• No results found

3.6 Geloofsvorming vanuit ʼn Gestaltteoretiese Perspektief

3.6.1 Die paradoksale teorie van verandering en geloofsvorming

geloofsvorming

Indien verandering ʼn veronderstelling is by geloofsvorming, beteken dit dat Gestaltteorie se verklaring van die wyse waarop verandering plaasvind, direk van

toepassing is vir die manier waarop geloofsvorming verstaan word. Gestaltteorie se paradoksale teorie van verandering verklaar hoe verandering by mense plaasvind. Wanneer Groome (2011b:12-13) reken dat geloofsvorming ʼn verandering van oortuigings, begrip, identiteit en persoonlike groei, ook ter wille van die hele wêreld (“for the life of the world”), behels, voorsien die paradoksale teorie van verandering die raamwerk waarvolgens die verandering wat met geloofsvorming gepaard gaan, begryp kan word.

Volgens die paradoksale teorie van verandering vind verandering nie plaas wanneer ʼn persoon probeer om iets te wees wat hy/sy nie is nie: “...change occurs when one becomes what he is, not when he tries to become what he is not” (Beisser, 1970:77). Dit is met ander woorde kontraproduktief om geloofsvorming op mense te probeer afdwing. Indien geloofsvorming deur middel van ʼn sisteem aangedurf word wat wettiese reëls en voorskrifte as die norm voorhou wat bloot gehoorsaam en gevolg behoort te word, sal persoonlike verandering nie plaasvind nie.

Indien ʼn persoon sou opdaag vir ʼn spesifieke sessie wat deel uitmaak van ʼn bepaalde proses van geloofsvorming, bevind die betrokke persoon hom-/haarself tussen “wat behoort te wees” en “wat is”. Dit is belangrik om die persoon te aanvaar vir wie hy/sy in die hier en nou is. Watter reaksie ʼn bepaalde geloofstorie, bespreking, mededeling of teks by die persoon ontketen, is daarom die “regte” reaksie in die bepaalde oomblik. Die selfregulerende organisme is die sisteem wat sal bepaal tot hoe ʼn mate die persoon geïnformeer, geformeer en/of getransformeer word.

3.6.1.1 “Topdog/Underdog”

Geloofsvorming het die potensiaal om op sodanige wyse plaas te vind dat dit ʼn “topdog/underdog” spanning in die persoon se lewe bewerkstellig. Die geloofsinhoud kan die rol van ʼn “topdog” in die persoon se lewe begin speel, wat tot ongesonde patrone van lewe in die wêreld kan lei. So kan ʼn kind byvoorbeeld geleer word dat “kinders van Jesus respek moet hê vir ouers en onderwysers”. Indien dit as ʼn “topdog” in die persoon se lewe begin funksioneer, kan die persoon skuldgevoelens ontwikkel indien hy/sy vir ʼn ouer of ʼn onderwyser kwaad geword het, of dit as

ongewens beskou om ʼn meningsverskil met ʼn gesagsfiguur te hê. Geykte patrone kan langs hierdie weg ontstaan, sodat die persoon nie werklik kontak maak met die veld en vanuit geloofsoortuiging leef nie. Respek vir gesagsfigure word dan nie ʼn waarde wat uit persoonlike oortuiging geleef word nie, maar wat deur die “topdog” vereis word.

Die persoon se “underdog” kan die geloofsinhoud wat as “topdog” funksioneer, ondermyn. Indien die voorbeeld hierbo verder gevolg word, kan dit dan beteken dat die persoon met die “topdog” wat respek vir gesagfigure vereis, passief aggressief raak teenoor spesifieke gesagsfigure. Sodoende ontstaan ʼn gefragmenteerde lewe, waarvan die geloofsaspek slegs in sekere fragmente van die persoon se lewe funksioneer.

3.6.1.2 Introjeksie en assimilasie

Geloofsinhoud kan op sodanige manier aan ʼn persoon oorgedra word dat dit as ʼn introjeksie “geneem” word. Joyce en Sills (2014:171-172) meld dat introjekte kan ontstaan wanneer idees met gesag afgedwing word:

Introjects are internalizations of others’ beliefs, often significant societal rules that allow us to fit into our communities. Clear examples can be seen in forceful instructions given to children, which are absorbed often without understanding.

Die implikasie van ʼn introjeksie, is dat die betrokke geloofsinhoud nie regtig deel van die persoon self word nie. Dit word onvoorwaardelik geneem, sonder om die waarde daarvan te oorweeg en te integreer in die persoon se eie lewe. Dit beteken dat die geloofsinhoud binne ʼn kapsule in die self funksioneer en dat die persoon dit moeilik sal vind om in verskeie situasies te onderskei hoe die betrokke geloofsinhoud vir hom/haar betekenis kan hê.

Gevolglik kan verskeie introjekte weens geloofsvorming ontstaan. Die uiteinde van introjekte kan beteken dat die persoon op ʼn latere stadium in sy/haar lewe by ʼn punt kom waar hy/sy die introjek kan verwerp, of assimileer. Dit sal egter van die organisme-veld afhang wanneer en hoe hierdie kontaksiklus sal plaasvind. Dit is

daarom nie ʼn uitgemaakte saak dat ʼn introjeksie ʼn “verkeerde” aanleer van geloofsinhoud is en ʼn assimilasie ʼn “regte” aanleer nie. Daar sal in Hoofstuk 4, wanneer daar by die normatiewe taak van hierdie studie stilgestaan word, verder hieroor uitgebrei word.

Teenoor introjeksie, behels assimilasie dat geloofsinhoud geïntegreer word as deel van die persoon. Dit word aanvaar as deel van sy/haar veld op sodanige wyse dat dit nie in isolasie van die res van die persoon se lewe (“veld”) funksioneer nie. Indien geloofsinhoud geïntegreer en geassimileer is, is die implikasies dat ʼn persoon die betrokke geloofsinhoud wel in verskillende uitdagings en lewensfases van toepassing sal kan maak en vir hom/haarself telkens toeëien. Geloofsinhoud sal nie apart staan van “die lewe” nie, aangesien dit geïntegreerd is met die persoon se lewe.

Die holistiese aard van Gestaltteorie is handig om die begrip tuis te bring dat geloofsvorming ʼn holistiese proses is wat die persoon se volle veld raak.

3.6.1.3 Organismiese selfregulering

Organismiese selfregulering behels dat daar van die veronderstelling uitgegaan kan word dat die mens inherent selfregulerend is en gerig is op groei (Afdeling 3.4.1.3). Groome (2011b:290) verwys byvoorbeeld na die Christelike Storie en Visie wat in sy proses aangebied behoort te word. Die implikasies hiervan vir geloofsvorming is dat mense die geleentheid gegun behoort te word om blootgestel te word aan die Christelike Storie en Visie. Hulle het self die vermoë om wat op groei gerig is daaruit te neem.

Alhoewel die term “selfregulering” die indruk kan skep dat dit in Gestaltteorie bloot om die individu gaan, en daarom die gemeenskap of die breër wêreld sal uitsluit, illustreer Philippson (2012:48-49) dat verantwoordelikheid nie slegs om die individu gaan nie, maar inderdaad ook ander mense en die wêreld insluit. Dit is egter steeds die persoon self wat reguleer wat ingeneem word en wat deel word van hom/haarself.

3.6.1.4 Veldteoretiese beginsels en geloofsvorming

In Afdeling 3.4.1.4 word gemeld “verandering is ʼn funksie van die hele konteks waarin ʼn persoon leef”. Die subjektiewe bewustheid van die persoon is die fokus, aangesien die selfregulerende organisme self kies om te aanvaar en verwerp wat in die veld vir hom/haar aangebied word. Vanuit die veldteorie, sou daar gesê kon word dat ʼn sessie, soos voorgestel deur Groome (uiteengesit in Hoofstuk 2), deel van ʼn deelnemer se veld sal wees. Die fasiliteerder mag dalk ʼn kenner wees van die Christelike Storie en Visie wat aangebied word, maar hy/sy is nie die kenner van deelnemers se lewens en eie stories (veld) nie. Die toe-eiening van die Christelike Storie en Visie is ʼn funksie van geloofsvorming wat die persoon self kies en kan op geen manier geforseer word nie.