organisme-omgewing veld beskou.

Gestalt terapeute is gerig op geïntegreerde regulasie gebaseer op dialektiese sintese van konflikterende eise wat aan die persoon gestel word. So kan die eise van die samelewing en die eise van eie impulse van mekaar verskil, en die persoon het ʼn keuse hoe daarop gereageer gaan word (Yontef, 1993:210).

Yontef (1993:210-211) verwys na “shouldistic regulation” as ʼn wyse van regulering wat die persoon moet help om aan ʼn vaste stel reëls te voldoen. Hierdie manier van regulering veroorsaak ʼn tweedeling in die persoon, aangesien dit in wese dualisties van aard is. Soos uiteengesit in Afdeling 3.4.1.1. en 3.4.1.2. is dit dan regulering wat funksioneer volgens ʼn “topdog” wat lei tot introjeksies – wat beteken dat die vaste stel reëls nooit regtig deel geword het van die persoon nie.

Vertroue in die organismiese selfregulering beteken dat die persoon aanvaar word soos wat hy/sy in die huidige oomblik is (“being”), sowel as ʼn bevestiging van sy/haar inherente potensiaal om te groei (“becoming”) (Yontef, 1993:213).

3.4.1.4 Veldteoretiese beginsels en die paradoksale teorie van

verandering

Yontef (2005:84-85) beklemtoon die belang van veldteorie om die paradoksale teorie van verandering en organismiese selfregulering te verstaan. Hy doen dit aan die hand van vyf punte:

a) Verandering is ʼn funksie van die hele konteks waarin ʼn persoon leef. Daarom is die fokus van bewustheid in terapie die hele konteks waarbinne die persoon leef.

b) Verandering in enige plek in die veld affekteer alle ander sisteme in die veld. c) Gestaltterapie fokus op die subjektiewe bewustheid van die persoon,

interaksies in die terapeutiese sessie, asook die volle konteks van kragte in die persoon se alledaagse lewe.

d) Verandering word as ʼn tyd/ruimte-proses gesien. Enige verandering is dus ʼn funksie van die hele veld en al die kragte wat die veld uitmaak.

e) Alle observasie word vanuit ʼn bepaalde plek, tyd en perspektief gedoen. Die fenomenologiese uitkyk is dat die realiteit interpreteer word – objektiewe, kenbare realiteit bestaan nie. Terselfdertyd is bewustheid ook nie net bloot subjektief nie; alle bewustheid wys na iets.

Hierdie vyf punte van Yontef (2005:84-85) verklaar verandering wat by die mens plaasvind in terme van veldteorie. Die wyse waarop die selfregulerende organisme by die mens funksioneer, word ook daardeur belig. Volgens die navorser voorsien Yontef hiermee ʼn geldige en duidelike uiteensetting van die rol wat veldteoretiese beginsels in die paradoksale teorie van verandering speel.