• No results found

3.6 Geloofsvorming vanuit ʼn Gestaltteoretiese Perspektief

3.6.3 Gestaltteoretiese konsepte met direkte implikasies vir geloofsvorming

3.6.3.2 Holisme

Holisme binne ʼn Gestaltkonteks is ʼn konsep wat die besef tuisbring dat geloofsvorming nie in isolasie gebeur nie. Dit wat tydens prosesse van geloofsvorming aangebied word, vorm deel van die totale veld van individue. Wanneer persone die geleentheid gegun word om geloofsinhoud toe te pas op hul eie lewens, word hulle beter bemagtig om die geloofsinhoud te integreer.

3.6.3.3 Bewustheid

Bewustheid is die doel van Gestaltterapie. Dit is die sleutel waarvolgens integrasie en groei plaasvind. Die implikasie is dat wanneer geloofsvorming plaasvind, persone bewustelik sekere geloofswaarhede vir hulleself toeëien sodat assimilasie plaasvind. Indien geloofsvorming nie deur middel van bewustheid plaasvind nie en gevolglik tot introjeksie lei, bestaan die moontlikheid steeds dat integrasie en assimilasie tydens ʼn latere stadium deur middel van bewustheid kan plaasvind.

3.6.3.4 Hier en Nou

Die fokus van Gestalt op die hier en nou het direkte implikasies vir die wyse waarop gekommunikeer word. Persone word geleentheid gegee om uitdrukking te gee aan hulle emosies en gedagtes. Dit kan op verskillende maniere plaasvind, en nie slegs deur middel van woorde nie. Gestaltteorie illustreer, veral deur middel van die

kontaksiklus, dat persone kreatiewe vorme van uitdrukking gebruik om kontak te maak. Die manier hoe verskillende sintuie hierby ingespan word, is van groot belang. Dit is in die hier en nou wat integrasie plaasvind.

Die implikasies wat die “hier en nou” vir geloofsvorming het, word verder in Hoofstuk 4 bespreek wanneer daar by die normatiewe vraag oor geloofsvorming stilgestaan word.

3.6.3.5 Polariteite

Die situasie kan ontstaan waar daar van persone verwag word om sekere geloofsinhoud onvoorwaardelik te aanvaar. Volgehoue onvoorwaardelike aanvaarding word egter binne Gestaltteorie as ʼn kontakgrens modifikasie beskou. Vergelyk byvoorbeeld samevloeiing en impulsiwiteit by Afdeling 3.4.3 Die rol van polariteite binne Gestaltteorie wys uit dat persone dit regkry om te integreer wanneer hulle die geleentheid gegun word om polariteite te oorweeg. Wanneer persone dus geleentheid kry om te bespiegel oor teenoorgestelde moontlikhede, help dit uiteindelik in die proses van integrasie.

3.6.3.6 Verantwoordelikheid

Gestaltteorie respekteer die verantwoordelikheid van elke mens. Integrasie en assimilasie word meer waarskynlik indien persone die geleentheid gegun word om ʼn keuse te maak vir geloofsinhoud. Die manier hoe geloofsinhoud integreer word, is deur middel van ʼn keuse wat uitgeoefen word.

3.7 Samevatting

Osmer (2008:11) se interpreterende taak was die fokus van hierdie hoofstuk. Daar is stilgestaan by Gestaltteorie en hoe geloofsvorming daardeur geïnterpreteer kan word. Eerstens is die filosofiese wortels van Gestaltteorie kortliks uiteengesit. Verskeie Gestalt konsepte is gebruik om aan te dui hoe integrasie en assimilasie by die mens plaasvind.

Met die uiteensetting van die paradoksale teorie van verandering is aangedui hoe verandering en groei by die mens plaasvind. Die paradoksale teorie van verandering verklaar die wyse gevolglik die wyse waarop geloofsvorming ook plaasvind. Die Gestalt kontaksiklus is as metafoor geïdentifiseer, wat bydra om te verklaar hoe die mens met sy/haar omgewing kontak maak. Die kontaksiklus kan ook gebruik word om te verklaar hoe geloofsvorming by die mens plaasvind.

Daar is ook agt soorte kontakgrensmodifikasies uitgewys wat die proses van integrasie tydens geloofsvorming kan belemmer. Die kontakgrensmodifikasies stel bepaalde uitdagings om te verseker dat persone kontak maak met hul omgewing tydens prosesse van geloofsvorming. Die wyse waarop die kontakgrensmodifikasies verreken kan word, word verder in Hoofstuk 5 bespreek, waar dit oor Osmer (2008:11) se pragmatiese taak handel.

Die bespreking oor die implikasies van Gestaltteorie vir geloofsvorming is nog nie hiermee gefinaliseer nie. Groome se benadering tot geloofsvorming is in Hoofstuk 2 uiteengesit. In hierdie hoofstuk is Gestaltteorie se verklaring van geloofsvorming bespreek. Dit bring die navorsing by die bepaalde fase in die transversale dialoog waartydens die lyne wat indieselfde rigting wys, geïdentifiseer kan word, wat in Hoofstuk 4 hanteer word.

Hoofstuk 4:

Riglyne vir Geloofsvorming vanuit dialoog

tussen Thomas Groome se benadering en

Gestaltteorie

4.1 Inleiding

In hierdie hoofstuk beskryf die navorser die normatiewe taak van die hermeneutiese sirkel, soos uiteengesit deur Osmer (2008:10-11). Osmer (2008:4) beskryf die normatiewe taak soos volg: “Using theological concepts to interpret particular episodes, situations, or contexts, constructing ethical norms to guide our response, and learning from good practice.” Aansluitend by Osmer (2008:4) se normatiewe vraag, “What ought to be going on?”, beantwoord die navorser die volgende navorsingsvraag in hierdie hoofstuk: “Wat behoort in die proses van geloofsvorming te gebeur?”

Figuur 4.1: Normatiewe taak (Osmer, 2008:11)

Beskrywende/ Empiriese Taak Interpreterende Taak Pragmatiese Taak Normatiewe Taak

Aangesien inligting vanuit Hoofstuk 2 en Hoofstuk 3 weer in hierdie hoofstuk ter sprake kom, tesame met ʼn bepaalde teologiese perspektief, is dit nodig dat daar vir ʼn wyle net eers weer by die metodologie van hierdie bepaalde hoofstuk stilgestaan word.

Müller (2011:5) wys op die kontekstualiteit wat in ʼn transversale perspektief, soos in hierdie studie, ter sprake is soos volg: “The real meaningful contribution we can make in a situation like this is to facilitate the variety of stories that develop in the ecotone where different storying cultures meet.” Volgens Müller (2013:4) behoort die grense tussen praktiese teologie, die sosiale wetenskappe en selfs die natuurwetenskappe oopgemaak te word. Volgens hom maak postfondasionele navorsing die afbreek van hierdie grense moontlik.

Van Huyssteen (2006:19) verduidelik die transversale perspektief soos volg: In this multidisciplinary use of the concept of transversality there emerge distinct characteristics or features: the dynamics of consciousness, the interweaving of many voices, the interplay of social practices are all expressed in a metaphor that points to a sense of transition, lying across, extending over, intersecting, meeting, and conveying without becoming identical.

In hierdie hoofstuk word ʼn transversale perspektief gebruik om insig te verkry vanuit die dialoog tussen Gestaltteorie en Groome se benadering. Die besprekings wat in Hoofstukke 2 en 3 begin is, word dus in hierdie hoofstuk voortgesit. Die transversale perspektief van die dialoog impliseer egter dat Gestaltteorie en Groome se benadering nie geïntegreer word tot een nuwe teorie wat in alle omstandighede geldig moet wees nie. Die veronderstelling is wel dat daar vanuit die dialoog nuwe insigte deurbreek wat bruikbaar sal wees vir prosesse van geloofsvorming. Op hierdie manier word Van Huyssteen (2006:19) se verwysing na “conveying without becoming identical” gehandhaaf.

Tot op hierdie punt in die studie is daar veral na twee velde wat bepaalde benaderings tot geloofsvorming veronderstel gekyk. Die een benadering is dié van Thomas Groome, soos bespreek in Hoofstuk 2. Groome se benadering het ʼn bepaalde hantering van die Skrif in sy Gedeelde Praksis. Aan die ander kant, is daar in Hoofstuk 3 gekyk na Gestaltteoretiese perspektiewe op geloofsvorming.

In die beantwoording van die normatiewe vraag, “Wat behoort tydens die proses van geloofsvorming te gebeur?”, word daar in hierdie hoofstuk gefokus op die volgende: Watter riglyne vir geloofsvorming ontstaan vanuit ʼn dialoog tussen Gestaltteorie en Groome se benadering, wat binne die huidige konteks van missionale ekklesiologie binne die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) gebruik kan word?. Om te ontdek wat in die proses van geloofsvorming behoort te gebeur (normatief), behels dat:

a) rigtingwysers vir geloofsvorming binne die konteks van missionale ekklesiologie geïdentifiseer word;

b) rigtingwysers vir geloofsvorming vanuit Groome se benadering geïdentifiseer word;

c) rigtingwysers vir geloofsvorming vanuit Gestaltteorie geïdentifiseer word; d) riglyne vir geloofsvorming geïdentifiseer word vanuit ʼn dialoog tussen

Gestaltteorie en Groome se benadering, in die lig van missionale ekklesiologie.

Die navorser is ʼn predikant van die NGK. As ʼn gereformeerde kerk, funksioneer daar bepaalde sienings van die Skrif in die kerk. Deel van hierdie postfondasionele studie behels dat die rol van die Skrif in Groome se benadering ondersoek word. Terselfdertyd het die NGK bepaalde verwagtinge rondom die posisie van die Skrif en die missionale ekklesiologie maak deel uit van die konteks waarbinne die NGK haar tans bevind. Beide die posisie van die Skrif en die missionale ekklesiologie is ook deel van die konteks wat die navorser in hierdie studie wil verreken wanneer die normatiewe vraag oor geloofsvorming beantwoord word.

Vir die doeleindes van hierdie studie het die navorser gekies om die missionale ekklesiologie wat die NGK by die algemene sinode van 2013 as amptelike ekklesiologie aanvaar het (NGK, 2013:8), as vertrekpunt vir die konteks van die kerk te gebruik.

Osmer (2008:160) wys op drie benaderings wat beskikbaar is wanneer die normatiewe taak van prakties- teologiese interpretasie gedoen word: teologiese interpretasie, etiese refleksie en bepaling van goeie praktyk. In hierdie dialoog

tussen gestaltteorie en Groome se benadering, is veral twee van hierdie benaderings van waarde:

a) Teologiese interpretasie: Dit behels dat teologiese konsepte gebruik word

om bepaalde situasies en kontekste in die lig van ʼn teorie van Goddelike en menslike aksie te interpreteer. In terme van hierdie studie, behels dit die teologiese konsepte van sowel missionale ekklesiologie, as teologiese konsepte en skriftuurlike benaderings, soos dit by Groome gevind word.

b) Goeie praktyk: Norme vir goeie praktyk word geïdentifiseer deur te

reflekteer oor modelle van bepaalde praktyke (Osmer 2008:161). In hierdie studie behels dit dan die vasstelling van norme soos wat dit kristalliseer vanuit die dialoog tussen gestaltteorie en Groome se Gedeelde Christelike Praksis. Die vasstelling van norme vind egter nie in isolasie van die teologiese interpretasie plaas nie.

Osmer (2008:170-172) identifiseer die transversale model as die mees onlangse model van transdissiplinêre (cross-disciplinary) dialoog. “Unlike the transformational approach, the transversal model presupposes a more fluid and dynamic understanding of the relationship between the disciplines” (2008:172). Vervolgens sal hierdie hoofstuk uit vier dele bestaan ten einde ʼn transversale dialoog tussen Gestaltteorie en Groome se benadering te bewerkstellig wat binne die konteks van die NGK se missionale ekklesiologie van waarde kan wees.

Die eerste deel van hierdie hoofstuk fokus op missionale teologie en ekklesiologie, met die spesifieke fokus om die vereistes wat dit aan geloofsvorming stel, uit te lig. Die tweede deel behels trajekte oor die normatiewe vraag van geloofsvorming en die rol van die Skrif, soos dit in Groome se benadering van Gedeelde Christelike Praksis duidelik geword het. Die derde deel behels trajekte wat vanuit Gestaltteorie gekristalliseer het. Die vierde, en laaste deel, bring die verskillende trajekte bymekaar ten einde ʼn antwoord te voorsien op die vraag: “Wat behoort tydens die proses van geloofsvorming te gebeur?”

In hierdie hoofstuk gee die navorser dus uitvoering aan Osmer (2008:138) se beskrywing van die normatiewe taak as, “...a disciplined way of seeking God’s

guidance and sorting our what ought to be done in particular episodes, situations, and contexts.”