• No results found

4.3 Missionale rigtingwysers vir geloofsvorming

4.3.8 Ontsluiting van die Bybel en die geloofstorie

Keifert (2007:113) wys op die gevaar wanneer die Bybel slegs vir studiedoeleindes in die gemeente gebruik word. Dit kan daartoe lei dat die Bybel in die modernistiese veronderstelling vasgevang word, sodat kennis van God in die kategorie van feite vasgevang word en bestudeer kan word. Hierdie hantering van die Bybel maak daarvan ʼn objek wat bestudeer kan word en binne die bereik en beheer van elke Bybelstudent kan kom.

Hierteenoor pleit Keifert (2007:114) egter vir ʼn wyse van Bybelhantering wat vanuit ʼn eg Christelike tradisie gegroei het, eerder as ʼn sekulêre denkrigting: “Hulle het geleer om in die Woord te wandel sodat hulle, deur die werking van die Gees, in die groot Bybelse verhaal hulle eie lewensverhaal en dié van ander kan aflees.” Keifert (2007:114) betoog vir ʼn hantering van die Bybel wat mense aanmoedig om saam te praat, omdat almal saam luister.

Alhoewel missionale ekklesiologie heelwat gesprekke en nadenke oor die kerk en geloof stimuleer, is dit reeds gestel dat hierdie gesprekke en nadenke vanuit die boustene van die Reformasie (sola Scriptura, solus Christus, sola gratia, sola fide) gedoen word (Afdeling 4.2.1). In hierdie opsig is dit belangrik om te meld dat onderskeiding, die erns van mense se ervaring en die fokus op die lewenskontekste van mense, nie bedryf word vanuit ʼn natuurteologie nie. Vir ʼn gereformeerde kerk staan die Skrif sentraal, en vind onderskeiding plaas in terme van die Woord. Terselfdertyd beteken dieselfde beginsel dat kerklike beheer en kontrole oor die uitleg van die evangelie telkens opnuut deur die Skrif self uitgedaag word.

Aangesien onderskeiding binne die lewenswerklikheid van mense so ʼn kenmerkende rol binne missionale ekklesiologie speel, stel dit spesifieke eise aan die wyse waarop daar met die Bybel omgegaan word binne die geloofsgemeenskap. Missionale ekklesiologie maak as’t ware daarop aanspraak dat geloofsvorming só geskied, dat dit die krag van die evangelie in die Bybel vir mense ontsluit. Om mense in staat te stel om te kan luister en te onderskei waarmee God in hulle lewens en in hulle kontekste besig is, verg dit toeganklikheid tot die geloofstorie soos wat dit in die Bybel aangetref word. Dit is ʼn geloofstorie wat onomwonde en met helderheid gedeel word, sodat mense dit kan toe-eien binne hul eie lewensituasies en hulle in staat gestel word om deel te neem aan dít waarmee God besig is. Die geloofstorie wat op hierdie wyse ontsluit word, lei tot integrerende Bybelkennis wat mense help om hulle geloof in die praktyk uit te leef met ʼn luisterende ingesteldheid.

Vervolgens word daar kortliks stilgestaan by twee bydraes wat Hilton (2012:81-101) maak oor die hantering van die Bybel binne ʼn missionale ekklesiologie. Die navorser is van mening dat hierdie unieke bydraes direk relevant is as rigtingwysers vir Bybelhantering in geloofsvorming.

4.3.8.1 ʼn Herlees van die Bybelse verhaal

Hilton (2012:82) het dit ten doel om die missionale trajek in die Bybelse verhaal uiteen te sit. Anders as wat verwag sou kon word, wys Hilton uit dat daar baie gedeeltes in die Bybel is wat eintlik nie as “missionaal” beskou kon word nie, omdat God en/of God se mense nie as sodanig uitgebeeld word in die betrokke tekste nie

(Hilton 2012:84). Hy huiwer egter nie om na die gedeeltes te verwys wat nie normaalweg as missionaal van aard gereken word nie. Hy verskaf wel goeie redes vir die verwysing na die betrokke tekste: “...I’ll try to make the case that an honest reading of the good, the bad, and the ugly of biblical peoples will actually help our cause of forming missional Christians” (Hilton, 2012:84).

Hilton (2012:84-91) toon aan hoe daar as’t ware kontra-missionale verhale in die Ou- sowel as die Nuwe Testament opgeteken is. Trouens, hy argumenteer op grond van etlike Bybelse verhale dat God se mense eintlik getipeer kan word as dat dit van hulle verwag kan word om nie missionaal te wil wees nie. Hieruit wys hy dat die goeie nuus in die tekste telkens is dat God as die liefdevolle en genadige God uitgewys word, Wie se lig telkens deurbreek ten spyte van menslike weerstand. Hilton (2012:94) stel dit dat “the bad news about our Scripture survey is that God’s methods may not be available to us. God’s vehicle of formation in the stories we’ve surveyed can be captured in two words: forced experience”. Hieruit word geargumenteer dat God die primêre vormer van sy mense is. Om dan te onderskei hoe God die mens vorm, vra na die rol van die Bybel.

4.3.8.2 Gebruike wat mense help om Bybel te lees

Vir Hilton (2012:95) is die implikasies van missionale ekklesiologie, vanuit bogenoemde, dat gelowiges gevorm word deur die Bybel. As gevolg van algemene lae Bybelse geletterdheid is die eerste en belangrikste stap om mense te help om die Bybel te leer ken. Benewens enkele praktiese kwessies oor hoe om die Bybel vir mense toeganklik te maak, kom (Hilton, 2012:97) uiteindelik by die standpunt dat hierdie taak behels dat mense gehelp moet word om die “Storie” hul eie storie te maak: “The broad arc of our learning in this hour has been that God teaches the Hebrew people, the nation of Israel, and the early church through experience.” Wat Bybelstudie betref is Hilton (2012:98) van mening dat die dichotomie tussen “leer” en “doen”, ʼn valse dichotomie is. Hy het ten doel om ʼn metode van Bybellees voor te stel wat ervaringsleer ter harte neem. Hilton (2012:99) stel uiteindelik ʼn benadering voor wat as ʼn mengsel tussen twee benaderings beskryf kan word. Aan die een kant behels dit ʼn literêre lees van die teks, wat God se openbaring in die

narratief ondersoek. Aan die ander kant bevat dit ook elemente van ʼn historiese lees van die teks, omdat dit die konteks van die teks self in gedagte wil hou. “The experiential approach is a hybrid that joins these two ways of reading into one, and then tilts them toward empathetic listening” (Hilton, 2012:99). Volgens sy argument, blyk dit dat die doelwit dan sou wees om mense te help om hulle in die storie van die teks “in te leef” en dat die lesers dan hulself “terugvoel” tot in vandag se situasie, en ondersoek watter vrae, vanuit die teks, ook vandag hulle eie vrae is. Hilton (2012:100) wys op die belang daarvan dat die lees van die Bybelse tekste verder geneem word: “I see our people opening themselves not only to the book, but to their role in God’s love toward the world.”